Showing posts with label Verlossing. Show all posts
Showing posts with label Verlossing. Show all posts

Friday, 7 August 2026

Van verlossing na oorwinning

Baie jare gelede het ʼn ou verwaarloosde honger man in ʼn musiekwinkel in London ingestap. Hy het die eienaar van die musiekwinkel gevra of hy hom ʼn paar pond vir sy viool sou aanbied sodat hy iets te ete kan koop.

Die eienaar het die man vyf pond vir die viool aangebied. ʼn Ruk nadat die man weg was, het die eienaar ʼn kers aangesteek en die viool van naderby ondersoek. Op die viool was die woord uitgekerf: “Antonio Stradivari, 1704.” Hy het onmiddellik besef dat hy in besit was van ʼn viool wat vir meer as 100 jaar vermis was. Die viool is jare later vir miljoene pond verkoop. 

Hierdie kosbare viool was vir ʼn rukkie in die hande van ʼn arm en behoeftige man, maar hy het nie die waarde daarvan besef nie. Hierdie man het nie opgeëis wat hy alreeds besit het nie ...

God se kinders loop dikwels die kerk binne met ʼn Bybel in die hand, sonder dat hulle die onskatbare waarde van die beloftes wat God daarin aan hulle maak, opeis. 

Hulle leef in die grootste ellende, maar gebruik nie God se almag wat tot hul beskikking is nie. God het nie bedoel dat ons van verlossing na stagnering moet beweeg nie, maar van verlossing na oorwinning!

Sien jou Sondag in die erediens - kom met verwagting!

Thursday, 2 October 2025

Dink hieroor: Wat plant jy ...?

As jy eerlikheid plant, sal jy vertroue oes.
As jy goedheid plant, sal jy vriende oes.
As jy nederigheid plant, sal jy grootheid oes.
As jy volharding plant, sal jy tevredenheid oes.
As jy oordenking plant, sal jy perspektief oes.
As jy harde werk plant, sal jy sukses oes.
As jy vergifnis plant, sal jy versoening oes.
As jy geloof in Christus plant, sal jy verlossing oes.

Thursday, 11 July 2024

Hallo, Pappie

Een oggend het my man wakker geword met my driejarige dogtertjie, Mara, styf teen hom in die bed met 'n pen in die hand waarmee sy oor sy Bybel krap.

Hy het oorgeleun en die pen uit haar handjie geneem en sy het opgekyk na hom toe en toe vriendelik gesê: "Hallo, Pappie." 

Nou "Hallo, Pappie," is 'n normale sinnetjie vir enige kleutertjie van daardie ouderdom, maar Mara is erg outisties en nie-verbaal.

Toe daardie woorde uit haar mondjie kom, het die trane oor my man se wange begin rol ... hy was oorweldig met emosie om sy dogtertjie se stemmetjie te hoor nadat sy 3 jaar lank nie-verbaal was.
Haar woorde het gate in sy damwal gedruk ... jy weet van watter damwal ek praat ... daardie damwal wat jy om jou hart bou, sodat geen emosies kan ingaan of uitkom nie ... maar daardie oggend toe verkrummel daardie twee woordjies: "Hallo, Pappie," daardie damwal ... Hy het gehuil oor die verlies van 'n normale dogtertjie waaroor hy drome gedroom het ... hy het gehuil oor 'n stemmetjie wat hy nie geken het nie ... hy het gehuil oor 'n dogtertjie wat in haar eie wêreld vasgevang is ... hy het gehuil omdat hy dikwels gewonder het of sy weet wie hy is ... hy was nog besig om te huil toe die Gees van die Here met hom praat.

EK weet hoe jy voel, want ek is ook 'n Vader ... My kinders praat ook nie met My nie ... My kinders is ook in hulle eie wêreld vasgevang ... 'n wêreld van ontbyt ... werk ... aandete ... TV kyk en slaap ... ek wonder ook soms of hulle my herken ... of hulle weet wie Ek in hulle lewens is. My kinders is vasgevang in 'n wêreld van stokperdjies en sport en ure se sepies kyk ... Ek probeer alles dat hulle My moet herken ... Ek antwoord gebede ... Ek voorsien in hulle behoeftes ... Ek het selfs so ver gegaan om my Seun te stuur vir hulle verlossing ... Ek het hulle nie nodig nie, maar Ek wil hulle so graag hê ... hulle het My só nodig maar wil My nie hê nie. Ek is nie kwaad nie, maar ook so hartseer soos jy.

Ek wag ook vir die dag wat hulle opkyk na My met liefde in hulle oë en vir my sê: "Hallo, Pappie."

[Aangestuur deur Rozetta Venter.]