Showing posts with label Pieter Swanepoel. Show all posts
Showing posts with label Pieter Swanepoel. Show all posts

Sunday, 2 August 2026

Mossiestilte: Woorde - Matteus 12:36-37

Dit sê Ek vir julle: Van elke ligsinnige woord wat die mense sê, sal hulle rekenskap moet gee op die oordeelsdag. Op grond van jou eie woorde sal jy vrygespreek of veroordeel word.”

Woorde is klanke met bepaalde betekenis, en as ons die betekenis van die klanke verstaan, kan ons met mekaar praat.

Woorde gee uitdrukking aan 'n mens se gedagtes en gesindhede, en uit iemand se woorde kan naastenby afgelei word wie of wat hy in werklikheid is.

Woorde kan tot groot SEËN aangewend word, maar hulle kan ook uiters NADELIG wees. Dit hang daarvan af hoe hulle gebruik word. Woorde wat stig en bemoedig kan wonders verrig; maar woorde wat onverskillig of ligsinnig uitgespreek word, kan tot onaangenaamheid en ergernis lei.

Ons verhouding met die Here bepaal tot 'n groot mate die gehalte van ons woorde en die inhoud van ons gesprekke; deur ons woorde kom ons geestelike toestand maklik tot openbaring. Nie uit wat iemand voorgee om te wees nie, maar uit sy woorde, wanneer hy in geselskap van sy vriende is, sal 'n mens weet of hy 'n Christen is of 'n namaaksel is.

Woorde wat eenmaal uitgespreek is, verdwyn nie sommer in die niet om vir altyd verby en vergete te wees nie. Hulle aanslag en invloed duur voort, ten goede of ten kwade, selfs lank nadat die persoon wat hulle gebesig het, reeds van die toneel verdwyn het. 

Woorde kan NOOIT herroep of uitgewis word nie. Bowendien word daar in die Hemel rekord gehou van elke woord wat op aarde uitgespreek word.

Woorde is belangrik, daarom moet ons VERSIGTIG wees hoe ons hulle gebruik. Die Here sien ons woorde nog voordat hulle ons lippe verlaat. Daardie vuil grap mag miskien die lagspiere prikkel van diegene wat na ons luister; die ydellike gebruik van die Here se Naam mag dalk ons vriende beïndruk of ons ego stut; maar wanneer die Boeke in die Oordeelsdag oopgemaak word, sal ons woorde daar wees om vir of teen ons te getuig - en niemand sal kan ontken dat dit sy eie woorde is nie.   

Dit is slegs met die hulp van die Here en in Sy krag dat die versoeking om ons tonge in boosheid los te laat, oorwin kan word. As ons aan Hom behoort, sal Hy ons nie net die oorwinning gee nie, maar ons ook in staat stel om woorde te spreek wat Hom behaag en vir ons medemens tot nut en seën kan wees.

Dan hoef ons nie beskaamd te staan in die dag wanneer daar van ons rekenskap geëis word nie.

Wednesday, 29 July 2026

Mossiestilte: Gal. 3:26-27

Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus;
want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee.

Jesus Christus se bloed aan die kruis het jou skoon gewas van jou sonde. Jou geloof in Christus het jou gered. Die doop bevestig jou verhouding met God; 'n daad vanuit jou geloof in gehoorsaamheid aan God.
Christus het jou verander die ou dinge het verbygegaan, kyk dit het alles nuut geword; jy is nou met Christus beklee; jy is nou sy kind!

Dankie, Jesus, vir u redding aan die kruis vir my. Ek is nou beklee met Christus; ek is 'n nuwe mens; skoongewas deur die bloed van die Lam. Die doop bevestig dat ek met Christus een geword het; dat Christus vir my aan die kruis gesterf het en my in 'n nuwe lewe laat opstaan het. Ek het nou die Vader se kindskap deelagtig geword, deur die genade van Christus Jesus. Amen.

Sunday, 26 July 2026

Mossiestilte: 2 Thes. 3:3

Maar die Here is getrou; Hy sal julle versterk en bewaar van die Bose.

Is jou lewe omvergewerp; het jy jou rigting verloor? 
Die Here wil jou met sy krag en wysheid versterk. 
God wil aan jou bewys dat Hy steeds getrou is en sal bly en alle werk van die geloof met krag volkome sal maak. 

2 Thes. 1:12. sodat die Naam van onse Here Jesus Christus in julle verheerlik kan word en julle in Hom, ooreenkomstig die genade van onse God en die Here Jesus Christus.

