Showing posts with label Goedheid. Show all posts
Showing posts with label Goedheid. Show all posts

Tuesday, 6 October 2026

Mandjie Hoop: As jy ...

As jy eerlikheid plant, sal jy vertroue oes.
As jy integriteit plant, sal jy karakter oes.
As jy opregtheid plant, sal jy goeie dinge oes.
As jy respek plant, sal jy vriende oes.
As jy goedheid plant, sal jy tevredenheid oes.
As jy vriendelikheid plant, sal jy glimlagte oes.
As jy geduld plant, sal jy kalmte oes.
As jy goeie dade plant, sal jy hoop oes.
As jy dankbaarheid plant, sal jy innerlike geluk oes.
As jy nederigheid plant, sal jy grootheid oes
As jy volharding plant, sal jy bevrediging oes.
As jy oordenking plant, sal jy perspektief oes.
As jy sweet plant, sal jy sukses oes.
As jy vergifnis plant, sal jy versoening oes.
As jy jou hart plant, sal jy liefde oes.
As jy geloof, hoop en liefde plant, sal jy die mooi van die lewe oes. 

Sunday, 27 September 2026

Hoe groot is U my God

Hoe groot is U goedheid, 
wat U gebêre het vir dié wat U vrees, 
wat U berei het vir dié wat by U skuil, 
voor ons teëstanders!
In die skuilplek van U teenwoordigheid 
verberg U ons vir die samesweringe 
en listige planne van mense. 
U hou ons in die geheim 
in 'n skuiling teen die twis van talle mense.

Wat is ware liefde?
Ware liefde VERSTAAN.
Ware liefde VERGEWE.
Ware liefde HELP ander.
Ware liefde gee ERKENNING.
Ware liefde GENEES.
Ware liefde INSPIREER.
Ware liefde sien net die BESTE in ander.
WARE liefde fokus nie op die negatiewe nie.
Ware liefde manipuleer nooit.
Ware liefde BESKERM.
Ware liefde gee HOOP.
Ware liefde REIK UIT.
Ware liefde GEE graag.
Ware liefde stel VRY.
Ware liefde LUISTER.
Ware liefde stel opreg BELANG.

Hoekom is liefde so KRAGTIG? 
Want ... GOD IS LIEFDE!

Sunday, 8 February 2026

Sunday, 25 August 2024

Mossiestilte: Es. 47:9

En al die lewende wesens wat wemel, oral waar die dubbele stroom kom, sal lewe;


Na aanleiding van die groet van 'n vriend ...
Toe iemand hom vra hoe dit gaan, sê hy: "Strome!"
Die vraagsteller het onmiddellik geweet wat sy vriend met die antwoord bedoel ... strome van seën.
Is dit nie wat ons in die kerk sing nie?
Waar kom dit vandaan? Jesus sê in Joh. 7:38 - strome van lewende water sal uit sy binneste vloei ... uit wie? Uit hom wat in Hom glo.
Die water en stroom spreek van die Heilige Gees.
Jesus wil vandag aan jou sy Vader se geskenk gee naamlik, die Heilige Gees; die stroom van die Heilige Gees.
Uit jou sal strome van seën vir almal om jou vloei, omdat jy na Jesus toe gekom het om jou dors te les.

Dankie Vader vir die stroom van lewende water wat vanuit u troon vloei vir almal om van te drink. Es. 47 sê: alles lewe by die stroom, en die bome langs die stroom, hou nooit op vrugte dra nie en hulle blare verdor nooit nie. By U Here, is die lewe, en lewe in oorvloed. Ek drink vandag by u stroom van lewende water, sodat strome van lewende water ook uit my kan stroom en u Naam verheerlik kan word. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel.]

Wednesday, 21 August 2024

Mossiestilte: Ps. 91:1

Hy wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige.


Waar sit jy vanoggend; in die vrees van die onbekende of afwagtend op die aanvalle van die bose of dit wat kan skeefloop? Beweeg vinnig na jou God op wie jy vertrou, na die skuilplek wat Hy berei het vir jou.
Al gaan jy in 'n dal van doodskaduwee sal jy geen onheil vrees nie, want Hy is met jou. Jy sal nie net in God se skuilplek sit nie maar vernag in die Almagtige se skaduwee. God se stok en staf sal jou beskerm in die doodskaduwee, want jy sal in sy skaduwee vernag.

Dankie Almagtige Vader, vir U skaduwee waar ek veilig kan skuil by die Allerhoogste God. U vertroos my. U bewaar my van die onheil wat my wil oorval. Selfs in die nag is u skaduwee my beskerming en niks sal my ontbreek nie, want die Herder lei my deur die vallei van die skadu van dood. Die bloed van die Lam sal al my tekortkominge aanvul en die bose oorwin en alles oorkom. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel.]

