Staaltjies uit die gemeente

Terug na HOME PAGE

Die man wat nie verby die poedingtafel geloop het nie...

Dominee JH Siebert was baie lief vir basaarpoeding... en ook vir roomys.☺ Die eerste tafel wat hy ondersteun het nadat hy die basaar geopen het, was die poedingtafel. Basaarpoeding smaak mos baie anders as huispoeding... En basaarvla oor die poeding smaak ook anders... (of dalk lê die smaak in die samesyn?)

En so tussendeur as hy verby die poedingtafel loop, is dit net asof die poedings met hom praat en kort voor lank, het hy nog 'n bakkie poeding gekoop. Die baktannies in die gemeente is gewoonlik verdeel tussen die poedingtafel, die kleinkoekietafel en die grootkoektafel.

En dan was daar tannie Alers... Sy het oor die jare honderde bakke "trifles" (koekstruif val nie so lekker op die oor nie) vir die basaar gemaak. Haar trifles was legendaries en party Kimberliete het net vinnig 'n bak trifle by die basaar kom koop. Hierdie trifles het nooit op die poedingtafel gestaan nie, maar altyd op 'n tafel agter teen die muur... almal klaar verkoop. As jy nie voor die tyd jou naam op die lys gesit het nie, moes jy maar tot volgende jaar wag vir 'n saampraat-trifle-ervaring.

Tannie Alers het vreeslik moeite gedoen en die een trifle het soos die ander een gelyk - kunswerke. Bo-op die laaste laag room, het sy dit versier met 'n "stillewe"  van jellieblommetjies en -blaartjies wat sy baie noukeurig in vorms gestol het... rooi en groen (amper soos die blommetjies wat 'n mens op vrugtekoeke kry) en dan so 'n laaste vurkpatroon in die room - net asof sy 'n lyn onder hierdie kunswerk trek! Sy het altyd die trifles in oranje en blou plastiese bakke gemaak (al wat in die jare 60's en 70's beskikbaar was. Ek gebruik vandag nog die skottels om my groente in af te spoel!)

En nooit in al die jare was was haar trifles deel van die inhoud van die klein poedingbakkies nie! Dit is opgeraap, lank voordat dit daar kon kom.

Die vandisie se bruinsous...


Mevv. Rhoodie, Pienaar en
Siebert - almal 
ywerige
vandisiewerkers!
Deel van die Vrouesendingbond se fondsinsamelingspoging in die laat jare 60 was om die verversings en kos by die vandisies te voorsien.

Party vroue het kos by die huise gemaak en ander het dáár gaan werk. Jane was o.a. verantwoordelik vir die bruinsous. Hierdie sous is het 'n storie gehad. Ons as 'n gesin het baie Saterdae in die Wimpy 'n vleispastei vir ontbyt gaan eet. Hulle het altyd die heerlikste bruinsous oor hulle pasteie gegooi. En net daar het ons een Saterdagoggend vir Jane uitgedaag om ook sulke sous te maak!

Natuurlik het sy hulle oortref... Haar geheim het gelê in die uie, gerasperde wortels en knoffel wat sy gebraai het en later is die sous deur 'n sif gegooi. Nooit was die sous vir die vandisiesgangers genoeg nie, 'n groot sopkastrol is later gebruik, maar die boodskap wat na so 'n lang dag, saam met die soushouers afgelewer is, is dat hulle dubbeld soveel sous kon gehad het, want die kopers het altyd teruggekom vir nog...

Die sous is so baie gemaak by die huis gemaak, dat niemand ooit die bestanddele neergeskryf het nie en vandag dink ek, kan ons nie meer al die bestanddele onthou nie...

Die pad wat so baie resepte volg!     

Ons Huis...

'n Afkondiging wat vir jare 'n glimlag ontlok het, was die een van die deurkollekte wat vir "Ons Huis" gegaan het. Oudergewoonte kondig ds. Siebert af dat dié oggend se deurkollekte vir "Ons Huis" gaan. 'n Nuwe intrekker was sielsongelukkig oor die feit dat buiten die dominee se salaris, hy ook nog vir homself kollekteer.

