Showing posts with label Stories. Show all posts
Showing posts with label Stories. Show all posts

Thursday, 22 August 2024

Verhaal: Goeie buurmanskap

‘n Suksesvolle graanboer in Amerika het jaar na jaar met die trofee by die landbouskou weggeloop. Kom ons noem hom Boer Jan. Sy medeboere het geglo dat dit sy bankbalans was wat hom so suksesvol gemaak het. Hulle was te bang om hom vir sy geheime plantresep uit te vra, want daar was maar, soos in enige bedryf, ‘n bietjie jaloesie onder die manne.

Maar die TV-joernalis het hom prontuit gevra waaraan hy sy sukses van die afgelope drie jaar toeskryf. Sonder om te aarsel het die boer geantwoord: “Natuurlik belê ek in die heel beste saad, want dis die begin van ‘n goeie oes. Maar dis nie waar my geheim lê nie.”

Die spanning het opgebou. Die meeste boere het ook goeie saad aangeplant, maar nie een het Boer Jan se kwaliteit graan geoes nie.

“My geheim lê in my bure,” het Boer Jan geantwoord, “Ek maak jaar vir jaar seker dat al my bure presies dieselfde saad gebruik as ek. Dit doen ek deur vir hulle die saad te gee.”

“Maar dit moet jou ‘n fortuin kos!” het die joernalis uitgeroep. En wou weet waarom hy die onekonomiese strategie volg.

“Dis doodeenvoudig” was Boer Jan se rustige antwoord. “Die wind waai die stuifmeel na ons almal toe, en as my bure met swak saad boer, sal dit my oes beslis ook raak. Vandat ek my saad met hulle almal begin deel het, het dit die gehalte van die graan in ons omgewing op standaard gekry en ons pluk almal saam die vrugte daarvan. Dit was ook sommer goed vir goeie buurmanskap. Daar is geen kompetisie tussen ons nie, ons vat hande en ons maak almal saam seker dat daar geen minderwaardige graan in en om ons plase verbou word nie.”

Dis 'n mondvol en 'n hartvol om te verteer.

[Dankie, Estelle, vir die aanstuur van hierdie verhaal. Besoek gerus Lynette se webwerf HIER, lees meer omtrent die kursusse, kry inspirasie of koop sommer 'n boek aanlyn.]  

Sunday, 13 January 2019

Die ontstaangeskiedenis van die gemeente ...

'n Pragtige stukkie geskiedenis wat handel oor die ontstaan van Dutoitspan, kan op die webwerf van die NG Kerk Noord-Kaapland gelees word.  Vergewis u gerus van die interessante feite en die mooi stories wat onlosmaaklik deel van die gemeente is.

Raak betrokke by die bymekaar maak van inligting en help skryf aan die nuwe geskiedenis van die kerk, want oor 'n 100 jaar, sal die Dutoitspanners graag wil weet hoe het die kerk in 2019 daar uitgesien. Stuur gerus interessanthede, foto's en stories oor dinge wat in en rondom die kerk gebeur het.

Saturday, 22 September 2018

Gemeentestaaltjies: 'n Kenner van vleis se bydrae ...

Oom en Tannie Smal (soos hulle al die jare in die gemeente bekend was) was aktiewe gemeentelede wat orals betrokke was en gehelp het waar hulle kon. Oom Smal was die eienaar van 'n slaghuis in Greenstraat, Wes-Einde. Hierdie slaghuis was baie bekend vir hulle heerlike wors. Dis dus te verstane dat hierdie twee mense 'n groot rol in die 60's en 70's gespeel het by die basaar se vleistafel.

Dutoitspan-gemeente se basare en veral die vleistafel was bekend in Kimberley. Die rye voor die vleistafel was daardie jare regtig lank en die sosaties is sommer vroeg-vroeg al uitverkoop, maak nie saak hoeveel sosaties daar gemaak is nie. Geen wonder dat die braaivleisvure reeds vieruur in die oggend aangesteek is nie. Daardie jare het mense eerste die vleistafel besoek en daarna die res. Deesdae noop finansies mense om so rondom die vleistafel te koop.

(Ongelukkig het ek nie 'n foto van oom Smal nie, maar op 1972 se kerkraadsfoto, staan hy in die tweede ry, vierde van regs, ouderling GP Smal)

Gaan lees gerus die onthou-artikel hier wat so 'n rukkie verskyn het.

Friday, 5 January 2018

Gemeentestaaltjies: 'n Ouderling met 'n talent...

Van ouderling Hawie gepraat, hy was 'n man van vele talente...

Die magnetiese veld van die aarde werk op baie mense en oom Hawie was een van hulle -  hy kon water wys! Kort nadat ds. JH Siebert in 1968 in die gemeente begin werk het, het die kerkraad besluit om te boor vir water.

