Showing posts with label Dominee. Show all posts
Showing posts with label Dominee. Show all posts

Saturday, 18 January 2025

Kerkgenotjies: In die kerk ...

Terwyl die dominee preek, sien hy dat klein Pieter kort-kort iemand met 'n kettie skiet.
Toe die gemeente sing, glip die dominee vinnig af na Pieter toe en gryp hom aan sy kraag.
"Pieter, wat dink jy doen jy hier in die kerk?"
"Moenie worry nie, Dominee, sê Pieter. "Ek hou die gemeente wakker, terwyl dominee preek."

--000--

Attie is 'n besige mannetjie in die Sondagskool en om die kinders weer gefokus te kry, vra die Sondagskooljuffrou: "Attie, wat sê jou pa voordat julle begin eet?"
Attie: "Stadig met die brood, dit kos al amper R24,00 vir 'n brood."  

Monday, 5 August 2024

Gebed by 'n Manne-ontbyt


Die nuwe dominee op die dorp word uitgenooi na 'n manne-ontbyt saam met 'n groep boere. Hulle vra een van die ouer boere om die seën vir die ete te vra.
"Here," begin hy, "U weet hoe ek karringmelk haat."
Die dominee is geskok. Hy loer onderlangs na die boer. Hy is ongemaklik, hy weet nie wat om te dink nie.
"Here, ek haat varkvet," bid die boer voort.
Die dominee is geskok. Hy loer weer onderlangs na die boer. Hy is ongemaklik, hy weet nie wat om te dink nie. 
"En Here, U weet dat ek rou koekmeel nie kan vat nie," bid die boer voort.
Die dominee loer weer en sien dat van die ander boere ook ongemaklik raak.
Die boer bid voort: "Maar Here, wanneer ons dit alles saamgooi, dit meng en bak, kry ons die lekkerste beskuit. So, Here, wanneer dinge gebeur waarvan ons nie hou nie, wanneer die lewe druk en ons sukkel om te verstaan wat U vir ons wil sê, help ons om te ontspan en op U te wag, terwyl U die bestanddele meng en die beskuit bak. Ons kan nie wag vir die beskuit nie. Daar is baie dinge waarvan ons nie hou nie en die mengproses is nie altyd lekker nie, maar kom ons ontspan en fokus op die eindproduk. Kom ons sien met verwagting uit na dit wat God vir ons wil gee. My "beskuit" is in die Here se oond!! Ek kan nie wag nie ...!
Amen!"

Wednesday, 27 December 2023

Iets om oor na te dink ...

Om 'n dominee te wees ...

As hy jonk is, kort hy ondervinding.
As sy hare grys is, is hy te oud.

As hy ses kinders het, het hy te veel.
As hy niks het nie, stel hy 'n slegte voorbeeld.

As sy vrou in die koor sing, is sy voor op die wa.
As sy nie, stel sy nie genoeg belang in haar man se werk nie.

As hy van notas af preek, het hy ingelegde preke en is droog.
As hy uit die vuis praat, is hy onvoorbereid en herhaal.

As hy baie tyd in sy studeerkamer deurbring, verwaarloos hy sy gemeente.
As hy baie rondkuier, is hy 'n drentelaar.

As hy baie aandag gee aan die armes wil hy van gepraat word.
As hy baie aandag gee aan die rykes kliek hy en is 'n snobis.

As hy baie veranderings aanbring, is hy 'n diktator.
As hy geen veranderings aanbring, is hy verbeeldingloos.

As hy teen die kwaad praat, is hy te eng.
As hy nie, is hy 'n kompromis.

As hy 'n uur preek, is hy langdradig
As hy nie, is hy lui en onvoorbereid.

As hy die waarheid preek, gee hy aanstoot.
As hy nie, is hy liberaal.

As hy almal plesier, het hy geen beginsels.
As hy nie, doen hy die kerk skade aan.

As hy oor geld preek, is hy gierig.
As hy nie, bou hy nie die gemeente nie.

As hy 'n groot salaris kry, verdien hy dit nie.
As hy 'n klein salaris kry, is hy nie veel werd nie.

As hy elke Sondag preek, word die mense moeg vir hom.
As hy nie, verwaarloos hy sy werk.

As hy by 'n sieke kom, hoor hy hy moes al eerder gekom het.
As hy by 'n bejaarde kom, was hy nog nooit daar nie.

En tog is die bediening heerlik, want: 
Deur God geroep.
Deur God bekwaam.
Deur God gedra.
Deur God vergewe.

Saturday, 4 November 2023

Kerkgenotjies: Huwelikseremonie

Toe die predikant met die huwelikseremonie begin, kom hy gou agter dat die bruidegom so dronk is dat hy nie deur sy oë kan sien nie. 
Die predikant vererg hom en fluister vir die taamlik onaansienlike bruid: "Vat hom hier weg en kry hom eers nugter, dan sal ek met die troue voortgaan!"
"Maar Dominee," protesteer sy, "As hy nugter is, sal hy nie kom nie ..."

Klik HIER vir iets in ligter luim!

Saturday, 30 September 2023

Kerkgenotjies: Gebed

Die dominee vra vir die klein seuntjie of hy elke aand bid.
"Ja, dominee" antwoord die seuntjie.
Dominee: "En bid jy ook elke oggend voordat jy skool toe gaan?"
Seuntjie: "Nee, dominee, ek is nie bang gedurende die dag nie." 

Monday, 20 April 2020

Monday, 16 April 2018

Watter diens, Dominee?

Eendag merk die dominee ' n klein seuntjie in die voorportaal van die kerk op wat aandagtig na ' n groot gedenkplaat teen die muur staan en kyk.

Dit was oortrek met name en daar was klein landsvlaggies weerskante.

Toe loop die dominee nader, kom staan langs die seuntjie en sê saggies: "Goeiemôre, my Seun."

"Môre, Dominee," sê hy, met sy oë nog vasgenael op die plaat.

"Dominee, wat is dit hierdie?" vra hy.

Die dominee antwoord: "Wel, my seun, dit is 'n gedenkplaat vir al die jongmanne wat in die diens gesterf het."

In doodse stilte en met groot eerbied staan die twee voor die plaat en staar na die name.

Uiteindelik, in 'n skaars hoorbare stemmetjie en bewend van vrees vra die seuntjie: "Watter diens, Dominee? Die oggend- of die aanddiens?"