Showing posts with label Lewensreis. Show all posts
Showing posts with label Lewensreis. Show all posts

Thursday, 12 June 2025

'n Kers vir Rinus Slabbert

Ewigheid

Iewers is dit als verby
en staan jy wat agterbly
vir lank verslae, verstom, verpletter …
Verblind!

Want sien jy my dan nie dwaal
deur die melkweg nie?
En voel jy nie hoe waai
my asem in die winde nie?
Hoor jy nie my fluisterstem
oor veld en vleiland nie?

Jy bly soek my
tussen klip en steen
en jy mis my -
jy mis my

waar ek oor jou reën …

[Digter: Braam Oberholzer]

Die troosdiens van Rinus Slabbert vind 20 Junie 2025 om 11:30 plaas. Die diens sal deur ds. Ensie Enslin gehou word. 'n Groot boom het in Dutoitspan-gemeente geval. Ons sal Rinus onthou as die omgeemens met die groot hart vir wie geen taak te groot of te onmoontlik was nie. Uitreik was 'n natuurlike reaksie, terwyl sy linkerhand nie geweet het wat sy regterhand doen nie. 

Ons bid vir Selma, die kinders en kleinkinders troos toe in hierdie hartseertyd.

Saturday, 12 April 2025

Koesterende genade vir die Le Roux-gesin met die afsterwe van 'n geliefde eggenoot, pa en oupa


Piet le Roux saam met sy kleindogter Lisa.
Wanneer dit tyd word om te groet,
kan ons dit doen met die wete dat die Here in beheer is
en dat sy tydsberekening volmaak is.

Friday, 11 April 2025

'n Kers vir Piet le Roux

Hier aan die einde van my lewenspad
Het die son vir my finaal gesak,
Maar moenie huil en treur oor my 
O nee, wees bly: My siel is vry.

Mis my 'n rukkie - maar nie vir lank
met kop omhoog en geen hartseer klank.
Onthou hoe het herinneringe ons lewenspad gebaan
Mis my - maar laat my gaan.

Hierdie pad moet ons alleen stap en alleen
moet ons elke die tog aanpak.
Dit is alles deel van God se Meesterplan op pad
na waar die ewige die tydelike vervang.

So wanneer julle eensaam en hartseer voel,
laat vriende en familie se liefde en troos hul oorspoel.
In goed doen aan ander kan g'n droefheid bly staan 
Mis my - maar laat my gaan.

Dit is met harseer dat ons die gemeente inlig van Piet le Roux se afsterwe gisteraand. Ons sal hom onthou as die medic van die gemeente, wat op die kerkraad gedien het en ook betrokke was by die gesinsbedieningsgroep. 

Ons bid vir Bets, Gerhard en Johan troos toe in hierdie hartseertyd.

Friday, 20 September 2024

Hoe sê 'n mens dankie ...

* vir dit wat mens het?
* vir soveel liefde?
* 'n huisie?
* 'n bed?

Heer, ek het nie veel nie ...
Maar dit weet U klaar!
Die bietjie wat ek het ...
Is vir my so kosbaar!

Heer, ek tel elke dag my seëninge ...
Een vir een!
Want ek weet ...
Wat ek het, is net vir my geleen!

Heer, soms kan my lewenstorms ook maar woes slaan ...
Maar steeds laat U my huisie vasstaan!

Heer, U beskerm my en ...
my familie al ons hele lewe lank!
En soms weet mens nie ...
Hoe om U te bedank nie!

Heer, my geld is min ...
My huis is klein ...
Maar dit is so asof daar meer ...
Sonlig in my huis skyn!

Heer, ek kyk vas in glimlaggies ...
En kry drukkies elke dag!
My God ...
Ek kan dit weer teruggee!
Want U is my krag!

Heer, soms laat die lewe my ook ...
Opdraende loop!
Ek het geleer waar daar lewe is ...
Is daar hoop!

Heer, ek het leer swem toe ...
Die lewensbranders op hul woeste geslaan het!
Toe ek struikel en afdwaal ...
Was U die een wat verstaan het!

Heer, U het hartseer ...
Pyn en ook soms ...
Twyfel op my pad gebring!
U het weer 'n melodie in my lewe gegee toe ...
My hart nie meer die lied van die lewe wou sing nie!
U het soveel keer my uit die donker dieptes van die lewe kom haal ...
Juis wanneer ek dink als het my gefaal!

Heer, U het my totaal verstom ...
Toe ek heel by die wenpaal anderkant uitkom!
Daarom buig ek vandag my kniëe in gebed en sê:
Dankie, Heer ...
Vir dit wat ek het!

