Saturday 28 January 2023

Liefde ...


Liefde is nie wat jy kan kry nie, maar wat jy kan gee.
Liefde is nie wat ander vir jou kan doen nie, maar wat jy vir ander kan doen.
Liefde is 'n glimlag, nie 'n frons nie.
Liefde is 'n drukkie, nie 'n klap in die gesig nie.
Liefde is omgee, nie misbruik nie.
Liefde is om die smabreel vir iemand in die storm te wees en die reënboog na die storm.
Liefde is om iemand se trane af te vee, nie dit te veroorsaak nie.
Liefde is om boek te hou van goeie tye nie die slegte tye nie.
Liefde vergewe nog voor iemand jou seergemaak het.
Liefde maak van jou 'n ligtoring wat ander die rigting in die donker wys.
Liefde maak van jou 'n boom  wat koelte gee vir die wat rus nodig het.
Liefde word nie gespreek nie, maar gewys.
Liefde kan genees, vertroos, versterk al het jy niks om iemand te bied nie,
maar jy het liefde wat geld nie kan koop nie.

Tuesday 24 January 2023

Drie woorde en hulle spesiale effek

+ LAAT MY HELP: Goeie mense en vriende doen dit wanneer hulle ’n naaste sien wat seer het, hulle spring in en help.

+ EK VERSTAAN JOU: ’n kragtige hulpmiddel om enige verhouding te genees en nader aan mekaar te kom.

+ EK RESPEKTEER JOU: ’n ander manier om liefde te betoon in alle interpersoonlike verhoudings.

+ EK MIS JOU:  hierdie kragtige bevestiging vertel aan die ander persoon dat hulle belangrik is, dat jy hul nodig het en dat dit lekker is om saam met hulle te wees.

+ JY IS REG: die beste om enige argument te ontlont.

+ VERGEWE MY ASB.: heel en herstel gebroke verhoudings.

+ EK DANK JOU: dankbaarheid is ’n uitsonderlike vorm van beleefdheid.

+ REKEN OP MY: lojaliteit is ’n belangrike bestanddeel in enige verhouding.

+ EK IS DAAR: ’n groot geskenk om te gee vir ’n verhouding waarvan liefde en vriendskap hernuwe moet word.

+ DOEN DIT NET: die beste manier om die ander persoon te ondersteun en motiveer om hulle drome en ideale te bereik.

EN DIE BONUS

+ LIEF VIR JOU: die belangrikste drie woordjies wat al bogenoemde omsluit.

Sunday 22 January 2023

Ons verantwoordelikheid ...

Dit is sonde om jou buurman te verag. Geseënd is hulle wat die behoeftiges help – Spreuke 14:21

Om die armes en diegene wat minder bevoorreg is as ons te help, is nie net ’n mooi ding om te doen nie, maar is, volgens die Bybel, ons verantwoordelikheid. God gee opreg om vir die armes en die behoeftiges, en dit wil voorkom asof Hy ’n spesiale plek in sy hart het vir die weduwees en weeskinders. Hulle is immers alleen en nie in staat om hulself te help nie. God gee ons ’n hart van medelye, maar ons moet meer as ’n barmhartige hart hê – ons moet ons oë oopmaak om te sien wie behoeftig is en ons hande oopmaak om die armes te help.

Die Bybel sê wanneer ons aan die armes gee, leen ons iets vir die Here. God sal enigiets wat ons gee om mense te help, oor en oor vir ons teruggee. Hy sal nie net in ons behoeftes voorsien nie, maar ons vreugde sal toeneem omdat ons met liefde gegee het. Ek spoor jou aan om wat jy het te deel met diegene wat minder bevoorreg is as jy.

Kraggedagte vir vandag: Ek is altyd genadig en vrygewig teenoor die armes.

[Hierdie is ’n uittreksel uit Kragtige denke vir elke dag deur Joyce Meyer.]

Tuesday 17 January 2023

Besielende breiers benodig wol


Dis miskien nou warm ... baie warm, maar 'n ysige winter lê vir ons en loer ... daarom wil ons nie onkant gevang word nie.  

