Showing posts with label Hartseer. Show all posts
Showing posts with label Hartseer. Show all posts

Saturday, 5 September 2026

Voorbidding vir oom Essie en sy gesin

Dit is met die groot leedwese dat ons van Annatjie Esterhuyzen se afsterwe verneem het. As 'n jarelange Dutoitspanner het sy haar plek vir baie jare op vele terreine volgestaan op haar stil vriendelike manier. 'n Staatmaker wat nie geskroom het om haar deel te doen nie. 

Oom Essie en familie, mag die Almagtige julle dra wanneer julle voete te swak is om self te loop. Mag die mooi herinneringe aan haar julle bybly en troos."

Woorde skiet te kort in hierdie tyd van hartseer. Weet egter dat ons as gemeente aan julle dink en vir julle bid. Baie sterkte in die moeilike tyd.

Thursday, 9 October 2025

Dink hieroor: In ons kitssamelewing ...

In ons kitssamelewing 
waar alles só vinnig herstel 
of liewer vervang word, 
is daar nie 'n kitsoplossing vir seer nie. 
Baie mense troos jou met die woorde dat tyd genesing bring - 
miskien is dit waar ... vir sommiges ... 
Die enigste tydelike heling, 
is jou herinneringe. 
Die herinneringe wat jy oor jare bymekaar gemaak het
en gekoester het.
Daardie herinnering is 'n pleister vir die seer.  

[Anoniem]

Tuesday, 10 September 2024

My plekkie in Sy hemelhuis

Om ouer te word is nie maklik nie. 

Jy is soveel meer broos en kwesbaar as jonger mense. Jy mis familie en vriende wat nie meer daar is nie, sommige in ouetehuise en ander reeds na die Vaderhuis. Daar is so baie wat jy nog wou doen, maar die krag, energie en tyd ontbreek - want jy word al meer bewus dat jou jare vorentoe nie meer so baie is soos “agtertoe” in die verlede nie. 

Jou liggaam raak broser en jou hart kwesbaarder. 

Talle goedjies begin pla, soos jou balans wat nie meer is soos wat dit behoort te wees nie. Jou visie en gehoor wat al hoe meer en meer verswak. Al hoe meer medisyne kom by jou medisynelysie en jou eersehulptassie word vol goedjies wat belowe om jou energie te gee. Jy raak meer bewus van jou alleenheid - en vir sommige mense van hul eensaamheid. Jy word nie meer na plekke saamgenooi nie en jy vra ook nie self nie, omdat jy dalk al een of twee keer afgejak is. 

Dis nie meer vir jou so lekker om in jonger groepe geselskappe te wees nie, want jy word al meer bewus dat mense in die geselskap verby jou of bo-oor jou kyk - jy is maar net daar, maar nie deel van die geselskap nie. Daar word vir iemand anders in die geselskap gevra hoe dit met jou gaan, in plaas daarvan om direk die vraag aan jou te vra. Wanneer jy by ‘n geselligheid is, kry almal soms geskenkies - maar die jonger garde vergeet of dink nie dis nodig dat jy ook enetjie kry nie. 

Trane vloei soveel makliker - trane van vreugde, verlange of hartseer, maar sakdoekies daarvoor is nie nodig nie, want die Heer vee dit self af  - wanneer Hy afbuk na jou en sy arms om jou vou en in die mooiste woorde verseker van Sy Ewige Liefde vir jou. En wanneer Hy saggies uit Sy Woord met jou praat en jou vertel dat Hy 'n plekkie gereed kry vir jou in Sy Hemelhuis, weet jy dat jy niks meer nodig het as hierdie Vader van jou nie! 

En nuwe lewensenergie soos ‘n vars waterval bruis skielik in jou en jy weet jy móét vir ander híérdie storie van jou en jou Hemelvader vertel!  

[Dankie, Valerie!]

Dink hieroor: Ek glo nie in tandartse nie ...

'n Meisie besoek die tandarts en hy sê vir haar die prosedure is voltooi. 
Sy antwoord: "Yes, thank God for that."
Die tandarts vra vir haar: "Wie in vandag se tyd, glo nog in God?"
Sy antwoord: "Ek glo in Hom."
Die tandarts sê: "Sien jy nie wat in die wêreld aangaan nie - hoe kan daar 'n God wees, terwyl daar soveel armoede, rampe, hartseer en ellende is?"
Die meisie kyk na hom en sê: "Wel, ek glo nie in tandartse nie!! As daar werklik tandartse was, hoekom is daar so baie mense met stukkende, gevlekte of bederfde tande?"
Die tandarts antwoord dadelik: "Wel, ek kan nie mense help wat nie na my toe kom nie."
Die meisie "boul" hom toe uit deur te sê: "Dit werk presies dieselfde met God. Hy kan jou nie help as jy nie bereid is om na Hom toe te kom en met Hom te praat nie.

