Thursday, 7 May 2026
Ek glo - Efesiërs 1:19
Wednesday, 29 October 2025
Terugblik: So sê die Woord: Handelinge 11:1-10
Saturday, 19 March 2022
150 genadejare: Dutoitspan vanaf 1974 tot 2016 in 'n neutedop (Deel 2)
Na die vertrek van ds. De Wet in 1985 het ds. Van Wyk van Blackingstraat 55 na die pastorie in Connollyplek 13 getrek. In ds. Nico se eie woorde: "Dutoitspan was werklik 'n wonderlike gemeente om ons bediening te kon begin."
Intussen het 'n ander weermagkapelaan, prop. Coreejes, in die gemeente uitgehelp. Na ds. Van Wyk die beroep as medeleraar na die gemeente Hoogland in Port Elizabeth gekry en aanvaar het, is prop. LM Coreejes na Dutoitspan-gemeente beroep. Hy is in Desember 1987 met handoplegging bevestig.
Die veranderings aan die kerkgebou en-saal (soos dit vandag daar uitsien), was deel van ds. Coreejes se handewerk. Die kerkraad het besluit om die huis oorkant die kerk te koop. Dit was waar "Ons Huis", die tehuis vir bejaardes, begin het ... oorkant die kerk. 'n Baie goeie ligging vir die inwoners wat binne stapafstand van die kerk, winkel, poskantoor en biblioteek gebly het. Hulle skuif na Ariadnesingel was nodig, omdat die behoefte na huisvesting vir ouer mense al groter geword het. Op daardie stadium was die groot huis 'n losieshuis - verwaarloos en 'n seeroog reg oorkant die kerk. Hierdie huis met sy baie vertrekke, het dit maklik gemaak om dit as Sondagskoollokale in te rig. Daar is besluit om 'n galery aan die sykant van die kerk aan te bring in 'n poging om meer sitplek in die kerk te kry. Die kerk was stampvol tydens die eredienste en die enigste uitbreidingsmoontlikheid was opwaarts.
Die nuwe galery is gebou en met ysterbalke versterk wat die kerk aangekoop het van 'n ou sportpawiljoen wat afgebreek is. Die nuwe galery is spoedig gevolg deur 'n tweede sygalery.
Bywoningsgetalle het later getaan. Vir
'n standhoudende finansiële inspuiting, het ds. Coreejes en die kerkraad
besluit om die kategeselokale te sloop en liewer vier meenthuise op te rig en
die kategeselokale terug te skuif saal toe. Nuwe lokale is aan die agterkant
van die saal ingerig.
In die verlede is alle geestelike sake in die pastorie se studeerkamer gedoen. Daar is besluit om kantore vir die predikante en die skriba/kassier by die saal in te rig. Die saal se aantrekkamers en 'n deel van die stoep is in kantore omskep. 'n Sinvolle en welkome skuif.
Daardie jare is die kerkraadsafsluiting by ouderling Jan Jacobs se plaas, op die Boshof-pad, gehou - gesellige afsluitings.
Proponent André Lötter is op Sondag 17 Desember 1988 met handoplegging bevestig.
Dit was sy missie om die woord van God
duidelik aan die gemeente te bring. 'n Beroep na Reddersburg wat hy aanvaar
het, het 'n einde aan sy werksaamhede gebring. Hy was 'n Dutoitspanner tot
September 1992.
Ds. Coreejes het weer alleen gewerk totdat prop. SJ van der Walt kom uithelp het. Dit was ongeveer November 1992. In November 1995 het ds. Coreejes die beroep na Vryburg aanvaar en die kerkraad beroep toe vir prop. Van der Walt wat vanaf 21 Januarie 1996 as volwaardige predikant met sy werksaamhede begin het.
Ds. Van der Walt het van tuinmaak gehou en hy het graag in sy groentetuin aan die agterkant van die pastorie gewerk. Gemeentelede het in die vars organiese groente gedeel wat mildelik hulle weg na kombuise gekry het.