En hy het gaan kla... Net om uit te vind dat dit die ouetehuis is wat binne die gemeente se grense val. Daarna is die afkondiging aangepas... "Ons Huis", die tehuis vir bejaardes...

Van my wyksinsidente!


Die meeste van die tyd het die kerk probeer om vir 'n diaken 'n wyk so na as moontlik aan sy huis te gee, bloot om dit 'n bietjie meer geriefliker te maak. Maar soms gebeur dit dat jou wyk aan die anderkant van die gemeente lê. Een van my wyke wat ek op 'n stadium gehad het, was deur die duikweg.

Ek besoek ook sommer die nuwe intrekkers en nooi hulle uit na die eredienste. Hulle laat my toe duidelik verstaan dat omdat hulle attestate nog in Barkly-Wes is, hulle nie geld vir dié gemeente kan gee nie...

Koffiehuiskonserte

Hierdie konserte was lank voor die dae van televisie. Dutoitspan het 'n oulike klomp jongmense gehad, destydse KJV. Hulle het gereeld konserte op 'n Vrydagaand aangebied. Gewild was hulle beslis en hulle het vol sale getrek.

Van die jongmense wat ek kan onthou, is Gawie, Hannetjie en Letsie Victor, Schalk Bothma, Joep Joubert, Martin du Plessis, die Kapp-tweelingdogters, Herklaas en Madeleine Greyling, Corrie Vermeuelen en vele ander.

* 'n Paar items waaraan ek kan dink, was die motor met die pap wiel. (vier persone wat op hulle knieë gestaan het, met 'n kombers oor, was die wiele.)

* Sangnommers en musiekitems

* Grappies

'n Voorstelling van 'n outydse
troue. Die "bruid" was mej.
Van der Linde
 
* Kort opvoerings, soos flaters by troues

* Die operasie in die teater wat agter 'n laken uitgevoer is, met 'n skerp lig van agter.
(Sae, bore, tange en toue is tydens die proses gebruik, met baie bygeluide.)

* Dan was daar die preek - 'n Swart kraai het vyf ronde wit eiers gelê, is as teksvers gebruik. Hierdie "dominee" het die "gemeente" wakker gepreek. My persoonlike gunsteling.   

Die preek was iets in hierdie trant:

Broers en Susters, vanoggend se teksvers is die volgende: "'n Swart kraai het vyf ronde wit eiers gelê"

Ek wil hê u moet nou baie mooi luister - hier word gepraat van 'n kraai, nie hierdie of daardie kraai nie, maar 'n kraai. Dit verwys dus hier nie na 'n spesifieke kraai nie. Nee, broer en suster,  maar na enige kraai ...

'n Ander belangrike feit is dat dit 'n swart kraai is. Ja, my liewe broer en suster, nie 'n wit kraai of 'n bont kraai nie. Nee! Hierdie is 'n swart kraai.

En dan liewe gemeentelid, kyk ons na die volgende belangrike feit waarvan daar melding gemaak word nl. die kraai! O my broer en suster, hierdie is nie 'n mossie of 'n duif of sommer enige voël nie. Nee, liewe broer en suster, ons het hier met 'n kraai te doen.. 'n swart kraai. Die wilde voël in die veld. Die voël wat lief is vir die blink dinge in die lewe... Die voël wat hierdie blink dinge watnie aan hom behoort nie, vat en dit vir homself toe-eien. 

Die hele vers word woord vir woord "bepreek", met 'n kragtige stem en daar word baie gereeld op die podium met die vuis geslaan, sodat die "gemeente" nie in 'n gemaklike slaap val nie.

Hierdie preek was so gewild, dat dit by meer as een konsert op die program verskyn het. En so tong in die kies - party predikers kon lesse by hierdie KJV-predikers kry!!  


Eerste diaken
Schalk Pienaar


Die finale jaar katkisante van 1973 moes 'n toets skryf om hulle kennis van die Bybel te toets. Een van die toetsvrae was: "Wie was die eerste diaken?"

