Showing posts with label Diere. Show all posts
Showing posts with label Diere. Show all posts

Saturday, 8 March 2025

Kerkgenotjies: Dieremaniere vir die kleinspan

* 'n Slak sleep die polisiekantoor binne.
"Ek is so pas beroof!" kla hy.
"Deur wie en waar? vra die konstabel.
"Deur tien ander slakke, net hier buite op die hoek van die straat."
"Sal jy hulle herken?"
"Ek dink nie so nie ... alles het net te vinnig gebeur!"

* Op 'n dag val 'n muis in 'n vaatjie wyn. 'n Halfuur later kom die kat daar verby.
"Help! Help, my asseblief," smeek die muis. "Kry my net hier uit!"
"En hoekom," vra die kat, "sou ek dit wil doen? Wat gaan ek vir my moeite kry?"
"Jy kan my vir aandete kry. Ek wil net nie in die vat wyn versuip nie."
Dit klink vir die kat na 'n aanvaarbare ooreenkoms en hy haal die muis uit die vaatjie. Die muis het skaars grond gevat, toe laat wiel hy.
"Haai, wag 'n bietjie," roep die kat agterna, "dit was nie deel van die ooreenkoms nie. Jy het belowe ek kan jou vir aandete eet!"
"Ja," skree die muis oor sy skouer, terwyl hy skuiling tussen die plante soek, "maar dit sal jou leer!"
"Wat leer?"
"Om jou nie aan ander mense se dronkpraatjies te steur nie."

[Dankie, Susan, Johannesburg] 

Tuesday, 11 June 2024

Terugflits: Moenie oppasser verkwalik

Gewoonlik is daar 'n buurvrou, vriend of familielid wat darem bereid is om na 'n mens se plante en diere om te sien wanneer 'n mens nie tuis is nie. Jy is dalk ook bereid om dit vir iemand anders te doen.

My vriendin Monnick doen so 'n uitsonderlike werk met ons diere wanneer ons nie tuis is nie dat hulle amper spyt is wanneer ons terug is.

Terwyl my broer diensplig gedoen het, moes ek sy slange versorg. Ek was net nege jaar oud, maar hy het my goed touwys gemaak. Om na die slange om te sien was vir my aanvaarbaar, maar om die muise aan die lewe te hou wat weer vir die slange gevoer moes word, was 'n groot uitdaging.

Onlangs het my skoonsus haar man se visse versorg terwyl hy 'n paar weke oorsee was. Die visse het op 'n streep begin vrek. Sy was moedeloos, want sy het al die opdragte wat aan haar verduidelik is so sorgvuldig moontlik uitgevoer. Dit is maklik om honde en katte namens iemand te versorg. Delikate goed soos visse en fyn plantjies is 'n ander storie.

Dalk voel die diere en die plante aan die roetine het verander. Dalk is dit net effens minder of meer water of kos of op 'n ander tyd van die dag as waaraan hulle gewoond is. Dalk mis hulle hul eienaar.

Dit mag wees dat hulle uit protes 'n eetstaking onderneem en so hul eie ondergang bewerkstellig.

As Pollie dus met jou tuiskoms onderin die voëlhok lê of jou fyntuin lyk soos 'n paar dae ná die runderpes, is dit nie noodwendig omdat iemand nie omgee of tyd daarvoor ingeruim het nie.

Dit is dalk net omdat die een wat die oppaswerk moes doen, nie presies dieselfde soort aanvoeling as jy het nie.

[Bron: Noordkaap - Potpurri - Karin Muller]