Oom Hawie het die betrokke dag eers met 'n stok en daarna met 'n bottel water geloop... Voetjie vir voetjie het hy agter die kerksaal geloop... die ene konsentrasie in die maer lyf. Ondergrondse water werk op hom, dis 'n gawe wat hy het en wat hy tot voordeel van die kerk gaan aanwend... die plek waar hulle kan boor, word gemerk.

Mev. Siebert het ook geloop en alhoewel sy ligte tekens van ondergrondse water gekry het, was dit nie naastenby so sterk soos oom Hawie s'n nie.

Tot almal se groot vreugde word sterk water gekry en die boorgat voorsien vandag nog die kerkgronde van water!  

Thursday, 4 January 2018

Gemeentestaaltjies: 'n Ouderling met 'n passie

DIE BESTUUR VAN DIE MSB
Voor: Mnre. PS Venter (sekretaris), AJ van
der Merwe (voorsitter), JP Havenga (o/voorsitter)
Agter: Ds. JH Siebert, FR Maré (tesourier)
Mnr. JP Havenga of beter bekend as oom Hawie van Freemanplek, was definitief die aktiefste en getrouste ouderling in die bestaan van die NG Gemeente, Dutoitspan Kimberley. Hy was die ouetehuis, wat binne die gemeente se grense val, se ouderling... tot hulle groot voordeel.

Oom Hawie was iemand met 'n passie vir dit wat hy gedoen het en iemand wat nie bang was om die ekstra myl te loop nie.

Hy was reeds in ds. WJ Steenkamp se tyd in die vroeë sestigerjare, hulle ouderling.

Wat het oom Hawie so besonders gemaak?

Hy was elke dag dáár - hy het dienste vir die inwoners gehou, bidure, aandgodsdiens, saam met hulle tee gedrink, soms sommer vir aandete gebly, miskien die nuus saam met hulle gekyk, maar hy het altyd die belange van die inwoners op sy hart gedra. Elke Sondag in die konsistorie het hy verslag gedoen en was die predikant en die kerkraad op hoogte van elke sieke, elkeen wat 'n familielid aan die dood moes afstaan, vreugdes van kinders en kleinkinders, maar hulle het ook geweet wie 'n behoefte aan 'n predikantsbesoek gehad het.

Hy het altyd ouetehuis toe gestap en praatjies langs die pad met mense en gemeentelede aangeknoop. Nooit weer was daar 'n ouderling van sy kaliber nie. Met sy afsterwe het die ouetehuis hulle ambassadeur verloor.

Oom Hawie het net dogters en die gemeente het altyd gepraat van oom Hawie se mooi dogters ...

Wednesday, 18 October 2017

Gemeentestaaltjies: Staaltjies uit die sestigers...

Mev. Smittie van der Westhuizen
Mev Smittie van der Westhuizen was 'n vrou met verskuilde talente. Sy het die binnewerke van 'n motor se enjin geken en as sy in haar sweetpak ingeklim het, met geen haar van haar kapsel uit sy plek nie - was dit nie lank nie, of die motor is weer padvaardig. Sy was verantwoordelik dat mev. Frieda Siebert (ds. Siebert se vrou) se blou Morris op die pad gebly het.


As dit tyd was dat die Morris gediens word, sal jy vir Smittie onder die enjinkap van die motor by die pastorie kry, besig om in die laat sestiger jare te doen wat nie algemeen bekend was as werk vir vroue  nie. (As ek nou terugdink... dan was sy haar tyd dekades vooruit!)    

Monday, 16 October 2017

Gemeentestaaltjies: Die vandisie se bruinsous...

Mevv. Rhoodie, Pienaar en 
Siebert - almal ywerige 
vandisiewerkers!
Deel van die Vrouesendingbond se fondsinsamelingspoging in die laat jare 60 was om die verversings en kos by die vandisies te voorsien.

Party vroue het kos by die huise gemaak en ander het dáár gaan werk. Jane was o.a. verantwoordelik vir die bruinsous. Hierdie sous is het 'n storie gehad. Ons as 'n gesin het baie Saterdae in die Wimpy 'n vleispastei vir ontbyt gaan eet. Hulle het altyd die heerlikste bruinsous oor hulle pasteie gegooi. En net daar het ons een Saterdagoggend vir Jane uitgedaag om ook sulke sous te maak!