Sunday, 18 August 2024

Mossiestilte: Dan. 4:34

En ná verloop van tyd het ek, Nebukadnésar, my oë na die hemel opgeslaan, en my verstand het in my teruggekeer, en ek het die Allerhoogste geloof en hom wat ewig lewe, geprys en geëer, wie se heerskappy 'n ewige mag en wie se koningskap van geslag tot geslag is.

Somtyds is ons probleme selfgeïnduseer. Dis eers wanneer ons opkyk en God weer soek in ons lewens, dan kom die volle wysheid en verstand in ons terug en ons besef, maar ons doen dinge op ons eie manier en nie volgens God se wil nie.

Dis nie lekker om platgeslaan te word deur die lewe nie. Die Heilige Gees sal ons egter nooit verlaat nie en vertroos ons gedurigdeur. Hy leer ons ook in die woord en weg van God en herinner ons aan wat God se woord sê. Wat 'n heuglike dag wanneer ons weer opkyk en God in ons lewens toelaat dat ons weer uitvind hoe goed God vir ons is en dat Hy net die beste vir ons wil gee!

Vertrou God en bid soos Nebukadnésar in vers 37, 35 en 34 hierbo: Nou prys ek, Nebukadnésar, en ek roem en eer die Koning van die hemel: al sy werke is waarheid en sy paaie is reg, en Hy verneder die wat in hulle trotsheid wandel. (Vers 35) En al die aardbewoners word as niks geag nie, en na sy wil handel Hy met die leër van die hemel en die bewoners van die aarde, en daar is niemand wat sy hand kan afslaan en vir Hom sê: Wat doen U nie?

Here, ek laat U weer toe om oor te neem in my lewe, want self, kan ek nie so vootgaan nie. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Sunday, 11 August 2024

Mossiestilte: Mal. 4:2&3

Maar vir julle wat my Naam vrees, sal die son van geregtigheid opgaan, en daar sal genesing onder sy vleuels wees; en julle sal uittrek en huppel soos kalwers uit die stal.
En julle sal die goddelose vertrap, want hulle sal soos stof wees onder julle voetsole op die dag wat Ek skep, sê die Here van die leërskare. 

Vir jou wat God se Naam vrees, sal sy geregtigheid jou optel en krag gee. In die dag wat God skep, sal jy die bose vertrap. Jy sal gelukkig wees en huppel van vreugde. Jy het die volle maat van God ontvang en oorwinning is vir jou gegee.

Ek prys U, o God van die lewendes. U wat alles op aarde en die aarde geformeer het; U wat my na u beeld geskape het. U het my kom hervorm toe ek goddeloos gehandel het, toe ek nog in donker vasgevang was. Maar u son van geregtigheid gaan oor my op en beskerm my, ook genees U my en maak my vry van alle bande. Prys U almag en heerlikheid, Jesus my koning. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Thursday, 8 August 2024

Blye dag ...

Ons kla, Here ...
Ons kla so baie,
dat ons blind raak vir U goedheid,
liefde en sorg.
Vergewe tog!
Maak ons menswees
vandag oorlopens
toe vol met waardering
en dankbaarheid
sodat daar net lof en
dankies oor ons lippe stroom!

[Dankie, Rosetta]

Wednesday, 7 August 2024

Mossiestilte: 2 Kor. 4:18

... omdat ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.

Alles wat ons met die oog kan sien, is vir ons werklikheid en ons glo omdat ons gesien het. Dit wat ons egter nou sien, sal vergaan, ook ons dade, maar dis hier op aarde, waar ons geloof bou en hier op aarde waar ons gered word van die bose (wat ons nie kan sien nie behalwe die manifestasie daarvan in mense). Selfs Jesus het aan die Fariseërs gesê: Omdat julle sê dat julle sien, is julle blind. Ons sien ook nie die ewige lewe of die ewige dood nie. Die Heilige Gees is ook nie sigbaar nie, maar ons sien die vrug daarvan in mense se lewens.

Here, open asseblief my oë dat ek U kan sien soos Elisa aan sy dienskneg laat gebeur het. Here, ek wil soos 'n kind absoluut in U glo. Ek vertrou U vir vandag. Ek weet U sal my van die bose red. U het vir my u geregtigheid gegee al verdien ek dit nie. Dankie Heilige Gees, dat U die waarheid en heiligheid van God die Vader uitbeeld. Ek besef hoe blind ek is, maar U, Heilige Gees, openbaar Uself aan my en leer my daagliks. Ek loof U Vader, vir die geskenk en genade wat U aan my gegee het. Ek loof U en prys U in Jesus se Naam. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Sunday, 4 August 2024

Mossiestilte: Efesiërs 6:10

Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte.