[Dankie, Anoniem]

Thursday, 29 August 2024

Bekeer jou denke en beïnvloed die wêreld positief

Op ‘n dag het ‘n dosent vir sy studente ‘n swart kol op ‘n groot wit bord geteken. 

Hy vra toe vir sy studente, wat hulle sien. Elke student het ‘n antwoord gehad. Elkeen het die swart kol se posisie, grote en vorm beskryf. Die dosent antwoord toe vir hulle dat hulle almal verkeerd is. Daar is nie net ‘n swart kol op die bord nie. Daar is ‘n hele witbord vol wit oppervlakte rondom die swart kol. Hulle het so gekonsentreer op die swart kol, dat hulle die wit oppervlakte mis gekyk het.

So kyk ons ook dikwels na die swart kolle in ons lewe en ons sien nie die groot wit oppervlakte van geleenthede en groei raak nie. Die swart kolle, kan persoonlike probleme wees, jou omstandighede, jou teleurstellings, jou verliese of jou bekommernisse. Ons konsentreer so daarop, dat ons die potensiaal van die lewe miskyk. Ons val vas in die swart kolle van die lewe en ons mis ‘n lewe van groei, lewensgeluk en potensiaal. Ons konsentreer so op die negatiewe in die lewe, dat ons die baie positiewe dinge in ons lewe miskyk.

Daar is ‘n lied wat sê : “Tel jou seëninge, tel hul een vir een.” As dit jou lewensmotto is, kan jy nie anders as om gelukkig te wees nie.

Wat maak of breek ‘n huisgesin? Mense met ‘n voortdurende kwetsende negatiewe ingesteldheid wat net altyd die swart kolletjies op die groot witbord raaksien, maar nooit die groot witbord, vol positiewe potensiaal raaksien nie.

Wat laat huwelike kwyn? Wanneer ek gedurig net my maat se foute, die paar swart kolletjies op die witbord raaksien. Ek konsentreer so op die negatiewe, dat ek nie eers meer die positiewe raaksien nie. Die paar swart kolletjies word so oorheersend, dat my lewensmaat uit fokus raak en ek onvergenoegd met my huwelik raak.

Ons kan ons kinders so bombardeer met die negatiewe, dat hulle later ook negatiewe grootmense word, wat oor alles negatief is. Ons kan so negatief oor ons kinders praat, dat hulle dit later begin glo en lei aan ‘n negatiewe selfbeeld.

Dan bestaan ‘n mens net. Dan leef jy nie. Jy oorleef miskien, maar jy leef nie. Dit terwyl die Here juis vir ons ‘n lewe van oorwinning wil gee. Die Here wil hê dat ons vreugdevolle huwelike en gesinne moet koester. Die Here wil hê dat ons positiewe kinders met ‘n gesonde selfbeeld moet grootmaak. Die Here wil hê dat ons, ons werk met vreugde moet doen. Die Here wil hê dat ons as sy beelddraers elke dag skeppend en kreatief dié lewe moet skep. Net positiewe mense kan skep.

Ja, ons moet vreugdevolle huwelike en gesinne skep, deur positiewe denke en gedrag. Ons moet ons werk elke dag vreugdevol doen, deur skeppende positiewe kreatiwiteit. Net positiewe mense kan skep.
Positiewe mense skep dankbaarheid, vergenoegdheid, deernis, empatie, vriendelikheid, gasvryheid, vergewensgesindheid, en liefde en al die ander gawes van die Gees.

Juis daarom moet ons leer om dankbaar te wees, onder alle omstandighede. Dankbaarheid is alleen moontlik, wanneer ek, soos Paulus in Fil 4: 4-9 my gedagtes instel op alles wat reg en mooi en prysenswaardig is. Om dankie te sê, verander ‘n mens se lewe. Dit draai die fokus weg van jouself, weg van jou eie behoeftes en eise en maak van jou ‘n mens wat eerder wil gee as om te ontvang.

Onthou die volgende aanhaling: “ Dankie Here, vir alles wat U vir my gegee het; vir alles wat U van my weggeneem het; vir alles wat U vir my laat staan het.”

Dit is nie wat jy verloor het, wat tel nie, maar wat jy oorhou. Werk en woeker daarmee, totdat jy jouself uit jou onvergenoegdheid bevry het. Wees dankbaar en positief, selfs oor die “bietjies” in jou lewe en jy sal bevrydend en oorwinnend kan lewe.

Mag God se Gees gee, dat ons ons denke sal bekeer, tot skeppende kreatiewe positiewe mense, wat deur ons positiewe gedrag die wêreld positief beïnvloed.

[Dankie, Rosetta, vir hierdie lewenswaarheid.]

