Showing posts with label Wysheid. Show all posts
Showing posts with label Wysheid. Show all posts

Monday, 11 May 2026

God is liefde

God het my in sy hart, al het ek Hom nie in my hart nie.

Daarom hou ek my hart na Hom uit en ek sê: "Here, wát my hart ook al tot nou toe gevoel het, stuur U liefde deur hom."

Ek hou my gedagtes na Hom uit en ek sê: "Here, wát my gedagtes tot nou toe ook al bedink het, stuur U gedagtes deur hulle."

Ek hou my hande na Hom uit en ek sê: "Here, wát my hande ook al tot nou toe gedoen het, werk U deur hulle."

Want ek weet dat Hy nie Sy krag net aan die sterkes gee nie, dat Hy nie Sy wysheid net aan die wyses gee nie, ook nie Sy vreugde net aan dié wat vreugdevol is nie, of Sy seëninge net aan hulle wat geseënd is nie.

God help my nie oor wat ék is nie.
Hy help my oor wat Hy is.
God is LIEFDE.

[Dankie, Ann, vir die deel.] 

Sunday, 15 March 2026

Friday, 13 February 2026

Opdrag: 'n Beter self

"Jy moet 'n beter wêreld bou," het God gesê.
"Maar hoe?" het ek gevra. 
"Die wêreld is so groot en wyd, 
met moeilikheid gepla, 
en ek so nietig en so swak; 
wat sal ek reg kan kry??" 
Maar in Sy wysheid antwoord God: "Bou net 'n beter JY!"

[Dorothy R Jones]

Sunday, 1 February 2026

GOD SE CV AS LEWENSAFRIGTER EN BESTUURDER - GOD HET BEDANK

1 Samuel 8 & Johannes 8:31-47

Aan wie dit mag aangaan.

Ek, as God, het besluit om te bedank. Die wêreld en kerk het my dalk nie meer nodig nie. Alles is nou gerekenariseer. Vrae word vir die rekenaar gevra en dit gee vir ons al die antwoorde. Dit is vir My as 
Skepper van alles hartseer om My bedanking in te dien.

Ek wil net My CV gee sodat die een wat in My plek aangestel word, weet wat Ek alles gedoen het, dalk kan daardie persoon veranderings aanbring om ‘n beter verhouding te skep.

My CV en werk was soos volg:

Ek het die hemel en aarde gemaak. Ek is die enigste een wat dit nog suksesvol gedoen het. Ek was die eerste bestuurder van die menslike skepping. Eintlik het Ek hulle gemaak. Dus weet Ek hoe die mens se verstand, sy liggaam en sy denke werk. Ek weet die beste hoe om met die mens te werk en hoe verhoudings moet werk.

Dit is so goed om die vervaardiger van enige iets as die persoonlike werktuigkundige te hê.

Ek wil dit uitwys dat my salaris reeds betaal is met die bloed van My Seun Jesus aan die kruis. Dit wat Ek na smag het is dat julle vir My erkenning sal gee dat die prys wat My Seun betaal het, genoeg was vir al die sondes van die mens wat afhanklik is van My.

Die volgende wat Ek wou doen, was om mense se lewens te verander en die seer van mense se lewens te kan herstel. Ek wil graag veranderings doen waar dit nodig is. Ek wil dit graag beklemtoon dat Ek die ontdekker is van onvoorwaardelike liefde.

Ek het gevra dat julle My ten volle sal vertrou en om My werk te doen. Dan sal alles goed afloop en sal daar geen teleurstellings wees, of tyd gemors word nie, maar dit wil vir My voorkom dat julle as Dutoitspan-gemeente en die mense van die wêreld nie meer belangstel in My nie. Mense probeer My met AI en wetenskap uitwerk of Ek regtig bestaan. Dit is vir my ‘n hartverskeurende geleentheid om maar te bedank, want Ek is nie meer nodig nie.

