Tuesday, 10 December 2024
Thursday, 28 November 2024
Saturday, 16 April 2022
150 genadejare: Die orrelis met die langste jare diens in Dutoitspan-gemeente
'n Kort terugblik na Dutoitspan se orrelistes voordat daar iets oor mev. Remerta (AR) van der Westhuizen, die orrelis wat sinoniem met Dutoitspan-gemeente was, gesê word.
1940 staan uit in Dutoitspan-gemeente se musiek-annale. Dit is die jaar wat die orreltjie geëlektrifiseer is en na die nuwe kerk verskuif is. Die orrelis op daardie stadium was mej. Collard wat tot Mei 1945 die gemeente begelei het en die kerkkoor afgerig het.
Tussen Junie 1945 tot einde April 1947, toe mev. Van der Westhuizen aangestel is as orrelis, het mejj. Lorna Bothma, Lena Anema, asook mevv. Van der Merwe en Van Rensburg, tydelik die orrel bespeel.
Met die gemeente se eeufeesvieringe in 1972, was mev. Van der Westhuizen vir meer as 25 jaar lank die orrelis en was sy nie alleen een van die knapste orrelistes in die land nie, maar sy het ook die gawe besit om kore af te rig soos min haar dit kon nadoen. Die kerkkoor het dikwels uitnodigings gekry om by spesiale geleenthede op te tree. Sy het selfs die kerkkoor aan talle kunswedstryde laat deelneem, en die strawwe kompetisie ten spyt, het hulle sonder uitsondering, altyd met die louere weggestap.
Die volgende belangrike musiekdatum was Maart 1956 toe die herboude en vergrote orrel waarvan die koste 3 000 pond (R6 000) beloop het, ingewy is. Die 457 pype van die ou orrel is tot 'n totaal van 1 209 pype aangevul. Die fondse vir die klokkespel wat later spesiaal ingebou is, is ingesamel deur die koorlede. Hulle het konserte, opvoerings en met spesiale optredes die nodige geld ingesamel. Hulle was nie verniet so gesog in Kimberley nie. Tydens die inwyding het mev. Van der Westhuizen, saam met haar koor vir 'n pragtige kantate-uitvoering en musiekprogram gesorg.Mev. AR van der Westhuizen was tot aan die begin van 1979
die orrelis van Dutoitspan. Na 33 jaar agter haar geliefde orrel, besluit sy en haar man om na
'n aftree-oord in die Strand te verhuis, om nader aan hulle seun te wees. Haar
liefde vir kore en koormusiek, het haar Strand toe gevolg. Sy het o.a. 'n koor
in die aftreeoord op die been gebring, die orrel tydens eredienste bespeel en
musiekprogramme in die aftreeoord gereël. Mev. Van der Westhuizen was baie diep in haar
negentigs, toe sy nog musiek aktief beoefen het.
Sy het al die jare by Diamantveld Laerskool musiek gegee
en baie van die kinders wat musiek geneem het, het die skool gekies omdat mev.
Van der Westhuizen die musiekonderwyseres was. Natuurlik het sy ook die
skoolkoor afgerig en hulle het met die een prys na die ander op
musiekkompetisies weggestap.
Mev. Van der Westhuizen se seun, Pieter, was deel van die
komitee wat verantwoordelik was vir die vernuwing van die 1978-Psalm- en
Gesangboek. Op daardie stadium was hy verbonde aan die Universiteit van
Stellenbosch. Haar kleindogter, Pieter se dogter, is die wêreldberoemde Anmari
van der Westhuizen, medeprofessor en hoof van die OSQ by die Universiteit van
die Vrystaat.
Mev. Van der Westhuizen het lank voor Google geleef, maar koerantberigte en YouTube-video's van haar kind en kleinkind is maklik opspoorbaar.
