Sunday, 25 January 2026

Mossieboodskap: Nog net drie minute ...

Die breinspoeling was al weke lank aan die gang, soms tot 14 uur per dag - 48 uur aaneen by een geleentheid. Maar hy het sy man gestaan. Hy wou nie swig nie.

Die plek: 'n Kommunistiese gevangenis in China. 
Die tyd: in die vroeë vyftigerjare. 
En die man: 'n Stralende Chinese Christen.  

Uiteindelik, na herhaalde gekruisvra, bespotting en marteling, sê die Christen aan sy verdrukkers: "Julle mors julle tyd, Menere. My geloof is dieper gewortel as enige marteling waaraan julle my kan onderwerp. Dit is vir ewig gewortel in Jesus Christus, die Seun van God."

Woedend klap die indoktrineerder hom deur die gesig en skreeu: "Val op jou knieë en bid! Want oor drie minute gaan ons 'n koeël deur jou kop jaag."

Terwyl die indoktrineerder, 'n gewapende wag en vyftien van die man se medegevangenes staan en kyk, maak hy soos hy beveel is.

"Here," begin die man bid, "ek dank u vir die vrede wat daar in my hart is. Ek dank u vir die geloof wat dit vir my moontlik maak om te glo dat, ten spyte van my verdrukkers, my hemelse Vader op sy troon sit en in staat is om enige oomblik die monde van hulle wat Sy Naam laster, vir ewig te stop. Here, u is in staat om hierdie oomblik U mag aan hierdie twee manne te bewys. U is in staat om te toon dat U God is. U mag kan hierdie manne in een oomblik laat dood neerval, en ..."

Maar hy het nie aan die einde van sy gebed gekom nie, want, hygend van pyn, het die twee manne gelyktydig op die grond neergeval. Binne 'n paar uur was albei dood.

Die Christen is daarna vrygelaat, en na wat verneem word, is hy toegelaat om by sy vrou en kinders aan te sluit en ongehinderd in sy huis te woon. Geen nie-Christen het dit naby sy huis gewaag nie.

* Eerw. Leslie Millen, lank 'n CIM-sendeling in China, was 'n ooggetuie van bostaande gebeurtenis tydens sy eie gevangenskap deur die kommuniste.   

Lees HIER van David Lin se ervarings agter tralies.

[Oorgeneem uit: Die Kruisgesant - Die Spoorwegbode, Februarie 1986]