Monday, 19 October 2026

Seënbede: Mag jy vandag geseën word ...

Mag jou gedagtes vandag rus
in DANKBAARHEID,
en jou siel in HOOP! 
Mag jy die Here se GENADE
vandag oorvloedig ervaar.

Knieltyd: Misdaad en die verkiesing

Sunday, 18 October 2026

Flitsgedagte: Genade

Oesmaande: Oktober

Jy kan dit enige tyd van die week kerkkantoor toe bring
of Sondae in die houer in die voorportaal sit.
Vir meer inligting, kontak gerus die kerkkantoor by:
053 842 1100

Afkondiging: Dagboek

Afkondiging: Vierde Kwartaalprogram

Mossiestilte: 1 Pet. 5:8

Wees nugter en waaksaam; want julle teestander die duiwel loop rond soos 'n brullende leeu en soek wie hy kan verslind

Dag en nag soek die duiwel jou siel om dit van Christus af te neem.
Satan wil jou bevrees maak met wêreldoorloë, siektes (virusse), kankers, ens.
Wees nugter want jou genesing het jy aan die kruis gekry toe Jesus daarvoor betaal het.
Jou geregtigheid het jy aan die kruis gekry toe Jesus al jou ongeregtighede weggeneem het my sy geregtigheid in die Vader. 
Aan die kruis het jy genesing gekry. 
Daar het jy verlossing gekry van jou sondes.
Daar is jy herstel tot seunskap in die Almagtige Vader. 
Die Heilige Gees gee jou die denke en wysheid van die Vader. Die Heilige Gees weet presies hoe die Vader aanbid moet word.

Dankie Vader, dat ek nou deur genade nader aan U kan kom, tot in die allerhoogste. Ons sit in allerhoogste plekke saam met God. Jesus, ek bid dat ek deur u wysheid, die geloof sal hê om myself met U gelyk te stel. Niks kan my aanraak nie, elke woord teen my, word in die Vader se hand vergruis en het geen gevaar nie. Ek is genees, en ek is vol goddelike wysheid. U Heilige Gees gee aan my die oorwinning om op water te loop. Net hy, wat genoeg olie saambring, kan die bruilofsfees bywoon. Koop nou en koop genoeg ekstra olie in gebed, by die voete van Jesus. Amen.

[Aangestuur]

Santa Shoeboks - opgewondenheid in 'n boks

AFSNYDATUM: 30 Oktober 2026
DRINGENDE VERSOEK: Nog 14 name is beskikbaar
Kom ons as bevoorregtes maak 'n kinderhartjie hierdie Kersfees bly. 
Ouderdomme tussen 5 jaar tot 12 jaar.
Kontak kerkkantoor vir besonderhede - 053 842 1100

Saturday, 17 October 2026

Kerkgenotjies: Mike, Kallie en Vandermerwe

* Vandermerwe se buurman is sommer 'n spoggerige man. Hy spog op 'n daaglikse basis oor dinge wat hy het wat sy buurman nie het nie. Die laaste keer het hy oor sy "slim huis" gespog. Die tegnologie gebruik hy tot sy voordeel en al hierdie gespoggery gee vir Vandermerwe sommer 'n pyn.

Wel, vandag is hy reg vir sy buurman. Voordat sy buurman sy mond oopmaak, gaan hy hom vertel dat sy huis nog altyd slim is. Dit weet presies wanneer dit betaaldag is, want dan breek al die goed gelyk in die huis.

*  Mike kla by Kallie dat sy beursie net soos 'n ui is. Elke keer as hy die ding oopmaak, begin sy oë traan.

* Mike weet sommer met die eerste koppie koffie of sy Maandag blou gaan wees of nie. 
As hy die eerste sluk vat en die koffie sê: Jammer, maar ek kan nie wonderwerke verrig nie."

Friday, 16 October 2026

Die Meesterplan: Leesrooster-reis (Week 24 -Vrydag)

5.1.5 Die kern van die evangelie ... (Die hart van verkondiging: Jesus as Here)

Klik HIER  en kyk na die video.  

Videotoeligting tot: 
DIE MEESTERPLAN-LEESROOSTER 5.1.5 
Hoofstuk 5: Leef Verkondigend (kerygma) 
Week 1: Die hart van verkondiging: Jesus as Here 
Dag 5: Die kern van die evangelie: Christus het gesterf, is begrawe, en opgestaan volgens die Skrifte. Dit bly die hart van elke vorm van verkondiging. 

Lees: 1 Kor. 15:1–7 


Oordink: 
Hoe bring Paulus die kern van die evangelie saam in Christus se dood en opstanding, en watter plek behoort hierdie boodskap daarom in jou eie getuienis te hê?