Wednesday, 6 April 2022
150 genadejare: Die orreliste vanaf 1949 ...
|
Orreliste vanaf die
eeufeesviering tot nou |
||
|
1. |
Mev. AR vd
Westhuizen |
April
1947-Feb 1979 |
|
2. |
Mev. R Brand |
1979 |
|
3. |
Mev GA de
Ronde |
1979-1982 |
|
4. |
Mnr. D du
Toit |
1983-1984 |
|
5. |
Mnr. TL Holmgreen |
1984-1985 |
|
6. |
Mev. Cohen |
1985-1986 |
|
7. |
Mnr. D du
Toit |
1986-1989 |
|
8. |
Mev. MP
Coreejes |
1990-1996 |
|
9. |
Mnr. T
Blignault |
1996-2020 |
|
10. |
Mev. B le
Roux |
2020 - tans |
|
|
|
|
Sunday, 16 September 2018
Geskiedenis: Die orrel
Met die ontvangs van ds. Kriel op 21 Julie 1881 was daar 'n kerkkoor wat die welkomslied gesing het. Onmiddellik na die inwyding van die nuwe kerkgebou in Desember 1881, tree mev. Kriel as orreliste op wat vir die volgende ses jaar, sonder betaling, die sang van die gemeente op die harmonium lei.
Nadat haar opvolger, mnr. Vos, byna twee jaar die musiekinstrument gratis bespeel het en sy versoek om 'n vergoeding van 5 pond (R10,00) per maand deur die kerkraad geweier is, moes daar vir 'n geruime tyd staatgemaak word op die dienste van vrywilligers.
Intussen het die harmonium se toestand so versleg, dat ds. Perold die kerkraad beweeg het om 'n musiekinstrument aan te koop vir 45 pond (R90,00) en word die bestelling in Januarie 1895 êrens in een van die lande in Europa geplaas. Aan koorsang is toe alreeds baie tyd gewy, sodat met die afskeid van ds. Perold 'n hele aantal koorstukke gelewer is.
In ds. Marais se tyd lees ons van baie aangename en opwindende programme van koorsang onder die bekwame leiding van mev. HO Stiglingh wat vir baie jare die orrel gratis bespeel het. Haar vertrek na Stellenbosch in 1899 was 'n geweldige verlies vir die gemeente. Tydens 'n groot jaarlikse kinderfees op 10 Desember 1911 word daar melding gemaak van die besondere pragtige koorsang. Hiervoor was mnr. Burnett, 'n onderwyser van die plaaslike laerskool, verantwoordelik.
Terwyl daar hierna eers 'n mnr, Anderson die orreltjie bespeel het en daarna 'n mnr. A Ellis wat as 'n baie bekwame man beskrywe is, besluit die kerkraad op aanbeveling van ds. Rabie om 'n nuwe en 'n groter traporreltjie aan te koop. Hy stort dan ook die eerste bydrae van 10 pond (R20,00), wat hy as geskenk van die kerkraad ontvang het, op 'n waarborglys vir die nuwe orrel. 'n Hele aantal van die kerkraadslede doen toe dieselfde. (Ds. Rabie is nie die enigste predikant wat dit gedoen het nie - later meer hiervan.)
Om staanplek vir die nuwe orreltjie en genoeg ruimte vir die koorlede te voorsien, moes die galery bokant die ingang van die sinkkerkie vergroot word. Die onkoste hiervan het meer as 75 pond (R150,00) beloop. Hierdie onkoste is deur die koorlede by wyse van lyste ingesamel.
In 1916, in ds. Kotzé se tyd, is die nuwe orreltjie in gebruik geneem.
Mej. Annie Maritz (Slabbert) was destyds die orreliste en onder die koorlede vind ons die name van Hennie en Lettie Venter, asook mejj. Ricca van Reenen en Maggie Shingler (Du Toit). Laasgenoemde is die moeder van Nellie du Toit, die sangeres van Pretoria wat vanjaar op 29 Julie oorlede is.
Nadat die gemeente byna 45 jaar lank gebruik gemaak het van verskillende traporrels, besluit die kerkraad op 1 September 1917 om 'n pyporrel teen ongeveer 450 pond (R900,00) van die firma Price en Zonen van Kaapstad te bestel. Na 'n gesloer van 'n paar jaar, het die goeie nuus uiteindelik op 10 April 1920 gekom dat die firma hoop om die orrel spoedig af te lewer.
Dit het dan ook so gebeur en die nuwe orrel is op 'n platform voor in die kerk agter 'n veranderde preekstoel ingebou. Aan die regterkant van die orrel is sitplekke vir die kerkraad en aan die linkerkant vir die koorlede aangebring. Die instrument moes met die hand gepomp word.
