Showing posts with label Koster. Show all posts
Showing posts with label Koster. Show all posts

Saturday, 30 May 2026

Basaar-dankies!

Dankie vir ’n wonderlike Dutoitspan-basaar! En vanaand kan elkeen betrokke met seer voete, moeë glimlagte, maar met dankbare harte sê dat dit 'n sukses was.   

* Ons wil dankie sê aan almal wat só hard gewerk het agter die tafels en agter die "basaargordyn" om vandag 'n dankbare sukses te maak. 
* Aan elkeen wat gehelp het met voorbereidings, skenkings, stalletjies, kosmaak, opruim en al die harde werk agter die skerms. Sonder julle ekstra myle sou dit nie moontlik gewees het nie.
* 'n Spesiale dankie aan Christelle en Mittah (Christina Kiddie se kok) vir die maak van die kerrie-en-rys en die heerlike lewerkoekies. Hierdie bydrae word opreg waardeer.
* Dankie Rhodesdene Pick 'n Pay vir die skenk van bestanddele, asook die plastieksakke vir die kospakkies.
* Dankie vir die ondersteuners en hulle wat saamgekuier het.
* Dit was ’n geseënde dag vol samehorigheid, lag en mooi herinneringe.
* Mag julle elkeen ryklik geseën word.

Rus vanaand goed en ons hoop om julle almal DV volgende jaar weer te sien.

Friday, 6 June 2025

Terugblik: Agter die opruimingsgordyn

Vandag se terugflits gaan nie jare terug in die geskiedenis nie, maar slegs 'n week terug. Alles wat met soveel sorg en beplanning vir die basaar uitgepak is, moet natuurlik opgeruim en weggepak word en dit gebeur gewoonlik so stil-stil met slegs 'n handjievol mense wat help.

Aan hierdie stille werkers agter die opruimingsgordyn,
'n opregte hartsdankie!! 

Wednesday, 26 March 2025

Verjaardagwense

Anna, vandag gee ons met liefde vir jou 'n bossie rooi rose en 'n heerlike koppie tee om op jou verjaardag te drink. Mag Jesus jou oorvloedig seën. 

Friday, 6 December 2024

Ontmoet ons personeel: Anna van Wyk


Anna van Wyk, lidmaat van die gemeente vir meer as 20 jaar, is die afgelope 7 jaar Dutoitspan se koster.

Anna is gebore en getoë in Cradock. Sy het later die Oos-Kaap verruil vir die Noord-Kaap - 'n landstreek wat bekend is vir sy vriendelike mense en hartsmense. Sy is 'n Kimberliet sedert 1995 en op 17 Januarie 2000 haak sy en Maans die knoop deur. 

Anna is 'n familiemens en haar grootste vreugde is om elke oggend vir haar kind môre te kan sê en hom te sien - 'n voorreg wat baie ouers nie het nie. Daar is soveel ouers wat elke dag met die wete wakker word dat hulle kinders en kleinkinders oorsee is en die realiteit is dat hulle mekaar net een maal 'n jaar of drie sien. 

'Hier is n paar algemene vrae om die mens agter die kosterwerk beter te leer ken:

Vraag: Watter gedeelte in die Bybel spreek direk tot jou hart?
Anna: Psalm 23 is my groot gunsteling.

Vraag: Watter kossoort staan heel boaan jou lysie van gunstelinge?
Anna: Met lasagne kan jy my onder 'n wip vang.

Vraag: Watter karaktereienskap in mense is vir jou onaanvaarbaar en kan jy nie mee vrede maak nie?
Anna: Mense wat oneerlik is en wat vir jou in jou oë kyk, terwyl hulle vir jou jok.

Vraag: Wat is jou gunstelingkleur?
Anna: Ek hou van swart.

Vraag: Wat is jou stokperdjie?
Anna: Ek is baie lief vir naaldwerk en het klere gemaak voordat ek met die kosterwerk begin het. Ek was agt jaar oud toe ek my eerste rok gemaak het - natuurlik vir myself. Van daardie dag af  het ek besef dat 'n mens vlerke aan jou drome kan gee met naald en gare. My tannie het vir my die naaldwerkdeur oopgemaak. Nou is daar nie meer so baie vrye tyd beskikbaar vir hierdie passie in my lewe nie. 