Here, ek het u krag nodig om U te verheerlik vandag. Ek weet ek is swak, maar my geloof is in u sterkte. U bly getrou al is ek ontrou en swak. U krag is ewig en u sterkte ken geen einde nie. Ek glo en vertrou U my Verlosser en Saligmaker. U sal my met wysheid versterk en bewaar van die Bose. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Sunday, 19 July 2026

Mossiestilte: Rom 10:6a - 13

Maar die geregtigheid wat uit die geloof is, sê dit: 
Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart. Dit is die woord van die geloof wat ons verkondig; As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding. Want die skrif sê: Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie.
Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.

Here, my God, en my Vader, ek kom na U in die Naam van Jesus Christus. Ek bely dat Jesus my geregtigheid is. Ek het die woord in my mond en in my hart. Dit is my geloof wat ek verkondig. Ek glo met my hart en ek bely met my mond tot my redding. Ek sal nie beskaam staan nie. Ek roep die Naam van Jesus Christus aan en ek sal gered word. Amen. 

Vergelyk: Joh. 16:8-11 en Op. 12:11

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Wednesday, 15 July 2026

Mossiestilte: Ps. 97:11

Die lig is vir die regverdige gesaai en vrolikheid vir die opregtes van hart.

Sy lig is nie net vir jou pad en die lamp vir jou voet nie. Sy lig, verlig die aarde en die donker om jou, maar ook die donker in jou hart wat jou wil oorweldig en die donker vlug weg.
Dan vul Hy jou met vrolikheid, want Hy het jou sy geregtigheid gegee. 
Hy het jou lig voorsien sodat jy opreg van hart is en vandag met vrolikheid sy lof kan besing.

Dankie, Hemelse Vader, vir U redding, u wat die kwaad haat. U bewaar my siel want ek is u gunsgenoot. U red my uit die hand van die goddelose. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel] 

Sunday, 12 July 2026

Mossiestilte: 1 Kon. 8:57-58

Mag die HERE onse God met ons wees soos Hy met ons vaders gewees het; mag Hy ons nie verlaat en ons nie verwerp nie ---

Ja, mag God met jou wees en jou altyd ondersteun en verryk, in jou daaglikse struwelinge en werk om voorspoedig te wees.
Jy het gesien hoe die vaders geseën was en hulle was suksesvol sonder vrees.
Jou hemelse Vader sal jou nooit verlaat nie, maar altyd lei en stuur met sy wysheid en genade, om jou doel te bereik en al die eer en heerlikheid aan God die Almagtige te gee.

Almagtige Vader, U het vir my 'n weg voorberei, net soos U vir my vader voorberei het, het U ook my weg voorberei. Ek weet dat U saam met my vandag sal loop en my versterk met u Heilige Gees. U is "God my Voorsiener," "God my Beskerming," "God my wysheid." U gee vir my genoeg talente en wysheid. Ek glo U barmhartigheid, genade en goedheid sal my help, om vandag suksesvol en korrek te werk, sonder vrese, tot eer en heerlikheid van u Heilige Naam. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Wednesday, 8 July 2026

Mossiestilte: Ps. 34:20

Menigvuldig is die teëspoede  van die regverdige, maar uit dié almal red die Here hom.

Die Here kom en bevestig sy goedheid aan jou vir vandag.
Hy sal altyd betyds wees vir jou.
Hy sal altyd aan jou sy wees.
Hy sien elke traan, en hoor elke gebed. 
Hy ken al jou gedagtes.

Liefdevolle Vader, ek weet dat U vandag my te hulp sal kom en my omstandighede verander om U grote Naam te verheerlik. AMEN

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Wednesday, 1 July 2026

Mossiestilte: Ps. 27:4

Een ding het ek van die Here begeer en dit sal ek soek: Dat ek al die dae van my lewe mag woon in die huis van die Here, om die lieflikhede van die Here te aanskou en te deursoek in sy tempel.