Die inwyding van die eerste pyporrel is in Julie 1920 deur ds. De Villiers waargeneem. By die geleentheid was die baie bekende ds. ML de Villiers, die leraar se broer, ook teenwoordig. Mev. A Slabbert, die orreliste, het met haar kore vir gepaste en pragtige koorsang gesorg. Onder die koorlede vind ons die name van M Slabber, Hennie en Lettie Venter, Frans en Vic Joubert, Ampie du Toit, Okkie Immelman, Apie Raats (later dominee - meer staaltjies oor hom later), Mossie Carstens (De Kock0, Ricca en Joey van Reenen, Ralie Potgieter en Ellie Pretorius.
Kort hierna, met die vertrek van mev. A Slabbert na Newton, Kimberley, is mej. Ricca van Reenen in haar plek aangestel en sou sy nog baie jare die goeie werk van haar voorganger voortsit. Haar dienste is aan die einde van Junie 1929 beëindig nadat sy met mnr. Vercueil in die huwelik getree en van Dutoitspan afskeid geneem het.
Gedurende die volgende vyf jaar het daar heelwat persone vir kort periodes as orreliste opgetree. Behalwe mejj. A Holloway en Lombaard asook mevv. K Reddie en Joubert, het mnr. Ras die orrel drie jaar lank bespeel voordat mej. L Collard in Junie 1934 aangestel is.
In 1940 is die orreltjie geëlektrifiseer en na die nuwe kerk verskuif. Die ou draad-aksie is egter behou sodat die aanslag steeds baie swaar was. mej. Collard het daarna nog tot Mei 1945 die gemeente op pragtige spel en mooi koorsang getrakteer.
Vir die daaropvolgende jaar het mejj. Lorna Bothma en Lena Anema, asook mevv. Van der Merwe en Van Rensburg, tydelik die orrel bespeel, totdat mev. Remerta (AR) van der Westhuizen weens siekte, eers die betrekking aan die einde van April 1947 kon aanvaar.
Dat die kerkraad baie gelukkig was om mev. Van der Westhuizen se dienste te bekom, het duidelik die volgende maand met die viering van die 75-jarige bestaan van die gemeenste geblyk.
Met die gemeente se eeufeesvieringe in 1972, het sy vir meer as 25 jaar lank getoon dat sy nie alleen een van die knapste orrelistes in die land is nie, maar dat sy ook die gawe besit om kore af te rig soos min haar dit kan nadoen. Geen wonder dus dat haar kerkkoor waar dit ook al optree, altyd in die oog val nie. Op die talle kunswedstryde waaraan die koor in die verlede meegeding het, het dit, sonder uitsondering, altyd met die louere weggeloop.
Gedurende die tyd het sy o.a. die kantate "Van Krip na Kruis, Rut, 'n jubelende Danksegging en Vors van Glorie," met groot sukses opgevoer.
Baie van die ou staatmakers wat by daardie geleentheid, asook by die aanbieding van die kantate, "Die Vors van Glorie" in November 1957 in die vergrote kerkkoor opgetree het, lewe nie meer om in die kerk se eeufeeskoor te sing nie.
Veral word daar gedink aan mejj. S van Heerden (Diskobolos), Kitty van Niekerk, mevv. Elize Kruger, Lettie Venter, A Nothnagel, LA Powell, asook oom Pieter Oberholzer wat nie die eeufees in 1972 saam met ons kon vier nie.
Andere soos Danie en Lorna Brink, Hannie Albertyn, J Wagner, F Booysen, F Rousseau, T Muller, Mattie Jacobs, Minnie Greeff. Hennie Venter, T van der Nest, H Labuschagne, F Scheepers en G Pretorius het sederdien van Kimberley weggetrek of is nie meer in die gemeente woonagtig nie.
Onder die 1972-koorlede is daar 'n hele aantal wat na baie jare van gereelde en getroue diens nog steeds hul dienste tot beskikking en ter verheerliking van die Koning van die Kerk stel.
[Uit: Die eeufeesalbum 1872 - 1972]
Gaan lees die res van die orrelgeskiedenis hier Die gebeure vanaf 1954 word hier vertel.
Saturday, 15 September 2018
Die kerksaal: inwyding
Die verrigtinge binne die saal is deur Modderrivier-Ritchie se predikant, ds. AJ Olivier, met skriflesing en gebed geopen. Daarna is 'n pragtige musiekprogram gelewer, soos net mev. AR van der Westhuizen dit kon doen. Dutoitspan se kerkkoor het gesing, mnr. Frank Scheepers en mevv. M Greeff en M van Niekerk het vir sangsolo's gesorg, terwyl mnr. FJ ter Haar 'n klavieruitvoering gegee het. Mevv. J de Kock en M Pretorius het 'n duet gelewer. 'n Musiekkonsert waarvan die kaartjies jou vandag 'n hele paar rand op een van die feeste sou kos.