Natuurlik het sy hulle oortref... Haar geheim het gelê in die uie, gerasperde wortels en knoffel wat sy gebraai het en later is die sous deur 'n sif gegooi. Nooit was die sous vir die vandisiesgangers genoeg nie, 'n groot sopkastrol is later gebruik, maar die boodskap wat na so 'n lang dag, saam met die soushouers afgelewer is, is dat hulle dubbeld soveel sous kon gehad het, want die kopers het altyd teruggekom vir nog...

Die sous is so baie gemaak by die huis gemaak, dat niemand ooit die bestanddele neergeskryf het nie en vandag dink ek, kan ons nie meer al die bestanddele onthou nie...

Die pad wat so baie resepte volg!

Sunday, 15 October 2017

Gemeentestaaltjies: Prokureur Henry van der Waal

Prokureur Henry van der Waal was 'n bekende prokureur in Kimberley. Hy en sy vrou het in Cassandra in 'n baie groot huis met die naam "Ruimte" gebly. Hy was op die kerkraad van Dutoitspan en het die gemeente met raad en daad bygestaan. Nooit het hy 'n sent vir sy regsadvies gevra nie en het dit as deel van sy gemeenskapswerk beskou. Alhoewel die term "gemeenskapswerk" nie in daardie tyd so 'n algemene term soos vandag is nie, het hy en sy vrou so in die agtergrond 'n klomp werk gedoen. Sy vrou, Trudie, was 'n maatskaplike werkster, wat orals baie bemind en geliefd was. Sy is in 'n motorongeluk dood op die pad tussen Griekwastad en Kimberley. Hy is later weer getroud en die tweede mev. Van der Waal was weer aktief betrokke by die ouetehuis, "Ons Huis", wat ook binne die grense van die gemeente val.

Hy het 'n groot rol gespeel in die aankoop van die destydse ouetehuis, wat regoor die kerk was en het die oordragkoste gedra. Vandag staan daar vier meenthuise op die grond, nadat die ouetehuis na Ariadnelaan geskuif het.

Toe die gemeente 'n tweede pastorie aangkoop het, (in Blackingstraat) het hy ook hierdie kooptransaksie en die oordragkoste hanteer.

Vandag is "Ruimte" sy nalatenskap aan Kimberley. Hy het dit geskenk met die doel dat dit omskep word in 'n tehuis vir volwasse gestremde mense. Sally Aucamp (die huidige naam) is afhanklik van skenkings en borge van die publiek.

Prokureur Henry van der Waal het diep spore in Kimberley getrap en na al die jare het die naam van is sy praktyk dieselfde gebly, al het dit van eienaar verander...

Sunday, 24 September 2017

Gemeentegeskiedenis: Dutoitspan se uitreik oor gemeentegrense heen...

Dutoitspan was nog altyd 'n uitreik-gemeente. Gaan kyk 'n mens na sy ontstaanwortels, is dit duidelik dat die gemeente begin het a.g.v. die groot groep delwers wat hier gewerk het. (In De Kerkbode van 24 Februarie 1872 is daar geskryf dat 'n komitee gekies is om die belange van die kerk daar te behartig.)

'n Kerktent is opgerig en die geld wat tydens dankoffer ingesamel is, is onder andere gebruik om die brandstofonkostes van die besoekende leraars te dek en die res het vir die behoeftiges en die noodlydendes in die gemeente gegaan.

Hierdie delwers was soos hulle produk - ru en ongeslyp en daarom moes dié kerk nog altyd uitreik, voete was en dienaar wees.

"As ek aan die gemeentesusters dink wat aan die Vrouesendingbond (VSB) behoort het, dink ek aan 'n ywerige en hardwerkende groep vrouens. Hulle het een Saterdag per maand 'n koekverkoping (Die bekende Môremark) voor die ou OK en voor John Orr (beide in Jonesstraat) gehad. Een keer 'n maand het hulle die kos voorsien by 'n vandisie by Basie Heckroodt, asook by Noord-Kaap Vandisiekrale. Al die fondse wat hulle op hierdie manier ingesamel het, het hulle vir sendingwerk aangewend.
DIE BESTUUR VAN DIE MSB
Voor: Mnre. PS Venter (sekretaris), AJ van
der Merwe (voorsitter), JP Havenga (o/voorsitter)
Agter: Ds. JH Siebert, FR Maré (tesourier)

Die Mannesendingbond (MSB) het nie agterweë gebly nie. Hierdie groep manne was verantwoordelik vir die salarisse van Evangelis Sello en Evangelis Selepi van Galeshewe, asook ds. Sukdaven van die Dutch Reformed Church. Aanvanklik het hulle ds. Sukdaven finansieel bygestaan om hom as leraar te bekwaam. Hierdie predikers het dan ook op 'n gereelde basis aan die sendingaksies verslag gedoen oor hulle werksaamhede.

