Showing posts with label 1 Korinthiërs 13. Show all posts
Showing posts with label 1 Korinthiërs 13. Show all posts

Wednesday, 25 March 2026

Mossiestilte: 1 Kor. 13:4-7

*4 Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie,
*5 handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie,
*6  is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid.
*7  Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.

Wanneer daar 'n glimlag op my lippe is, kan ek nie onnadenkende, kras of ongeduldige woorde spreek nie. 
Met 'n glimlag op my lippe dra ek warmte en vriendskap oor aan ander.
Vandag glimlag ek ...

Met 'n lied in my hart, erken ek die inherente goedheid wat daar in die ganse skepping is. 
Met 'n lied in my hart, bly ek die hele dag kalm en rustig.
Met 'n lied in my hart, kan ek my blydskap met ander deel. 
Vandag sing my hart ...

Met vriendelikheid teenoor almal, deel ek die seëninge uit wat ek vandag het om uit te deel. 
Alles wat ek vandag doen, bevorder goeie verhoudinge en harmonie. 
Vandag beoefen ek die vrug van die gees prakties.
Ek is begrypend en geduldig, gedagtig aan die behoeftes van ander en op die uitkyk vir geleenthede om liefde en vriendelikheid te betoon. 
Vandag is ek vriendelik en behulpsaam ...

Ek onderneem plegtig om vandag met 'n glimlag op my lippe en 'n lied in my hart, vriendelik te wees teenoor 'n ieder en 'n elke wat my pad mag kruis ...

VANDAG IS EK 'N ADVERTENSIE VIR 1 KOR. 13!

[Aangestuur]

Monday, 23 June 2025

1 Korinthiërs 13 in "Griekwa-Afrikaans"


Al sal ek die tale van mense en van ingele praat,
maar ek het die liefde geloop ruil vir die haat
dan het ek net 'n raaslike parrafienblik gekom raak.

Al was ek so slim lat ek nuwe goeterse kan maak,
maar ek het die Jirre se liefde buite in die son gelat le,
dan is ek niks, hoor wat hierdie vandag vir jou se.

Al gee ek my hele bokke weg, net om die eer te he,
dan sal al hierdie dinge my nou nog niks gepetaal het nie
as ek die liefde uit die jimmel geloop haal het nie.

Die regtige liefde die se bek is nooit dik nie;
jy sie hom nie skinder en jy hoor hom nie klik nie;
hy skrywe die kwaad ok nie in boekietjiese op nie.

Die liefde maak alles mooi toe met hom se sawwe karos;
tale die hou op, voorspellingse verdroe en woorde raak los;
maar liefde die sal nou tot by ewigheid toe net so bly staan.

Toe ek kind gewas het, toe't ek sos 'n kind gedink,
en vandag sien ek net troewelte in die gorrawaterse blink,
maar eendag sal ek die jirre se liefde waarlikheid kom weet.

En nou is dit die geloof en die hoop en die liefde wat nou bly staan,
maar net die liefde sal saam met my na die Jirre se hemel toe gaan

Hans du Plessis

[Bron: So Tussen Ons, 20 Februarie 1998 - ingestuur deur Liz de Koker]

Thursday, 20 March 2025

Dink hieroor: 1 Korinthiërs 13 se liefde

Daar is 'n soort gom
wat alles kan heg en heelmaak -
gesinne, verhoudings, harte,
minderwaardigheidskomplekse,
skandale ... enigiets.

Die liefde ...
"bedek alles,
glo alles
hoop alles
verdra alles."

1 Korintiërs 13:7

Wednesday, 14 August 2024

Mossiestilte: 1 Kor. 13:1

Al sou ek die tale van mense en engele spreek, en ek het nie die liefde nie, dan het ek 'n klinkende metaal of 'n luidendende simbaal geword.


Dit is nie altyd maklik om almal om jou lief te hê nie, veral as iemand jou herhaaldelik te nagekom het. Jy word egter net geraas as jy daardie persoon nie lief het nie. God het egter vir ons gewys hoe dit gedoen word.

