Showing posts with label Basaarherinneringe. Show all posts
Showing posts with label Basaarherinneringe. Show all posts

Thursday, 16 April 2020

Slim plan hoe om jou basaarkoekies 'n langer lewe te gee ...

Gaan loer gerus na vorige jare se basaar foto's. Klik slegs op die betrokke jaar. Stuur gerus vir ons foto's as jy êrens in die laai nog het.

Basaar: foto's van 1969 - 1975

Basaar 2010

Basaar 2012

Basaar 2015

Basaar: blink idees!

Saturday, 22 September 2018

Gemeentestaaltjies: 'n Kenner van vleis se bydrae ...

Oom en Tannie Smal (soos hulle al die jare in die gemeente bekend was) was aktiewe gemeentelede wat orals betrokke was en gehelp het waar hulle kon. Oom Smal was die eienaar van 'n slaghuis in Greenstraat, Wes-Einde. Hierdie slaghuis was baie bekend vir hulle heerlike wors. Dis dus te verstane dat hierdie twee mense 'n groot rol in die 60's en 70's gespeel het by die basaar se vleistafel.

Dutoitspan-gemeente se basare en veral die vleistafel was bekend in Kimberley. Die rye voor die vleistafel was daardie jare regtig lank en die sosaties is sommer vroeg-vroeg al uitverkoop, maak nie saak hoeveel sosaties daar gemaak is nie. Geen wonder dat die braaivleisvure reeds vieruur in die oggend aangesteek is nie. Daardie jare het mense eerste die vleistafel besoek en daarna die res. Deesdae noop finansies mense om so rondom die vleistafel te koop.

(Ongelukkig het ek nie 'n foto van oom Smal nie, maar op 1972 se kerkraadsfoto, staan hy in die tweede ry, vierde van regs, ouderling GP Smal)

Gaan lees gerus die onthou-artikel hier wat so 'n rukkie verskyn het.

Wednesday, 25 April 2018

Gemeentestaaltjies: Die man wat nie verby die poedingtafel geloop het nie...

Dominee JH Siebert was baie lief vir basaarpoeding... en ook vir roomys.☺ Die eerste tafel wat hy ondersteun het nadat hy die basaar geopen het, was die poedingtafel. Basaarpoeding smaak mos baie anders as huispoeding... En basaarvla oor die poeding smaak ook anders... (of dalk lê die smaak in die samesyn?)

En so tussendeur as hy verby die poedingtafel loop, is dit net asof die poedings met hom praat en kort voor lank, het hy nog 'n bakkie poeding gekoop. Die baktannies in die gemeente is gewoonlik verdeel tussen die poedingtafel, die kleinkoekietafel en die grootkoektafel.

En dan was daar tannie Alers... Sy het oor die jare honderde bakke "trifles" (koekstruif val nie so lekker op die oor nie) vir die basaar gemaak. Haar trifles was legendaries en party Kimberliete het net vinnig 'n bak trifle by die basaar kom koop. Hierdie trifles het nooit op die poedingtafel gestaan nie, maar altyd op 'n tafel agter teen die muur... almal klaar verkoop. As jy nie voor die tyd jou naam op die lys gesit het nie, moes jy maar tot volgende jaar wag vir 'n saampraat-trifle-ervaring.

Tannie Alers het vreeslik moeite gedoen en die een trifle het soos die ander een gelyk - kunswerke. Bo-op die laaste laag room, het sy dit versier met 'n "stillewe"  van jellieblommetjies en -blaartjies wat sy baie noukeurig in vorms gestol het... rooi en groen (amper soos die blommetjies wat 'n mens op vrugtekoeke kry) en dan so 'n laaste vurkpatroon in die room - net asof sy 'n lyn onder hierdie kunswerk trek! Sy het altyd die trifles in oranje en blou plastiese bakke gemaak (al wat in die jare 60's en 70's beskikbaar was. Ek gebruik vandag nog die skottels om my groente in af te spoel!)

En nooit in al die jare was was haar trifles deel van die inhoud van die klein poedingbakkies nie! Dit is opgeraap, lank voordat dit daar kon kom. Ek het so bietjie navraag gedoen en ek plaas so twee of drie van die gewildste basaarpoedingresepte van daardie jare!!!    

Pienk basaarpoeding AARBEIGEUR
1 pakkie aarbei-jellie
1 koppie kookwater
1 koppie Ideal-melk
Metode:
Los die jellie op in die kookwater.
Klits die Ideal-melk styf en voeg dan die afgekoelde jelly-mengsel by
Klits goed deur en plaas in die yskas om te stol
Variasie: Gebruik 'n blikkie kondensmelk i.p.v. ideal-melk.

