Showing posts with label Kerksaal. Show all posts
Showing posts with label Kerksaal. Show all posts

Saturday, 15 September 2018

Die kerksaal: inwyding

Dit was 'n heuglike dag toe die gemeente na baie maande van harde werk om fondse in te samel, die inwyding van die kerksaal kon ervaar. Die inwyding het op Donderdagaand, 28 Maart 1963, om 19:30 plaasgevind. Dit was 'n groot gebeurtenis, besoekende ringspredikante en gemeentelede het voor die ingang in Dyerplek vergader, waar ds. Willem Steenkamp almal baie hartlik welkom geheet het. Na die lofsang, het die argitek, mnr. W Bronkhorst die sleutel aan ds. Steenkamp oorhandig om die deur oop te sluit. Ds. S Visser het die wydingsgebed gedoen en terwyl die KJV-lede gesing het, het die predikante, eregaste en gemeentelede die kerksaal ingestap.

Die verrigtinge binne die saal is deur Modderrivier-Ritchie se predikant, ds. AJ Olivier, met skriflesing en gebed geopen. Daarna is 'n pragtige musiekprogram gelewer, soos net mev. AR van der Westhuizen dit kon doen. Dutoitspan se kerkkoor het gesing, mnr. Frank Scheepers en mevv. M Greeff en M van Niekerk het vir sangsolo's gesorg, terwyl mnr. FJ ter Haar 'n klavieruitvoering gegee het. Mevv. J de Kock en M Pretorius het 'n duet gelewer. 'n Musiekkonsert waarvan die kaartjies jou vandag 'n hele paar rand op een van die feeste sou kos.

Daarna het mnr. RJ Sahlertz, 'n inspekteur van skole, die wydingsrede gelewer.

Gelukwensing is deur ds. Fullard namens die Ring van Dutoitspan en konsulentgemeente gedoen en deur ds. ZB Badenhorst namens die dogtergemeentes. Die dogtergemeentes is hulle wat van Dutoitspan afgestig het nl. Diamantveld Gemeente, Modderrivier-Ritchie Gemeente, Plooysburg en Heuningneskloof. Laasgenoemde gemeente het ook die kateder wat in die kerk staan, geskenk.

Nadat mnr. HG Gouws (skoolhoof van Dutoitspan Laerskool en skriba) die nodige bedankings gedoen het, is die verrigtinge met die sing van Ps. 33:1 en 'n gebed afgesluit. Daarna is groot skare teenwoordig met heerlike verversings onthaal wat deur die susters van die gemeente gemaak is.

Die pragtige gordyne op die verhoog, asook die nuwe stoele en tafels het 'n deftigheid aan die nuwe saal verleen. (Dit is dieselfde gordyne wat vandag, 55 jaar later, nog steeds in die saal hang.)

So 'n brokkie interessantheid: Indien 'n groot aantal stoele bestel word, kon die kerk ruim afslag kry, dus is die kerkraad en gemeentelede genader om asseblief stoele te bestel vir hulle persoonlike gebruik. Saalstoele is nou nie eintlik iets wat algemeen in huise gebruik word nie, maar omdat dit nog 'n manier was waarop die kerk geld kon spaar, het almal stoele bestel. Ek het vandag nog my twee stoele wat ek in 1963 gekoop het.

Selfs die klavier wat reeds in die dertigerjare aangekoop is met fondse wat by wyse van konserte deur die CJV ingesamel is en heeltemal herstel is, het baie goed gelyk en geklink. Die staaltafel in die kombuis, yskas, stoof en ingeboude kaste het die kerkkombuis 'n gerieflike werksplek gemaak vir funksies. 

Na die nuwe kerksaal in gebruik geneem is, het ds. Steenkamp en die kerkraad hulle aandag toegespits op die kerkterrein tussen die kerkgebou en die saal.

