Honderdduisende van ons mense het vir die Huis van God geen tyd of lus meer nie. En onder ons wat nog kerk toe gaan, is daar 'n traagheid en biddeloosheid wat vir ons vesting na vesting laat verloor sonder dat iemand daaroor ween.
Ook op sedelike gebied is ons fondamente besig om te tuimel. Ons egskeidingsyfer is een van die hoogste in die wêreld. Die enigste boek of tydskrif wat in ons land nog die waarborg van 'n goeie afset het, is hulle wat seks en sensasie opdis.
Daar is by ons 'n lawwe oppervlakkigheid wat vir ons oor niks meer laat vlam vat behalwe die sensasionele en die erotiese nie. Elke beskawing wat nog ten gronde gegaan het, het op hierdie punt ondergegaan.
Dit het tyd geword dat ons onsself moet afvra of ons nog 'n Christelike land is met 'n Christen moraal. Die koerant was reg toe hy gesê het: "Suid-Afrika het sy donkerste uur bereik!"
[Ds. JS Gericke het in Januarie 1978 hierdie relevante stuk geskryf oor die stand van Christene in SA.]





















