Showing posts with label Nuwe lewe. Show all posts
Showing posts with label Nuwe lewe. Show all posts
Monday, 13 October 2025
Gebed: Die verlede is vergewe en die toekoms nuut
Almagtige God en Hemelse Vader, Here, dankie dat Die Woord 'n deel vorm van wie ons werklik is in Jesus Christus. Dankie dat die heel beste raad nog ooit daarin is. Dankie dat Jesus nader is as enige familielid en dankie vir die hegte verhouding wat ons almal met Jesus kan hê. Here, ons harte breek wanneer ons, ons indink hoe seer ons U al gemaak het. Dankie, dat ons weet, Here, alles is deel van die verlede en U het ons nuut geskape. Dankie, Here, U vergeet wat agter is en strek U uit na wat voor is. Here, rus ons toe met die wete dat ons sal vergeet van ons verlede en sal uitstrek na 'n nuwe lewe in Jesus Christus se Wonderbare Naam word hierdie gebid. Amen.
Friday, 22 August 2025
Kontraste
Winter en lente (soos somer en herfs) is albei deel van een proses. Nes 'n mens gee en ontvang nie van mekaar kan skei nie, kan 'n mens ook nie een seisoen sonder die ander ervaar nie. As mense kan ons baie uit die tydlose wysheid van die natuur leer en in ons eie lewens toepas.
Die koue van die winter maak dat alles stadiger word en selfs in 'n winterslaap insluimer. En soms sterf goed ook af. Ek sien hierdie as 'n tyd om te rus en om na te dink oor waar jy jou in jou lewe bevind. Dit skep vir jou 'n geleentheid om te besluit wat vir jou in jou lewe belangrik is, en wat nie. En om dan stappe te neem om ontslae te raak van alles wat nie meer 'n positiewe rol in jou lewe speel nie. Kyk mooi na elke area van jou lewe: jou huis en besittings, jou werk, vriende, familie en ander verhoudings, kyk ook na jou emosies. En besluit dan wat jy wil hou, wat jy wil verander en wat jy van ontslae wil raak.
So sal jy jouself voorberei vir die nuwe lewe wat lente bring. Jyself gaan verjong en heel voel, reg om 'n nuwe seisoen in jou lewe te skep. Jy kan dit inkleur met al jou hartsbegeertes, soos 'n tuin in volle bloei.
Nes in die natuur, groei ons as mense in sarsies. Daar is tye van groei, tye om te voed, tye van bloei en tye van rus in elke lewe, joune ook.
Die kontraste tussen winter en lente herinner ons dat hierdie ook sal verbygaan. Ons word bewus van en dankbaar vir alles wat ons het. Dit gee ons ook die geleentheid om die mooi in die lewe weer raak te sien, al is dit soms vaal en grys.
In die lewe is daar seisoene. Soos die son soggens opkom en die sterre saans skyn, kan jy verskillende seisoene in jou lewe verwag. Jy kan óf daarteen baklei óf dit aanvaar en die beste maak van die omstandighede wat oor jou pad kom. Die keuse is joune!
Kies DIT wat jou gelukkig maak, DIT wat niemand skade aandoen nie, JY inkluis. En wanneer jy twyfel, kyk na die tydlose wysheid van die natuur vir antwoorde.
[Prince Albert Vriend, Oktober 2017, bl.9: Maruschka Erasmus - 'n NLP-lewensafrigter, EFT-praktisyn en 'n geregistreerde berader.]
Subscribe to:
Posts (Atom)