Afskeidsfunksie: boodskappe













































John-Charles: oudste kleinkind



























(Ek het Henry se boodskap gekry - ek plaas die ander sodra ek hulle ontvang het)

Ek wil begin deur baie dankie te sê vir die uitnodiging om vandag hierdie spesiale geleentheid saam met ons pa te kan bywoon. Dit is vir ons inderdaad 'n reuse voorreg!

Elmi het gevra ons moet iets vanuit ons familieperspektief sê. Dit is natuurlik enersyds baie maklik, maar andersyds ongeloof moeilik. Hoe vang jy hierdie man in 'n paar woorde vas? Daar is mos 'n spreekwoord wat sê dat ons op 20 bekommerd is oor wat mense van ons dink; op 40 gee ons nie om wat hulle dink nie en dan vind ons op 60 uit dat mense nié aan ons gedink het nie. Maar ons doen dit vandag anders – om aan ons pa te dink en oor die jare wat verby is, is louter plesier. Dus gaan ek probeer – met 'n paar persoonlike waarnemings! Maar ek wil begin met wat John-Charles, sy oudste kleinkind wat einde vanjaar 31 oor Oupa sê: "Ek het my hele lewe opgekyk na hom; onder ander vir die manier hoe ek konfrontasie benader en probleme oplos. Hy het só 'n groot hart vir mense. Die manier hoe hy my ouma behandel en liefgehad het en mý probeer leer het om altyd te dink voor ek praat. Alles is altyd so georganiseerd, alles het sy plek en alles in sy plek. My oupa is die man wat ek eendag wil wees. Hardwerkend, betroubaar en liefdevol. Die perfekte rolmodel vir 'n kind!" Daar het u dit ... hardwerkend, betroubaar en liefdevol!

Ek het Pa Schalk op 10 September 1982 ontmoet; so teen kwart oor een die middag toe hy op pad terug werk toe was. Alda het my vir die eerste keer huis toe gebring daardie dag. Pa Schalk het die oortuiging gehad dat dit belangrik was om middagete met die gesin deur te bring; al moes huis toe kom, eet en teruggaan alles in 30 minute gebeur. Ma Jane het dus in haar soortgelyke liefdevolheid alles gereed gehad en oor al die jare was dit die gebruik totdat hy afgetree het in 1987. Terloops, hy tree dus nou vir die tweede keer af.

Ek was verras deur die kalm, liefdevolle huis waarin ek van dag een verwelkom is. Daar was hierdie besondere gesinsverband! Daardie kern van ons samelewing – 'n sterk gesinstruktuur – waarna ons vandag so naarstiglik soek te midde van die wêreld se probleme, het net eenvoudig as normaal voorgekom!

Die meerderheid mense wat Pa Schalk deesdae sien, sien die swaar loop en die grys hare. Julle moenie die fout maak om hom op julle waarnemings te kategoriseer nie. Mens bou só maklik 'n indruk op van iemand deur jou huidige waarnemings. Ons wat hom lank ken, weet van goed soos die volgende:

Pa Schalk was 'n aktiewe man! Voor werk in die môre het hy sommer gou-gou tot by die Karen Muir swembad gestap en terug; fietsry was geen probleem. Hartenbos was die beste vakansieplek! Ek het dit later self ervaar dat wanneer ons wakker word, hy vir almal ontbyt gereed gehad het nadat hy van sy oggendstappie af teruggekom het; partykeer sommer tot by Mosselbaai en terug. Onthou ook dat Hartenbos en Mosselbaai nie aanmekaar was soos vandag nie; dit was 8 km uitmekaar. Hy het nog rugby gespeel nadat hulle getroud is, hy was die span se kaptein en hy was 'n sterk swemmer! Van trou en swem gepraat: My ma het vir hom gesê: "Skattie, jy is nou 'n getroude man! Hou op om agter die haainette te swem! Netnou word jy haaikos."

Hy was en is steeds 'n besondere sorgsame man. Toe hulle twee in 1956 getroud is, was albei ouerpare reeds oorlede en hulle moes van niks af begin. My ma het altyd gesê dat van 'n teelepel tot die huis met sy salaris gekoop is. Ek het altyd so bevoorreg gevoel om elke oggend koffie en beskuit in die bed te kry. Was dit nie wonderlik nie! Ongelukkig het Pa se seer knieë die kamerdiens die laaste paar jare in die wiele gery.

Pa Schalk was nie 'n man wat teruggediens het vir harde werk nie. As julle weer by Aristotlelaan 74 kom, kyk bietjie na die diefwering. Hy het alles self gebou met net 'n sweismasjien, ystersaag, vyl en spierkrag. Daar was nie goed soos hoekslypers (angle grinders) daardie dae nie.

Pa Schalk het ouwêreldse romanse verstaan. Vir 55 jaar het my ma met haar verjaardag, moedersdag en valentynsdag ontbyt in die bed gekry, mét 'n roos op die skinkbord wat uit die tuin gekom het wat hy self gevestig het. Elke eerste ryp vrug uit die tuin het my ma gekry.