En die enigste diaken aan wie een van die innoverende katkisante kon dink, was oom Schalk Pienaar (op daardie stadium die hoofdiaken van die gemeente en dienende van 1959, dan raak dit half te verstane...)



Hoe voer u die van, Broer?

Oudl. Lukas Joubert, op daardie stadium die hoofouderling van Dutoitspan-gemeente, word afgevaardig na ds. JH Siebert se ontvangs op Murraysburg in 1974.

En tipies van so 'n ontvangs moet daar darem ook ligter momente tussen die ernstige toesprake wees.

So vertel broer Joubert van die dominee wat 'n baie swak geheue gehad het en nooit mense se vanne kon onthou nie. Hy het egter 'n onfeilbare manier gehad om sy probleem te bowe te kom, deur vir die persoon te vra hoe sy of haar van gespel word.
En op 'n goeie dag loop die dominee 'n gemeentelid raak wie se van hy nie kon onthou nie.
Dominee: "En hoe spel u u van, Broer?"
Broer:  "N E L, Nel, Dominee."

(Oudl. Lukas Joubert is Carina Badenhorst se oupa)


Mev. Rhoode
Mev. Rhoode

Tannie Rhoode, soos sy alombekend was, was jare in Kimberley en 'n bekende in die gemeente. Tannie Rhoode kon altyd deur 'n ring getrek word en het 'n vasgestelde plek in die kerk gehad, naamlik links voor in die middelblok op die kort bankie.

Sy het altyd die gewoonte gehad om 'n halfuur of langer voor die Vrouebiduur sommer by die pastorie langs te gaan, om saam met mevrou na die konsistorie te stap vir die biduur. Mevrou Siebert was nie altyd reg nie en dan het tannie Rhoode in die sitkamer gesit en wag.

Een betrokke dag was sy weer nie betyds klaar nie en Hendrik Uys wat op daardie stadium ook by die pastorie was, het vir haar gesê dat sy nie hoef sleg te voel nie, want as tannie Rhoode haar hoed op haar kop gesit het, is haar hele huis aan die kant.

Kerkbasaar

Om uit weggooihouers oulike lekkergoedhouers te
maak, was 'n heerlike tydverdryf. Jane en Alda
was altyd aan die idees uitruil. En daar is gepoog
om elke jaar met nuwe pogings voor 'n dag te
kom!
Met 2016 se basaar op hande, loop 'n mens se gedagtes onwillekeurig na ander basare wat deel van my lewenspad was.

Jare terug was die kerkbasaar een van die hoogtepunte op 'n kerk se kalender. Sommer baie vroeg in die jaar is die eerste vergadering gehou en sameroepers is vir elke tafel aangewys... sommige tafels het selfs twee sameroepers gehad. Daarna is daar in alle erns met die reëlings van die basaar begin.

Diakens en ouderlinge het elke maand vir so ses maande, elke maand die basaarlys saamgevat as hulle deur hulle wyke gegaan het. Gebak en handwerk was gewilde items. Sameroepers gaan hierdie basaarlyste met 'n valkoog deur en hulle vergader met skenkers en helpers. Elkeen wil graag in sy hart hê dat sy of haar tafel die beste is of die meeste geld in - natuurlik die vleistafel uitgesluit, want hierdie tafel was al die jare nog die gewildste tafel. 'n Baie belangrike faktor was dat die kerk feitlik niks aangekoop het nie.

Dwarsdeur die jaar het Jane en die kinders 
teddiebere gebrei. Sy het dan ook graag gesiggies
op hulle borduur en aan elkeen sy eie karakter
gegee. Hierdie teddies het nooit lank op die
tafel gelê nie en was van die eerste items
wat uitverkoop is.
Hoe nader die basaar, hoe meer die basaarpraatjies. Idees en wenke van ander basare wat werk en wat nie werk nie, word uitgeruil.

