Showing posts with label Dink hieroor. Show all posts
Showing posts with label Dink hieroor. Show all posts

Thursday, 1 October 2026

Dink hieroor: Tiendemaand

Nie wat ons aan God GEE nie, 
maar wat ons van Hom TERUGHOU, 
dit maak ons arm. 

Thursday, 24 September 2026

Dink hieroor: Die dief

'n Man het na die mark gegaan met sewe muntstukke in sy sak. Langs die pad het hy 'n bedelaar teëgekom en hom ses van die geldstukke gegee, terwyl hy een vir homself gehou het.

In plaas van dankbaar te wees, het die bedelaar die goeie man agtervolg, hom oorval, en die sewende geldstuk ook gesteel.

Wat 'n gemene ellendeling! Wat 'n lae skurk!

Ja?

En sou jy, aan wie God ses dae gegee het om te werk en te ontspan, die sewende dag ook wil steel? 

Thursday, 17 September 2026

Dink hieroor: Die onverganklike Woord

Die Bybel is die oudste Boek wat aan ons bekend is. Daar is baie min boeke wat selfs meer as 400 jaar oud is, terwyl die Bybel oor baie eeue heen terug dateer. Tog is sy boodskap vandag nog net so geldig en effektief soos wat dit eeue gelede was.

Die Bybel is nie net die mees geliefde Boek in die wêreld nie, maar ook die mees gehate Boek. Skaars was die Bybel in die mens se besit, of hy ontdek dat dit sonde veroordeel, hooghartigheid aftakel, en die versaking van sonde as vereiste stel.

In die Bybel het die mens homself gevind soos hy is. Hy het 'n kykie in die diepste verborgenhede van sy siel gekry; en omdat die prentjie wat hy van homself gekry het, hom in die verleentheid gebring het, het hy die Bybel begin haat.

Dit het gelei tot volgehoue pogings deur die eeue heen om geloof in die Bybel te ondermyn en die Bybel self te vernietig. Dit is verban, verbrand, en met geweld uit besit van die mense ontneem. Alles is in die stryd gewerp om vir goed van die Bybel ontslae te raak. Dog al die pogings het skromelik misluk.

Die Bybel het al die heftige aanslae wat al teen hom gemaak is, weerstaan en oorleef. En terwyl baie van die boeke wat geskrywe is om sy waarhede te ontken en te weerlê, reeds in die vergetelheid verdwyn het, leef die Bybel voort en bly dit steeds die mees gesogte Boek van alle tye.

Die aanslag teen die Bybel is nog altyd aan die gang; en hoewel dit miskien nie oral so openlik en geweldadig plaasvind, word dit deur die modernisme en liberalisme ondergrawe en deur die oorgrote meerderheid van 'n sogenaamde Christelike gemeenskap afgewater en verwerp. Sy grondwaarhede word selfs van sommige kansels af verdraai en verbloem; en daar is baie mense wat graag sal wil sien dat die Bybel heeltemal van die aardbodem af moet verdwyn.

Maar ons het rede om te glo dat die Bybel selfs in 'n vinnig veranderende wêreld, en ten spyte van die hewigste kritiek en felste pogings om sy gesag te vernietig, sal bly voortbestaan om die boodskap van God aan die mens oor te dra.

God waak oor Sy Woord en sal dit tot die einde toe onder alle omstandighede bewaar. 

Hy sê in Matt. 24:35: "Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar My woorde sal nooit verbygaan nie."  

[AJ Steyn]

Thursday, 3 September 2026

Dink hieroor: Dit is só kosbaar ...


Hoe kosbaar het God ons gemaak om te blom met dit wat Hy in elkeen van ons gedeponeer het - dit vloei natuurlik uit jou uit na ander om jou.

Thursday, 27 August 2026

Dink hieroor: Jy kan ...

Jy kan 40 dae sonder kos gaan ...
3 dae sonder water ...
8 minute sonder suurstof ...
maar jy kan nie 'n sekonde sonder God nie!

Thursday, 20 August 2026

Dink hieroor: Wat jou hand vind om te doen

As jy nie die hele wêreld kan red nie, moenie die paar persone wat binne jou bereik is, verontagsaam nie. Moenie toelaat dat jou begeerte na groot dinge jou bo die geringe verhef nie.

