Showing posts with label Sondagskool. Show all posts
Showing posts with label Sondagskool. Show all posts

Saturday, 9 May 2026

Kerkgenotjies: Bybelkennis van kinders

* OU Egipteland was bewoon deur mummies en hulle het almal in hierdie griewe geskryf. Hulle het in die Sarah-woestyn gewoon. Die klimaat was só erg dat al die inwoners op ander plekke moes bly.

* Moses het die Hebreeuse slawe na die Rooi See gelei waar hulle ongesuurde brode gebak het, dit is brood wat sonder enige bestanddele gemaak is. 

* Moses het die berg Sianied uitgeklim om die tien gebooie te kry.

* Wat het met Lot se vrou gebeur?
Sy was bedags 'n soutpilaar, en snags 'n vuurkolom.

Saturday, 14 March 2026

Kerkgenotjies: Sondagskoolklas

Sondagskoolonderwyser wil by haar klassie hoor wat hulle dink van die begrip toeval of toevallig.Sy besluit om die kinders aan die dink te sit met 'n vraag.
"Wie van julle kan vir my 'n voorbeeld van toeval gee?"
Sarel: "My ma en pa is toevallig op dieselfde dag getroud." 

oooOOooo

Dieselfde Sondagskoolklas is die betrokke Sondag baie besig en die juffrou sukkel om hulle rustig te kry. Sy betrap een van die seuntjies in haar klas dat hy baie lelik praat. Dis nie net ongehoord vir sy ouderdom nie, maar ook die plek waar hulle hul bevind.
"Willie,"sê sy, "jy moenie so lelik praat nie. Waar leer jy sulke woorde?"
"My pa het so gesê," antwoord Willie.
"Ag, dit maak seker nie saak nie, want jy weet tog nie wat dit beteken nie"
"Ek weet tog, juffrou," help Willie haar reg. "Dit beteken die kar wil nie vat nie."

oooOOOooo

Die Sondagskool het 'n heerlike daguitstappie na Rooifontein. Moeg gespeel na 'n onvergeetlike dag in die buitelug, moes die kinders se ouers hulle so teen vieruur die middag by die kerk oplaai.
Jannie se ma sien sommer op 'n distansie hoe hy met 'n meneer van 'n blouoog aangestap kom.
Sy ma is op die plek vies.
"Het jy alweer baklei?" 
"Ja, Ma, maar Kobus het eerste teruggeslaan."

Thursday, 24 October 2024

'n Paar skoene

'n Klein dogtertjie in Korea wat nog nooit iets anders as strooisandale aan haar voete gehad het nie, sou die gelukkigste dogtertjie in die hele dorp word. Sy sou 'n paar egte leerskoene kry! Haar oom by wie sy gebly het, het dit vir haar vir Kersfees belowe. Hoe het haar hartjie nie gesing van blydskap as sy Sondagskool toe draf nie. Een van die dae sou sy regte skoene hê vir Sondae. Sy kon nie meer wag vir Kersfees nie.

Maar daardie dag in die Sondagskool het die Bybelvrou vertel dat hulle die volgende Sondag 'n kollekte sou opneem om 'n Sondagskool en kindertuin vir die kindertjies in 'n naburige dorp te begin. Sy het gevra dat almal so 'n gulhartige offer soos moontlik moes bring. Die dogtertjie begin dink aan al die vreugde wat sy al uit die Sondagskool en kindertuin gekry het en o, sy wou so graag help om aan ander kindertjies ook daardie blydskap te besorg. Maar sy besit nou nie 'n pennie op haar naam nie en hoe kan sy dit nou help?   

Meteens dink sy aan haar nuwe skoene. Sy sal haar skoene gee. Sy hardloop huis toe so vinnig soos haar beentjies haar kan dra en vra vir haar oom of hy nie liewer die geld vir haar sal gee as die skoene nie. Sy het nie gesê waarvoor sy die geld wil hê nie, maar het so hard gepleit dat hy dit uiteindelik gegee het - 8 yen. Hoe bly was sy nie.

Die volgende Sondag is die kollekte opgeneem, maar dit was 'n geringe sommetjie wat ingekom het, want die Koreane is baie arm. Die Bybelvrou rek haar oë van verbasing toe die klein dogtertjie so 'n groot bedrag soos agt yen inhandig. Dit was meer geld as wat enige kind in die dorpie ooit besit het en haar gedagte was dat die dogtertjie dit gesteel het. Sy haal dit toe uit die kollektebordjie en neem dit terug na die dogtertjie se oom.

By hom het sy verneem hoe die dogtertjie aangehou het dat hy liewer die geld waarvoor hy vir haar skoene wou koop, vir haar moes gee, en dat sy dít in die kollektebordjie gesit het. Sy het haar skoene gegee.

Daardie week het die Bybelvrou by die huisbesoek in die dorpie vertel van die offer van die klein dogtertjie. Die volgende Sondag is daar weer kollekte opgeneem. Watter verskil!! Binnekort was daar genoeg om 'n evangelis na die naburige dorpie te stuur en ook vir hulle is 'n Sondagskool en 'n kindertuin begin.

In die ander dorpie was daar 'n gelukkige klein dogtertjie wat nog steeds met strooisandale Sondagskool toe draf. 

[Hierdie verhaal is meer as 50 jaar terug opgeteken, maar is vandag nog net so relevant soos toe.]