Vraag: Lees jy graag en wat is jou gunsteling genre?
Anna: Ek hou van romanse - die ou mense het altyd van liefdesverhale gepraat. Daar is só baie moeilikheid en swaarkry in die lewe, dat hierdie genre 'n teenvoeter bied teen die swaar waarvan ons elke dag in die koerante lees en oor die TV hoor. Met elke storie word die leser bederf met hoop en verwagting. 'n Mens lees die boek met die verwagting en die hoop dat alle probleme wat die karakters beleef, oorkom en opgelos sal word. Anders as in die regte lewe waar probleme so dikwels tot mense se ondergang lei.  

Vraag: Watter tipe musiek roer jou hartsnare?
Anna: Ek hou van country musiek en Don Williams se musiek is my groot gunsteling.

Vraag: Wat is die lekkerste deel van jou werk?
Anna: Om ander te kan help.

Vraag: Die wêreld soos dit vandag daar uitsien, is goed deurmekaar. Watter gedagte wil jy by die leser los wat hierdie gesprek gelees het?
Anna: Ons as mens, kan nie sonder God lewe nie en dit moet ons doel wees om elke dag nader en nader aan Hom te probeer leef.  

'n Vinnige voëlvlug oor die mens wat die kosterspos beman en wat altyd bereid is om die ekstra myl te loop.

Friday, 2 August 2024

Ontmoet ons personeel: Elsa Minne


Elsa Minne is 'n Dutoitspanner in murg en been. Iemand wat meer as 50 jaar deel van die gemeente is, baie predikante sien kom en gaan het en die gemeente in al die stadiums van menswees ervaar het. Van 'n kind in die Sondagskool en Kinderkrans tot by saakgelastigde.

Elsa is 'n doop- en belydende lidmaat van Dutoitspan vanaf 1970. Sy is in hierdie gemeente aangeneem en voorgestel, twee van haar kinders is hier gedoop en al drie het belydenis van geloof in Dutoitspan afgelê.    

Sy was aktief betrokke by verskeie diensgroepe van die gemeente onder andere die jeug (Kinderkransleidster), Vrouediens (groepleidster) en die kategese. Wanneer daar 'n helpende hand benodig is, hoef hulle nie ver te gesoek het nie. Betrokkenheid was en is deel van haar woordeskat. By Ons Huis, die tehuis vir bejaardes, het sy die winkel op wiele beman totdat haar man siek geword het. Sy is vir die laaste ses jaar Ons Huis se ouderling.

Elsa: "Ek word aangestel as koster van 1 November 2007 tot en met die einde Desember 2017. Dit was seker die beste 10 jaar in my lewe waar ek saam met die mooiste kinders van die Here kon werk. Dit was ’n groeitydperk in my lewe - geestelik sowel as my menswees. Oom Schalk Pienaar, my rolmodel, was die een wat my staande gehou het in my werk."

Elsa neem as skriba waar tot 28 Februarie 2018, waarna sy op 1 Maart 2018 as skriba aangestel is. Die besluit om die skribapos te aanvaar, was nie 'n maklike besluit nie. Die belangrikste rede was dat sy haar kosterwerk baie geniet het en die gedagte dat sy dit vir die vier mure van 'n kantoor moes verruil, was nie só aanvaarbaar nie. Sy het baie gebid en gehuil oor die pos tot die dag wat die Here vir haar gewys het dat sy dit kan doen. Van daardie oomblik af  het sy nog nie een dag teruggekyk en gewonder hoekom sy hier is nie. Elke dag bring nuwe uitdagings wat aangepak moet word. 

Hierdie werk het nou vir haar 'n passie geword wat sy vir niks sal wil verruil nie. Sy kom elke dag met ‘n lied in haar hart werk toe. Hierdie gesindheid kan duidelik in haar lewensmotto's gesien word. 

Elsa glo dat dit wat jy aanpak, moet jy voluit doen en klaarmaak. Almal wat al 'n e-pos van haar gekry het, weet dat haar uitgangspunt is dat wat jy met geesdrif doen, doen jy sonder moeite!  

Elsa is ook 'n ywerige leser, Christelike fiksie is bo-aan haar lysie en haar gunstelingskrywer is Karin Kingsbury. 

Hartskos is kos wat 'n mens met 'n tikkie heimwee huis toe laat verlang en die kos wat aan Elsa se hart torring is rys en heerlike kerrie-afval.

In 'n neutedop is hierdie die mens wat Dutoitspan se kerkkantoor beman.