Sunday 22 January 2023

Ons verantwoordelikheid ...

Dit is sonde om jou buurman te verag. Geseënd is hulle wat die behoeftiges help – Spreuke 14:21

Om die armes en diegene wat minder bevoorreg is as ons te help, is nie net ’n mooi ding om te doen nie, maar is, volgens die Bybel, ons verantwoordelikheid. God gee opreg om vir die armes en die behoeftiges, en dit wil voorkom asof Hy ’n spesiale plek in sy hart het vir die weduwees en weeskinders. Hulle is immers alleen en nie in staat om hulself te help nie. God gee ons ’n hart van medelye, maar ons moet meer as ’n barmhartige hart hê – ons moet ons oë oopmaak om te sien wie behoeftig is en ons hande oopmaak om die armes te help.

Die Bybel sê wanneer ons aan die armes gee, leen ons iets vir die Here. God sal enigiets wat ons gee om mense te help, oor en oor vir ons teruggee. Hy sal nie net in ons behoeftes voorsien nie, maar ons vreugde sal toeneem omdat ons met liefde gegee het. Ek spoor jou aan om wat jy het te deel met diegene wat minder bevoorreg is as jy.

Kraggedagte vir vandag: Ek is altyd genadig en vrygewig teenoor die armes.

[Hierdie is ’n uittreksel uit Kragtige denke vir elke dag deur Joyce Meyer.]