Showing posts with label Pa. Show all posts
Showing posts with label Pa. Show all posts

Sunday, 21 June 2026

Vadersdag: Dankie, Pa!

My pa het my geleer kruip, maar gesê: "As jy groot is moet jy wérk vir dit wat jy wil hê, en nié kruip nie."

My pa het my geleer dat nie almal in die lewe Liewe Heksie of Liewe Lulu is nie, en dat Blommeland ook kaktusse huisves.

My pa het my geleer om my geld én my woorde te tel.

My pa het my geleer van noord, suid, oos en wes, maar dat ek self die rigting van my lewe moet bepaal.

My pa het my geleer dat die kortste pad na ‘n man se hart deur sy remote control loop, met SuperSport, MNet en DSTV as die hoofdis.

My pa het my geleer dat Bostik enige iets kan fix - van ‘n stukkende ketel tot ‘n stukkende hart.

My pa het my geleer dat grid, grout en great nie noodwendig dieselfde ding is nie.

My pa het my geleer om nie altyd my boetie te blameer as net die helfte van die maan in die lug hang en ek sê hy het dit gebreek nie.

My pa het my geleer dat drome méér is as net prentjies in ‘n mens se kop.

My pa het my geleer daar is altyd drie kante aan ‘n storie: My kant, jou kant en die regte kant.

My pa het my geleer die getrouste en goedkoopste troeteldier is ‘n spaarvarkie.

My pa het my geleer die mooiste vrou in die wêreld is my ma.

[Dankie, Marthie van der Merwe - 

Sunday, 15 June 2025

Gebed vir Vadersdag

Ons bid vir die pa’s wat daarna streef om die eise van hulle werke, huwelike en kinders te balanseer met ‘n eerlike bewustheid van beide die vreugde en opoffering daarvan.

Ons bid vir die pa’s, wat ten spyte van hulle eie tekort aan ‘n rolmodel, gedurig daaraan werk om ‘n waardige pa te wees vir hul kinders.

Ons bid vir die pa’s wat nie altyd daar kon wees vir hulle kinders nie, maar wat nou ekstra moeite doen om hulle kinders lief te hê en te ondersteun, selfs as volwassenes. Hiermee saam bid ons spesiaal vir pa’s wat deur die woorde en dade van hulle kinders gewond is en dit dikwels diep in hulle binneste wegsteek.

Ons bid vir elke pa wat ten spyte van onenigheid in sy huwelik, in sy kinders se lewens betrokke bly.

Ons bid vir die pa’s van kinders wat aangeneem is, wie se liefde en ondersteuning lei na ‘n vol lewe wat getuig van aanvaarding en behoort.

Ons bid vir dié wat as stiefpa’s die rol van pa moet vervul, en hierdie verantwoordelikheid vrylik kies. Ons is dankbaar vir die wat die titel van “vader” verdien het in hulle stiefkinders se lewens deur liefde en respek. Ons bid ook vir die stiefpa’s wat nog daaraan werk en soms daarmee sukkel.

Ons huil saam met elke pa wat ‘n kind aan die dood afgestaan het en aanhou om oor die kind te rou en die kind in hulle harte saam te dra.

Ons bid ook vir elke man wat geen kinders het nie, maar die volgende generasie koester as hulle eie.

Ons dra elke man in die gemeenskap aan God op wat ons as vader-figuur gelei het as mentor, onderwyser of reisgenoot.

Ons bid vir die mans wat op die drumpel van ouerskap staan, mag hulle vry en met vrymoedigheid hulleself oor hulle kinders verheug.

Ons bid vir die pa’s wat reeds gesterf het, wat in ons herinnering en verlange voortleef, wat aanhou om ‘n invloed op ons lewens te hê.

Ons is diep dankbaar dat U vir ons kom wys het hoe lyk ‘n perfekte Vader wat omhels, troos en liefhet sonder voorwaardes.

Seën elke pa en pa-figuur in ons gemeenskap Heer, waar vaders dikwels afwesig is.

[Gebed deur Kirk Loadman, vertaal deur Tilana Meyer-Morkell]

Thursday, 15 May 2025

Dink hieroor: Die restaurant-ete

'n Seun wat in Ceres woon, het sy bejaarde pa na 'n restaurant toe geneem. Aandete. Uiteet. 'n Luukse vir die oue van dae. Sy pa wat baie oud en swak was, kon nie regtig eet nie. Hy het kos op sy hemp en op sy broek gemors. Die ander mense in die restaurant het gestaar met afkeur, terwyl die seun baie kalm en bedagsaam opgetree het.
.
Na die ete, was sy seun geensins skaam of in 'n verleentheid nie. Hy het hom so ongesiens as moontlik na die badkamer gevat, die broek en hemp netjies skoongemaak. Sy pa se hare gekam en sy bril weer perfek opgesit. Toe hulle uit die badkamer kom, het die hele restaurant in doodse stilte na hulle twee gestaar.