Mnr. GJ Smal het die terrein langs die kerksaal omhein en baie mooi muurtjies aan die voorkant van die kerk, saal en pastorie gebou. Die heuningkoekmuur voor die kerkkantoor is ook sy handewerk - 55 jaar al staan daardie mure al. Sementpaadjies is tussen die kerk en die saal uitgelê met swart leiklip. Dit het die kerk destyds R1 820,00 gekos. (Oom Smal soos hy bekend was, was die oupa van die Springbokrugbyspeler, Gert Smal - groot mense, met groot hande... geen wonder hy kon 'n rugbybal met soveel gemak hanteer nie - gaan google gerus Gert Smal en kyk na sy veelbewoë rugbyloopbaan.)

Daarna is die terrein agter die saal gelyk gemaak, bourommel is verwyder en die Eiendomskommissie het self ingespring om gras tussen die sementpaadjies te plant en ook langs en agter die kerksaal. Ds. Steenkamp was nie skaam om moue op te rol en saam te werk nie. 

Die bou-aannemer, mnr. SJ Burger het ingewillig om vir die bedrag van R1 330,00 die kerk se pleisterwerk en verfwerk op te knap, sodat die kerkgebou nie te veel by die nuwe saal afsteek nie.

Sunday, 9 September 2018

Die kerksaal (1) ...

Die gemeente Dutoitspan se sinkkerkie is op
1 Desember 1881 ingewy. Dit het 81 jaar diens in die
gemeente gedoen: van 1 Desember 1881 tot Julie 1940
as kerk en van 1940 as kerksaal, waarna dit in 1962 
gesloop is. (Foto)
'n Interessante brokkie inligting wat beslis verlore sal gaan, is die bou van die kerksaal. Soos reeds gemeld is die kerksaal in ds. Willem Steenkamp se tyd gebou. Die "nuwe" kerksaal is gebou op die plek waar die sink kerksaal gestaan het. Die toename in getalle van die gemeente en die gebrek aan ruimte, het die behoefte aan 'n nuwe kerksaal onderstreep. Die ou geskiedkundige kerksaaltjie was voorheen die sinkkerk. Die gebou het dus op daardie stadium reeds 58 jaar diens gedoen (vanaf 1881) en het nie meer aan al die behoeftes voldoen nie.  Die boukontrakteur was mnr. SJ Burger wat die saal gebou het. Hy het die sink kerksaal afgebreek en op sy plaas gaan herbou.

Om fondse in te samel, was daar wykbasare in die ou stadsaal van Beaconsfield gehou. (Dié ongelooflike mooi en geskiedkundige gebou is ook afgebreek ter wille van vooruitgang en vandag pryk die Caltex-garge in die plek daarvan. Ek plaas 'n foto van die ou stadsaal hier, wat ek op die internet gaan "leen" het.)

25 Julie 1960 is daar besluit om die wyke in die gemeente in groepe van vyf in te deel om basare en funksies te reël vir die Saalboufonds, wat tot op daardie stadium nie na wense gegroei het nie. Hierdie pogings deur die hardwerkende wykslidmate het die fonds so pragtig laat groei, dat die bedrag van R5 578,00 reeds in Februarie 1962 geïn is.

Toe is daar besluit om aan vrywillige susters elkeen R2,00 beskikbaar te stel met die uitsluitlike doel om vir die Saalboufonds te woeker. Ek kan goed onthou hoe ywerig Jane en mev. Anna Maritz van Thaliastraat gewerk het. Geen moeite is deur die dames ontsien nie en aan die einde van 1962 (10 maande later) het die bedrag reeds die R10 000-kerf bereik. Ingesluit by hierdie bedrag was ook R200,00 van mnr. H Oppenheimer, R250,00 vir die ou sink kerksaal wat gesloop is en R20,00 wat vir die ou munte gekry is, wat in die ou saal se hoeksteen gevind is. 

Tussen die kerk en die ou kerksaal was daar 'n sementdam waaruit die tuine van die kerk natgelei is. Dit moes, saam met die hoë bome en bestaande motorhuise, gesloop word om die terrein gereed te kry vir die bouery wat in Augustus in aanvang sou neem.