Tuesday, 10 January 2023

Skoolreis vs lewensreis


Daar word dikwels deur leiers en motiveerders gesê dat die skoollewe met ‘n interessante reis vergelyk kan word. Skoolreis vs lewensreis.

Tydens jou lewensreis gebeur daar baie onvoorsiene dinge, daar is hoogtepunte en laagtepunte ... maar daar is ook geleenthede. In 'n skool is dit presies dieselfde. Laagtepunte gaan daar beslis wees, maar beskou hierdie laagtepunte as geleenthede en omskep dit in hoogtepunte. Dit hang van jou as leerder af. Indien jy hulp nodig het om struikelblokke die hoof te bied, praat met iemand. Dit is altyd goed om iemand anders se perspektief op jou probleem te hoor.  

Dit is ons as gemeente se wens dat 2023 vir julle goeie dinge sal inhou. Wees individue wat nie afhanklik is van 'n groep om besluite te neem nie. Droom groot en wees 'n leerder wat nie opgee nie.

Aan al die leerders, maar veral die nuwe graad 1's, die nuwe graad 8's en 2023 se matrikulante, baie sterkte met al die uitdagings wat op julle lewenspad en skoolpad lê. Pak die uitdagings aan en moenie ophou droom nie. 

2023 bied vir jou nuwe geleenthede. Gryp hierdie geleenthede met albei hande aan, werk met passie en geniet elke oomblik.

Maar moet nooit in al jou bedrywighede jou Skepper vergeet wat hierdie alles moontlik maak nie.

Thursday, 10 November 2022

7 klippies


Daar's sewe klippies in jou sak
Deur die Here vir jou ingepak
Sodat jy ene weg kan gooi
Vir elke tiende jaar voltooi.

Eerste klippie, geen probleem
Die spel sal donkiejare neem,
Dink ons in ydel kinderwaan
Die lewe gaan vir ewig aan.

Op twintig waai die tweede klip,
Pragtig en rooi van lip,
Windmakerder kan jy nie kry,
Wat ek wil, skuld die wêreld my.

Klippie drie die laat jou dink,
Vir dertig jaar het jy rinkink,
Vier sewendes is daar nou oor,
Om op te maak vir tyd verloor.

As uit jou hand die vierde val,
Dan vlek die grys jou slape al,
En dit wat in die sak oorbly,
Te min om als gedoen te kry.

Dan kom jy by vyftig,
Nou galop die tyd te vlytig,
En na die bult-op lewenspad,
Beginne jy die afdraand vat.

Voorlaaste klippie nommer ses
Glip uit die sak voor jy sê mes
Dié wat gewerk het vir 'n baas
Kry sy persent en groet vir laas.

O wee, o wee, nou klippie sewe,
Skriftuurlik het jy klaar gelewe,
Daar kom nou veel genade kort
Vir die wat dalk wil tagtig word.

Daar is natuurlik taai kalante,
Jy sien hul soms in die koerante,
Wat net nie wil die emmer skop
En eers na honderd om sal dop.

Of jy nou tot vervelens lewe,
Of tata sê hier rondom sewe,
By watter klip jy ookal stop,
Gaan sal ons, die tyd raak op.

Ek wens jou dus 'n sakvol klip,
Genoeg vir daardie honderd trip
En vreugde tot jou knieë daar op oudag knak.

Nou ja, ou maat, daar het jy dit,
Al wat ons nou kan doen is bid
Vir gesondheid, liefde en geluk,
Met voorspoed vir die oorblystuk!

(Geleen)

Sunday, 26 May 2019

Moet nooit ...

# opkrop as jy iets op die hart het nie.
# stilbly as jy 'n opinie het nie.
# moed opgee as jy sukkel nie.
# kwaad word as jy teleurgestel word nie.
# ophou wanneer jy verloor het nie.
# ongeduldig raak as jy nie jou sin kry nie.
# bly lê as jy geval het nie.
# persoonlik raak as jy in die rug gesteek word nie.
# sinies raak as liefde nie uitwerk nie.
# oordeel as jy iemand nie ken nie.
# verwyt as iemand 'n fout begaan nie.
# haat as iemand jou seermaak nie.
# ophou glo as jou vertroue geskend word nie.
# bang wees as jy alleen is nie.
# twyfel in jouself nie.

WANT ...

jy is baie spesiaal en elke liewe ding wat met jou gebeur
en elke liewe mens wat oor jou pad kom, is vooraf vir jou beplan
om jou sterker, wyser en slimmer te maak en jou diepte en karakter te gee.

Geniet jou lewensreis ...

ONTHOU ...

Hoop maak die reis moontlik.
Geloof maak dit makliker
en liefde maak dit onvergeetlik mooi.

[Dankie aan Francois Crauwcamp wat hierdie mooi gedagtes met ons gedeel het.]