Showing posts with label Mossieboodskap. Show all posts
Showing posts with label Mossieboodskap. Show all posts

Sunday, 31 May 2026

Mossieboodskap: Hoe om positief te bly wanneer die lewe jou druk

Ongeveer 'n jaar terug het 'n lewensafrigter van Oudtshoorn die volgende met sy lesers gedeel. 

Klik HIER om sy raad en lewenslesse deel van jou lewe te maak.

Danie sê: Daar is tye in die lewe wanneer dit voel asof alles teen jou draai. Dinge werk nie uit soos jy beplan het nie, mense stel jou  teleur, finansies druk jou vas, en jy voel emosioneel leeg. Jy staan voor die spieël en wonder: "Hoe hou ek aan? Hoe sê ek met eerlikheid: "Ek is okay?'”

As Life Coach het ek al saam met mense deur baie stormseisoene gewandel. En wat ek oor en oor sien, is dat dit nie die afwesigheid van probleme is wat mense sterk maak nie – dit is hul vermoë om positief te bly ten spyte van die probleme.

* Hier is hoe jy dit ook kan regkry:
1. Erken jou emosies, maar laat dit nie jou identiteit word nie
2. Lig jou kop – selfs al is dit swaar
3. Verander wat jy sê, verander wat jy glo
4. Omring jouself met hoop
5. Herinner jouself: Alles gaan verby
6. Kies elke dag om te sê: ‘Ek is okay’

Die lewe is nie altyd regverdig nie. Maar jy het steeds ‘n keuse: Jy kan opstaan, jou kop lig, en besluit om ‘n ligdraer te wees in jou eie storie.

Ek, weet hoe dit voel om onder te wees. Maar ek weet ook hoe dit voel om op te staan. En as ek dit kan doen, dan kan jy ook. Jy is nie alleen nie – en jy is sterker as wat jy dink. Groete Danie

* Hierdie is net die hoofopskrifte. Die HOE om op te staan sal jy HIER kry.

[Dankie, Anoniem, vir die aanstuur hiervan.]

Wednesday, 27 May 2026

Mossiedag: Het jy geweet ...?

Woensdae en Sondae het ons 'n Mossiestilte - dis daardie kort oomblik wat ons stil raak en die dag begin met 'n boodskap op die blog. Daarom pas Mossiedag so mooi by vandag se stukkie waar ons die versekering kry dat God vir ons sorg en dat Hy 'n plan het vir elkeen van ons.  

"In die konsentrasiekamp, meer as 100 jaar gelede, sit Anette Marais op ’n stomp en skud die stof van haar verslete klere af.

Rondom haar sit die groepie bekende gesigte van moeë vrouens. Net ’n paar tree verder is die hoë draad van die konsentrasiekamp. Sy slaan haar Bybel oop en begin lees. Sy het in die donker ure van die nag geworstel met God en Hom gesmeek vir ʼn boodskap om hierdie vrouens te bemoedig, want wie weet hoe lank nog ...

Anette lees die woorde van Matt 10:29 “Is twee mossies nie vir ’n sent te koop nie, en tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie.”

Terwyl sy besig is om hierdie woorde te lees, kom sit daar ’n vaal klein mossie op haar skouer.

Die groepie vrouens staar in verbasing na wat voor hulle gebeur, en so word die mossie, die teken van hoop in die onmoontlike omstandighede van die konsentrasiekamp in Bethulie. Dit was fantasties om in die maande wat volg te sien hoe die mossies van Bethulie ’n baken van geloof en hoop word vir hierdie vrouens.

Op 21 Mei 1902 is die oorlog verby. Anette het op pad terug na haar huis gestop by ’n vrou met invloed en haar vertel van die mossieboodskap. Sy het dit weer oorvertel en genl. Jan Smuts het in 1923 die mossie op die land se kleinste muntstuk (kwartpennie) laat verskyn.

Amper 80 jaar later sit Jak de Priester in ’n park in Londen. 

Sy geld is op, hy kry nie werk nie, hy mis die meisie van sy drome , sonskyn en biltong. Hy slaan sy klein silwer Bybeltjie oop en lees die “mossie”-boodskap en bid vir die soveelste keer vir werk!