Skakel na WhatsApp-groep vir daaglikse Bybelstudie-inligting:
Klik HIER.

Die Meesterplan - Dr. Frans Hancke 
Kopiereg: 2026 DiePLAN

Skakel die volgende twee Sondae in op RSG

Fietsrit saam met my Vader

Vandag gee ek hierdie fiets aan jou.

Nadat ek die eerste keer vir Jesus Christus ontmoet het, het die lewe vir my gevoel soos 'n fietsrit op 'n tandemfiets, en Jesus het op die agtersitplek gesit en Hy het my gehelp trap.
 
Ek weet nie mooi wanneer dit was dat ons plekke omgeruil het, maar sedert Hy die voorsitplek ingeneem het was die lewe nooit weer dieselfde nie.

Toe ek in beheer was, het ek die pad geken; dit was redelik voorspelbaar - altyd die kortste pad op my manier tussen twee punte. Maar vandat Jesus Christus die stuurstokke oorgeneem het, is die hele pad sommer interessant en opwindend, al hou ek soms asem in.
 
Hy neem ons oor asemrowende bergpaaie, deur rotsagtige plekke, afdraandes teen nekbreek-snelhede en al wat ek kon doen was om vas te hou. Selfs wanneer dit gelyk het na skone malligheid, het Hy aangemoedig met 'n "hou aan met trap!"
Ek het bang en paniekerig geraak en uitgeroep: "Waarheen neem U my?"
Hy het nie geantwoord nie, en ek het geleer om Hom te vertrou.
Ek het my voorspelbare leefstyl vergeet en het gewoond begin raak aan die avontuur van op die agterste sitplek ry en saamtrap maar geen stuurstok in my eie hande nie.
Wanneer ek soms begin bang raak, dan het Hy teruggeleun en my hand aangeraak. Hy het my geneem na mense met gawes wat ek nodig gehad het ... gawes van genesing, aanvaarding, vriendelikheid.

Hy het my beveel:"Gee jou gawes weg, dis te veel bagasie, te veel gewig."

So het ek weggegee aan mense wat ons ontmoet het op die pad, en ek het ontdek dat deur weg te gee, ek al hoe meer ontvang het, maar my vrag het nie swaarder geraak nie, die las is lig.

Aanvanklik het ek Hom nie vertrou nie, en ek was self in beheer van my lewe. Toe ek begin agter ry het, het ek gedink: Hy gaan ons verongeluk! Stelselmatig het ek egter agtergekom dat Hy fietsrygeheime ken ...

Hy het geweet hoe om deur 'n skerp draai te beweeg, hoe om te klim oor rotse wat heeltemal te hoog gelyk het vir my, en ook waar om te jaag sodat ons vinniger deur die gevaarlike plekke kon gaan. Ek het geleer om my mond te hou en net saam te trap, dikwels op die mees ongewone plekke; ek het begin ontspan en selfs geleer om die natuurskoon rondom my te geniet ... en ook die koel wind in my gesig in die permanente kameraadskap van iemand wat my nooit begewe en verlaat nie - die Heilige Gees.

En elke keer wanneer ek seker was dat ek aan die einde was van my eie kragte, glad nie instaat om verder te gaan nie, dan het Hy my aangemoedig: "Trap, My Kind, Trap!"

Vrydagterugblik: 3 Oktober 2026

Op die foto verskyn van die gaste wat die heuglike dag
saam met Adriaan en Jade gedeel het: Fanie en Elsa Minne, 
Maans en Anna van Wyk en Pieter en Yolande Britz.

Afkondiging: Uitnodiging na eerskomende Sondag se erediens

Thursday, 15 October 2026

Die Meesterplan: Leesrooster-reis (Week 24 - Donderdag)

5.1.4 Gelowiges verkondig omdat hulle nie anders kan nie (Die hart van verkondiging: Jesus as Here)

Klik HIER  en kyk na die video.  

Videotoeligting tot: 
DIE MEESTERPLAN-LEESROOSTER 5.1.4 
Hoofstuk 5: Leef Verkondigend (kerygma) 
Week 1: Die hart van verkondiging: Jesus as Here 
Dag 4: Gelowiges verkondig omdat hulle nie anders kan nie - die waarheid van Christus dring ons om te getuig. 

Lees: Hand. 4:13–20 


Oordink: 
Waaruit spruit die vrymoedigheid van die apostels om van Jesus te getuig, en wat laat dit jou verstaan oor die verhouding tussen geloof en verkondiging?

Skakel na WhatsApp-groep vir daaglikse Bybelstudie-inligting:
Klik HIER.

Die Meesterplan - Dr. Frans Hancke 
Kopiereg: 2026 DiePLAN

Statistiek: Aktiewe e-besoekers is 'n bate!!

