Geskiedenis: gemeentestaaltjies

Terug na HOME PAGE



Gemeentestaaltjies: 'n Kenner van vleis se bydrae ...

Oom en Tannie Smal (soos hulle al die jare in die gemeente bekend was) was aktiewe gemeentelede wat orals betrokke was en gehelp het waar hulle kon. Oom Smal was die eienaar van 'n slaghuis in Greenstraat, Wes-Einde. Hierdie slaghuis was baie bekend vir hulle heerlike wors. Dis dus te verstane dat hierdie twee mense 'n groot rol in die 60's en 70's gespeel het by die basaar se vleistafel.

Dutoitspan-gemeente se basare en veral die vleistafel was bekend in Kimberley. Die rye voor die vleistafel was daardie jare regtig lank en die sosaties is sommer vroeg-vroeg al uitverkoop, maak nie saak hoeveel sosaties daar gemaak is nie. Geen wonder dat die braaivleisvure reeds vieruur in die oggend aangesteek is nie. Daardie jare het mense eerste die vleistafel besoek en daarna die res. Deesdae noop finansies mense om so rondom die vleistafel te koop.

(Ongelukkig het ek nie 'n foto van oom Smal nie, maar op 1972 se kerkraadsfoto, staan hy in die tweede ry, vierde van regs, ouderling GP Smal)

Gaan lees gerus die onthou-artikel hier wat so 'n rukkie verskyn het.

Gemeentestaaltjie: Die basaar se vleistafel ...

Frank Orton was 'n aktiewe gemeentelid en hy en sy vrou, Mary, het skouer aan skouer in die gemeente gewerk. Hy was o.a. hoofdiaken en ook 'n raakvatter as dit by vleiswerk kom. Voor elke basaar het hy en sy vrou saam met die ander getroue "vleiswerkers" aand na aand in die kombuis van die saal gestaan en vleis bewerk. Braaitjoppies, sosaties en wors is vroeë jare deur gemeentelede gemaak. Beeste, skape of varke is vir die kerk geskenk. Dit is reeds vroeg in die jaar op die basaarlys geplaas wat die diakens deur hulle wyke neem. So heel vroeg al kon die kerkraad sien watter "tafels" kreun onder die bydraes en watter vra om daadwerklike hulp!!

Teen die tyd dat dit basaardag is, het die vleiswerkers 'n hele klomp ure agter die blad, maar ook heerlik gekuier in dié kombuis - staaltjies van en grappies oor slag, hoe dinge in die "ou dae" gedoen is, is vertel en resepte en rate is opgediep, afgestof en uitgeruil.

Die "vleiswerkers" was ook sommer die braaiers en met die basaar is daardie vure sommer baie baie vroeg aangesteek, sodat daar reeds braaivleis beskikbaar was na die amptelike opening van die basaar.

Dutoitspan was bekend vir sy heerlike vleistafel (spesiale sosatiesous- en worsresepte was deel van die geheim) en Kimberliete het 'n vinnige draai by die basaar kom maak, net vir die vleis...

Daardie jare het elke gemeente sy basaardatum so gekies dat dit nie bots met ander kerke se basare nie - deesdae is dit nie meer moontlik nie... Kimberley het uitgebrei en vleis word nie meer deesdae op dieselfde manier voorberei nie!!

Gemeentestaaltjies: 'n Ouderling met 'n talent ...

Van ouderling Hawie gepraat, hy was 'n man van vele talente...

Die magnetiese veld van die aarde werk op baie mense en oom Hawie was een van hulle -  hy kon water wys! Kort nadat ds. JH Siebert in 1968 in die gemeente begin werk het, het die kerkraad besluit om te boor vir water.

Oom Hawie het die betrokke dag eers met 'n stok en daarna met 'n bottel water geloop... Voetjie vir voetjie het hy agter die kerksaal geloop... die ene konsentrasie in die maer lyf. Ondergrondse water werk op hom, dis 'n gawe wat hy het en wat hy tot voordeel van die kerk gaan aanwend... die plek waar hulle kan boor, word gemerk.

Mev. Siebert het ook geloop en alhoewel sy ligte tekens van ondergrondse water gekry het, was dit nie naastenby so sterk soos oom Hawie s'n nie.

Tot almal se groot vreugde word sterk water gekry en die boorgat voorsien vandag nog die kerkgronde van water!