Dit is deur die gering in aanmerking te neem dat ons die hoogste sport van diensbaarheid sal bereik.

[St. Chrysostom]

Thursday, 13 August 2026

Dink hieroor: Die Evangelie stel 'n eis

Liefde is nie soseer om te kry nie, maar om te gee. God het so liefgehad dat Hy sy beste gegee het, en God is liefde. 

Ons wat die evangelie uitdra, mag nie dink dat dit ons plig is om 'n beter verhouding tussen Christus en die wêreld tot stand te bring nie. 

Ons word nie geroep om Christus meer aanvaarbaar te maak vir die sakewêreld of die media of die sportwêreld nie. 

Ons is nie diplomate nie, maar profete. Ons boodskap is nie 'n kompromie nie, maar 'n onverbiddelike eis tot inkeer en oorgawe.

[AW Tozer]

Thursday, 30 July 2026

Dink hieroor: Vergifnis

Om te vergewe is om 'n gevangene vry te laat, 
net om te ontdek daardie gevangene was jyself.
Lewis B. Smedes

Thursday, 23 July 2026

Dink hieroor: Waar kry jy jou krag vandaan?

Jy leef uit die krag van die Een wat in jou woon.
Die waarheid is eenvoudig. 
Bekommernis het geen krag nie. 
Bekommernis kan nie jou toekoms verander nie. 
Bekommernis kan nie jou verlede regmaak nie. 
Bekommernis kan egter jou hede steel. 
Maar geloof in God se Woord,
vervang die van angs met vrede. 
"U sal hom in volkome vrede bewaar wie se gedagte op U gerig is" 
(Jesaja 26:3). 
Vrede is nie iets wat jy jaag nie. 
Dit is iets wat jy binne jou ervaar
wanneer jy rus in die Een wat in jou woon.

[Aangestuur]

Thursday, 16 July 2026

Dink hieroor: Watter soort blom is ek?

'n Kaktus het ook ‘n blom, 
mooi om na te kyk en bewonderingswaardig, 
maar sleg om aan te vat ... 
moenie ‘n kaktus wees nie. 

Mense word dikwels met blomme vergelyk.
As mense egter soos blomme was, 
dan was daar geen nydigheid nie, 
want elke blom staan kleurvol trots en fier - 
die kleineres en die fyneres, 
net so mooi soos die sterkeres en groteres. 
Almal kry 'n plekkie in die grond en in die son. 
En saam maak almal die mooiste bos blomme. 
Selfs die blare is 'n fees vir die oog.

Onthou, elkeen is 'n unieke blom
en saam is ons 'n unieke bos blomme 
want saam kan ons soveel meer doen,
meer vermag
meer verander
tot eer van Hom wat die Skepper van hemel en aard is.

Kom ons leef so dat dit 'n fees vir Sy oog is.

Thursday, 9 July 2026

Dink hieroor: Wys my jou hart

Moenie vir my 'n titel of 'n graad wys nie ...
Wys my jou hart.
Ek wil nie jou fancy huis sien nie ...
Wys my jou hart.
Ek wil nie jou duur skoene hoor aankom nie ...
Ek wil hoor hoe klop jou hart.
Nerf-af, stukkend of mooi ... wys my jou hart.
Want eendag gaan jou graad teen die muur hang,
jou huis word verkoop en
jou skoene bly agter in die kas.
Jy gaan eendag jou hart moet uithaal en vir God aangee.
God gaan vra ...
Wys my jou hart!!!

Thursday, 2 July 2026

Dink hieroor: Ontvang 'n weldaad in ruil

Dit word vertel van Cranmer, 'n man wat vir sy geloof gesterf het: "Om hom kwaad aan te doen, was om 'n weldaad terug te ontvang. Sy hart was so ryk en vol dat, as 'n mens 'n saadjie van haat daarin sou saai, liefde daaruit sou voortspruit."


[Klik HIER en HIER om meer van aartsbiskop Thomas Cranmer te lees.]

Thursday, 25 June 2026

Dink hieroor: Is jy 'n mensebehaer en oëdienaar?

Wanneer God iemand nodig het om in sy wingerd te werk, vra Hy nie of die persoon besondere kwalifikasies of groot natuurlike vermoëns besit nie. 

