Showing posts with label Spoorwegbode. Show all posts
Showing posts with label Spoorwegbode. Show all posts

Sunday, 25 January 2026

Mossieboodskap: Nog net drie minute ...

Die breinspoeling was al weke lank aan die gang, soms tot 14 uur per dag - 48 uur aaneen by een geleentheid. Maar hy het sy man gestaan. Hy wou nie swig nie.

Die plek: 'n Kommunistiese gevangenis in China. 
Die tyd: in die vroeë vyftigerjare. 
En die man: 'n Stralende Chinese Christen.  

Uiteindelik, na herhaalde gekruisvra, bespotting en marteling, sê die Christen aan sy verdrukkers: "Julle mors julle tyd, Menere. My geloof is dieper gewortel as enige marteling waaraan julle my kan onderwerp. Dit is vir ewig gewortel in Jesus Christus, die Seun van God."

Woedend klap die indoktrineerder hom deur die gesig en skreeu: "Val op jou knieë en bid! Want oor drie minute gaan ons 'n koeël deur jou kop jaag."

Terwyl die indoktrineerder, 'n gewapende wag en vyftien van die man se medegevangenes staan en kyk, maak hy soos hy beveel is.

"Here," begin die man bid, "ek dank u vir die vrede wat daar in my hart is. Ek dank u vir die geloof wat dit vir my moontlik maak om te glo dat, ten spyte van my verdrukkers, my hemelse Vader op sy troon sit en in staat is om enige oomblik die monde van hulle wat Sy Naam laster, vir ewig te stop. Here, u is in staat om hierdie oomblik U mag aan hierdie twee manne te bewys. U is in staat om te toon dat U God is. U mag kan hierdie manne in een oomblik laat dood neerval, en ..."

Maar hy het nie aan die einde van sy gebed gekom nie, want, hygend van pyn, het die twee manne gelyktydig op die grond neergeval. Binne 'n paar uur was albei dood.

Die Christen is daarna vrygelaat, en na wat verneem word, is hy toegelaat om by sy vrou en kinders aan te sluit en ongehinderd in sy huis te woon. Geen nie-Christen het dit naby sy huis gewaag nie.

* Eerw. Leslie Millen, lank 'n CIM-sendeling in China, was 'n ooggetuie van bostaande gebeurtenis tydens sy eie gevangenskap deur die kommuniste.   

Lees HIER van David Lin se ervarings agter tralies.

[Oorgeneem uit: Die Kruisgesant - Die Spoorwegbode, Februarie 1986]

Sunday, 28 December 2025

Mossieboodskap: "Voordat hulle roep"

 
In die lente van 1875 het Hudson Taylor, die geliefde stigter van die "China Inland Mission" na Londen teruggekeer, nadat hy 'n reeks dienste op Brighton bygewoon het. Terwyl hy vir sy trein op die stasie wag, het 'n Russiese edelman wat ook dieselfde dienste bygewoon het, hom genader. Toe hy verneem dat mnr. Taylor Londen toe gaan, het hy voorgestel dat hulle saamreis in dieselfde kompartement.
"Maar ek reis derdeklas," het die sendeling gesê.
"My kaartjie laat my ook toe om derdeklas te ry," het die edelman beleefd geantwoord.

Toe die trein aankom, het hulle hul sitplekke ingeneem en saam verder gereis. Na 'n rukkie het Graaf Bobrinsky sy sakboek uitgehaal met die woorde: "Laat my toe om jou 'n klein bedraggie te skenk tot ondersteuning van jou werk in China."

Mnr. Taylor het na die banknoot gekyk wat aan hom oorhandig is, en gevoel dat daar seker 'n fout moet wees - dit was nie minder as eenhonderd pond nie! (Dit was baie geld in daardie dae. Seker minstens tien keer die waarde van vandag se geld.)

"Het u bedoel om my tien pond te gee?" het Mnr. Taylor dadelik gevra, en toe bygevoeg: "U het seker 'n fout gemaak. Hierdie noot is eenhonderd pond. Neem dit asseblief terug."

"Ek kan dit nie terugneem nie," het die edelman geantwoord, net so verbaas soos die ander. "Ek wou jou tien pond gee, maar God het seker bedoel dat jy eenhonderd pond moes kry. Ek kan dit nie terugneem nie."

Diep beïndruk deur die voorval, het Mnr. Taylor sy bestemming bereik. Toe hy by sy hoofkwatiere in Londen aankom, was daar 'n biduur aan die gang. 'n Sekere som geld moes onverwyld na China toe gestuur word, en daar was nege en negentig pond en tien sjielings kort op die benodigde bedrag. Dit het diegene wat daarvan geweet het na hul knieë gedryf om hulle behoefte in gebed aan God bekend te maak. Nege en negentig pond en tien sjielings is in geloof aangevra en daar op die kantoortafel het Mnr. Taylor sy kosbare banknoot ter waarde van eenhonderd pond neergesit - die antwoord op hulle gebed. 

Lees gerus meer oor Hudson Taylor HIER en HIER!

[Die Spoorwegbode, Februarie 1986]

Sunday, 30 November 2025

Mossieboodskap: Hy sorg vir julle ...

Terwyl 'n werker besig was om die sierbome langs die straat van 'n sekere stad te snoei, het hy 'n mossienes gesien in een van die takke wat verwyder moes word. By nadere ondersoek het dit geblyk dat die nessie vol kleintjies was. Dit sou noodlottig vir die kleintjies wees as hy die tak moes verwyder. Hy het dus toestemming gekry om die boom later te snoei.

'n Paar weke later was die nessie leeg; en toe hy dit bekyk, sien hy tot sy groot verbasing 'n Sondagskool-tekskaartjie tussen die grassies en stokkies ingevleg, met die woorde daarop: "Hy sorg vir julle." (1 Pet.5:7)

Sal die God wat getrou is aan Sy Woord selfs teenoor die mossies, dan nie ook vir sy kinders sorg nie?

[Die Spoorwegbode: Februarie 1986]