Gemeentestaaltjies: 'n Ouderling met 'n passie 

DIE BESTUUR VAN DIE MSB
Voor: Mnre. PS Venter (sekretaris), AJ van
der Merwe (voorsitter), JP Havenga (o/voorsitter)
Agter: Ds. JH Siebert, FR Maré (tesourier)
Mnr. JP Havenga of beter bekend as oom Hawie van Freemanplek, was definitief die aktiefste en getrouste ouderling in die bestaan van die NG Gemeente, Dutoitspan Kimberley. Hy was die ouetehuis, wat binne die gemeente se grense val, se ouderling... tot hulle groot voordeel.

Oom Hawie was iemand met 'n passie vir dit wat hy gedoen het en iemand wat nie bang was om die ekstra myl te loop nie.

Hy was reeds in ds. WJ Steenkamp se tyd in die vroeë sestigerjare, hulle ouderling.

Wat het oom Hawie so besonders gemaak?

Hy was elke dag dáár - hy het dienste vir die inwoners gehou, bidure, aandgodsdiens, saam met hulle tee gedrink, soms sommer vir aandete gebly, miskien die nuus saam met hulle gekyk, maar hy het altyd die belange van die inwoners op sy hart gedra. Elke Sondag in die konsistorie het hy verslag gedoen en was die predikant en die kerkraad op hoogte van elke sieke, elkeen wat 'n familielid aan die dood moes afstaan, vreugdes van kinders en kleinkinders, maar hulle het ook geweet wie 'n behoefte aan 'n predikantsbesoek gehad het.

Hy het altyd ouetehuis toe gestap en praatjies langs die pad met mense en gemeentelede aangeknoop. Nooit weer was daar 'n ouderling van sy kaliber nie. Met sy afsterwe het die ouetehuis hulle ambassadeur verloor.

Handtekening van Dutoitspan se bekendste orrelis!

Mev. AR van der Westhuizen, 
Dutoitspan se orrelis van April 1947
tot Februarie 1979.
Mev. Van der Westhuizen se musiekgene loop ver in haar nageslag in. Haar seun, Pieter, was deel van die komitee wat verantwoordelik was vir die vernuwing van die 1978-Psalm- en Gesangboek. Op daardie stadium was hy verbonde aan die Universiteit van Stellenbosch.

Pieter se dogter is die wêreldberoemde Anmari van der Westhuizen. Sy is tans professor aan die Universiteit van die Vrystaat

Anmarie van der Westhuizen, Pieter van der Westhuizen en
mev. Remerta van der Westhuizen 

Dutoitspan se uitreik oor gemeentegrense heen ...


Dutoitspan was nog altyd 'n uitreik-gemeente. Gaan kyk 'n mens na sy ontstaanwortels, is dit duidelik dat die gemeente begin het a.g.v. die groot groep delwers wat hier gewerk het. (In De Kerkbode van 24 Februarie 1872 is daar geskryf dat 'n komitee gekies is om die belange van die kerk daar te behartig.)

'n Kerktent is opgerig en die geld wat tydens dankoffer ingesamel is, is onder andere gebruik om die brandstofonkostes van die besoekende leraars te dek en die res het vir die behoeftiges en die noodlydendes in die gemeente gegaan.

Hierdie delwers was soos hulle produk - ru en ongeslyp en daarom moes dié kerk nog altyd uitreik, voete was en dienaar wees.

"As ek aan die gemeentesusters dink wat aan die Vrouesendingbond (VSB) behoort het, dink ek aan 'n ywerige en hardwerkende groep vrouens. Hulle het een Saterdag per maand 'n koekverkoping (Die bekende Môremark) voor die ou OK en voor John Orr (beide in Jonesstraat) gehad. Een keer 'n maand het hulle die kos voorsien by 'n vandisie by Basie Heckroodt, asook by Noord-Kaap Vandisiekrale. Al die fondse wat hulle op hierdie manier ingesamel het, het hulle vir sendingwerk aangewend.
DIE BESTUUR VAN DIE MSB
Voor: Mnre. PS Venter (sekretaris), AJ van
der Merwe (voorsitter), JP Havenga (o/voorsitter)
Agter: Ds. JH Siebert, FR Maré (tesourier)
Die Mannesendingbond (MSB) het nie agterweë gebly nie. Hierdie groep manne was verantwoordelik vir die salarisse van Evangelis Sello en Evangelis Selepi van Galeshewe, asook ds. Sukdaven van die Dutch Reformed Church. Aanvanklik het hulle ds. Sukdaven finansieel bygestaan om hom as leraar te bekwaam. Hierdie predikers het dan ook op 'n gereelde basis aan die sendingaksies verslag gedoen oor hulle werksaamhede.