Mussies, kouse en serpe is hoog op die breiers se prioriteitslys om die winter vir die straatkinders meer draaglik te maak. Ons kort egter dringend wol om hierdie uitreik suksesvol te maak.

Kontak gerus vir Rina Groenewald vir enige navrae of skenkings by 082 447 3332

Saturday 14 January 2023

Fondsinsameling: 25 Februarie 2023


Steek jou hand in jou sak vir 'n goeie doel. Kaartjies is reeds aanlyn beskikbaar en fisiese kaartjies sal van Maandag, 16 Januarie, beskikbaar wees by Barristers en MALU Pork.

Kimberley, kom ondersteun hierdie verdienstelike saak. Die fondsinsameling is vir Ons Huis Versorgingsoord. Kom ontspan en geniet 75 minute van heerlike komedie.

Enige navrae: Kontak 083 276 4878

Sien julle daar!!

Tuesday 10 January 2023

Skoolreis vs lewensreis


Daar word dikwels deur leiers en motiveerders gesê dat die skoollewe met ‘n interessante reis vergelyk kan word. Skoolreis vs lewensreis.

Tydens jou lewensreis gebeur daar baie onvoorsiene dinge, daar is hoogtepunte en laagtepunte ... maar daar is ook geleenthede. In 'n skool is dit presies dieselfde. Laagtepunte gaan daar beslis wees, maar beskou hierdie laagtepunte as geleenthede en omskep dit in hoogtepunte. Dit hang van jou as leerder af. Indien jy hulp nodig het om struikelblokke die hoof te bied, praat met iemand. Dit is altyd goed om iemand anders se perspektief op jou probleem te hoor.  

Dit is ons as gemeente se wens dat 2023 vir julle goeie dinge sal inhou. Wees individue wat nie afhanklik is van 'n groep om besluite te neem nie. Droom groot en wees 'n leerder wat nie opgee nie.

Aan al die leerders, maar veral die nuwe graad 1's, die nuwe graad 8's en 2023 se matrikulante, baie sterkte met al die uitdagings wat op julle lewenspad en skoolpad lê. Pak die uitdagings aan en moenie ophou droom nie. 

2023 bied vir jou nuwe geleenthede. Gryp hierdie geleenthede met albei hande aan, werk met passie en geniet elke oomblik.

Maar moet nooit in al jou bedrywighede jou Skepper vergeet wat hierdie alles moontlik maak nie.

Wednesday 4 January 2023

'n Rolmodel van hoop

Goedvoelstories moet 'n mens deesdae gaan uitvis tussen al die misdade, moord, motorongelukke en mediese probleme, maar hulle is daar ... hartklopstories ... hoendervleisstories ... genadestories.

Een so 'n wonderlike storie is die hartsgehoorsaamheid van Allan Visagie, 46 jaar oud en 'n inwoner van Sally Aucamp in Cassandra in Kimberley. Hierdie boorling van Upington het geluister toe hy 'n opdrag van Bo gekry.

Allan ry altyd oor die brug om sy benodigdhede by die winkelsentrum te kry en hierdie week was dit nie anders nie. Die enigste verskil is dat toe hy Maandag na PEP toe wou gaan, die winkel toe was. 'n Gevoel van dringendheid het hom egter vandag na PEP gedryf en daar loop hy "sy opdrag" raak. Die Here het die afspraak gereël en Allan moes net opdaag. 'n Kind wat 'n weldoener in sy lewe nodig gehad het en nie geweet het waar sy hulp vandaan sou kom nie.      

Allan het sy hand diep in sy sak gesteek en vir die outjie skoolklere en ander skoolbenodigdhede gekoop. Hy vat hom toe huis toe en daar hoor hy dat albei ouers van hierdie kind oorlede is en dat sy ouma na hom kyk.

'n Opdrag van Bo wat gehoorsaam uitgevoer is. Allan, jy is 'n ster en om Mathys Roets, die sanger, se woorde in die nuwe Bruis-tydskrif aan te haal: "Ons ouens in rolstoele is rolmodelle vir mekaar."  Maar ons wil so 'n stukkie bylas - jy is 'n rolmodel vir elke leser van hierdie blog.