Een van die heel balangrikste en ook die eerste besluit, was die datum. Daar word goed besin oor die datum... Skole en buurgemeentes is gekontak, sodat daar nie botsende belange op een dag in dieselfde omgewing is nie. Ander gemeentes kondig jou gemeente se basaardatum by hulle af, terwyl hulle in ruil dieselfde van jou gemeente verwag. Pamflette word by Dutoitspan Laerskool en by Diamantveld Hoërskool uitgedeel - almal moet van die basaar weet.

Die Vrydagaand word al die tafels en stoele deur die kerkraad en die KJV (Kerkjeugvereniging) reggeskuif. Dit sit om in 'n prebasaarkuier en almal gaan huis toe in 'n goeie bui.

En dan breek die basaardag aan... vroeg, sommer baie vroeg!

Die gebruik gedurende 1968 tot 1973, was dat die vure so teen vyfuur in oggend aangesteek is. Ds. Siebert het daardie Saterdag so vieruur opgestaan en in die studeerkamer die basaar, die werkers en die kopers aan die Here opgedra. Vyfuur het hy en oom Ross (koster) die vure gaan aansteek en van die kerkraadslede het kom handjie bysit, o.a. Lukas van der Westhuizen en Thys van Lingen.

By geleentheid was daar dan ook nog 'n troue die basaarmiddag. Ds. Siebert (wat altyd braai) het gou oorgehardloop pastorie toe en sy toga geneem en die troue waargeneem en daarna weer kom help braai.

Daarna is daar 'n vroeë basaarbiduur en dan begin die sameroepers hulle tafels uitpak... Daar word gekuier en oor en weer gekoop, voor die basaar amptelik om 9:00 open! Selfs die MSB (Mannesendingbond) het 'n tafel gehad.Daar word flink sake gedoen en die eerste tafel wat gewoonlik uitverkoop was, was die jafeltafel.

Tafels skenk items wat opgeveil kan word. Dit wakker die kooplus aan en daar word opnuut gesnuffel vir winskopies of sommer net iets oulik, wat 'n jaar of wat later weer op die wit olifanttafel gaan land!!

Hier teen vieruur begin die mense opruim en wegpak, want vanaand 19:00 is daar 'n Karfo-film wat vertoon gaan word. Almal help saal skoonmaak en stoele word reggeskuif vir die fliek. In hierdie opsig is jongmense en kinders van groot hulp en dit vat nie lank om alles reg te kry nie. Intussen word die geld getel en voor die fliek begin, word die bedrag wat gemaak is, afgekondig. Tafels weet hoeveel hulle gemaak het en met 'n tevrede gemoed, gaan elkeen sit om sy of haar moeë voete 'n verdiende ruskans te gee.

Die dag word afgesluit met 'n gebed.

En sowaar, die volgende dag na kerk, praat die mense net basaar... volgende jaar s'n!!!

Die Vrouesendingbond (VSB)

Die skeppings was iets in dier voege. Hierdie foto
het ek goedgunstiglik op die internet geleen, tot ek
my foto's kry!
 
Hierdie klompie vroue was betrokke. Hulle het geld ingesamel vir gordyne of die opgradering van die kombuis, dit is buiten al die sendingprojekte wat hulle aangepak het.

Mense wat op die sendingveld werksaam was, het altyd Dutoitspan-kerk en in die besonder die VSB besoek as hulle wel vir 'n vakansie in Suid-Afrika was.

Hierdie vroue was ook baie vindingryk as dit by fondsinsameling kom. Een van hulle baie geslaagde kompetisies was wie die mooiste hoed kan maak. Die "materiaal" vir hulle skeppings moes uit die kombuis kom. Dit was in ds. Steenkamp se tyd.

Ek weet dat ek iewers 'n foto'jie van my vrou se poging het. Ek sal moet diep soek daarna. Potdeksels het die basis gevorm en dan is daar geëksperimenteer met vrugterangskikkings of groenterangskikkings. Hierdie rangskikking moes gebalanseerd wees, want die skepper moes sy hoed dra. Dit was een van die kompetisiereëls. Ek dink pryse was definitief nie die aansporing vir deelname nie, maar die deelname self.