My Naam is God
Adres: Ek is altyd teenwoordig 24/7
Telefoonnr. 777
Toe Ek in die begin My CV gestuur het vir die wêreld, was dit die volgende:

AAN ALMAL WAT MY CV LEES, WIL EK GRAAG DIE VOLGENDE DEEL:
EK HET BELOWE DAT EK MY ALLERBESTE VIR JULLE SAL GEE EN GEHOOP DAT JULLE NOOIT SPYT SOU WEES NIE.


ONDERVINDING:
Ek het tyd gemaak van die begin tot die einde. Ek het al die mag en krag.

MY VORIGE WERK:
Ek het die hemelruim, aarde en die waters van die wêreld gemaak. Ek hou tans die wêreld in stand.

MY OPLEIDING:
Ek ken die volle waarheid, Ek het die volmaakte kennis, Ek is die lig, Ek verstaan alles, Ek is die lewe,
Ek is die weg, Ek is die goeie skaapwagter, Ek is ook die Vader van die heelal.

AS JY MY BETER LEER KEN, DAN SAL JY AL MY KARAKTERTREKKE LEER KEN. 
HIER IS ‘N PAAR VAN MY KARAKTERTREKKE:

Wysheid - Jak 1:5; 3:17-18
Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie. (Ps. 11:10, 1Kor 1:30)

Waarheid - Joh 8:32
Julle sal die waarheid ken en die waarheid sal julle vry maak.

Geestelike Geneesheer - 1 Pet 2:24
Hy het self ons sondes in Sy liggaam aan die kruis gedra. Daardeur is ons vir die sonde dood en kan ons lewe in gehoorsaamheid aan die wil van God. Deur Sy wonde is julle genees.

Vergewe, want vergifnis is my belangrikste karaktertrek - 1 Joh1:9
Maar as ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig. Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.

Voorsiener - Fil 4:19
En my God sal in elke behoefte voorsien volgens Sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus.

Genade - Ef 1:7-8 – (7). 
Deur die bloed van Sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God, (8). wat Hy in al Sy wysheid en insig so oorvloedig aan ons geskenk het.

Vrede - Is vir My belangrik Rom 14:17
... die koninkryk van God is nie ‘n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee.

Ek is gewillig en gereed om jou lewe oor te neem en wil graag vandag vir jou laat kennis neem van My besluit.

Ek wil graag in jou behoeftes voorsien: In jou verlossing en ewige lewe. Ons kan onmiddelik begin. Ek was beskikbaar 24 uur per dag, sal jou daaglikse vriend wil wees, Ek sal jou berader wil wees en jou leiding gee, krag om staande te bly in die teenstand van al die aanvalle van die vyand. Ek sal jou graag wil transformeer soos Ek is. Ek wil jou lewe beheer en dan sal jy deel van My liggaam word.

SALARIS VERGOEDING
Ek herhaal dat alles reeds betaal is met die bloed van My Seun. Die enigste van belang is dat jy moet in My glo en jou verbind aan My en My vertrou. Aanvaar ook My liefdesverklaring as Ek jou herinner dat jy Myne is Ek het jou gevorm. Ek het baie van julle persoonlik ontmoet wat vir My baie beteken het. Die hartseer is dat baie mense My nie wou ontmoet nie, of na my wou luister nie en My gewoon geïgnoreer het.

DIE POS IS OOP: WIE VAN JULLE GAAN AANSOEK DOEN VIR GOD SE POS?

Daarom is hierdie CV die beste en belangrikste kommunikasie wat ons het om te reageer op die God se bekendstelling, want God sal graag wil hê dat ons Hom moet antwoord op Sy CV. As ons nie gaan reageer nie, sal dit ‘n groot teleurstelling vir God wees. Een daarvan is liefde; een van mentorskap, nie diktatorskap nie.

Die vraag is as ons vandag deel van die paneel is wat weer God se CV sal hanteer, sal jy só iemand aanstel, of sal jy sê die CV is nie goed genoeg nie, of dalk sê: Nee genade, dit lyk vir my na ‘n oorgekwalifiseerde CV.