[Dankie, Valerie, vir die aanstuur.] 

Tuesday, 20 August 2024

Dit is nie maklik nie ...

Geen hartseer, pyn en wroeging
is maklik as ons dit alleen probeer dra nie.
Soveel makliker om hulp in gebed by Jesus te vra.
Hy beloof in Sy Woord om altyd daar te wees.
Ons van nuwe krag te voorsien deur die Heilige Gees.
Het jy al ooit na 'n storm na die reënboog gekyk?
Dis God wat belowe dat seerkry ook sal wyk.
Na die donkerste nag.
Skyn die son helderder die volgende dag.
Net soos 'n blom reën nodig het om te groei,
Word die mooiste 'blomme' gevorm in 'n hart wat bloei.

[Aangestuur deur Anoniem]

Friday, 16 August 2024

MAAR, dan is daar altyd daardie IEMAND ...

Party dae kom mens by die werk aan en jy voel mismoedig, geïrriteerd met die medekollegas en sommer vies vir beurtkrag, beurtwater en die verkeer op pad werk toe. Of jy kom werk toe met hartseer en pyn, met geen lus vir die dag nie! Dit het al met ons almal gebeur.

MAAR, dan is daar altyd daardie IEMAND ...

IEMAND wat 'n simpel grappie vertel,
IEMAND wat 'n mooi boodskap in die oggende in jou gedagtes los,
IEMAND wat jou oorval met positiwiteit,
IEMAND wat altyd lag,
IEMAND wat 'n storie vertel, wat jou probleme klein laat voel,
IEMAND wat jou pyn raaksien en aan jou dink,
IEMAND wat jou beter laat voel!!

Jy was al daardie IEMAND vir 'n kollega! Dankie daarvoor! 

Thursday, 15 August 2024

Die mooiste glimlag ...

Die mooiste glimlag verberg die grootste hartseer;
Die sagmoedigiste mense is al die ergste verneder;
Die mooiste oë het al emmers trane gestort;
Die warmste harte het al die meeste pyn gevoel;
Die stilste mense het die diepste geheime;
Die wat die gouste oordeel het die meeste geraamtes;
Die hardste lag verberg die minste selfvertroue;
Die mooiste liefde is nie selfsugtig nie;
Die mooiste sprokie is die een in jou drome;
Die beste plek om te wees is in iemand se hart;
Die gelukkigste mense is die dankbaarste;
Die beste dokters is mammas;
Die diepste plooie vertel die mooiste stories;
Die lekkerste gevoel is om verlief te wees;
Die mooiste woorde is "Ek is lief vir jou";
Die beste dinge in die lewe is gratis;
Die beste pad is die een waar jy die meeste geleer het;
Die edelste mense het die swaarste pad geloop;
Die diepste siele het op die hardste manier geleer;
Die meeste aanmoediging kom van jou beste vriende;
Die waardevolste lesse word geleer deur ons grootste seer;
Die wonderlikste geskenk is die. geskenk van Lewe;
Die onmoontlikste dinge is moontlik as ons glo;
Die grootste waarborg kry ons in ons geloof!

Tuesday, 18 June 2024

Ons is soos sonneblomme

Het jy geweet sonneblomme buig hul kop as hul seerkry?

Het jy geweet sonneblomme lig hul kop op as die son skyn?

Ons moet soos sonneblomme lewe - ons kop buig in stilte as ons seerkry, want dit is waar ons hulp vandaan kom. En ons kop oplig as die son skyn.

Soms sien ons 'n reënboog deur ons trane heen en ons weet dat om op Hom te vertrou, sal ons harte heel. Ons moet leef volgens God se wil in ons lewe. 

Ons ken almal seerkry, liefde, blydskap, benoudheid, angs, verlorenheid en trane. So, of die son skyn en of dit vir dae aaneen bewolk bly, blom, want ons vertou op Hom, ons groei as dit reën en jubel as die son skyn. 

Ons oë volg U bedags,
en snags is U oë steeds op ons!
Ons dans in die wind en reën
en voel U druppels seën,
U maak ons blare heel.
Die grond om ons is vrugbaar, 
want ons soek U elke dag;
En ons ken U stem in die nag!
U klee ons met vrolikheid,
ons dans in die wind en reën;
ons voel U GROOT druppels seën! 
U maak ons blare heel na elke storm!
En as ons klaar geblom het,
Heer, strooi U ons sade in die wind;
en mag hul in goeie grond val
en groei tot U eer!

[Dankie, Anoniem]

Tuesday, 28 July 2020