Showing posts with label Matrieks. Show all posts
Showing posts with label Matrieks. Show all posts

Monday, 21 October 2024

Matriekgebed

Ek staan op die brug, Heer, tussen gister en môre.
Nou!
Tussen kindwees en grootwees is ek nou.
En ek weet: nog nooit het ek soveel geweet nie - 
Of so min.
Nog nooit was ek so groot nie -
En so klein.
Nog nooit was ek so honger vir die lewe -
Of so bang nie.
As juis nou ...
Here, wees U by my, langs my oor hierdie brug,
Want sonder U, Here, wil ek omdraai en vlug!
Here, help my om gister suksesvol af te sluit;
Help my om myself vir môre te slyp.
Help my fokus, Heer, help my lees.
Gee my moed en insig en krag
Vir elke vraestel ... elke eksamendag.
En in elke vak wat ek studeer, o Heer,
Laat my opnuut die wonder van U aarde, U skepping sien - 
Die Hand van die Almagtige God wat ek dien.
Maak my rustig Heer, kalm en stil;
Hou spanning en angs weg van my.
Laat my hand in U s'n bly.
Bid daarvoor in die Naam van ons Here Jesus Christus.
Amen.

[Bron: Internet]

Friday, 18 October 2024

Matrieks, die laaste hekkie van julle skoolloopbaan

Liewe Matriek

Mag die genade en die liefde van die Here soos dou op jou en jou geliefdes kom lê.

Mag daar 'n mantel op jou skouers val wat 'n teken sal wees van God se ingrype, seën en voorsiening.

Ek seën jou met 'n seën wat sal vul waar dit leeg is, wat sal herstel waar gebrokenheid is, wat sal heel wat stukkend is, wat sal oorvloei waar daar tekort is.

Mag die Here vir jou gee die begeertes van jou hart.

Die Here seën jou!
Ja, die Here seën jou.

Sterkte met die matriekeksamen. 

Ons allerbeste wense vergesel julle op hierdie laaste skof van julle skoolloopbaan. Leer hard, slaap genoeg, vertrou en kyk voortdurend op na waar jou kalmte en hulp vandaan kom. 

Mag al julle drome waar word en mag julle toekomspaaie vol vreugde en vol van Jesus se genade wees.

Klik op die boekmerk vir 'n duideliker beeld.  

[Bron van verskeie boekmerke HIER. Besoek gerus die kreatiewe webwerf.]

Monday, 17 August 2020

Liewe Matrikulant


Jy sal 2020 in jou lewe nooit vergeet nie en niemand sal die klas van 2020 ooit vergeet nie. Jou hoogtepuntjaar op skool, jou vir oulaas jaar, het 'n hartseerjaar geword. Jy beleef soveel oppe en affe en gemengde emosies. Dit wissel tussen kwaad, hartseer, duisend vrae, hooploos en moedeloos. Daar is selfs verrassende oomblikke van vreugde tussen-in, maar hulle is min. Nou moet jy nog met die emosies almal op een dag deel - soms selfs almal binne 'n paar uur. Met tye wil alles jou net oorweldig. Wat gaan aan? Is daar fout met jou? Dan wil jy huil! Dan wil jy skree!

Die een woord wat sal maak dat jy alles 'n klein bietjie beter verstaan, is die woord VERLIES. Jy het vir lank jou vriende en vriendinne gemis = verhoudingsverlies (erken dit maar, jy het tot skool en jou onderwysers gemis!). Jou laaste jaar van skool het, terwyl jy by die huis moes sit, soos water deur jou vingers gesypel - onbeheerbaar, onkeerbaar. Daardie laaste hokkie-, rugby-, netbalwedstryd of bergfietswedren vir jou skool het toe nooit gebeur nie - maak nie saak of dit vir die eerste, tweede of derde span sou wees nie. Jy wou so graag! Van julle het drome gehad van liga's wen, provinsiale klere in sport - daarvan het niks gekom nie. Jy het vir oulaas uitgesien na die koor, die ATKV-redenaars, orkes en ander kulturele aktiwiteite. Dit is verlede tyd. Jou hoofseun- of hoofdogterjaar het nie uitgewerk soos jy gedink het nie. Jy het soveel drome gehad.

Verstaan jy nou jou VERLIES? Dis groot. Dis nie gering nie. Dit sny diep. Het jy al tyd gemaak om stil te sit en jou verliese neer te skryf, op die naam te noem? Het jy al tyd gemaak om met die Here daaroor te praat? (Jou Vader wag vir jou) Het jy al tyd gemaak om met jou pa, ma, beste vriend/in of gunsteling onderwyser/es hieroor te gesels. Het jy al tyd gemaak om te ROU? Dis al hoe'n mens deur en oor verlies kom. Kyk dit in die oë, noem dit by die naam en gee jouself die geleentheid om te rou, om hartseer te wees, om kwaad te wees, om jou vrae te vra en om uiteindelik vrede te kry en aan te beweeg.