Hierdie is 'n geweldige stelling.
Daar is geen mens wat die volheid van die stelling kan verstaan of probeer uitwerk nie.
In die hemel:
Daar is 'n plek met boeke en geskrifte, wat die engele daagliks aanteken van elke deel van die skepping en daad van elke mens en wese.
Daar is engele getaak, om elke mens te bewaar en te versorg.
Daar is engele wat die volle skepping, sterre, sonne en stelsels onderhou en bewaar om God te verheerlik.
Daar is 'n verruklike paradys waarheen die kinders van God gaan.
Daar is engele wat in opdrag van die Vader oorlog maak.
Daar is wesens wat vir die mens te wonderlik van gedaante is om te verstaan.
Daar is gerubs en serafs, wat God dag en nag verheerlik en om God en sy troon vlieg en beweeg.
Daar is prag en praal wat so asemrowend is, wat geen mens homself kan indink kan bestaan nie.
Die grote van elke vlak in die hemel sal jou 'n ewigheid vat om te deurkruis.
Daar is gelowiges wat God se heerlikheid dag en nag besing saam met engele.
Daar is 'n plek waar al die gebede van gelowiges en trane getel word en gehoor word en aandag aan gegee word en opgeteken word.
Daar is 'n plek waar mense herstel, versterk, genesing en barmhartigheid ontvang.
God se skatkamer is so oneindig groot en elke skat het eienskappe van die goedheid, geweldige krag en genade en barmhartigheid van God. 
Daar is skatte wat die sondige mens sal laat sterf, as dit nie vir Jesus se genade was nie.
Daar is engele wat saam met Jesus, dag en nag intree by die Vader vir die mens.

Ek het nog net die menslike idee gegee, maar God en sy koninkryk is ver bo alles wat ons ooit kan dink of oor droom.
Daar is ook 'n plek waar die gevalle wagters vir hulle lot wag ... daar is ook 'n hel.

Jy sal nie in een leeftyd deur God se koninkryk kan kom nie. Daar is 'n deur waar die ergste marteldood van Jesus se Seun gesien kan word en die ervaring is sieldodend, en die begrip daarvan kan jou in 'n skoktoestand vir dae en weke lank verlam en net die genade van Jesus kan jou teen die tragiese gebeurtenis beskerm.

Ek glo Dawid het 'n idee gehad waarna hy gehunker het, en hy wou dit sien.

Hoe voel jy daaroor? 
Wil jy dit beleef? 
Bid God dat Hy jou oë sal oopmaak dat jy sy seëninge en guns vir jou kan beleef. 

Stap saam met Jesus deur die Heilige Gees en laat Hy jou die skatte wys wat God aan jou wil gee, ja reeds hier op aarde. Amen. 

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Sunday, 28 June 2026

Mossiestilte: Genesis en Johannes

Gen. 1:3
En God het gesê laat daar lig wees! En daar was lig.

Joh. 1:9-10
Die waaragtige lig wat elke mens verlig, was aan kom in die wêreld.
Hy was in die wêreld, en die wêreld het deur Hom ontstaan, en die wêreld het Hom nie geken nie.
Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie.

Joh. 8:12
En Jesus het weer met hulle gespreek en gesê: Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê.

Joh. 3:19-21
En dit is die oordeel: dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos.
Want elkeen wat kwaad doen, haat die lig en kom nie na die lig nie, dat sy werke nie bestraf mag word nie.
Maar hy wat die waarheid doen, kom na die lig, sodat sy werke openbaar kan word, dat hulle in God gedoen is.

Here, en Almagtige Vader, dankie vir u lig, wat die duisternis van die aarde wegneem. U lig is in my en lei my en leer my om die duisternis te oorwin. Die duisternis vlug vir u lig, wat my vrymaak van vrees en sonde. My sonde het aan die lig gekom en U het my bevry, sodat ek my werke in God kan doen. Ek prys U grote Naam. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Sunday, 21 June 2026

Mossiestilte: 2 Kon. 32:20&21

Maar toe Koning Jehiskia en die profeet Jesaja, die seun van Amos, hieroor gebid het en na die hemel geroep het, 
stuur die Here 'n engel, en dié het al die dapper helde en bevelhebbers en owerstes in die laer van die koning van die Assiriërs verdelg, sodat hy met 'n beskaamde aangesig na sy land teruggegaan het;

By tye vind jy jouself in posisies, waar mense jou dreig, of agteraf jou probeer indoen. 
God sal 'n engel stuur en vir jou 'n weg berei en alles vernietig wat jou wou vernietig.
Met skaamte sal jou vyand vlug wat jou wou vernietig.
God sal weer jou status herstel soos voorheen, en almal sal jou vereer omdat jy in God gehandel het.

