Showing posts with label Seisoen. Show all posts
Showing posts with label Seisoen. Show all posts

Tuesday, 7 October 2025

Mandjie Hoop: Jou ou seisoen sal tot 'n einde kom ...

"Daar is ’n vaste tyd ('n nuwe seisoen) vir alles, elke ding onder die son het sy tyd:" (Pred. 3:1 NLV)
• As daar iets is wat ons as mens voortdurend mee sukkel, is dit om geduldig op die Here te wag vir sy perfekte tyd. Ons moet leer om lankmoedigheid toe te pas.
• Vir Dawid was sy seisoen as skaapwagter klaar, want die Here het koningskap vir hom beplan.
• Vir Rut wat in die velde gewerk het, is haar seisoen verander sodat sy die eienaar van daardie velde geword het.
• Die een seisoen het Job alles verloor en die volgende seisoen gee die Here dubbel aan hom wat hy verloor het.

Liewe leser, hou vas aan die Here en moenie moed te verloor nie. Jou seisoen sal ook tot ‘n einde kom.
Die Here maak gereed om jou te seën bo alle verwagtinge wat voorlê, daar is ‘n nuwe seisoen vir jou lewe.

Gebed: Here, vergewe my vir die tye wat ek mismoedig raak en nie geduldig wil wag op U tyd nie. Lei my om geduldig te wag op my nuwe seisoen met lankmoedigheid. Amen

Friday, 22 August 2025

Kontraste

Winter en lente (soos somer en herfs) is albei deel van een proses. Nes 'n mens gee en ontvang nie van mekaar kan skei nie, kan 'n mens ook nie een seisoen sonder die ander ervaar nie. As mense kan ons baie uit die tydlose wysheid van die natuur leer en in ons eie lewens toepas.

Die koue van die winter maak dat alles stadiger word en selfs in 'n winterslaap insluimer. En soms sterf goed ook af. Ek sien hierdie as 'n tyd om te rus en om na te dink oor waar jy jou in jou lewe bevind. Dit skep vir jou 'n geleentheid om te besluit wat vir jou in jou lewe belangrik is, en wat nie. En om dan stappe te neem om ontslae te raak van alles wat nie meer 'n positiewe rol in jou lewe speel nie. Kyk mooi na elke area van jou lewe: jou huis en besittings, jou werk, vriende, familie en ander verhoudings, kyk ook na jou emosies. En besluit dan wat jy wil hou, wat jy wil verander en wat jy van ontslae wil raak.

So sal jy jouself voorberei vir die nuwe lewe wat lente bring. Jyself gaan verjong en heel voel, reg om 'n nuwe seisoen in jou lewe te skep. Jy kan dit inkleur met al jou hartsbegeertes, soos 'n tuin in volle bloei.

Nes in die natuur, groei ons as mense in sarsies. Daar is tye van groei, tye om te voed, tye van bloei en tye van rus in elke lewe, joune ook.

Die kontraste tussen winter en lente herinner ons dat hierdie ook sal verbygaan. Ons word bewus van en dankbaar vir alles wat ons het. Dit gee ons ook die geleentheid om die mooi in die lewe weer raak te sien, al is dit soms vaal en grys.

In die lewe is daar seisoene. Soos die son soggens opkom en die sterre saans skyn, kan jy verskillende seisoene in jou lewe verwag. Jy kan óf daarteen baklei óf dit aanvaar en die beste maak van die omstandighede wat oor jou pad kom. Die keuse is joune!

Kies DIT wat jou gelukkig maak, DIT wat niemand skade aandoen nie, JY inkluis. En wanneer jy twyfel, kyk na die tydlose wysheid van die natuur vir antwoorde.

[Prince Albert Vriend, Oktober 2017, bl.9: Maruschka Erasmus - 'n NLP-lewensafrigter, EFT-praktisyn en 'n geregistreerde berader.]  

Sunday, 1 September 2024

Lentegebed

Liewe Heer, ek aanbid U op hierdie lentemôre as die Skepper God
Nuwe lewe bot orals rondom my uit
Kom en vernuwe my ook deur U Heilige Gees
U ken my hart so goed, Here
Hier aan die begin van die lente vra ek U om al die dooie hout
van my lewe weg te snoei, en in die plek daarvan helderkleurige liefdesbloeisels te plant
Lekkerruik-mensweesblomme van sagte marsmallowspienk
en wit omdat my hart met U Gees gevul is
en ek elke dag met U water van liefde verfris kan word
Voed my met U Woord, liefde, vrede,vreugde en genade
sodat elke nuwe bot die heerlike Geesvrugte sal voortbring
Meester van my hart, laat groei in my U liefde
sodat ander U in my sal sien, hoor en voel
Dankie vir die pragtige lenteseisoen
waarmee U ons seën.
Amen

[Dankie, Rosetta vir die deel van hierdie lentegebed]