Dit was 'n heuglike dag toe die gemeente na baie maande van harde werk om fondse in te samel, die inwyding van die kerksaal kon ervaar. Die inwyding het op Donderdagaand, 28 Maart 1963, om 19:30 plaasgevind. Dit was 'n groot gebeurtenis, besoekende ringspredikante en gemeentelede het voor die ingang in Dyerplek vergader, waar ds. Willem Steenkamp almal baie hartlik welkom geheet het. Na die lofsang, het die argitek, mnr. W Bronkhorst die sleutel aan ds. Steenkamp oorhandig om die deur oop te sluit. Ds. S Visser het die wydingsgebed gedoen en terwyl die KJV-lede gesing het, het die predikante, eregaste en gemeentelede die kerksaal ingestap.
Die verrigtinge binne die saal is deur Modderrivier-Ritchie se predikant, ds. AJ Olivier, met skriflesing en gebed geopen. Daarna is 'n pragtige musiekprogram gelewer, soos net mev. AR van der Westhuizen dit kon doen. Dutoitspan se kerkkoor het gesing, mnr. Frank Scheepers en mevv. M Greeff en M van Niekerk het vir sangsolo's gesorg, terwyl mnr. FJ ter Haar 'n klavieruitvoering gegee het. Mevv. J de Kock en M Pretorius het 'n duet gelewer. 'n Musiekkonsert waarvan die kaartjies jou vandag 'n hele paar rand op een van die feeste sou kos.
Daarna het mnr. RJ Sahlertz, 'n inspekteur van skole, die wydingsrede gelewer.
Gelukwensing is deur ds. Fullard namens die Ring van Dutoitspan en konsulentgemeente gedoen en deur ds. ZB Badenhorst namens die dogtergemeentes. Die dogtergemeentes is hulle wat van Dutoitspan afgestig het nl. Diamantveld Gemeente, Modderrivier-Ritchie Gemeente, Plooysburg en Heuningneskloof. Laasgenoemde gemeente het ook die kateder wat in die kerk staan, geskenk.
Nadat mnr. HG Gouws (skoolhoof van Dutoitspan Laerskool en skriba) die nodige bedankings gedoen het, is die verrigtinge met die sing van Ps. 33:1 en 'n gebed afgesluit. Daarna is groot skare teenwoordig met heerlike verversings onthaal wat deur die susters van die gemeente gemaak is.
Die pragtige gordyne op die verhoog, asook die nuwe stoele en tafels het 'n deftigheid aan die nuwe saal verleen. (Dit is dieselfde gordyne wat vandag, 55 jaar later, nog steeds in die saal hang.)
So 'n brokkie interessantheid: Indien 'n groot aantal stoele bestel word, kon die kerk ruim afslag kry, dus is die kerkraad en gemeentelede genader om asseblief stoele te bestel vir hulle persoonlike gebruik. Saalstoele is nou nie eintlik iets wat algemeen in huise gebruik word nie, maar omdat dit nog 'n manier was waarop die kerk geld kon spaar, het almal stoele bestel. Ek het vandag nog my twee stoele wat ek in 1963 gekoop het.
Selfs die klavier wat reeds in die dertigerjare aangekoop is met fondse wat by wyse van konserte deur die CJV ingesamel is en heeltemal herstel is, het baie goed gelyk en geklink. Die staaltafel in die kombuis, yskas, stoof en ingeboude kaste het die kerkkombuis 'n gerieflike werksplek gemaak vir funksies.
Na die nuwe kerksaal in gebruik geneem is, het ds. Steenkamp en die kerkraad hulle aandag toegespits op die kerkterrein tussen die kerkgebou en die saal.
Mnr. GJ Smal het die terrein langs die kerksaal omhein en baie mooi muurtjies aan die voorkant van die kerk, saal en pastorie gebou. Die heuningkoekmuur voor die kerkkantoor is ook sy handewerk - 55 jaar al staan daardie mure al. Sementpaadjies is tussen die kerk en die saal uitgelê met swart leiklip. Dit het die kerk destyds R1 820,00 gekos. (Oom Smal soos hy bekend was, was die oupa van die Springbokrugbyspeler, Gert Smal - groot mense, met groot hande... geen wonder hy kon 'n rugbybal met soveel gemak hanteer nie - gaan google gerus Gert Smal en kyk na sy veelbewoë rugbyloopbaan.)
Daarna is die terrein agter die saal gelyk gemaak, bourommel is verwyder en die Eiendomskommissie het self ingespring om gras tussen die sementpaadjies te plant en ook langs en agter die kerksaal. Ds. Steenkamp was nie skaam om moue op te rol en saam te werk nie.
Die bou-aannemer, mnr. SJ Burger het ingewillig om vir die bedrag van R1 330,00 die kerk se pleisterwerk en verfwerk op te knap, sodat die kerkgebou nie te veel by die nuwe saal afsteek nie.
Showing posts with label Ds. Willem Steenkamp. Show all posts
Showing posts with label Ds. Willem Steenkamp. Show all posts
Saturday, 15 September 2018
Sunday, 9 September 2018
Die kerksaal (1) ...
![]() |
Die gemeente Dutoitspan se sinkkerkie is op
1 Desember 1881
ingewy. Dit het 81 jaar diens in die
gemeente gedoen: van 1 Desember 1881 tot
Julie 1940
as kerk en van 1940 as kerksaal, waarna dit in 1962
gesloop is. (Foto)
|
Om fondse in te samel, was daar wykbasare in die ou stadsaal van Beaconsfield gehou. (Dié ongelooflike mooi en geskiedkundige gebou is ook afgebreek ter wille van vooruitgang en vandag pryk die Caltex-garge in die plek daarvan. Ek plaas 'n foto van die ou stadsaal hier, wat ek op die internet gaan "leen" het.)