Daarna het mnr. RJ Sahlertz, 'n inspekteur van skole, die wydingsrede gelewer.
Gelukwensing is deur ds. Fullard namens die Ring van Dutoitspan en konsulentgemeente gedoen en deur ds. ZB Badenhorst namens die dogtergemeentes. Die dogtergemeentes is hulle wat van Dutoitspan afgestig het nl. Diamantveld Gemeente, Modderrivier-Ritchie Gemeente, Plooysburg en Heuningneskloof. Laasgenoemde gemeente het ook die kateder wat in die kerk staan, geskenk.
Nadat mnr. HG Gouws (skoolhoof van Dutoitspan Laerskool en skriba) die nodige bedankings gedoen het, is die verrigtinge met die sing van Ps. 33:1 en 'n gebed afgesluit. Daarna is groot skare teenwoordig met heerlike verversings onthaal wat deur die susters van die gemeente gemaak is.
Die pragtige gordyne op die verhoog, asook die nuwe stoele en tafels het 'n deftigheid aan die nuwe saal verleen. (Dit is dieselfde gordyne wat vandag, 55 jaar later, nog steeds in die saal hang.)
So 'n brokkie interessantheid: Indien 'n groot aantal stoele bestel word, kon die kerk ruim afslag kry, dus is die kerkraad en gemeentelede genader om asseblief stoele te bestel vir hulle persoonlike gebruik. Saalstoele is nou nie eintlik iets wat algemeen in huise gebruik word nie, maar omdat dit nog 'n manier was waarop die kerk geld kon spaar, het almal stoele bestel. Ek het vandag nog my twee stoele wat ek in 1963 gekoop het.
Selfs die klavier wat reeds in die dertigerjare aangekoop is met fondse wat by wyse van konserte deur die CJV ingesamel is en heeltemal herstel is, het baie goed gelyk en geklink. Die staaltafel in die kombuis, yskas, stoof en ingeboude kaste het die kerkkombuis 'n gerieflike werksplek gemaak vir funksies.
Na die nuwe kerksaal in gebruik geneem is, het ds. Steenkamp en die kerkraad hulle aandag toegespits op die kerkterrein tussen die kerkgebou en die saal.
Mnr. GJ Smal het die terrein langs die kerksaal omhein en baie mooi muurtjies aan die voorkant van die kerk, saal en pastorie gebou. Die heuningkoekmuur voor die kerkkantoor is ook sy handewerk - 55 jaar al staan daardie mure al. Sementpaadjies is tussen die kerk en die saal uitgelê met swart leiklip. Dit het die kerk destyds R1 820,00 gekos. (Oom Smal soos hy bekend was, was die oupa van die Springbokrugbyspeler, Gert Smal - groot mense, met groot hande... geen wonder hy kon 'n rugbybal met soveel gemak hanteer nie - gaan google gerus Gert Smal en kyk na sy veelbewoë rugbyloopbaan.)
Daarna is die terrein agter die saal gelyk gemaak, bourommel is verwyder en die Eiendomskommissie het self ingespring om gras tussen die sementpaadjies te plant en ook langs en agter die kerksaal. Ds. Steenkamp was nie skaam om moue op te rol en saam te werk nie.
Die bou-aannemer, mnr. SJ Burger het ingewillig om vir die bedrag van R1 330,00 die kerk se pleisterwerk en verfwerk op te knap, sodat die kerkgebou nie te veel by die nuwe saal afsteek nie.
Tuesday, 9 January 2018
Gemeentegeskiedenis: Handtekening van Dutoitspan se bekendste orrelis!
![]() |
| Mev. AR van der Westhuizen, Dutoitspan se orrelis van April 1947 tot Februarie 1979. |
Pieter se dogter is die wêreldberoemde Anmari van der Westhuizen. Sy is tans professor aan die Universiteit van die Vrystaat
![]() |
| Anmarie van der Westhuizen, Pieter van der Westhuizen en mev. Remerta van der Westhuizen |
Thursday, 7 July 2016
Wednesday, 6 July 2016
Wie is prof. Anmari van der Westhuizen?
![]() |
Die vier lede van die Odeion-strykkwartet, met
prof. Anmari van der Westhuizen tweede van links.
[Foto: Internet] |









