Saturday 27 March 2021

Watter tipe lekkergoed-mens is jy?

Mense vergelyk ander mense soms met diere. Of met vrugte. So kry jy jou “buffels” of “trapsuutjies”. Jou “harde koejawels” of “suur pruime”. Persoonlik voel ek dat die mensdom met lekkergoed vergelyk kan word. Daar is ‘n oneidigheid in kleur, smaak, tekstuur en verpakking.

So kry jy jou malvalekker-mense. Sag van binne en buite. Jou jellie-lekkergoed-mense en paaseier-mense val ook in hierdie kategorie. Hulle is egter die tipe lekker wat jy met ekstra versigtigheid hanteer. Los jy hulle in die Noord-Kaap son, raak hulle hard van buite, maar dalk nog effens sag van binne. Stel jy hulle te lank aan negatiewe elemente bloot, raak hulle binnekante uiteindelik ook hard. Amper oneetbaar.

Dan kry jy jou nikkerbal- en gekookte lekkers-mense. So hard van binne soos van buite. Onwrikbaar. Jy hou van hulle. Of jy hou nie van hulle nie. En visa versa. Hulle verrig die onmoontlike in moeilike tye. Hulle is wie hulle is en maak gewoonlik geen geheim daarvan nie. Mens wonder soms hoe hulle voorbereidingsproses moes wees om so hard aan die ander kant uit te kom.

Ons kry ook die wit-eier-mense. Jy het amper ‘n mes nodig om die buitenste dop te breek, maar dit is waar die hardheid ophou. Binne wag ‘n soet sjokoladelaag wat smelt in jou mond. Die geheim is om nie op te gee op hierdie mense nie. Al lyk dit op die oog af nie so nie, smag hulle daarna dat jy deur die klipharde dop breek en uitvind wat werklik in hulle binneste aangaan. Jy kry ook die teenoorgestelde – die sagte sjokoladelaag buite en ‘n harde neut aan die binnekant. Op die oog af sag, maar jy vind baie vinnig uit dat dit is waar die sagtheid ophou.

Natuurlik is daar jou sjokolade-mense. Mense wie jy opsoek wanneer jy troos nodig het. Dit is gewoonlik iemand na aan jou. Wanneer jy hulle in die Noord-Kaap son los, verloor hulle hulle vorm, maar nie hulle smaak nie. Gee jy hulle ‘n tydjie om af te koel, is hulle weer eetbaar.

Dan is daar die legio ander lekkergoed-mense. Die toffies en die suigstokkies. Die kougom en die sherbet. Die suurwurms en die sout-drop. Soos alles in die lewe moet ons versigtig wees om nie ‘n lekkergoed bloot op sy verpakking te beoordeel nie. Soms is dit die aangenaamste lekker wat uit die onopvallendste verpakking te voorskyn kom. Soms is daar die teleurstelling van ‘n ongelooflike verpakking met ‘n nie so smaaklike lekker daar binne nie.

Volgens my, wat al in vier provinsies gewoon het, is die mense van sentraal Suid-Afrika, maar veral die Noord-Kaap, my gunsteling lekkergoed-mense. Hulle gasvryheid en omgee in swaar tye oortref enige ander provinsie se lekkergoed-mense.

Almal van ons is uniek. Ons verskille maak die lewe interessant en ons vul mekaar aan, al voel dit nie altyd so nie.

Watter tipe lekkergoed-mens is jy?[Karin Muller: Noordkaap 2014-04-22]

Friday 19 March 2021

Friday 12 March 2021