Showing posts with label Koning. Show all posts
Showing posts with label Koning. Show all posts

Sunday, 13 September 2026

Waarom is jy vandag so vol stres en vrees?

"Ek was gister besig om te werk toe my 12-jarige seun by die studeerkamer inkom en sê dat hy my iets wil vertel wat my sal laat ontspan."
Ek het na hom gekyk en hy vra my toe: "Pappa, wanneer jy in 'n vliegtuig sit, ken jy gewoonlik die loods?"
My antwoord was, "Nee, ek ken hom nie."
Toe sê hy, "Maar Pappa is ontspanne en geniet gewoonlik die vlug, nê?"
Ek sê dat dit so is.
Toe vra hy weer: "En as Pappa op 'n treinrit gaan, ken pappa die treindrywer?"
"Nee," het ek geantwoord.
"En tog sit Pappa terug en geniet die verbygaande natuurskoon?"
"Ja," het ek geantwoord.
"En as Pappa op 'n bus ry, ken Pappa die busbestuurder?"
"Nee," het ek geantwoord.
"En tog sit Pappa terug en geniet die busrit?"
"Ja, dis reg," antwoord ek toe.
En toe sê hy: "As Pappa dan die rit op die vliegtuig, en op die trein, en op die bus geniet, en Pappa sit terug en ontspan heerlik, en hulle is gewone mense wat Pappa nie eers ken nie, en Pappa weet nie eers of Pappa veilig by Pappa se bestemming gaan uitkom nie ... En tog kan Pappa nie terugsit en ontspan as Pappa weet God is in beheer van Pappa se lewe en Pappa se eindbestemming nie?"
En toe sê hy: "Pappa, sit terug en ontspan, vergeet van jou vrese en al jou bekommernisse. God is die mees ervare Loods en Bestuurder van Pappa se lewe, en Hy ken Pappa persoonlik."
Is dit nie waar van elkeen van ons se lewe nie? Ons luister daagliks na die nuus en hoe slegter dit in die land en in die wêreld gaan, hoe meer raak ons stres - en bekommernisse neem eksponensieel toe. 
Waarom is ons vandag so vol stres en vrees?
Sit terug, ons Koning is in beheer, en al wat ons moet doen is om Hom te vertrou. Hy is ten volle in beheer!

[Aangestuur deur Rosetta] 

Monday, 7 October 2024

Wie is dood?

Ek lees dat Martin Luther ’n baie sensitiewe persoonlikheid gehad het. Gevolglik het hy van tyd tot tyd baie negatief en selfs depressief geraak. Volgens oorlewering kon dit vir ’n rukkie aanhou. 

So, op ’n keer toe dit weer gelyk het of hy nie uit hierdie gat kon kom nie, het sy vrou hoogs gefrustreerd een oggend na die ontbyttafel toe gekom met ’n swart band om haar arm, soos dit destyds die gewoonte was om te doen wanneer iemand gesterf het. 

“Wie is dood,” het Luther gevra? 

“Wel,” was haar antwoord, “soos jy die afgelope tyd optree, is ek seker jou God moet dood wees.” Dit het gewerk!

Weet jy, net so lewe ons baie keer met swart roubandjies asof God dood is! Ons praat baie keer asof ons God dood is! Ons gesigte wys baie keer dat God dood is! Ons moraal getuig baie keer daarvan dat ons God dood is!
 
Staan uit die gat van moedeloosheid op omdat God koning is! En omdat julle Koning lewe!