Here, ek erken ek het groot foute in my lewe gemaak en verdien nie altyd die oorwinning wat U aan my gee nie. Ek sal U egter altyd bly dien, al is dit die laaste ding wat ek sal doen. U is my God en my Saligmaker. U is my Groot Geneesheer en Voorsiener, U is my Vertrooster en is barmhartig en genadig teenoor my, al verdien ek dit nie, U bly by my en sal my nooit verlaat nie, my Verlosser. Amen. 

Wednesday, 17 June 2026

Mossiestilte: Lukas 6:45 - Wat kookpunt uitbring

“Die goeie mens bring die goeie te voorskyn uit die oorvloed goeie dinge in sy hart, en die slegte mens bring die slegte te voorskyn uit die oorvloed slegte dinge. Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.”

• Ons almal ken die gesegde: “Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.”
• Wanneer iemand onder druk is en kookpunt bereik, is daar geen voorgee nie, maar die ware mens kom na vore.
• Geliefde, die vraag wat net jyself kan antwoord, is wie woon in jou as jy kookpunt bereik, die slegte of die goeie mens?
• Kies vandag dat God se Gees in jou woon en wanneer jy onder druk is, kom God se woord van geloof en hoop uit.

Gebed: Here, vergewe my vir die tye wat ek die slegte mens toegelaat het in my lewe. Here, ek kies vandag om te lewe deur U Gees wat in my woon sodat die goeie mens na vore sal kom. In Jesus naam. Amen 

Sunday, 14 June 2026

Mossiestilte: Kol. 1:26-27

naamlik die verborgenheid wat van die eeue en geslagte af verborge was, maar nou geopenbaar is aan sy heiliges,
aan wie God wou bekend maak wat die rykdom van sy heerlikheid van hierdie verborgenheid onder die heidene is, dit is Christus onder julle, die hoop van die heerlikheid.

God se wil is onweerstaanbaar. Hy kon nie wag om by jou in te trek nie. Nog 'n betekenis is; dit is so aantreklik gewees vir God, om by sy mense in te trek en onder hulle te kom woon.
Die NKJV noem dit "Christ in us the hope of glory."
Dit was weggesteek vir die heidene dat Christus se grootste onweerstaanbare begeerte was, om onder ons te wil kom woon.
Nou is dit aan almal geopenbaar wat God se wil was en is, om onder/in sy heiliges te kan woon en met sy nuwe hoop te kom vul.

Dankie Vader, vir hierdie openbaarmaking wat die rykdom van die heerlikheid in my is. Dit is die volmaaktheid in Christus Jesus waarmee U ons vul. Ek is gevul met die Heilige Gees. Ek is ten volle genees; My hart loop oor van blydskap en u liefde, vrede en oorwinning besit nou my hart. Amen!

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Wednesday, 3 June 2026

Mossiestilte: Heb. 1:9 en 10

U het u geregtigheid liefgehad en ongeregtigheid gehaat; daarom het, o God, u God, U gesalf met vreugde-olie bo u metgeselle; 
en: 
U, o Here het in die begin die aarde gegrondves en die hemele is werke van u hande.

In die begin het God die aarde met sy woord geskep, die Skepper, Elohim, en Elohim, onderhou ook die skepping en herstel dit.
Hy word deur God gesalf met vars vreugde-olie bo sy metgeselle, want God het die geregtigheid lief.
God het jou geskep na sy beeld en sy gelykenis en sy Gees in jou ingeblaas.
Sy Seun se troon is tot in ewigheid en so ook joune, omdat Christus jou gereinig en geheilig het deur sy bloed.

O Here, in die begin het U die aarde gegrondves en die hemele is die werke van u hande en u woord. Omdat ek vlees en bloed deelagtig geword het, het U dit ook deelagtig geword en deur die dood het U hom tot niet gemaak, wat mag oor die dood het (vers 14). U het my kom bevry wat vrees vir die dood gehad het (vers 15). U het self versoeking gelei, sodat U my kon help wat versoek word (vers18). Amen

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Sunday, 3 May 2026

Mossiestilte: Jes. 26:3 & Rom. 8:6

U sal 'n standvastige gesindheid in volle vrede bewaar, want hulle vertrou op U.
Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede,

Onse Vader wat in die hemel is, gee aan my 'n vaste gesindheid, sodat ek op U alleen Here, kan vertrou. Ek wil die vlees afsterf en laat u Heilige Gees vir my lewe en vrede gee. Die wêreld bied my niks. U ewige Koninkryk het ewige rykdomme. Aan u al die eer en rykdom tot in ewigheid in Jesus Christus. Amen. 