Skuimjellie vir die basaar
1 pakkie jelliepoeier
250 ml kookwater
250 ml ysblokkies
Metode:
1. Los die jelliepoeier in die kookwater op en laat vir 15 minute staan sodat dit 'n bietjie kan afkoel.
2. Plaas die ysblokkies een vir een in die jellie en klits vinnig tot al die blokkies gesmelt is.
3. Daar sal nou 'n skuimlaag op die jellie wees.
4. Plaas skuimjellie onmiddellik in die yskas om te stol. 

Kleurvolle jellie vir die basaar
1 pakkie groen jellie
1 pakkie geel/oranje jellie
1 pakkie rooi jellie, aangemaak volgens aanwysings op die pakkie en gestol in die yskas.
1 blikkie kondensmelk
125 ml suurlemoensap
Metode: 
Sny die jellie in blokkies en skep deurmekaar in ‘n mooi glasbak. Meng die kondensmelk en suurlemoensap tot dik… 
Gooi oor die jellie.   

☺Dis 'n storie vir 'n ander dag!

Sunday, 14 January 2018

Gemeentestaaltjie: Die basaar se vleistafel...

Frank Orton was 'n aktiewe gemeentelid en hy en sy vrou, Mary, het skouer aan skouer in die gemeente gewerk. Hy was o.a. hoofdiaken en ook 'n raakvatter as dit by vleiswerk kom. Voor elke basaar het hy en sy vrou saam met die ander getroue "vleiswerkers" aand na aand in die kombuis van die saal gestaan en vleis bewerk. Braaitjoppies, sosaties en wors is vroeë jare deur gemeentelede gemaak. Beeste, skape of varke is vir die kerk geskenk. Dit is reeds vroeg in die jaar op die basaarlys geplaas wat die diakens deur hulle wyke neem. So heel vroeg al kon die kerkraad sien watter "tafels" kreun onder die bydraes en watter vra om daadwerklike hulp!!

Teen die tyd dat dit basaardag is, het die vleiswerkers 'n hele klomp ure agter die blad, maar ook heerlik gekuier in dié kombuis - staaltjies van en grappies oor slag, hoe dinge in die "ou dae" gedoen is, is vertel en resepte en rate is opgediep, afgestof en uitgeruil.

Die "vleiswerkers" was ook sommer die braaiers en met die basaar is daardie vure sommer baie baie vroeg aangesteek, sodat daar reeds braaivleis beskikbaar was na die amptelike opening van die basaar.

Dutoitspan was bekend vir sy heerlike vleistafel (spesiale sosatiesous- en worsresepte was deel van die geheim) en Kimberliete het 'n vinnige draai by die basaar kom maak, net vir die vleis...

Daardie jare het elke gemeente sy basaardatum so gekies dat dit nie bots met ander kerke se basare nie - deesdae is dit nie meer moontlik nie... Kimberley het uitgebrei en vleis word nie meer deesdae op dieselfde manier voorberei nie!!

Wednesday, 8 June 2016

Basaargedagtes van toeka...

Hierdie muurbehangsels is van Jane se handewerk
in die jare 70! Hierdie droë blomme was daardie
tyd hoog in die mode! In die voorgrond is twee
oompie-kadoompie-vrugtekoeke. 

Met 2016 se basaar op hande, loop 'n mens se gedagtes onwillekeurig na ander basare wat deel van my lewenspad was.

Jare terug was die kerkbasaar een van die hoogtepunte op 'n kerk se kalender. Sommer baie vroeg in die jaar is die eerste vergadering gehou en sameroepers is vir elke tafel aangewys... sommige tafels het selfs twee sameroepers gehad. Daarna is daar in alle erns met die reëlings van die basaar begin.

Diakens en ouderlinge het elke maand vir so ses maande, elke maand die basaarlys saamgevat as hulle deur hulle wyke gegaan het. Gebak en handwerk was gewilde items. Sameroepers gaan hierdie basaarlyste met 'n valkoog deur en hulle vergader met skenkers en helpers. Elkeen wil graag in sy hart hê dat sy of haar tafel die beste is of die meeste geld in - natuurlik die vleistafel uitgesluit, want hierdie tafel was al die jare nog die gewildste tafel. 'n Baie belangrike faktor was dat die kerk feitlik niks aangekoop het nie.

Hoe nader die basaar, hoe meer die basaarpraatjies. Idees en wenke van ... (lees verder - rol tot onder)