Ds. Sukdaven het elke Donderdag/Vrydag samoesas afgelewer by almal wat bestel het. Dit was deel van hulle fondsinsamelingsprojek. Die VSB van Dutoitspan was betrokke by o.a. die basare en van die Dutoitspanners het gereeld van die eredienste bygewoon, wat op daardie stadium in ds. Sukdaven se garage gehou is. (Dis waar hierdie gemeente sy beskeie begin gehad het.)

Ons het ook die voorreg gehad om die doopplegtigheid van een van ds. Sukdaven se kinders by te woon. Na die doopplegtigheid het ons aangesit aan 'n pragtig gedekte tafel aan huis. (Ek het al dikwels gewonder of dit die bekende Maniraj Sukdaven, die dosent by die universiteit, is.) Mevv. Frieda Siebert, Anna Maritz en Jane Pienaar was nou betrokke by vele geldinsamelingsprojekte en werksaamhede hier.

Ds. Dawie Pypers was 'n ou bekende en gereelde prediker in Dutoitspan-gemeente. Hy het ook die gemeente ingelig gehou van die werk onder die Indiërs. Nie almal was gediend met dié aksies nie en daar was gemeentelede wat sou uitstap. Ds. Dawie Pypers is deur die NGK aangewys om onder die Moslems te werk. Hy het werklik oor uitsonderlike pastorale vermoëns beskik. In die vroeë 1968 is die RCA-gemeente in Kimberley begin.

Mnr. en mev Ross (kosterspaar)  
Mev. Ethel Ross (o.a.koster van die gemeente) was 'n sendeling in murg en been. Sy was een van die Kinderkransleidster wat die langste betrokke was by die Kinderkrans. Sy was die leidster by die tak wat by die gemeentesaal gehou is. Daar was nog twee ander Kinderkranstakke in die gemeente (buitewyke) - een in Electrapark o.l.v. mev. Soes Uys en een in Cassandra o.l.v. mev. Di Westley. Afstand was 'n faktor en hierdie takke het af en toe met spesiale geleenthede saam vergader. Sentleggings was op daardie tydstip 'n gewilde manier om geld in te samel wat dan vir Sendingwerk aangewend is.

Mev. Ethel Ross het ook begin om garagedienste, een maal per week, vir al die inslaapwerkers aan te bied. (So in die laat 1960's) Hierdie bidure en Bybelstudies is afwisselend by die pastorie in Connollyplek en mev. Judith Swart se huis in Blackingstraat gehou. Hierdie projek het sy vir baie baie jare alleen bedryf en met haar dood, het hierdie projek ook 'n stille dood gesterf.

Vanaf 1969 tot 1973 het mevv. Frieda Siebert, Anna Maritz, Jane Pienaar, Ethel Ross, Smittie van der Westhuizen en M Rhoodie na die koorkompetisies in Galeshewe gaan luister - selfs op 'n Vrydagaand... Dit was soveel vrouens as wat mev. Siebert in haar grys Peugot Stasiewa kon laai... Dit het plaasgevind in die gemeentes waar die evangeliste gearbei het, wat deur die MSB betaal is.

Ek kan my herinner dat daar geleenthede was dat susters van die nou NGKSA saam met die vrouens van die VSB op 'n Woensdagoggend saam tee gedrink het. Hierdie interkerklike uitreik het op 'n nie-gereelde basis plaasgevind in ds. Johnny Siebert (September 1968 - Desember 1973) se tyd.

In hierdie tyd het ouderling AJ van der Merwe se dogter, Daleen, geroepe gevoel om sendingwerk te gaan doen en daar is tydens 'n baie spesiale erediens ook 'n Bybel aan haar oorhandig, voordat sy vertrek het. Sy is met 'n predikant getroud.

In dominee Hennie de Wet ( Oktober 1974 tot April 1984) se tyd, is die sendingpaar in die destydse Transkei, ds. en mev. Van Schalkwyk, finansieel ondersteun in soverre dit in die VSB se vermoë was.
DIE BESTUUR VAN DIE VROUESENDINGBOND
Voor: Mevv. C Gericke, M Rhoodie, J Pienaar (sekretaresse), F Siebert 
(president), M Joubert (visepresident), J Fraser (tesourier), A Harmse.
Agter: Mevv. E Ross, A van der Westhuizen, D Westley, A Ebing, 

M le Roux, M van Vuuren, A Laten en D Coetzer.

Uitreik na kinderhuise, die ouetehuis en die huis vir volwasse gestremdes, binne die grense van die gemeente, was normaal.

'n Gemeente wat nie uitreik nie, is soos die Dooie See...

[http://kerkbode.christians.co.za/2017/12/01/die-mooiste-taal-van-afrika/]