Stemme het gefluister: ''Hoe kon hy hom so verneder voor al die mense?''

''Ja, nogal in die openbaar.''

Die seun het die rekening betaal en uitgestap saam met sy pa.

Teen daardie tyd, het 'n ou man tussen die mense uitgeroep na die seun en gevra: "Jongman, dink jy nie jy het iets agtergelaat nie?"

Die seun antwoord: “Nee, Meneer, ek het nie.''

Die ou man antwoord: "Ja, jy het! Jy het 'n les vir elke seun, oud of jonk, agtergelaat en hoop vir elke vader wat vanaand in hierdie restaurant sit."
.
Gedagte: Maak nie saak hoe oud die seun se pa was nie, hy was nie skaam vir sy pa nie, hy het sy pa liefgehad soos altyd, want sy pa was nooit skaam vir hom nie. Jou ouers bly jou ouers. Maak nie saak hoe oud jou ma of pa is nie, jy moet altyd lief wees vir hulle, sonder om skaam te wees wat ander sal sê en dink. Jou pa bly jou pa, ongeag wat. Jou ma bly jou ma ongeag wat. So respekteer jou ouers, hulle is net aan ons geleen.

[Dankie vir die een wat dit aangestuur het.]

Sunday, 16 June 2024

'n Liefdevolle vader was dryfveer agter dié dag

Vadersdag, wat jaarliks op die derde Sondag in Junie gevier word, is die breinkind van 'n dogter wat deur haar pa grootgemaak is. 

Vadersdag is die eerste keer op 19 Junie 1910 amptelik in Amerika gevier. Die moeder van die dag was mev. Sonara Smart Dodd van Spokane, 'n stad in die ooste van die staat Washington. Sy het op die gedagte gekom toe sy in 1909 na 'n Moedersdagerediens geluister het.

Haar pa, Henry Jackson Steward het haar grootgemaak na haar ma se dood. In haar oë was haar pa die liefdevolste en onselfsugtigste ouer wat sy kon hoop om te hê. Hy het die veeleisende taak van ouerskap met vreugde verrig en geen moeite is ontsien om Dodd se kinderdae regtig spesiaal te maak nie.

Die idee van 'n Vadersdag het vorm aangeneem omdat Dodd graag vir haar pa wou laat besef hoe spesiaal hy vir haar was en hoe sy al sy moeite waardeer. Omdat haar pa in Junie verjaar het, het sy dié maand vir Vadersdag gekies. Sy het die kerkmense van die stad oorreed dat Vadersdag met kerkdienste gevier moes word. Dit was 37 jaar nadat die idee van Moedersdag (wat toe reeds jare lank in kerke in Europa en Asië gevier is) in 1872 as nasionale dag in Amerika voorgestel is.

Die voorstel vir Vadersdag is deur pres. Woodrow Wilson aanvaar. Agt jaar later het pres. Calvin Coolidge aanbeveel dat Vadersdag nasionaal gevier word om 'n gemeensamer verhouding tussen vaders en hul kinders te bewerkstellig. Die volle verantwoordelikheid van vaderskap moes dan ook op dié dag verskerp word.

Vadersdag is die een dag waarop Pa's maar agteroor kan sit en bederf kan word deur ma en die kinders. Onthou ook om vir pa dankie te sê vir al die goeie dinge wat hy deur die jaar gedoen het. Die maklikste is om die dag met 'n heerlike ontbyt te begin en vir jou pa ontbyt in die bed te gee. 

Pa's, daar is geen plaasvervanger vir liefde nie

Die Amerikaanse skrywer, Alan Cohen, vertel: In 'n klein dorpie in Spanje het 'n pa met die naam, Jorge, 'n bitter argument met sy seun, Paco, gehad. Die volgende oggend het Jorge ontdek dat Paco se bed leeg is - hy het van die huis af gedros.

Oorweldig deur spyt en berou het Jorge selfondersoek gedoen en geweet sy kind is vir hom belangriker as enigiets anders op aarde. Hy het besef dat hy as pa misluk het en wou weer van voor af met sy seun begin. Jorge het na 'n bekende winkel in die middedorp gegaan en 'n groot kennisgewing in die venster geplaas met die volgende boodskap: "Paco, kom huis toe! Ek is lief vir jou. Ontmoet my môre-oggend hier."