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel] 

Sunday, 19 April 2026

Mossiestilte: Psalm 24

Die Here is die magtige koning
1'n Psalm van Dawid.
Die aarde en alles wat daarop is,
die wêreld en dié wat daar woon,
alles behoort aan die Here,
2want Hy het die fondamente daarvan in die see gelê
en dit stewig gevestig in die waters.
3Wie mag die berg van die Here opgaan
en wie mag in sy heiligdom gaan staan?
4Dié een wie se hande rein en wie se hart suiwer is,
wat alle bedrog vermy en geen vals eed aflê nie.
5So iemand sal van die Here seën ontvang,
en God, sy redder, sal reg aan hom laat geskied.
6Die mense wat na sy wil vra en Hom dien,
is die geslag van Jakob.Sela
7Verbly julle, poorte,
wees bly, eeue-oue deure,
want die magtige Koning wil ingaan!
8Wie is hierdie magtige Koning?
Die Here, sterk en geweldig,
die Here, oorwinnaar in elke stryd.
9Verbly julle, poorte,
wees bly, eeue-oue deure,
want die magtige Koning wil ingaan!
10Wie is Hy, hierdie magtige Koning?
Die Here, die Almagtige,
Hy is die magtige Koning.
Sela

Hoe meer ons onsself ken, hoe meer sal ons die Here daar vind. Ons sal nader kom aan wie en wat God gemaak het, ons sal meer en meer ons skeppingsdoel en ons lewensroeping ontdek. Ek en jy word geroep om ons unieke self te wees tot eer van sy naam! 

Skryf in jou joernaal: 
* Ken jouself. 
* Aanvaar jouself. 
* Wees jouself. 
* Word jouself. 
* Dink oor wat dit spesifiek vir jou beteken.

Wednesday, 15 April 2026

Mossiestilte: Staan dan vas - Daniël 6:11

Hoewel hy bewus was van die koning se bevelskrif wat hom verbied het om tot sy God te bid, het Daniël drie maal op 'n dag op sy knieë geval in sy bo-kamer, met vensters wat oop was in die rigting van Jerusalem, en gebid en lofprysinge uitgespreek voor sy God, net soos hy vantevore gedoen het.
(Dan 6:11)

Hy was 'n man van beginsel. 

Nee, hy was nie hardkoppig nie, en hy wou hulle ook nie wys dat hy sal maak soos hy wil en die landswette ignoreer nie; nee, maar sy begeerte om God te behaag en Sy guns te soek, was so sterk dat niks hom sou verhinder om sy godsdiens onverskrokke te beoefen nie. Hy kon maklik gesê het: "O, wel, ek sal maar later bid," of "Ek sal wag tot dit donker is," of "Ek sal 'n plekkie soek waar niemand my kan sien of hoor nie. Die Here sal mos verstaan!" Maar nee, sy eerbied en ontsag vir die Here het hom nie toegelaat om soos 'n lafaard sy pos te verlaat nie. Hy het vasgestaan.

Op sy eerste aand in die weermagkamp, het 'n jong seun by sy bed gekniel voordat hy gaan slaap. 'n Lywige korporaal het dit gesien en uitgeroep: "Vuur, manne!" Dadelik het die stewels uit alle rigtings op hom gereën, en allerhande voorwerpe het hom getref en om hom geval. Maar sonder om op te kyk, het hy voortgegaan om te bid. Daarop het die korporaal weer 'n bevel uitgeroep: "Staak vuur!" Toe iemand hom vra hoekom, was sy antwoord: "Hy kan vuur staan."

In ons tyd is standvastigheid op godsdienstige gebied iets seldsaams. Daarom is dit verfrissend om hier en daar iemand raak te loop wat nie skaam of bang is om die Bybelse standaarde te handhaaf en by sy Godgegewe oortuigings te staan of te val nie.

Sommige van ons staan vas in ons eie vleeslike sekuriteit, of in ons tuisgemaakte opinies en sienswyses. Menigeen skroom selfs nie om die saligheid van sy siel te verruil vir selfsugtige en stoflike oorwegings nie.

Mag God gee dat daar meer manne en vroue met ruggraat na vore sal kom om hulle stand vasberade en vreesloos vir die Here en Sy Woord in te neem. Dis nie kinderspeletjies nie; dis 'n oorlogsverklaring. Die vyand is sterk en genadeloos, maar ons dank God wat ons die oorwinning gee deur Jesus Christus.