Hoe swakker jy is, hoe sterker is God. God is altyd kragtig, of jy 'n verhouding met Hom het of nie, Hy bly Almagtig. Plaas jou geloof in sy krag; begin elke dag in sy Naam. God maak jou sterk vir die stryd elke dag.

My Vader wat in die hemele is, ek bid U, om my geloof sterk te maak in U. Ek glo in U, en in die krag van u sterkte. Ek staan daagliks voor soveel uitdagings en moet op u krag en genade staat maak. Ek weet ek is gered en gereinig deur u bloed en U alleen is my heil en sterkte. Ek wil vandag u lof besing en aan U al die eer en heerlikheid bring in Jesus Naam. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Wednesday, 31 July 2024

Mossiestilte: Job. 42:10-15

Vers 10: En die Here het die lot van Job verander toe hy vir sy vriende gebid het; en die Here het Job se besittings vermeerder tot dubbel soveel as voorheen. 

Hoe sal ek weet? Vra 'n vriend meer in 'n stelling. 

Het Job geweet wat gaan in die hemele aan waar Satan met die Almagtige God oor hom redeneer? Het hy geweet hy gaan alles verloor? Het hy geweet dat God met hom sou praat? Het hy geweet dat God hom meer sou seën aan die einde as sy begin?

Jy hoef niks te weet behalwe dat God steeds lief is vir jou; so lief dat Hy sy Eniggebore Seun vir jou sondes tot die dood laat boet het. Abraham het geglo en dit is hom tot geregtigheid gereken. Wat geglo? Het hy God gesien en toe geglo? 

Ons glo in God Almagtig, omdat ons van Hom uit die skrifte en geskiedenis geleer het. Tog kom daar dae dat God se onverklaarbare krag by en in ons manifesteer en ons glo omdat ons net weet. Vandag het almal die Heilige Gees wat ons leer en herinner aan Jesus se woorde en dade en ons vertroos. Selfs 'n kind weet wat reg en verkeerd is. Bid vir jou naaste in geloof, nie omdat jy iets van God verwag nie, maar net omdat jy glo en die deernis van Christus in jou is en manifesteer. 

Here, dankie dat U alreeds weet hoe my toekoms gaan uitwerk. Dankie vir u genade en barmhartigheid elke dag. Maak nie saak wat my omstandighede is nie, ek glo in die bloedverbond van Jesus met my. Daarom bid ek ook vir ander dat u redding en genesing, hulle ook sal aanraak in Jesus Naam. Dankie Vader, in Jesus Naam. Amen.

Sunday, 28 July 2024

Mossiestilte: Matt. 14:36

en hulle het Hom gesmeek dat hulle net maar die soom van sy kleed mag aanraak; en almal wat dit aangeraak het, het gesond geword.

Almal wat ongesteld was, is na Hom gebring in die omgewing van Gennésaret.
Het jy dalk vanoggend 'n siekte of kwaal of probleem? Kom na die Geneesheer; al raak jy net die soom van sy kleed aan, sal jy genees word. Het jy die geloof? Jou geloof sal jou red, want hoekom raak jy Hom aan; omdat jy glo Hy kan jou genees, red, of jou oplossing vir jou probleem wees.

Here, ek erken dat U die Geneesheer is en elkeen wil genees. Soms is ek ook 'n kleingelowige soos Petrus, maar ek weet u barmhartigheid tel my op en U raak my aan met u goedheid. Ek wil net u soom van u kleed aanraak, want ek glo U is my oplossing vir my probleme deur U groot genade. Aan U al die aanbidding en dank vir U Almag in my lewe. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Wednesday, 10 July 2024

Mossiestilte: Ps 75:10

Maar ek sal vir ewig verkondig ‐ ek wil psalmsing tot eer van die God van Jakob.

God het hom in sy talle fasette reeds aan jou geopenbaar, jy het ondervinding van die goedheid van God.
Jy ken God en weet Hy is 'n suksesvolle God wat alles uitvoer soos Hy vooruit beplan en voorspel.
Vertrou vanoggend op God, om jou deur jou teleurstellings en seerkry te vat. Hy gee altyd die oplossing: as jy aanhou vra, sal Hy gee, as jy aanhou soek, sal jy by Hom vind, as jy aanhou bid sal Hy jou wysheid en geloof versterk. Verheug jou in die Allerheiligste en bring Hom al die lof en eer en aanbidding.

Dierbare Here, U is die weg en die waarheid en die lewe, en niemand kom na die Vader behalwe deur U nie. U is die deur tot die koninkryk van God en niemand kom tot die Vader behalwe deur U nie. U sal my met u sterke arm verlos. U wat wonders doen, het U sterkte onder die volke bekend gemaak. Ek sal van U goeie vertel, ek sal nie ophou nie. O God, U weg is in heiligheid. Wie is so groot soos U? Al die lof en al die eer kom U toe. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]