Hy was ook 'n kranige fietsryer en het gereeld geoefen. Een dag tydens 'n oefensessie op die Barkly-Wes-pad, is hy deur twee mans aangeval en beroof op sy pad terug Kimberley toe. Uiteraard was hy baie benoud en al wat hy kon doen was bid. Die Here het vir hom Ps. 31 vers 15 gegee, wat hy dan ook daardie Sondag as teksvers in sy preek gebruik het. Toe hy 'n beroep na Port Shepstone toe gekry het, was sy teksvers vir sy preekbeurt ook Ps. 31:15, waar hy getuig het van die wonderwerk. Hy is in April 1999 in Port Shepstone bevestig.
[Word vervolg]
Lees deel 1 HIER
Saturday, 12 March 2022
150 genadejare: Dutoitspan vanaf 1974 tot 2016 in 'n neutedop (Deel 1)
'n Gemeente is 'n dinamiese, lewende "organisme" wat voortdurende veranderings en vooruitgang en in sommige gevalle selfs agteruitgang die hoof moet bied. Dit is alles nodig sodat daar groei kan plaasvind. Baie tyd word spandeer om stelsels in plek te kry en te verbeter, sodat die fokus op die geestelike bearbeiding kan val.
Predikante kom en gaan en elkeen los geestelike voetspore wat onuitwisbare indrukke laat op diégene wat agterbly. Albei partye begin met 'n nuwe reis. Die gemeente moet weer 'n nuwe predikant beroep wat bereid is om die belange, probleme, maar ook unieke uitdagings in die gemeente die hoof te bied. Aan die ander kant neem die dominee wat na 'n ander gemeente gaan, ook ervarings en herinnerings met hom saam. En in beide gevalle is dit 'n wonderlike nuwe begin ... vir baie van die proponente was Dutoitspan 'n leerskool, 'n plek waar hulle hul eerste tree op hul beroepspad kon gee.
Die gemeente was na die vertrek van ds. JH Siebert na Murraysburg, vir etlike maande vakant. In hierdie tyd het ds. ML van Rensburg, emeritus-leraar, waargeneem, Hy was 'n neef van tannie Kas Joubert, 'n jarelange gemeentelid en ouma van Carina Badenhorst.
Ds. Siebert het demissie ontvang, maar hy het besluit om eers aan die einde van Desember 1973 te vertrek. Die kerk was daardie jaar tydens die Kersdiens en die middernagdiens stampvol, bykomende stoele moes ingedra word. Dit was die taak van die konsulent, ds. VO Nel van Diamantveld-gemeente, om die kerkraadsvergadering te lei wanneer hulle 'n nuwe predikant beroep.
Na herhaalde beroepe het ds HC de Wet van Epping-Wes die beroep aanvaar. Dit was ongeveer 5 Oktober 1974. Hulle het aan die begin maar moeilik aangepas - vanaf die Kaap na die droë warm Noord-Kaap vra op sigself moed. Maar die omgee-mense in die gemeente het dit makliker gemaak. Ds. De Wet het besluit om die kerkraadsafsluitings sommer by die pastorie te hou. Daar was genoeg ruimte, bome en gras vir 'n aangename en gesellige buiteluggeleentheid. In een woord kan daarna verwys word as 'n afsluitingsvrugtefees. Heerlike seisoensvrugte en waatlemoen was altyd aan die orde van die dag, saam met geselsies, staaltjies en stories. En so tussen die geselsery deur, is moontlikhede en planne geopper vir die volgende jaar - 'n "vrugtevolle" of "vrugbare" afsluiting.
Ds. Van Rensburg het nog vir 'n tyd lank saam met ds. De Wet gewerk, omdat die lidmaattal eintlik vir 'n tweede leraar regverdig het. Finansies het egter hierdie aksie vir 'n lank tyd gekniehalter. Na vele kerkraadsvergaderings en verskeie moontlikhede, het die kerkraad wel later besluit om 'n medeleraar te beroep, en die keuse het op prop. CMV Wait geval, wat dan ook die beroep aanvaar het.