Staan dan vas, die oë gevestig op Hom, ons magtige Here en opperste God.

Sunday, 12 April 2026

Mossiestilte: Deut. 31:6

Wees sterk en vol moed; wees nie bevrees en word nie verskrik nie; want dit is die Here jou God wat saam met jou trek; Hy sal jou nie begewe of verlaat nie.

Vandag wag die Here reeds om jou, by jou wakker word, met sy vrede te vul.
Sy sterkte en moed vul jou vir dit wat voorlê vir die dag en ook vir die nuwe week wat voorlê.
Jy sal nie alleen wees nie, wat jy ookal moet deurgaan, die Here stap saam en deur alles, reg langs jou.

Dankie, Here, dat U saam met my trek. U wek my vroeg op om my daaglikse werk te doen, en in my daaglikse taak, sal ek U dien en volg, want U is by my en versterk my met sterkte en wysheid. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Sunday, 5 April 2026

Mossiestilte: Hand. 3:26

God het nadat Hy sy Kind Jesus opgewek het, Hom eers vir julle gestuur om julle te seën deur elkeen van sy booshede te bekeer.

Die Apostels het die woord van God vertel aan ons: Jesus het die sonde en die dood vir jou oorwin!
Verder het Jesus na 3 dae opgestaan uit die graf om die oorwinning van die dood en sonde te bevestig. (Matt. 2:24)
Die hekke van die hel kon Hom nie hou nie, al het Hy vir die hele wêreld se sondes gesterf.
Sy vlees het ook nie verderwing gesien nie. (Matt. 2:31)
En hulle is almal vervul met die Heilige Gees. (Matt. 2:3 & 4)
En toe hulle gebid het, het die plek geskud waar hulle saam was en hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het die woord met vrymoedigheid gespreek. 

Dankie, Here, U het my as heiden ingesluit in u redding (Matt. 2:41) en gedoop nadat ek u woord met blydskap ontvang het. En die saligheidheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ek gered. U het my van my sondes en die dood gered en met u Heilige Gees gevul. Ek het u volheid van ewige lewe en oorwinning ontvang. Prys u Heilige Naam. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Wednesday, 1 April 2026

Mossiestilte: I Johannes 4:16

*53 En ons het die liefde wat God tot ons het, leer ken en geglo. God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom.
OOK
*83 En ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin. God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom.

Geluk is om opregte geloof in GOD te hê.
Geluk is ook om te weet dat GOD ons onvoorwaardelik lief het.
Geluk is om opregte diens aan ons medemens te gee.
Geluk is om SY liefde te kan deel met ander wat GOD se liefde so nodig het.

Vader, dankie vir seën en liefde uit U wonderkrag. Seën asseblief hulle wat U aanroep in hierdie onbekende dag met U liefde, krag en genade. Dankie dat U ons nooit verlaat nie, maar tog met U liefdeshand só sorgvuldig vertroetel en beskerm. Amen

[* Bybelvertaling]

Wednesday, 25 March 2026

Mossiestilte: 1 Kor. 13:4-7

*4 Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie,
*5 handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie,
*6  is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid.
*7  Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.

Wanneer daar 'n glimlag op my lippe is, kan ek nie onnadenkende, kras of ongeduldige woorde spreek nie. 
Met 'n glimlag op my lippe dra ek warmte en vriendskap oor aan ander.
Vandag glimlag ek ...

Met 'n lied in my hart, erken ek die inherente goedheid wat daar in die ganse skepping is. 
Met 'n lied in my hart, bly ek die hele dag kalm en rustig.
Met 'n lied in my hart, kan ek my blydskap met ander deel. 
Vandag sing my hart ...

Met vriendelikheid teenoor almal, deel ek die seëninge uit wat ek vandag het om uit te deel. 
Alles wat ek vandag doen, bevorder goeie verhoudinge en harmonie. 
Vandag beoefen ek die vrug van die gees prakties.
Ek is begrypend en geduldig, gedagtig aan die behoeftes van ander en op die uitkyk vir geleenthede om liefde en vriendelikheid te betoon. 
Vandag is ek vriendelik en behulpsaam ...

Ek onderneem plegtig om vandag met 'n glimlag op my lippe en 'n lied in my hart, vriendelik te wees teenoor 'n ieder en 'n elke wat my pad mag kruis ...

VANDAG IS EK 'N ADVERTENSIE VIR 1 KOR. 13!

[Aangestuur]