Die volgende oggend het Jorge na die winkel gegaan waar hy nie minder nie as sewe jong seuns met die naam, Paco, aangetref het en wat ook onder dergelike omstandighede van die huis af gedros het. Elkeen het die roepstem van liefde beantwoord met die hoop dat dit sý pa was wat hom met ope arms huis toe nooi.

Op Vadersdag, wanneer Pa altyd oorlaai word met waardering en liefde, is dit miskien gepas vir pa's om 'n bietjie selfondersoek te doen en te vra of hulle as rolmodelle van vaderskap al die lof en liefdesbetuigings waardig is. Dis nie om pretbederwer te wees nie, maar om 'n ernstige realiteit van ons tyd onder oë te neem. Kinders sal 'n pa nie onthou vir die materiële dinge wat hy aan hulle verskaf het nie, maar vir die manier waarop hy hulle met liefde vertroetel het.

Wat ook al in ons tyd deur verskillende kitsoplossers gesê word, die primêre behoefte van 'n kind is liefde - waarvoor daar geen plaasvervanger is nie.

Die meeste van ons as pa's sal dinge anders doen as ons weer ons kinders van voor af kan grootmaak. Een ding het die lewe ons geleer, mits ons oop was om geleer te word: daar is geen probleem wat die liefde nie kan oplos nie; geen knoop wat die liefde nie kan ontrafel nie; geen generasiegaping wat die liefde nie kan oorbrug nie.

Om dié soort liefde 'n konkrete werklikheid te maak, móét ons meer tyd met ons kinders deurbring. Die lewe gryp ons so maklik in sy seekatgreep vas dat ons vir ons kinders vreemdelinge word. Past. Gary Stroope het tereg gesê: "Ek het nog nooit 'n geslag kinders só ouerloos gesien nie."

Ons ken 'n kollega wat gedink het dat die werk wat hy vir die Here doen van kardinale belang is. Vroeg soggens, voordat die kinders op was, was hy al uit die huis uit en saans wanneer hy terugkom, slaap hulle reeds. Toe word hy een middernag plotseling tot stilstand geruk deur 'n briefie wat sy agtjarige dogtertjie aan sy kopkussing vasgespeld het. In haar kinderhandskriffie skryf sy: "Pappa, ek is baie lief vir Pappa, maar ek sien Pappa nooit om dit vir jou te sê nie. Nou skryf ek dit maar. Ek is baie lief vir Pappa." En met die vergewensgesindheid van 'n kind sluit sy af met honderd onverdiende soentjies onder aan die brief.

Soos 'n rotsstorting het berou sy hart oorweldig. Sy kon nie verstaan nie toe hy haar om middernag uit haar bedjie optel en haar warm lyfie aan sy bors druk en belowe: "Nooit weer sal jy hunker na die liefde van 'n pa nie."

Hoe maklik ontaard ons lewenstyl nie tot dié van mense wat met die oop deur na die straat toe lewe en ons lewe uitdeel aan almal wat verbykom, terwyl ons vlees en bloed in ons eie huis smag na ons liefde en teenwoordigheid.

Ons is tog so besig met "belangrike"dinge - selfs met ander ouers se kinders, terwyl ons eie kinders hunker na ons liefde en nabyheid.

Ralph Waldo Emerson het gesê: "Wie jy is, praat so hard dat ek nie kan hoor wat jy sê nie."

Ons kinders leer eintlik eers wie ons werklik is wanneer ons genoeg tyd saam met hulle deurdring. Ons móét tyd máák vir ons kinders! Miskien moet ons ter liefdevolle ontnugtering van pa's wat té besig is om tyd te hê om saam met hul kinders deur te bring, na Stan Gibhardt luister: "Ek het na jou gekyk, Pa, en geglimlag.Ek het gehoop jy sou my sien maar jy het nie. Ek het vir jou gesê, ek is lief vir jou en gewag vir 'n antwoord, maar jy het nie. Ek het vir jou gevra om buite saam met my te kom bal speel, maar jy het nie. Ek het 'n tent in die agterplaas opgeslaan en gehoop dat jy één nag saam met my sal deurbring, maar jy het nie. Ek het iemand nodig gehad om mee te gesels en my gedagtes te deel. Ek het gedink dat jy sou kom kyk, maar jy het nie. Ek het jou vertel van my eerste wedstryd en gehoop dat jy sou kom kyk, maar jy het nie. Ek het jou gevra om my jeug met my te deel, maar jy was té besig en jy kon nie. My land het my opgeroep vir militêre diensplig en jy het gevra dat ek veilig moet tuiskom, maar ek het nie.  

[Bron: Die Taalgenoot, Ja-nee ..., Junie 1999, bl. 45]