25 Julie 1960 is daar besluit om die wyke in die gemeente in groepe van vyf in te deel om basare en funksies te reël vir die Saalboufonds, wat tot op daardie stadium nie na wense gegroei het nie. Hierdie pogings deur die hardwerkende wykslidmate het die fonds so pragtig laat groei, dat die bedrag van R5 578,00 reeds in Februarie 1962 geïn is.
Toe is daar besluit om aan vrywillige susters elkeen R2,00 beskikbaar te stel met die uitsluitlike doel om vir die Saalboufonds te woeker. Ek kan goed onthou hoe ywerig Jane en mev. Anna Maritz van Thaliastraat gewerk het. Geen moeite is deur die dames ontsien nie en aan die einde van 1962 (10 maande later) het die bedrag reeds die R10 000-kerf bereik. Ingesluit by hierdie bedrag was ook R200,00 van mnr. H Oppenheimer, R250,00 vir die ou sink kerksaal wat gesloop is en R20,00 wat vir die ou munte gekry is, wat in die ou saal se hoeksteen gevind is.
Tussen die kerk en die ou kerksaal was daar 'n sementdam waaruit die tuine van die kerk natgelei is. Dit moes, saam met die hoë bome en bestaande motorhuise, gesloop word om die terrein gereed te kry vir die bouery wat in Augustus in aanvang sou neem.
Saturday, 8 September 2018
Skrywers Kobie Linde en Engela van Rooyen se verbintenis met Dutoitspan
Ds. Kobie Linde en sy vrou, Engela (die baie bekende skryfster)*, het vir 6 maande in Dutoitspan-gemeente gebly. Hulle het by Fanie en Henriëtte Vermaak van Aristotlelaan 76 loseer. Dit was November 1960. Hy was op daardie stadium 'n proponent en het sommer gou die bynaam van "Proppie" gekry. Desember 1960 kon ds. Willem Steenkamp met 'n geruste hart gaan vakansie hou, want prop. Linde het as leraar ingestaan en gepreek. Gedurende hierdie 6 maande het hy aktief saam met ds. Willem in Dutoitspan gemeente gewerk, terwyl hy vir 'n beroep gewag het. Hy het waardevolle ervaring gekry deur saam met so 'n dinamiese en hardwerkende predikant te werk. In ds. Steenkamp se tyd is die kerksaal gebou. (Meer hieroor later.)
Prop. Linde het toe so teen die einde Mei 'n beroep na Kameelboom in die Kalahari naby die grens met Botswana gekry. Hiervandaan gaan hulle na Migdol, waar hulle twee oudste seuns gebore is. 'n Hele klompie jare later het sy paaie weer met Kimberley gekruis, toe hy 'n beroep na die NG Gemeente Newton (vandag Kimberley Gemeente) aanvaar het, hierna word Kobie as weermagkapelaan aangestel, eers op Grahamstad en later op Potchefstroom.

Sunday, 8 March 2015
Dié pos het my gekies ...
Hoe het ek in hierdie pos beland?
Ons het in Julie 1958 in Dutoitspan-gemeente ingetrek. Nie lank daarna nie, het ds. Smit na Kaapstad as argivaris na Kaapstad vertrek. Ds. WJ Steenkamp het hom as predikant opgevolg toe hy die beroep na Dutoitspan-gemeente aanvaar het. Hy het van Olifantshoek af gekom. en het sy intreepreek op 5 Februarie 1960 gegee - my verjaardagdatum!!
Die kassier op daardie stadium was mnr. Andries Combrinck. Hy was kassier van 1957 tot 1960. Hy word skielik verplaas en mnr. Saly Beukes neem as kassier oor. Ongelukkig kon hy net 'n paar maande aangaan, tot Junie 1961, toe hy ook verplaas word. Die skriba- en kassierwerk is deeltyds gedoen deur werkende persone, sodat die kerk nie 'n salaris aan die persone hoef te betaal nie. Hulle het slegs 'n honorarium gekry. Dutoitspan was nog nooit 'n ryk gemeente nie en moes in die verlede, net soos nou, sy sente omdraai om al die gate toe te stop.
Ds. Steenkamp het my genader en gevra of ek bereid is om oor te neem as kassier, aangesien ek op daardie stadium die enigste een in die gemeente is, wat 'n boekhouer was. Vir elke verskoning wat ek gemaak het, het hy 'n oplossing gehad. Op die ou end is ek sedert Julie 1961 in die pos aangestel en moes ek myself leer wat aangaan. My salaris was vir baie lank R15,00 (7 Pond 10) 'n maand, maar ek het dié werk met groot liefde gedoen.
Op daardie stadium was mnr. Piet Labuschangné, 'n onderwyser van beroep, die skriba van Augustus 1955. Na sy dood, het ek ook dié werkie gedoen. Tot en met 2011 was ek die skriba-kassier en het saam met verskeie predikante saamgewerk. Elmie Bean het by my oorgeneem as skriba.
As ek vandag terugkyk oor 'n leeftyd van diens, dan besef ek dat alles net genade is. Na 54 jaar is ek nog steeds in diens van die Dutoitspan-kerk.
![]() |
| Schalk Pienaar in die kantoor met 'n basaar!! |

Subscribe to:
Posts (Atom)