Tiendemaand: Gee en ontvang

Dit is deur te gee dat 'n mens ontvang.

So leer Jesus ons in Lukas 6:38: "Gee en aan julle sal gegee word." 
* Gee vriendelikheid en jy sal vriendelikheid ontvang.
* Bied hulp aan iemand wat dit nodig het, en op 'n dag sal jy weer hulp ontvang.
* Glimlag vir iemand op straat en jy sal 'n glimlag ontvang.

GALÁSIËRS 6:7 AFR53
"Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai."

Dit geld veral met betrekking tot wat ons aan God gee. God het geen behoefte aan ons geld of ons besittings nie, maar Hy eer ons gewilligheid om vir Sy saak by te dra; en Hy gee ver meer aan ons terug as wat ons bereid is om aan hom te gee.

Hy sal nooit toelaat dat ons meer gee as wat Hy gee nie, want God is niemand se skuldenaar nie. In Maleági 3:10 daag Hy ons selfs uit om Hom op die proef te stel en te kyk of Hy 'n waarmaker is van Sy Woord.

In die Nuwe Testament is daar geen duidelike bevel wat die gee van tiendes betref nie. Christus het die "moet" van die Wet tot niet gemaak en ons vrygestel om uit liefde te gee, elkeen soos sy hart hom aan drywe om te doen. Dit staan ons vry om veel meer as 'n blote tiende van ons inkomste aan Hom te wy.

Daar is baie mense wat reeds die Here se uitdaging aanvaar en Hom "beproef" het; en Hy het sonder uitsondering bewys dat Hy 'n waarmaker is van Sy Woord. En hoe meer hulle in die geloof gewaag het, hoe magtiger het God sy belofte nagekom. Ons dink byvoorbeeld aan 'n man soos Robert Gilmour Le Tourneau van die Verenigde State wat, in 'n toestand van bankrotskap, hom op hierdie teks in Maleági beroep het. Hy het besluit om nege tiendes van sy inkomste aan die Here af te staan, en EEN-tiende vir homself te hou. God het sy geloof ryklik beloon, en binne afsienbare tyd was hy 'n multimiljoenêr. Mense en kollegas het van hom gepraat as “God’s businessman.”

Dit is moontlik dat die skades wat mense somtyds ly, toegeskrywe kan word aan hul versuim om aan God die deel te gee wat Hom toekom. Hierdie pligsversuim stel hulle nie alleen bloot aan aan materiële verlies nie, maar beroof hulle ook van die seën en die glimlag van God oor hulle lewe.

[AJ Steyn]

Wednesday, 14 October 2026

Die Meesterplan: Leesrooster-reis (Week 24 - Woensdag)

5.1.3 Verkondiging gaan nie oor die verkondiger nie ... (Die hart van verkondiging: Jesus as Here)

Klik HIER  en kyk na die video.  

Videotoeligting tot: 
DIE MEESTERPLAN-LEESROOSTER 5.1.3 
Hoofstuk 5: Leef Verkondigend (kerygma) 
Week 1: Die hart van verkondiging: Jesus as Here 
Dag 3: Verkondiging gaan nie oor die verkondiger nie, maar oor die lig van Christus wat deur ons skyn. Ons leef om Hom sigbaar te maak. 

Lees: 2 Kor. 4:1–6 


Oordink: 
Kyk hoe Paulus die lig van Christus teenoor die verkondiger self stel: wat openbaar dit oor hoe God mense gebruik om Christus sigbaar te maak?

Skakel na WhatsApp-groep vir daaglikse Bybelstudie-inligting:
Klik HIER.

Die Meesterplan - Dr. Frans Hancke 
Kopiereg: 2026 DiePLAN

Mossiestilte: Ps. 95:1-2

Kom laat ons jubel tot eer van die Here, laat ons juig ter ere van die rots van ons heil!
Laat ons sy aangesig tegemoetgaan met lof, met lofsange Hom toejuig!

As jy toegang tot die aangesig van God soek in jou lewe, moet jy sy Naam verheerlik en Hom lofsange toejuig; doen dit veral in moeilike en swaar tye.
Dis die moeite werd, waar God Hom vestig onder die lofsange van sy volk.
Die Here is jou God en jy is die volk van sy weide en skape van sy hand (vers 7)

Here, ek kom nou in aanbidding en buig neer voor U. Ek kniel voor die Here wat my gemaak het. (vers 6). Want die Here is 'n grote God en die groot Koning bo alle konings en gode (vers 3). Majesteit en heerlikheid is voor sy aangesig en sieraad in sy heiligdom (Ps. 96:6). Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Afkondiging: Besoek Sally Aucamp


Kom kuier gerus saam met ons om 11:00!