God het so pas Sy pos bedank! Wil jy aansoek doen vir Sy pos? Sien jy kans om God se pos te hê? Of sal jy uit dankbaarheid vandag sê Here asseblief moenie bedank nie, ek het U nog baie nodig, of dankie Vader dat U my God is wat ‘n nietige mens soos ek liefhet. Dankie dat U ‘n reuse prys betaal het vir my verhouding, ek sal dit met my hele lewe koester en U volg tot aan die einde van my lewe.

Sal ek en jy kwalifiseer vir dit wat God se CV sê? Daar is een uitstaande punt in God se CV wat sê dat die Vader jou ontsettend lief het. Daarom vra die Vader ook vandag vir ons: Praat asseblief met My, Ek smag na jou geselskap. Ek wil graag met jou deel wat op My hart is.

EK TREK MY BEDANKING VANDAG TERUG NET TER WILLE VAN JOU EK SAL DAAR WEES VIR JOU TOTDAT EK JOU KOM HAAL.  

DAAR IS EEN VOORWAARDE VIR DIE TERUGTREK VAN MY BEDANKING: LEEF MY LIEFDE EN GENADE UIT SODAT MY KONINKRYK UITGEBREI KAN WORD.

Tuesday, 30 September 2025

Mandjie Hoop: God is altyd by ons ...

Ons het vanoggend opgestaan met ...
* GOD se krag wat ons dra.
* GOD se mag wat ons vashou.
* GOD se hand wat ons bewaar.
* GOD se liefde wat ons omvou.
* GOD se wysheid wat ons rig.
* GOD se vrede wat ons omring.
* GOD se genade wat elke môre nuut en vars is.

Friday, 22 August 2025

Kontraste

Winter en lente (soos somer en herfs) is albei deel van een proses. Nes 'n mens gee en ontvang nie van mekaar kan skei nie, kan 'n mens ook nie een seisoen sonder die ander ervaar nie. As mense kan ons baie uit die tydlose wysheid van die natuur leer en in ons eie lewens toepas.

Die koue van die winter maak dat alles stadiger word en selfs in 'n winterslaap insluimer. En soms sterf goed ook af. Ek sien hierdie as 'n tyd om te rus en om na te dink oor waar jy jou in jou lewe bevind. Dit skep vir jou 'n geleentheid om te besluit wat vir jou in jou lewe belangrik is, en wat nie. En om dan stappe te neem om ontslae te raak van alles wat nie meer 'n positiewe rol in jou lewe speel nie. Kyk mooi na elke area van jou lewe: jou huis en besittings, jou werk, vriende, familie en ander verhoudings, kyk ook na jou emosies. En besluit dan wat jy wil hou, wat jy wil verander en wat jy van ontslae wil raak.

So sal jy jouself voorberei vir die nuwe lewe wat lente bring. Jyself gaan verjong en heel voel, reg om 'n nuwe seisoen in jou lewe te skep. Jy kan dit inkleur met al jou hartsbegeertes, soos 'n tuin in volle bloei.

Nes in die natuur, groei ons as mense in sarsies. Daar is tye van groei, tye om te voed, tye van bloei en tye van rus in elke lewe, joune ook.

Die kontraste tussen winter en lente herinner ons dat hierdie ook sal verbygaan. Ons word bewus van en dankbaar vir alles wat ons het. Dit gee ons ook die geleentheid om die mooi in die lewe weer raak te sien, al is dit soms vaal en grys.

In die lewe is daar seisoene. Soos die son soggens opkom en die sterre saans skyn, kan jy verskillende seisoene in jou lewe verwag. Jy kan óf daarteen baklei óf dit aanvaar en die beste maak van die omstandighede wat oor jou pad kom. Die keuse is joune!

Kies DIT wat jou gelukkig maak, DIT wat niemand skade aandoen nie, JY inkluis. En wanneer jy twyfel, kyk na die tydlose wysheid van die natuur vir antwoorde.

[Prince Albert Vriend, Oktober 2017, bl.9: Maruschka Erasmus - 'n NLP-lewensafrigter, EFT-praktisyn en 'n geregistreerde berader.]  

