Showing posts with label seëninge. Show all posts
Showing posts with label seëninge. Show all posts

Tuesday, 19 May 2026

Mandjie Hoop: Tel jou seëninge

Jy tel eerstens jou seëninge
en nie jou verliese nie, sê die Here. 
Selfs in jou donkerste nag, 
is jou seëninge steeds baie meer as jou verliese. 
Selfs al het jy alle aardse goed verloor, 
het jy nog vir My, sê die Here. 
Ek is jou grootse Bate en Rykdom. 
Die aardse goed gaan verby, 
maar Ek bly vir ewig by jou. 
Tel jou seëninge. 
Sien jou gesondheid raak. 
Wat van jou kosbare familie en vriende? 
Het jy nog oë om te kan sien? 
Kan jy nog hoor? 
Het jy nog jou twee bene om mee te loop? 
Kan jy nog jou longe vol vars lug trek? 
Daarom lewe jy ‘n lewe van intense genade!

[Aangestuur]

Thursday, 30 April 2026

Die Krag Van Dankbaarheid In 'n Christen Se Lewe

Van al die maniere om God te aanbid, 
is dankbaarheid waarskynlik die een 
wat die meeste deur ons misgekyk word.

Van die insekte tot die diere, 
sien ons hoe God sy seëninge 
oor al sy skepsels uitgestort het, 
maar slegs die mens beskik oor die vermoë 
om deur woorde en dade
uitting te gee aan dankbaarheid. 

‘n Lewe van dankbaarheid lyk egter anders 
as om bloot goeie maniere te hê en dankie te sê. 
Die gawe van dankbaarheid word deel van ons lewe 
wanneer ons ten volle besef wat God vir ons 
uit genade gedoen het en dit ons dryfkrag word
om elke dag vanuit dankbaarheid te leef.

Begin vandag om elke dag dankbaar te leef!

Thursday, 29 August 2024

Bekeer jou denke en beïnvloed die wêreld positief

Op ‘n dag het ‘n dosent vir sy studente ‘n swart kol op ‘n groot wit bord geteken. 

Hy vra toe vir sy studente, wat hulle sien. Elke student het ‘n antwoord gehad. Elkeen het die swart kol se posisie, grote en vorm beskryf. Die dosent antwoord toe vir hulle dat hulle almal verkeerd is. Daar is nie net ‘n swart kol op die bord nie. Daar is ‘n hele witbord vol wit oppervlakte rondom die swart kol. Hulle het so gekonsentreer op die swart kol, dat hulle die wit oppervlakte mis gekyk het.

So kyk ons ook dikwels na die swart kolle in ons lewe en ons sien nie die groot wit oppervlakte van geleenthede en groei raak nie. Die swart kolle, kan persoonlike probleme wees, jou omstandighede, jou teleurstellings, jou verliese of jou bekommernisse. Ons konsentreer so daarop, dat ons die potensiaal van die lewe miskyk. Ons val vas in die swart kolle van die lewe en ons mis ‘n lewe van groei, lewensgeluk en potensiaal. Ons konsentreer so op die negatiewe in die lewe, dat ons die baie positiewe dinge in ons lewe miskyk.

Daar is ‘n lied wat sê : “Tel jou seëninge, tel hul een vir een.” As dit jou lewensmotto is, kan jy nie anders as om gelukkig te wees nie.

Wat maak of breek ‘n huisgesin? Mense met ‘n voortdurende kwetsende negatiewe ingesteldheid wat net altyd die swart kolletjies op die groot witbord raaksien, maar nooit die groot witbord, vol positiewe potensiaal raaksien nie.

Wat laat huwelike kwyn? Wanneer ek gedurig net my maat se foute, die paar swart kolletjies op die witbord raaksien. Ek konsentreer so op die negatiewe, dat ek nie eers meer die positiewe raaksien nie. Die paar swart kolletjies word so oorheersend, dat my lewensmaat uit fokus raak en ek onvergenoegd met my huwelik raak.

Ons kan ons kinders so bombardeer met die negatiewe, dat hulle later ook negatiewe grootmense word, wat oor alles negatief is. Ons kan so negatief oor ons kinders praat, dat hulle dit later begin glo en lei aan ‘n negatiewe selfbeeld.

Dan bestaan ‘n mens net. Dan leef jy nie. Jy oorleef miskien, maar jy leef nie. Dit terwyl die Here juis vir ons ‘n lewe van oorwinning wil gee. Die Here wil hê dat ons vreugdevolle huwelike en gesinne moet koester. Die Here wil hê dat ons positiewe kinders met ‘n gesonde selfbeeld moet grootmaak. Die Here wil hê dat ons, ons werk met vreugde moet doen. Die Here wil hê dat ons as sy beelddraers elke dag skeppend en kreatief dié lewe moet skep. Net positiewe mense kan skep.