Hy het nie agtergebly toe rekenaars opdaag nie en in 1989 al ingespring en geleer om daarmee te werk. Daar was nie eintlik baie ouer mense wat vir dit kans gesien het nie; te meer nog om by die kollege in te skryf vir rekenaarkursusse. Hy was die oudste student wat die N4- tot N6- rekenaarpraktykeksamens geslaag het en toe mense hulle oë uitvee, het Pa Schalk ál sy kerkwerk gerekenariseer gehad voor Finkerk en Winkerk opgedaag het. Hy is deesdae 'n ywerige blogger. Onder andere teken hy Dutoitspan se kerkgeskiedenis op. Gaan kyk bietjie by dutoitspankimberley.blogspot.com. Baie min senior mense doen dié goed. Pa Schalk speel dus in Clint Eastwood se liga wat gesê het: " Soos ons ouer word moet ons onsself dissiplineer om aan te hou leer en ons gedagtes en breine aktief te hou."

So kan ek aangaan en nog baie, baie voorbeelde vir julle noem. Vandag sukkel hy met die loop en so aan, maar dit kom met die ouderdom soos die gediggie I'm Fine, How are You? tereg sê: Ek lees vir julle drie strofes.

There's nothing the matter with me,
I'm just as healthy as can be,
I have arthritis in both knees,
And when I talk, I talk with a wheeze.
My pulse is weak, my blood is thin,
But I'm awfully well for the shape I'm in.

Arch supports I need for my feet.
Or I wouldn't be able to go out in the street.
Sleep is denied me night after night,
But every morning I find I'm all right.
My memory's failing, my head's in a spin.
But I'm awfully well for the shape I'm in.

The moral of this as the tale unfolds,
Is that for you and me, who are growing old.
It is better to say "I'm fine" with a grin,
Than to let people know the shape we are in.
I'm fine, how are you?
(http://www.dennydavis.net/index.html)

So, kom ek sluit af deur net te sê dat mens in jou lewe partykeer bevoorreg is om byvoorbeeld indrukwekkende geleerdes of beroemdes raak te loop. Mense wat in die oë van die wêreld groot en beroemd is. Maar om 'n stabiele man soos Pa Schalk te ken, is eintlik 'n gróter voorreg. Hy is gebore om baie spesiaal te wees; hý het 'n sukses van ménswees gemaak!

 oooOooo

[My kort woordjie waarvoor ek toe nie kans gesien het nie...]

AFSKEID 24 JULIE 2016

Baie dankie vir die geleentheid wat ek vandag het om iets te kan sê oor my jare se werk vir die kerk.

Ek wou in die begin toe ds. Willem Steenkamp my in 1960 genader het om die werk as kassier te doen, dit nie aanvaar nie en vir elke verskoning wat ek aangevoer het, het hy 'n oplossing gehad.

Ek moet dalk so terloops net noem dat ek dink die wyse waarop ek, as jong diaken my wyk se kollektekaart en later kollekteboekie hanteer het, nie ongemerk by die ds. en destydse kassier, oom Andries Combrink, verby gegaan het nie. 'n Boekhouer het mos maar 'n manier om syfers uiteen te sit.

Beide die skriba en die kassier was daardie jare werkende persone, omdat die kerk nie voltydse personeel kon bekostig nie. Na vele oorreding was ek bereid om die werk te doen. Gedurende my tyd het ons onder andere die kollektekaart verander na 'n boekie met 30 besoekpunte. Dis maar een van vele veranderings wat ek in my tyd beleef het.

Ek glo met my hele hart dat dit die wil van die Here was om my in die pos te plaas, waar ek deur SY Genade, solank kon aanhou om vir die kerk te werk, vir my het dit nie oor die betaling gegaan nie, dit was uit en uit 'n liefdesdiens. (Vir baie baie jare was my salaris 7 pond 10 'n maand - vir die jongmense - dit was R15,00 'n maand)

Nadat mnr. PL Labuschagne as skriba afgetree het, kon die volgende skriba net 'n kort tydjie die pos behartig.

Weer is ek deur die predikant genader, hierdie keer om die skribawerk ook te doen. Toe het ek as skriba/kassier begin met dien verstande dat my vrou deur die dag sal help, want ek het nog my daaglikse werk gehad om te doen. Hierdie situasie het sy eie uitdagings gebied om al die balle in die lug te hou. Nadat ek by my werk afgetree het, het ek voltyds by die kerk gewerk.

Ek het altesaam saam met 13 predikante op goeie voet gewerk.

Hierdie is in baie kort hoe ek as kassier by Dutoitspan begin het.

Baie dankie ook aan die kerkraad en gemeente wat my solank verdra het.

Daar is nog heelwat om te vertel, maar dit sal nog 55 jaar vat...


oooOooo


[My briefie aan die kerkraad]

25 Julie 2026

Voorsitter van die Kerkraad en personeel

Hiermee wil ek graag my opregte dank uitspreek vir die afskeidsfunksie wat u gereël het, aangesien ek by verskeie geleenthede gesê het dat ek nie soiets sou wou hê nie.

Die program in die kerk was puik en vir al die sprekers wat opgetree het, 'n baie groot dankie daarvoor.

Baie dankie vir die keurige funksie in die saal - dit was regtig baie spesiaal.

Baie dankie ook vir die nuttige geskenk wat u aan my oorhandig het. Ek gebruik dit met die grootste liefde soos u dit bedoel het. As u op die blog gaan kyk, sal u sien dat ek dit klaar ingewy het.

Nogmaals my hartlike dank.

My beste wense vergesel u elkeen in die jare wat voorlê.

Ek groet u.
Oom Schalk
oooOooo