Friday, 25 April 2025

Mark Batterson: "Your prayer for your children are the greatest legacy you can leave."

Jy sal nooit die perfekte ouer wees nie, maar jy kan 'n biddende ouer wees, selfs al weet jou kinders dit nie.

GEBED
Here, ek bid vir wysheid vir my kinders. Dat U vir hulle die onderskeidingsvermoë sal gee om die kaf van die koring te skei. 
Ek bid dat my kinders se liefde vir U sal toeneem en dat hulle daagliks in 'n persoonlike verhouding met U sal leef.
Ek bid dat hulle saam met U die storms van die lewe sal aandurf en dat U hulle sal dra deur moeilike tye. Dankie, Heer. 
Amen

"Leer ’n jongmens om die regte pad te kies, en wanneer hy eendag oud is, sal hy nie daarvan afwyk nie." Spreuke 22:6 NLV

Tuesday, 1 April 2025

Mandjie Hoop: 'n Geseënde dag

Mag God se liefde jou omvou,
Mag Hy jou in sy vrede hou;
Mag hierdie dag geseënd wees
Met die leiding van sy Gees. 

Tuesday, 4 February 2025

Mandjie Hoop: Vertrou die Allerhoogste

Die mens wat standvastig op die Allerhoogste vertrou,
staan kragtig in sy krag,
wys in sy wysheid,
gelukkig in sy geluk.

[Joseph Addison]

Tuesday, 21 January 2025

Mandjie Hoop: God het my geleer ...

God het my geleer
om nie bekommerd te wees nie.
Ek het gister oorleef.
Ek hanteer vandag.
En met God se hulp,
kan ek môre aanpak
en alles wat op my pad kom.

[Dankie, Ena]

Tuesday, 5 November 2024

Mandjie Hoop: Ek wens ...

Ek wens ek kon vrede in mense se harte lê,
Dat hul naasteliefde kan hê,
Want is dit nie die grootste geskenk om te gee,
As om met harde woorde die blydskap in ander dood te vee.
Ek wens ek kon begrip saai,
Dat almal wysheid kan maai,
Want hoeveel tyd gaan verlore,
Tyd vir luister en liefhê beskore.
Wens ek kon gebrokenes so van hul menswees gestroop,
Laat glo en hoop,
Vir nou en elke dag kan ek net wens,
Want ek bly maar net mens.

[Dankie, Rosetta]

Monday, 4 November 2024

Gebed: Wysheid, perspektief en nuwe denke

Here, U is ons enigste Here! Dankie dat ons vandag in die Naam van Jesus met vrymoedigheid na U kan draai.

Here, dankie dat U op ons elkeen se pad mense stuur wat ons help in ons geloofslewe. Vandag wil ons in die besonder ook dankie sê vir elke geloofsma wat so ʼn rol in ons lewe gespeel het.

Here, ons bely dat ons afhanklik is van U. En in ʼn deurmekaar wêreld soos die een waarin ons leef, besef ons dit maar net meer en meer elke dag hoe afhanklik ons van U is - ook vir wysheid en perspektief en nuwe denke.

Help ons, Here, om midde die koerantopskrifte, nuusberigte, misdaad en alles wat sleg is, nogsteeds U stem te hoor en te sien waar en hoe U aan die werk is. Help ons om ons oë gevestig te hou op Jesus Christus en help ons om hierdie wedloop met volharding te hardloop.

In Jesus se naam bid ons dit. 
Amen

Thursday, 3 October 2024

Dink hieroor: Tyd is gratis

“Tyd is gratis
maar dit is prysloos.
Jy kan dit nie besit nie
maar jy kan dit gebruik.
Jy kan dit nie hou nie
maar jy kan dit spandeer.
As jy dit verloor het
kan jy dit nooit weer terug kry nie.”
Kom ons gebruik die ure in die dag wys.