Hierdie pretkompetisies was die ligte oomblikke en het tot 'n samehorigheidsgevoel bygedra. Hierdie susters het mekaar ondersteun.

Kerkraadskonsert
Ds. Steenkamp het besluit dat die kerkraad iets soos 'n koffiehuiskonsert/kompetisie moet hou en
daarby is die hele gemeente ingetrek.

Een van die items was dat die diakens agter die gordyn staan en net hulle regtervoet onder die gordyn uitsteek. Dan moes die vroue hulle mans uitken aan hulle kerkraadskoene. As sy dink sy het haar man
gekry, moes sy voor hom gaan staan. Nou moet julle onthou, in die vroeg 60's was daar nie 'n groot verskeidenheid skoene nie en in daardie jare het die kerkraad baie nougeset volgens die vereistes aangetrek. Toe elkeen na baie pogings, gelaggery uiteindelik hulle plekke ingeneem het, het die koster die gordyne oopgetrek...

Die skok, verbasing, verleentheid en die verligting op party se gesigte, sou 'n heerlike item vir een van Leon Schuster se flieks kon wees.

Ek en my ou buurman, Fanie Vermaak, het langs mekaar gestaan en gelag oor die uitkoms van die item. Op daardie selfde moment loop Jane en Henriëtte verby ons, hoor ons lag en ken ons skoene onmiddellik, met die hulp van lag, uit!

Daar was heerlike poedings, koffie en tee, koeldranke en pannekoeke te koop tydens die pouse en die mense het traag huis toe gegaan, na so 'n genoeglike aand.

Verfraaing voor die eeufees 1972

Alles was in rep en roer om die omgewing rondom en binne die kerk in orde te kry, want daar was nogal baie om te doen voor die eeufees. Onder ander was daar die paadjies na die kerk wat ouderling Smal (nutsman) daar moes bou,  nogal 'n groot werk, asook die ringmuur tussen die pastorie en kerksaal. Hierdie siersteen-heuningkoekmuur was vir die kinders nogal baie aanloklik om op te klim. Rondom die kerk het hy ook lae blomboksmuurtjies gebou waarin daar plante geplant kon word. Kettings van een muur na die ander het as versiering gedien.
(Hierdie besondere muurtjies is intussen afgebreek en vervang met betonmuurtjies en nog later met die bekende "devils fork" om die veiligheidsaspek te verhoog.)

Kerkbanke

So  'n maand voor die eeufees het ons die ou kerkbanke uit die kerk gehaal om te vervang met ronde kerkbanke. Die persone wat 'n bank wil koop moes dit self vervoer. Baie van ons het die kerkbank gekoop waarop jou gesin gereeld gesit het. Gelukkig het oom Jannie Minnaar myne en syne vervoer. Ek is nog steeds in besit van my bank, die bank wat ons as gesin altyd op gesit het in die kerk.

Die gemeente moes toe oortrek saal toe vir die eredienste. Party kere as daar na nie 'n orrelis was nie, het ds Siebert self die huisorrel bespeel, dan gepreek en dan weer die gemeente in sang begelei. So het ons vir baie lank kerkdienste gehou.

Ouderling Gert Pretorius het onderneem om die kerkbanke self te maak. Hy was 'n meubelmaker en het sy eie besigheid gehad. Die banke is dan ook anders gerangskik om meer plek in die kerk te kry. Die kerk was altyd so vol dat net die diakens wat moes kollekteer in die kerk gesit het, die res van die kerkraad het in die konsistorie gesit en daar na die erediens geluister. Op die gallery waar die kerktoring is, was daar ook plek vir persone. Dit was my werk om daar te sit met die jongkinders.

Daar was elke Sondag stoele ingedra, omdat mense in groot getalle na die erediens gestroom het. En nog later was daar vir jare twee eredienste op 'n Sondagoggend, met die Sondagskool tussen die twee dienste.