Ja, ons moet vreugdevolle huwelike en gesinne skep, deur positiewe denke en gedrag. Ons moet ons werk elke dag vreugdevol doen, deur skeppende positiewe kreatiwiteit. Net positiewe mense kan skep.
Positiewe mense skep dankbaarheid, vergenoegdheid, deernis, empatie, vriendelikheid, gasvryheid, vergewensgesindheid, en liefde en al die ander gawes van die Gees.

Juis daarom moet ons leer om dankbaar te wees, onder alle omstandighede. Dankbaarheid is alleen moontlik, wanneer ek, soos Paulus in Fil 4: 4-9 my gedagtes instel op alles wat reg en mooi en prysenswaardig is. Om dankie te sê, verander ‘n mens se lewe. Dit draai die fokus weg van jouself, weg van jou eie behoeftes en eise en maak van jou ‘n mens wat eerder wil gee as om te ontvang.

Onthou die volgende aanhaling: “ Dankie Here, vir alles wat U vir my gegee het; vir alles wat U van my weggeneem het; vir alles wat U vir my laat staan het.”

Dit is nie wat jy verloor het, wat tel nie, maar wat jy oorhou. Werk en woeker daarmee, totdat jy jouself uit jou onvergenoegdheid bevry het. Wees dankbaar en positief, selfs oor die “bietjies” in jou lewe en jy sal bevrydend en oorwinnend kan lewe.

Mag God se Gees gee, dat ons ons denke sal bekeer, tot skeppende kreatiewe positiewe mense, wat deur ons positiewe gedrag die wêreld positief beïnvloed.

[Dankie, Rosetta, vir hierdie lewenswaarheid.]

Thursday, 23 May 2024

Hoekom bekommerd?

Ons hoor so dikwels iemand sê: Moenie bekommerd wees nie - maar dan ons wonder maar in die stilligheid hoe ons al ons bekommernisse net so opsy kan sit. Daar is soveel gevare wat ons omring, soveel dinge wat ons in spanning laat leef, en soveel mense wat seer het. Ek kan onmiddellik aan 10 belangrike bekommernisse gelyk dink - die verkiesing wat op hande is, die misdaad wat hand uitruk. werkloosheid, die ekonomie, finansiële probleme, oorloë en gerugte van moontlike oorloë, kanker wat so toeneem dat feitlik almal op die kerk se gebedslysie, die een of ander kanker het en dan tref dit my: Om nie bekommerd te wees nie, lyk onmoontlik. Dit is onmoontlik om ons op te hou bekommer as ons elke dag na al die probleme in die lewe kyk. 

Maar tog, toe ek vanoggend my twee oë oopmaak, besef ek dit is die eerste sigbare seëninge vir vandag. Die wonder van God se liefde wat vir ons leer dat Hy soveel groter is as die kommerwekkende omstandighede wat ons daagliks ondervind. Hy verseker ons dat Hy beheer het oor alle dinge. Hy is die Almagtige, Alwetende God wat ons behoeftes ken en in staat is om almal te vervul. 

Hy het ons grootste bekommernis weggeneem. Hy het ons bevry van die straf wat ons as sondaars verdien. Hy het Sy liefde aan ons gegee deur ons die lewe saam met Hom te gee, wat vir ewig sal  bestaan. Ons Hemelse Vader, wat ons so liefgehad het dat Hy Jesus as ons Verlosser gestuur het, beloof ook om in ons lewens te voorsien en ons teen gevaar te beskerm. Dit is nie nodig om onaangenaam, onbuigbaar, kwaad, angstig of vir die toekoms bang te wees nie, want ons het ’n Verlosser wat al ons gebede hoor en verhoor. Geen bekommernisse of al die ellende wat ons daagliks in die wêreld ervaar, en in die media van lees, kan die vrede wat ons deur geloof in Jesus Christus ontvang het, van ons wegneem nie.
 
Dankbaar vir God se reddende liefde in Jesus Christus, kan ons van ons geneigdheid tot bekommernis afwyk. 

Ons kan Hom met vertroue in gebed aanspreek, in die wete dat Hy luister en volgens ons beste belange sal antwoord. Aangesien God ons ook deur sy Heilige Gees verseker van sy alomteenwoordigheid en beskerming, weet ons dat Hy in sy liefde ook in hierdie lewe vir ons sal sorg.
 
Daar is dus geen rede tot kommer nie. Soos die apostel Paulus sê: Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.
(Fil 4: 6-7).

Saturday, 6 April 2019

Saturday, 3 March 2018

Saturday, 30 September 2017

Friday, 25 November 2016