Hy vra eerder: 
* Is sy hart onverdeeld op My gerig? 
* Is hy gewillig om in die geloof te volg waar Ek lei en om My te alle tye in nederige onderworpenheid te gehoorsaam?
* Sal hy gewillig wees om ter wille van My Naam oneer en onreg te ly?
* Sal hy tevrede wees wanneer Ek hom tugtig om hom vir groter diensbaarheid te bekwaam?
* Is hy 'n mensebehaer en oëdienaar? 
* Soek hy slegs die eer van God in alle omstandighede?

Wanneer God so 'n persoon vind, sal Hy hom gebruik.

[Samuel Logan Brengle]

Thursday, 18 June 2026

Dink hieroor: Paulus maak dit duidelik

Wat sal jou antwoord op die volgende vraag wees:
Wie is die middelpunt van jou lewe?
Christus of jyself? 
As jy Christus as middelpunt het, dan wil jy ...
* Hom steeds meer ken. 
* In gemeenskap met Hom lewe en stry.
Om 'n  Christen te wees:
* is om Christus te ken. 
* impliseer dat jy die krag van sy opstanding ken. 
* het jy gemeenskap aan sy lyding.
*  mag jy die opstanding uit die dode verwag.
Filippense 3:1-14.

Thursday, 11 June 2026

Dink hieroor: Oorleef of leef?

Martha Washington het gesê: "Ek het geleer die grootste deel van ons geluk of ellende hang af van ons gesindheid, en nie ons omstandighede nie." As jy van oorleef na leef wil gaan, moet jy die meeste maak van die plek waar God jou gesit het.

Thursday, 4 June 2026

Dink hieroor: Blomtyd

Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God.
(Miga 6:8)
Hoe lyk ‘n bedagsame lewe voor God?
Dit is wanneer jy jou kop bewustelik optel en met nuwe oë na die wêreld om jou begin kyk.
Liewe mens, na aan God se hart,
het dit nie tyd geword dat jy begin blom net daar waar God jou geplant het nie?

Thursday, 28 May 2026

Dink hieroor: Wees 'n betrokke ouer

Om deel van jou kinders se herinneringe van môre te wees,
moet jy vandag in hulle lewens teenwoordig wees!

Thursday, 21 May 2026

Ek is bereid om in jou skoene te loop

Dr. Elsje Büchner: "Ware omgee vra dat ek en jy bereid sal wees om in iemand se skoene te loop. Jy moet bereid wees om te voel wat hulle voel. Omgee beteken dat jy sal seker maak wat vir die ander persoon belangrik is, hoekom hulle sekere dinge vra en sê. Dit is presies wat Jesus gedoen het en wat God van ons vra. Hy het saam met die eenkant mense gaan sit en na hulle geluister, gehoor wat regtig vir hulle saakmaak en wat hulle seermaak. Hy het die krete van armes en eenkant mense gehoor. Hy het in hulle skoene geloop. Hy het selfs sy dissipels se voete gewas.  
 
Jy moet 'n fyn oog en oor ontwikkel vir ander se lag en huil sodat jy saam in hulle skoene kan gaan staan en die pad saam met hulle stap."

[Bron: Plus 50 * Oktober/November 2025]

Thursday, 7 May 2026

Dink hieroor: Breekbaar, maar waardevol vir ons Skepper

Jesus het geweet hoe breekbaar ons menslike kleipotlewens is en hoe maklik ons kan omval en breek. Daarom het Hy ons nie alleen gelos nie. Hy het Sy Gees permanent in ons harte geplaas. Besef jy wat dit beteken? Dat jy God, die grootste Skat van alle tye, in jou het. 

Besef vandag hoe waardevol jy is omdat Hy in jou leef. Gaan dan, lig jou kop en pak die lewe met oorgawe aan. 

Gebed: Dankie , Trooster, dat u teenwoordigheid my met soveel hemelse rykdom bederf. Vandag en tot in ewigheid sal ek U dien en liefhê. Laat U Lig helder in my skyn. Abba Vader, in Jesus Naam. Amen

{Dankie, Chrisna]

Thursday, 23 April 2026

Dink hieroor: Positiewe denke kan jou lewe verander

* Positiewe denke kan jou help om geleenthede raak te sien waar ander net struikelblokke sien.
* Deur positief te dink, kan jy jou geestelike en fisiese gesondheid verbeter.
* Positiewe denke kan jou hele perspektief verander.
* Positiewe denke verander jou in 'n ligdraer.