Jy kan, mag en gaan egter nie ooit in jou lewe 'n slagoffer wees nie. Daar is te veel "victims" in die lewe wat vasgehaak het in die verlede. Slagoffers eindig altyd met bitterheid en kwaad. Slagoffers hou aan agtertoe kyk en vergeet om te droom. Jou verliese is eg en erg. Daarom mag jy en moet jy daaroor rou. Gee jouself die tyd en ruimte om dit te doen sodat jy gesond kan aanbeweeg.

Leer by die "matrikulant" in die Bybel: Josef. Sy verhaal in Genesis 37 begin op ouderdom 17 (dis hoekom ek hom 'n matrikulant noem). Hy is deur baie swaar: broers wat hom eers wil vermoor, toe aanrand en in 'n droë put gooi - diep en donker, hy word verkoop, gaan na 'n vreemde land, word weer verkoop en beland onskuldig in die tronk. Praat van verliese! Praat van swaar, seer en moedeloos! Sy verhaal begin egter met drome - drome wat God vir hom gegee het. Jy sien, as jy aan God se drome vashou en dit najaag, eindig jy waar Josef geëindig het: die tweede belangrikste persoon in Egipte. God se drome vir jou begin nou eers. Dit hou nie op in 2020 nie. Nee, hou aan droom saam met jou Vader. Natuurlik is hierdie jaar baie sleg - vandaar woorde soos verlies en rou. Jy gaan egter nie in 'n slagoffer verander en ophou droom nie. Die volgende twintig jaar van jou lewe is een van groot opwinding en groot belangrikheid: studies, werk, trou, kinders kry en jouself vestig in die lewe. Wow! Kry daardie drome wat God oor jou droom weer in plek en in rat.

Gebruik 2020 se swaar, sleg en verliese om diep lesse te leer oor die lewe - dit gaan nie altyd maklik wees nie. Gebruik 2020 se lewenslesse om jou karakter van volharding, vertroue in God en toewyding net nog meer en meer te laat groei. Die klas van 2020 mag oor 'n paar jaar van nou dalk almal voor wees as gevolg van lesse geleer in 2020. Julle mag dalk voorloop wat lewensfiksheid aanbetref omdat 2020 een lang en steil bult was in julle lewenswedloop - uitnemende karaktervorming.

Lees Jeremia 1 vers 5 en maak dit van toepassing op jou eie lewe. Maak dit diep persoonlik:
Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; voordat jy gebore is, het Ek jou aan My gewy en jou as profeet vir die nasies aangestel.

God het jou nie vergeet nie. Hy ken jou van voor jou geboorte af. Jy is aan Hom gewy. Hy droom drome oor jou al vir baie jare. Moenie dat 'n swaar en baie uitdagende 2020 dit ontspoor nie. Nee, gebruik dit om jou drome saam met God momentum te gee.

'n Wonderlike mooi toekoms lê vir jou voor. Al ken ek jou dalk nie, kan ek dit vir jou sê omdat ek ons God en ons Vader ken.

My hart is seer vir jou ... maar ek het ook 'n opgewondenheid oor jou toekoms.

Opregte liefde
Johan Smith

Friday, 22 March 2019

Suid-Afrika: Soos 'n matrikulant dit sien ...

'n Matriekdogter stuur die gedig aan SA-skool vir gedigte. Hul kommentaar:
Baie goed verwoord en pragtig! Hierdie gedig hoort op elke lamppaal in ons land vir al die doemprofete."

Suid-Afrika

Waarom sou ons vrees in ons eie land
met soveel beloftes uit God se hand?
Suid-Afrika, jy's die perfekte kandidaat
met 'n bonatuurlike, goddelike mandaat!

Ons is mos positiewe geloofsmense
want ons God word nie beperk deur grense.
As Hy hier wil werk, wié kan Hom keer
as Sy bloed spreek in die hemelsfeer?

Hy is ons Raadgewer in al ons weë
op Wie ons wag - Sy tyd is altyd geneë.
Spreek lewe elke dag, oral waar jy kom!
Ons fokus nie op storms en aanslae stom.

Nee! Ons is ligdraers met 'n toekomsvisie
ons styg bo elke haat sonder ammunisie,
en leef ons lewenswoorde van hoop
met moed en krag in vaste geloof!

Net geloof alleen kan God behaag
staan daarom vas - met Hóm sàl ons slaag!

Tuesday, 24 October 2017