'n Tweede predikant dwing die gemeente om in 'n tweede pastorie te belê. 'n Belangrike vereiste daardie jare was dat die pastorie binne die gemeentegrense moes val. Twee huise was op daardie stadium beskikbaar - die huis van mev. Van der Westhuizen, die orrelis, en 'n huis in Blackingstraat. Op aanbeveling van prop. Wait se ouers het die keuse op Blackingstraat 55 geval. Daar is toe terstond met die aankooponderhandelings begin. So begin 'n nuwe era in die geskiedenis van die gemeente - die luuksheid van twee predikante, maar ook die finansiële bekommernis wat dit teweeggebring het.
Prop. CMV Wait is deur sy skoonpa, ds. Möller, redakteur van die Kerkbode op daardie stadium, op 29 Januarie 1979 bevestig. Ds. Wait was hart en siel deel van die gemeente totdat hy die beroep na die Sonnekus-gemeente in die Kaap op 25 April 1982 aanvaar het.
Na die vertrek van ds. Wait het die kerkraad gebruik gemaak van prop. NC van Wyk, die weermagkapelaan, se dienste.
'n Baie groot tragedie het die pastoriepaar gedurende hulle verblyf in Dutoitspan getref. Ds. De Wet se derde oudste seun, Pierre, was die trotse eienaar van 'n tweedehandse Volksie. Van tyd tot tyd het die Volkswagen Kewer meer aandag gevra en moes die enjinkap gelig word. Een so 'n betrokke middag, met die Kewer opgedomkrag, was Pierre onder die kar, en om een of ander onverklaarbare rede het die Volksie van die domkrag gegly en Pierre onder die kar vasgepen. Ds. vertel dat hy met ongelooflike krag van Bo, die motor kon oplig, sodat die ander vir Pierre kon uitkry. Nooit vantevore of daarna het hy daardie gevoel van onmenslike krag ervaar nie. Pierre was ernstig beseer en is dadelik hospitaal toe geneem. Hy het baie goed op die behandeling gereageer, wat die hoop op volkome herstel in die gemeente laat opvlam het. Terwyl hy in die hospitaal was, kry hy egter geelsig, waarvan hy nie herstel het nie en hy is in Maart 1983 oorlede. Die gemeente het 'n geestelike laer om die pastorie getrek en op verskeie manier uitgereik na ds. Hennie en mev. Yvonne de Wet. Die pastoriepaar het dit baie moeilik verwerk. Hulle het nog twee jaar na hierdie voorval in die gemeente gearbei.
Ds. De Wet was ook 'n passievolle skrywer. 'n Talent waaroor hy baie beskeie was. Sy boek, Laat ons boekevat, se eerste druk was in 1967, en teen 1979 het dit reeds 'n sesde druk beleef. Een van sy ander boeke, My Tye In U Hand, was baie gewild.
Hierdie boek is o.a. as volg geadverteer nadat dit uit druk was: "'n Heruitgawe van die bekende dagboek My
Tye In U Hand sal stellig oral verwelkom word. In eenvoudige,
bevatlike taal word die groot waarhede rondom die sorg van God in alle
omstandighede meegedeel. Dit is leesstof vir oud en jonk - alhoewel die klem 'n
ietsie meer op bejaardes gelê word."
Die kerkraad het besluit om 'n medeleraar te beroep en die keuse het op prop. NC van Wyk geval wat reeds met inspirerende bydraes 'n verskil in die gemeente gemaak het. Hy aanvaar die beroep en is in Augustus 1983 met handoplegging bevestig deur sy predikant van Pretoria. Hy het met hart en siel gewerk en was 'n betrokke predikant op vele terreine tot en met sy vertrek in 1987. Ds. Van Wyk se ander groot liefde was sport, en meer spesifiek rugby, hy was nie net 'n baie goeie rugbyspeler nie, hy het selfs vir die Griekwa-rugbyspan uitgedraf.
Na die vertrek van ds. De Wet in 1985 het ds. Van Wyk van Blackingstraat 55 na die pastorie in Connollyplek 13 getrek. In ds. Nico se eie woorde: "Dutoitspan was werklik 'n wonderlike gemeente om ons bediening te kon begin."
[Word vervolg]