Sy eie mense het hom verwerp, en hardloop agter ander gode aan en tart Hom uit, maar Hy het al sy liefde getoon teenoor die hele wêreld se sondaars. God het jou gered in sy liefde en aan jou die ewige lewe gegee deur tot die dood toe vir jou te betaal, onvoorwaardelik.

Dankie Here, vir u soendood wat my gered het. Ek sondig baie keer deur nie in liefde te vergewe nie. U leer ons om ons vyande ook lief te hê. Maar toe ek vyandig was teenoor U, het U my kom red uit my sondige toestand. U het my deel gemaak van u koninkryk. Ek deel nou in God die Vader se nalatenskap saam met U. Ek loof en prys U, vir u groot geregtigheid aan my. Nou sal ek ander onvoorwaardelik vergewe. Ek leef in oorwinning deur u genade elke dag. Amen.

Sunday, 12 May 2024

'n Ma se liefde is die grootste

'n Parodie op 1 Korinthiërs 13 vir die moderne ma.

Al sou ek die mooiste huis hê en die smaaklikste etes vir my huismense voorberei, maar ek doen dit nie met liefde nie, dan is ek so waardeloos soos 'n leë kastrol of 'n stukkende eierklitser. Al is ek die besigste ma in die beheerraad en ek koop vir my kinders die duurste sporttoerusting, maar ek het nie tyd om hulle langs die sportveld aan te spoor nie, dan sal dit my niks baat nie. Al koop ek 'n kamer vol opvoedkundige speelgoed en betaal ek sakke vol geld vir ekstra klasse, maar ekself sit nie by my kinders en speel of worstel met die skoolwerk nie, dan is ek nog nie 'n ware moeder nie. 'n Liefdevolle ma is geduldig - sy tel maar die klere en speelgoed op.

'n Liefdevolle ma is lankmoedig en vriendelik - sy laai haar motortjie vol kletsende, swetende skoolkinders. 

Sy vergelyk nie haar kinders met ander nie en sy is nie verwaand oor hulle prestasie nie. Sy bedek alle skrape met liefde en pleister en glo in haar kinders, hoop net die beste en verdra al die klaery en kritiek.

'n Opregte drukkie en 'n intieme gesprek bly lank in 'n kinderhart, maar gestrykte wasgoed word weer vuil en 'n netjiese huis word weer deurmekaar en vol stof ...

Eendag as die Volmaakte gekom het, sal jou huis en sy binnekant tot niet gaan, maar die lewende siele van jou kinders sal ondersoek word.    

[Bron: Onbekend]

Wednesday, 31 May 2023

Ruikers van die lewe


Elkeen het sy eie tuintjie in sy lewe
Want elkeen is die tuiner van sy eie lewe.
God het aan ons elkeen saad gegee.
Hoe ons dit plant en versorg sal beslis
of ons die groot voorreg sal hê
om eendag voor die
groot Tuinier te verskyn - 
dalk met 'n bossie dooie
of verlepte blommetjies
of dalk met 'n bossie fyn,
broos blommetjies,
lewendig en aangenaam gegeur.

Deur die jare heen sal jy jou blommetjies se saad oes.
Moenie huiwerig wees om dit wild te strooi nie.
Hoe welkom is 'n bossie vriendelikheid
of hulpvaardigheid getooi met 'n glimlag
nie dikwels aan 'n persoon nie?

Maai die onkruid van sonde uit en verbrand dit,
want dit sal altyd in jou blombedding verskyn.
En as dit eers diep gewortel is,
raak jy moeilik daarvan ontslae.

Voor jou deur sal daar ook baie bossies blomme neergesit word.
Party sal eg lyk,
maar later sal jy sien dit is slegs kunsblomme.
Ander sal verwelk en tot niet gaan,
maar ander sal vars en geurig bly
en elke dag 'n ryper skoonheid afgee.

Vir dié wat 'n bossie kwaadstook aan jou stuur,
stuur aan hulle 'n bossie mooi opregte komplimente met 'n uitnodiging na God se huis.

Vir die wat 'n bossie onvriendelikheid stuur,
stuur aan hulle 'n bossie vriendelikheid,
gegeur met een van Dawid se Psalms.