Vroeg die volgende oggend lui sy telefoon en dis die oproep waarvoor hy gewag het. Hy spring op die eerste trein en begin met ʼn lang dag se onderhoude. Moeg maar gelukkig en met ’n permanente werk klim hy weer laatmiddag op die trein.

Toe hy inklim sien hy ’n muntstuk op die vloer lê, hy tel dit op, en daar op ’n trein in Londen hou hy ’n Suid-Afrikaanse 1c in sy hand ...


[Geleen op FB]

Sunday, 28 December 2025

Mossieboodskap: "Voordat hulle roep"

 
In die lente van 1875 het Hudson Taylor, die geliefde stigter van die "China Inland Mission" na Londen teruggekeer, nadat hy 'n reeks dienste op Brighton bygewoon het. Terwyl hy vir sy trein op die stasie wag, het 'n Russiese edelman wat ook dieselfde dienste bygewoon het, hom genader. Toe hy verneem dat mnr. Taylor Londen toe gaan, het hy voorgestel dat hulle saamreis in dieselfde kompartement.
"Maar ek reis derdeklas," het die sendeling gesê.
"My kaartjie laat my ook toe om derdeklas te ry," het die edelman beleefd geantwoord.

Toe die trein aankom, het hulle hul sitplekke ingeneem en saam verder gereis. Na 'n rukkie het Graaf Bobrinsky sy sakboek uitgehaal met die woorde: "Laat my toe om jou 'n klein bedraggie te skenk tot ondersteuning van jou werk in China."

Mnr. Taylor het na die banknoot gekyk wat aan hom oorhandig is, en gevoel dat daar seker 'n fout moet wees - dit was nie minder as eenhonderd pond nie! (Dit was baie geld in daardie dae. Seker minstens tien keer die waarde van vandag se geld.)

"Het u bedoel om my tien pond te gee?" het Mnr. Taylor dadelik gevra, en toe bygevoeg: "U het seker 'n fout gemaak. Hierdie noot is eenhonderd pond. Neem dit asseblief terug."

"Ek kan dit nie terugneem nie," het die edelman geantwoord, net so verbaas soos die ander. "Ek wou jou tien pond gee, maar God het seker bedoel dat jy eenhonderd pond moes kry. Ek kan dit nie terugneem nie."

Diep beïndruk deur die voorval, het Mnr. Taylor sy bestemming bereik. Toe hy by sy hoofkwatiere in Londen aankom, was daar 'n biduur aan die gang. 'n Sekere som geld moes onverwyld na China toe gestuur word, en daar was nege en negentig pond en tien sjielings kort op die benodigde bedrag. Dit het diegene wat daarvan geweet het na hul knieë gedryf om hulle behoefte in gebed aan God bekend te maak. Nege en negentig pond en tien sjielings is in geloof aangevra en daar op die kantoortafel het Mnr. Taylor sy kosbare banknoot ter waarde van eenhonderd pond neergesit - die antwoord op hulle gebed. 

Lees gerus meer oor Hudson Taylor HIER en HIER!

[Die Spoorwegbode, Februarie 1986]

Sunday, 30 November 2025

Mossieboodskap: Hy sorg vir julle ...

Terwyl 'n werker besig was om die sierbome langs die straat van 'n sekere stad te snoei, het hy 'n mossienes gesien in een van die takke wat verwyder moes word. By nadere ondersoek het dit geblyk dat die nessie vol kleintjies was. Dit sou noodlottig vir die kleintjies wees as hy die tak moes verwyder. Hy het dus toestemming gekry om die boom later te snoei.

'n Paar weke later was die nessie leeg; en toe hy dit bekyk, sien hy tot sy groot verbasing 'n Sondagskool-tekskaartjie tussen die grassies en stokkies ingevleg, met die woorde daarop: "Hy sorg vir julle." (1 Pet.5:7)

Sal die God wat getrou is aan Sy Woord selfs teenoor die mossies, dan nie ook vir sy kinders sorg nie?

[Die Spoorwegbode: Februarie 1986]