Ds. Sukdaven het elke Donderdag/Vrydag samoesas afgelewer by almal wat bestel het. Dit was deel van hulle fondsinsamelingsprojek. Die VSB van Dutoitspan was betrokke by o.a. die basare en van die Dutoitspanners het gereeld van die eredienste bygewoon, wat op daardie stadium in ds. Sukdaven se garage gehou is. (Dis waar hierdie gemeente sy beskeie begin gehad het.)

Ons het ook die voorreg gehad om die doopplegtigheid van een van ds. Sukdaven se kinders by te woon. Na die doopplegtigheid het ons aangesit aan 'n pragtig gedekte tafel aan huis. (Ek het al dikwels gewonder of dit die bekende Maniraj Sukdaven, die dosent by die universiteit, is.) Mevv. Frieda Siebert, Anna Maritz en Jane Pienaar was nou betrokke by vele geldinsamelingsprojekte en werksaamhede hier.

Ds. Dawie Pypers was 'n ou bekende en gereelde prediker in Dutoitspan-gemeente. Hy het ook die gemeente ingelig gehou van die werk onder die Indiërs. Nie almal was gediend met dié aksies nie en daar was gemeentelede wat sou uitstap. Ds. Dawie Pypers is deur die NGK aangewys om onder die Moslems te werk. Hy het werklik oor uitsonderlike pastorale vermoëns beskik. In die vroeë 1968 is die RCA-gemeente in Kimberley begin.

Mnr. en mev Ross (kosterspaar)  
Mev. Ethel Ross (o.a.koster van die gemeente) was 'n sendeling in murg en been. Sy was een van die Kinderkransleidster wat die langste betrokke was by die Kinderkrans. Sy was die leidster by die tak wat by die gemeentesaal gehou is. Daar was nog twee ander Kinderkranstakke in die gemeente (buitewyke) - een in Electrapark o.l.v. mev. Soes Uys en een in Cassandra o.l.v. mev. Di Westley. Afstand was 'n faktor en hierdie takke het af en toe met spesiale geleenthede saam vergader. Sentleggings was op daardie tydstip 'n gewilde manier om geld in te samel wat dan vir Sendingwerk aangewend is.

Mev. Ethel Ross het ook begin om garagedienste, een maal per week, vir al die inslaapwerkers aan te bied. (So in die laat 1960's) Hierdie bidure en Bybelstudies is afwisselend by die pastorie in Connollyplek en mev. Judith Swart se huis in Blackingstraat gehou. Hierdie projek het sy vir baie baie jare alleen bedryf en met haar dood, het hierdie projek ook 'n stille dood gesterf.

Vanaf 1969 tot 1973 het mevv. Frieda Siebert, Anna Maritz, Jane Pienaar, Ethel Ross, Smittie van der Westhuizen en M Rhoodie na die koorkompetisies in Galeshewe gaan luister - selfs op 'n Vrydagaand... Dit was soveel vrouens as wat mev. Siebert in haar grys Peugot Stasiewa kon laai... Dit het plaasgevind in die gemeentes waar die evangeliste gearbei het, wat deur die MSB betaal is.

Ek kan my herinner dat daar geleenthede was dat susters van die nou NGKSA saam met die vrouens van die VSB op 'n Woensdagoggend saam tee gedrink het. Hierdie interkerklike uitreik het op 'n nie-gereelde basis plaasgevind in ds. Johnny Siebert (September 1968 - Desember 1973) se tyd.

In hierdie tyd het ouderling AJ van der Merwe se dogter, Daleen, geroepe gevoel om sendingwerk te gaan doen en daar is tydens 'n baie spesiale erediens ook 'n Bybel aan haar oorhandig, voordat sy vertrek het. Sy is met 'n predikant getroud.

In dominee Hennie de Wet ( Oktober 1974 tot April 1984) se tyd, is die sendingpaar in die destydse Transkei, ds. en mev. Van Schalkwyk, finansieel ondersteun in soverre dit in die VSB se vermoë was.
DIE BESTUUR VAN DIE VROUESENDINGBOND
Voor: Mevv. C Gericke, M Rhoodie, J Pienaar (sekretaresse), F Siebert 
(president), M Joubert (visepresident), J Fraser (tesourier), A Harmse.
Agter: Mevv. E Ross, A van der Westhuizen, D Westley, A Ebing, 

M le Roux, M van Vuuren, A Laten en D Coetzer.
Uitreik na kinderhuise, die ouetehuis en die huis vir volwasse gestremdes, binne die grense van die gemeente, was normaal.


'n Gemeente wat nie uitreik nie, is soos die Dooie See...




No comments:

Post a Comment