Vir dié wat aan jou 'n bossie haat stuur,
stuur aan hulle 'n bossie liefde,
getooi met die oggend se doudruppels.

Vir die wat aan jou 'n bossie norsheid stuur,
stuur aan hulle 'n bossie blymoedigheid saam met 'n brief van Paulus.

Aan die wat aan jou 'n bossie van GELOOF, HOOP en LIEFDE stuur, 
stuur jy dubbel soveel terug met seënwense.
Die grootste van die drie ruikers
sal dié een wees van die LIEFDE,
met Korinthiers 13 ingesluit

[Dankie, Anoniem, vir hierdie waarheid.]

Sunday, 21 June 2020

Vadersdag: 1 Korinthiërs 13 vir Pa's ...

Al sou ek die mooiste huis in die buurt hê en met die duurste BMW ry,
maar my vrou en kinders geniet nie die weelde van my teenwoordigheid nie, 
dan is ek so waardeloos soos 'n bankkrediet met 'n nulbalans.

Al het ek die gawe van woorde sodat ek 'n direksie met my argumente kan swaai, 
of skares na my preke kan laat stroom, 
en ek het nie die liefde om na my kinders te luister nie, 
doen ek meer kwaad as goed.

Al ken ek die geheimenisse van die Beurs en die Reserwebank, 
en al besit ek al die kennis van rugby- en krieketreëls, 
en al het ek al die geloof dat ons hierdie land met gebed kan verander, 
maar ek het nie die liefde om my kinders die gevare van baie geld te leer, 
langs die baan te staan as hulle speel 
of hulle te leer bid nie, 
dan het ek niks bereik nie.

Al gee ek 'n dubbele tiende vir die armes, 
en al beroem ek my dat ek in elke liefdadigheidsraad op my dorp dien 
en vakansies my gesondheid opoffer om in malariagebiede sendingwerk te doen, 
en ek is te moeg om saans vir my kinders boeke te lees 
of naweke in die veld te gaan stap, baat dit my alles absoluut niks.

'n Pa wat lief het, 
is geduldig met kinders wat sukkel met wiskunde,
'n Pa se liefde is vriendelik met 'n kind wat nie wil rugby speel nie,
hy is nie afgunstig op pa's met slimmer en mooier kinders nie,
hy is nie grootpraterig en verwaand oor sy kinders se prestasies nie.

'n Pa se liefde handel nie onwelvoeglik met die ma van sy kinders nie,
soek nie sy eie belang sodat sy huismense laaste kom nie,
is nie liggeraak en nukkerig as 'n kind bietjie ekstra aandag soek nie.
'n Pa wat sy kinders lief het, 
hou nie boek van hulle foute 
en peper hulle nie met verwyte nie.

'n Pa verbly hom nie oor 'n kind se foute met:
"Ek het jou gewaarsku, maar jy wou nie luister nie"
Hy is verheug as hy sy kinders die waarheid hoor praat - selfs tot hulle eie nadeel.

Daarom wil ek my kinders se skandes met liefde bedek,
in hulle glo,
die beste vir hulle hoop,
en hulle kleredrag, klaery en kritiek verdra.

'n Opregte drukkie en 'n intieme gesprek van 'n ouer bly lank in 'n kinderhart. 
Maar die preek of toespraak wat ek liewer in die tyd wou skryf sal oormôre weer vergeet wees.
Vandag se noterings op die aandelemark is volgende week niks werd nie.
In die lig van die Volmaakte wat kom, word al my kennis en besittings gerelativeer.

Toe ek 'n jong man was, 
was ek gesteld op my voorkoms, 
my motor en my geleerdheid,
maar noudat ek 'n pa geword het, 
wil ek graag my kinders met liefde, balans en geloof grootmaak.

Nou kyk ek nog vas teen rebelse tienergesigte,
maar eendag as hulle groot is,
sal hulle verstaan wat ons hulle wou leer,
en wat God ons almal leer.

En nou:
Geduld, aanmoediging en liefde bly,
Maar die waardevolste hiervan is onvoorwaardelike liefde!

[Bron]