Saturday 31 December 2022

Gelukkige 2023


Dankie, matrone Evie en Rina Groenewald vir al julle onbaatsugtige liefde wat julle so mildelik uitdeel. Mag julle 2023 vol voorspoed en milde seën wees uit die Vader se hand.

Klik HIER vir nog foto's.

Voorspoed en genade vir 'n uitdagende 2023

Mag 2023 ‘n baie geseënde en opwindende jaar in elkeen van julle lewens wees. In Jesaja 43:18-19 staan die volgende belofte: “Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie. Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom ...”

Die gemeente ... die land het elkeen se gebede nodig. Kom ons bid vir mekaar, kom ons bid vir vrede, eensgesindheid, samewerking en geloof.

Mag die Vrede van die Vredevors elkeen se harte en lewens vervul.

En mag die nuwe jaar vol verrassende uitdagings, wonderlike geleenthede en seën wees.

Tuesday 27 December 2022

Kersfees 2022: Sally se verrassingsbesoek

 








[Klik HIER vir nog foto's en sommer HIER ook!]
Foto's: Rina Groenewald

Saturday 24 December 2022

Kersfees: Glo saam in ’n droom van vrede

Wie weet nie van die “Ek het ’n droom”-toespraak van die Amerikaanse burgerregteleier Martin Luther King nie? Daardie toespraak wat ’n generasie se drome gemotiveer en geïnspireer het?

Hy het gedroom van vrede. Hy het gedroom dat mense weer sal besef dat hulle één groot familie is, ongeag geslag, ras, klas, taal, seksualiteit, ouderdom of geloofsoortuigings.

’n Wêreld wat vrede, liefde en harmonie ken. Dieselfde droom wat ons hier in Afrika ken as Ubuntu (ek is omdat jy is).

Is dit ’n onrealistiese of naïewe droom? Baie sal sê ja, maar is dit nie juis die onmoontlike drome wat deur die eeue die mensdom se verbeelding aangegryp en geïnspireer het tot groot onselfsugtige dade nie?

Is dit nie die dromers wat mense gehelp het om verby hul beperkte idees en vrese te beweeg nie? Is dit nie die droom wat aan die hart van menslike grootsheid lê nie?

Is dit regtig so onmoontlik dat ons as mense in vrede kan saamleef? Dat ons mekaar en ander lewe op dié een planeet met respek kan hanteer … is dit idealisties?

Hoekom voel dit dan nie laf nie? Dit is vir seker ’n groot droom – eintlik dié groot droom!

Kom ons hou aan droom oor vrede en verdryf met dié droom alle haat, selfsug en wanhoop wat ons in ons dra. Kom ons word die dromers wat die droom weer lewend maak in ’n tyd waar dit so nodig geword het.

Steek ’n kers aan as teken dat die droom in jou hart leef. ’n Simbool van lig wat binne ons aangaan.

Dalk is dit vir nou net een kersie, maar soos ons tog weet, een kers se vlammetjie kan ’n ander kers aansteek en ’n ander en ’n ander.

En voor ons oë word die donker verdryf en die wêreld verlig.

Is dit nie die eintlike betekenis van dié tyd nie? 

’n Feestyd waar ons die koms van vrede vir almal vier nie? ’n Verligtingsfees ... ’n Liefdesfees ... ’n Vredesfees.

[Hierdie stukkie van dr. A Pienaar is nog net so relevant soos 23-12-2012 toe dit in die Beeld verskyn het.)

Friday 16 December 2022

Jý kan 'n verskil maak ...


Een lied kan 'n oomblik skep,
een blom kan 'n droom wakker maak.
Een boom kan 'n woud begin,
een voëltjie kan die lente besing.
Een glimlag begin 'n vriendskap,
een handdruk hef  'n mens op.
Een ster kan 'n skip te see lei,
een woord kan 'n doel omlyn.
Een stem kan 'n volk verander,
een sonstraal kan 'n vertrek verlig.
Een kers wis die duisternis uit,
een lag sal somberheid oorwin.
Een tree moet elke reis begin,
een woord moet elke gebed inlui.
Een hoop kan jou gemoed verhef,
een aanraking wys dat jy omgee.
Een stem kan met wysheid praat,
een hart kan weet wat waar is.
Een lewe kan 'n verskil maak.
Jy sien, dit hang net van jou af.

[Outeur onbekend]

Al kan jy nie baie doen om 'n verskil te maak in die wêreld om jou nie, kan jy wel iets doen. En dit is die belangrikste om hierdie iets te doen, hoe klein ook al.

Ware barmhartigheid is om alles, ja, alles te doen wat ons kan - John Donne. 

Sunday 11 December 2022

Later ... wanneer is dit?

Skaars het die dag begin, dan is dit al sesuur saans.
Skaars breek Maandag aan, dan is dit weer Vrydag.
... en die maand is verby.
... en die jaar is verby.
... en so vergaan 30, 40, 50, 60 jare van ons lewens.

Skielik besef ons, hoeveel mense ons al verloor het. 
Ouers, familie, vriende en kennisse. 
'n Terug is daar nie!

So laat ons die tyd geniet, wat ons nog oor het.
Laat ons nie ophou om tyd te gebruik, soos dit ons gelukkig maak nie.
Laat ons kleur voeg by ons gryse allerdag!
Laat ons glimlag oor dinge, wat ons harte streel.
Ons moet die tyd wat ons oor het, met rustigheid en vertroue geniet - die woord "later" uitskakel.

Ek doen dit later ...
Ek sê dit later ...
Ek sal later daaroor dink ...
Ons los alles altyd vir later!
Later is dalk te laat! 

Want, wat ons nie verstaan nie is:
Later is die koffie koud
Later het prioriteite verander
Later is die sjarme gebreek
Later is die gesondheid verby
Later is die kinders groot
Later is ons ouers oud
Later word gesprekke vergeet
Later verander dag na nag
Later eindig die lewe ...
En dan is dit te laat!

So asseblief, moet niks uitstel tot later nie!
Want intussen kan ons die beste oomblikke verloor ...

Die beste ondervindinge
Die beste familie
Die beste vriende
Vandag is die dag ♥️ 
die oomblik is nou ♥️

Ons is nie meer jonk genoeg, om dinge wat vandag gedoen kan word, na môre te verskuif nie.
Kom ons wees vandag net dankbaar, vir diegene wat deel is van ons lewens, en deel dit met diegene om ons ... of gaan ons dit ook los ... vir later ...?

Monday 5 December 2022

Kersfees 2022: Sally Aucamp

 
Sally Aucamp se inwoners het Saterdag nuwe betekenis aan die bekende Kersverhaal gegee. Woorde is 2000 jaar later deur mense wat werklik aan die Verlosser glo, vergestalt. Sang het kleur aan die oggend verleen. 





Die Kersverhaal is halftien opgevoer en daarna is die inwoners op 'n smaaklike ete getrakteer. Op die kersspyskaart was hoenderpastei, aartappelslaai en noedelslaai. Die bederf was die nagereg ... kolwyntjies met roomys. Die roomys is deur Dutoitspan-gemeente se Barmhartigheidsdiens geskenk. Daarna het die hoogtepunt gevolg: Elke inwoner het 'n geskenkie gekry wat met liefde gemaak en verpak is. 

Matrone Evie, Rina Groenewald en al die inwoners sê:


vir elkeen se bydrae en elkeen wat die dag saam met ons deurgebring het en baie dankie vir die omgee en die liefde. Dit word raakgesien. Mag julle elkeen 'n geseënde tyd saam met julle familie deurbring.