Showing posts with label Respek. Show all posts
Showing posts with label Respek. Show all posts

Tuesday, 6 October 2026

Mandjie Hoop: As jy ...

As jy eerlikheid plant, sal jy vertroue oes.
As jy integriteit plant, sal jy karakter oes.
As jy opregtheid plant, sal jy goeie dinge oes.
As jy respek plant, sal jy vriende oes.
As jy goedheid plant, sal jy tevredenheid oes.
As jy vriendelikheid plant, sal jy glimlagte oes.
As jy geduld plant, sal jy kalmte oes.
As jy goeie dade plant, sal jy hoop oes.
As jy dankbaarheid plant, sal jy innerlike geluk oes.
As jy nederigheid plant, sal jy grootheid oes
As jy volharding plant, sal jy bevrediging oes.
As jy oordenking plant, sal jy perspektief oes.
As jy sweet plant, sal jy sukses oes.
As jy vergifnis plant, sal jy versoening oes.
As jy jou hart plant, sal jy liefde oes.
As jy geloof, hoop en liefde plant, sal jy die mooi van die lewe oes. 

Thursday, 12 June 2025

Dink hieroor: Waarom boer sommige Afrikaanse kerke agteruit?

Hierdie vraag word dikwels gevra as mense om die koffiekan na 'n erediens staan en koffie drink en die kerk was weereens ontstellend leeg. 

'n Wyse bejaarde lidmaat se antwoord som dalk die probleem op: "Dominee, ons mense het die vrees vir die Here verloor. Daarom is al die Afrikaanse kerke besig om agteruit te boer."

Hoe sal 'n mens hierdie antwoord kan meet as dit moontlik sou wees? Een moontlike manier om dit waar te neem is om te kyk na die gebrek aan eerbied en fatsoenlikheid wat onder die kerkgangers toegeneem het. So ook die algemene sedelike norme wat so kenmerkend van ons voorgeslagte was.

Respek en integriteit is deesdae skaars kommoditeite, selfs onder Christene. Dit is só jammer en strek die Here nie tot eer nie.

Psalm 95 

Hy is ons God en ons is sy volk
1 Kom, laat ons jubel tot eer van die Here,
laat ons juig oor die rots by wie ons redding vind,
2 laat ons na Hom toe gaan met lof,

laat ons Hom toejuig met lofsange,

3 want die Here is die magtige God,
die groot koning oor al die gode.
4 Die dieptes van die aarde behoort aan Hom,
die kruine van die berge is Syne.
5 Die see is Syne, Hy het dit gemaak;
sy hande het die land gevorm.
6 Kom ons val in eerbetoon voor Hom neer,
kom ons buig,
kom ons kniel voor die Here ons Skepper!
7 Hy is ons God en ons is sy volk,
sy kudde, sy skape, deur sy hand versorg.
As julle vandag maar na Hom wou luister:
8 “Moenie hardkoppig wees soos destyds by Meriba,
soos die dag by Massa in die woestyn nie,
9 waar julle voorvaders My uitgetart
en my geduld beproef het,
hoewel hulle gesien het wat Ek gedoen het.
10 Veertig jaar lank het Ek 'n weersin in daardie geslag gehad,
Ek het gesê: ‘Hulle is 'n moedswillige volk,
hulle wil my paaie nie ken nie.’
11 Daarom het Ek in my toorn 'n eed afgelê
dat hulle nooit sou uitkom
by die rusplek wat Ek hulle wou gee nie.”

[© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 1983, 1992. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.]

Thursday, 15 May 2025

Dink hieroor: Die restaurant-ete

'n Seun wat in Ceres woon, het sy bejaarde pa na 'n restaurant toe geneem. Aandete. Uiteet. 'n Luukse vir die oue van dae. Sy pa wat baie oud en swak was, kon nie regtig eet nie. Hy het kos op sy hemp en op sy broek gemors. Die ander mense in die restaurant het gestaar met afkeur, terwyl die seun baie kalm en bedagsaam opgetree het.
.
Na die ete, was sy seun geensins skaam of in 'n verleentheid nie. Hy het hom so ongesiens as moontlik na die badkamer gevat, die broek en hemp netjies skoongemaak. Sy pa se hare gekam en sy bril weer perfek opgesit. Toe hulle uit die badkamer kom, het die hele restaurant in doodse stilte na hulle twee gestaar.

Stemme het gefluister: ''Hoe kon hy hom so verneder voor al die mense?''

''Ja, nogal in die openbaar.''

Die seun het die rekening betaal en uitgestap saam met sy pa.

Teen daardie tyd, het 'n ou man tussen die mense uitgeroep na die seun en gevra: "Jongman, dink jy nie jy het iets agtergelaat nie?"

Die seun antwoord: “Nee, Meneer, ek het nie.''

Die ou man antwoord: "Ja, jy het! Jy het 'n les vir elke seun, oud of jonk, agtergelaat en hoop vir elke vader wat vanaand in hierdie restaurant sit."
.
Gedagte: Maak nie saak hoe oud die seun se pa was nie, hy was nie skaam vir sy pa nie, hy het sy pa liefgehad soos altyd, want sy pa was nooit skaam vir hom nie. Jou ouers bly jou ouers. Maak nie saak hoe oud jou ma of pa is nie, jy moet altyd lief wees vir hulle, sonder om skaam te wees wat ander sal sê en dink. Jou pa bly jou pa, ongeag wat. Jou ma bly jou ma ongeag wat. So respekteer jou ouers, hulle is net aan ons geleen.

[Dankie vir die een wat dit aangestuur het.]

Thursday, 12 September 2024

Dink hieroor: Eer jou medemens

Eer jou gelyke, omdat dit 'n plesier is.
Eer jou meerdere, omdat dit jou plig is.
Eer jou mindere, omdat dit jou voorreg is.
-Langenhoven-

Tuesday, 24 January 2023

Drie woorde en hulle spesiale effek

+ LAAT MY HELP: Goeie mense en vriende doen dit wanneer hulle ’n naaste sien wat seer het, hulle spring in en help.

+ EK VERSTAAN JOU: ’n kragtige hulpmiddel om enige verhouding te genees en nader aan mekaar te kom.

+ EK RESPEKTEER JOU: ’n ander manier om liefde te betoon in alle interpersoonlike verhoudings.

+ EK MIS JOU:  hierdie kragtige bevestiging vertel aan die ander persoon dat hulle belangrik is, dat jy hul nodig het en dat dit lekker is om saam met hulle te wees.

+ JY IS REG: die beste om enige argument te ontlont.

+ VERGEWE MY ASB.: heel en herstel gebroke verhoudings.

+ EK DANK JOU: dankbaarheid is ’n uitsonderlike vorm van beleefdheid.

+ REKEN OP MY: lojaliteit is ’n belangrike bestanddeel in enige verhouding.

+ EK IS DAAR: ’n groot geskenk om te gee vir ’n verhouding waarvan liefde en vriendskap hernuwe moet word.

+ DOEN DIT NET: die beste manier om die ander persoon te ondersteun en motiveer om hulle drome en ideale te bereik.

EN DIE BONUS

+ LIEF VIR JOU: die belangrikste drie woordjies wat al bogenoemde omsluit.

Friday, 25 December 2020