Friday, 12 May 2023

n Breinknoper vir die naweek

Jy ry een aand deur die dorp, terwyl die wind woes waai en vlae reën neerstort. Toe jy by die bushalte verby ry, staan die volgende drie persone daar in die reën en koue:
  • 1. 'n Ou dame wat lyk asof sy enige oomblik ineen gaan stort.
  • 2. 'n Ou vriend van jou wat jare terug jou lewe gered het.
  • 3. Die perfekte (potensiële) lewensmaat van wie jy gedroom het.
Vir wie sal jy 'n rygeleentheid gee - met die beperking dat jy net plek vir een passasier het?

Dink oor die vraag en klik HIER vir die antwoord. 

Friday, 5 May 2023

Van ‘n ouer aan 'n kind

Ek het jou die lewe gegee, maar ek kan dit nie vir jou lewe nie.Ek kan jou dinge leer, maar ek kan jou dit nie maak leer nie.
Ek kan jou rigting probeer gee, maar ek is nie daar om jou te lei nie.
Ek kan jou vryheid toelaat, maar ek kan nie daarvoor verantwoording doen nie.
Ek kan jou kerk toe neem, maar ek kan jou nie maak glo nie.
Ek kan jou leer onderskei tussen reg en verkeerd, maar ek kan nie vir jou besluit nie.
Ek kan vir jou mooi klere koop, maar ek kan jou nie van binne mooi maak nie.
Ek kan jou raad gee, maar ek kan dit nie namens jou aanvaar nie.
Ek kan jou liefde gee, maar ek kan dit nie op jou afdwing nie.
Ek kan jou leer om mededeelsaam te wees, maar ek kan jou nie onselfsugtig maak nie.
Ek kan jou leer om respek te hê, maar ek kan jou nie dwing om eer te bewys nie.
Ek kan jou raad gee oor vriende, maar ek kan hulle nie vir jou kies nie.
Ek kan jou leer omtrent seks, maar ek kan jou nie rein hou nie.
Ek kan vir jou die feite van die lewe vertel, maar ek kan nie jou reputasie behou nie.
Ek kan jou vertel van drank, maar ek kan nie namens jou NEE sê nie.
Ek kan jou waarsku teen dwelms, maar ek kan nie verhoed dat jy hulle gebruik nie.
Ek kan jou vertel van hoë prestasies, maar ek kan hulle nie vir jou bereik nie.
Ek kan jou vertel van goedheid, maar ek kan jou nie forseer om genadig te wees nie.
Ek kan jou waarsku omtrent sonde, maar ek kan nie jou standaarde stel nie.
Ek het jou lief as my kind, maar ek kan jou nie God se kind maak nie.
Ek kan vir jou bid, maar ek kan nie maak dat jy met God wandel nie.
Ek kan jou leer van Jesus, maar ek kan nie Jesus jou Koning maak nie.
Ek kan jou leer van die lewe, maar ek kan jou nie die Ewige Lewe gee nie.
- Onbekend

Friday, 16 December 2022

Jý kan 'n verskil maak ...


Een lied kan 'n oomblik skep,
een blom kan 'n droom wakker maak.
Een boom kan 'n woud begin,
een voëltjie kan die lente besing.
Een glimlag begin 'n vriendskap,
een handdruk hef  'n mens op.
Een ster kan 'n skip te see lei,
een woord kan 'n doel omlyn.
Een stem kan 'n volk verander,
een sonstraal kan 'n vertrek verlig.
Een kers wis die duisternis uit,
een lag sal somberheid oorwin.
Een tree moet elke reis begin,
een woord moet elke gebed inlui.
Een hoop kan jou gemoed verhef,
een aanraking wys dat jy omgee.
Een stem kan met wysheid praat,
een hart kan weet wat waar is.
Een lewe kan 'n verskil maak.
Jy sien, dit hang net van jou af.

[Outeur onbekend]

Al kan jy nie baie doen om 'n verskil te maak in die wêreld om jou nie, kan jy wel iets doen. En dit is die belangrikste om hierdie iets te doen, hoe klein ook al.

Ware barmhartigheid is om alles, ja, alles te doen wat ons kan - John Donne. 

Friday, 17 July 2020

Friday, 19 July 2019