Showing posts with label Woord. Show all posts
Showing posts with label Woord. Show all posts

Thursday, 17 September 2026

Dink hieroor: Die onverganklike Woord

Die Bybel is die oudste Boek wat aan ons bekend is. Daar is baie min boeke wat selfs meer as 400 jaar oud is, terwyl die Bybel oor baie eeue heen terug dateer. Tog is sy boodskap vandag nog net so geldig en effektief soos wat dit eeue gelede was.

Die Bybel is nie net die mees geliefde Boek in die wêreld nie, maar ook die mees gehate Boek. Skaars was die Bybel in die mens se besit, of hy ontdek dat dit sonde veroordeel, hooghartigheid aftakel, en die versaking van sonde as vereiste stel.

In die Bybel het die mens homself gevind soos hy is. Hy het 'n kykie in die diepste verborgenhede van sy siel gekry; en omdat die prentjie wat hy van homself gekry het, hom in die verleentheid gebring het, het hy die Bybel begin haat.

Dit het gelei tot volgehoue pogings deur die eeue heen om geloof in die Bybel te ondermyn en die Bybel self te vernietig. Dit is verban, verbrand, en met geweld uit besit van die mense ontneem. Alles is in die stryd gewerp om vir goed van die Bybel ontslae te raak. Dog al die pogings het skromelik misluk.

Die Bybel het al die heftige aanslae wat al teen hom gemaak is, weerstaan en oorleef. En terwyl baie van die boeke wat geskrywe is om sy waarhede te ontken en te weerlê, reeds in die vergetelheid verdwyn het, leef die Bybel voort en bly dit steeds die mees gesogte Boek van alle tye.

Die aanslag teen die Bybel is nog altyd aan die gang; en hoewel dit miskien nie oral so openlik en geweldadig plaasvind, word dit deur die modernisme en liberalisme ondergrawe en deur die oorgrote meerderheid van 'n sogenaamde Christelike gemeenskap afgewater en verwerp. Sy grondwaarhede word selfs van sommige kansels af verdraai en verbloem; en daar is baie mense wat graag sal wil sien dat die Bybel heeltemal van die aardbodem af moet verdwyn.

Maar ons het rede om te glo dat die Bybel selfs in 'n vinnig veranderende wêreld, en ten spyte van die hewigste kritiek en felste pogings om sy gesag te vernietig, sal bly voortbestaan om die boodskap van God aan die mens oor te dra.

God waak oor Sy Woord en sal dit tot die einde toe onder alle omstandighede bewaar. 

Hy sê in Matt. 24:35: "Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar My woorde sal nooit verbygaan nie."  

[AJ Steyn]

Sunday, 15 February 2026

Mossiestilte: Die Woord van God

Die Bybel is die Lewende Woord van die Lewende God en geen ander boek kan daarmee vergelyk word nie. Dit is 'n direkte openbaring van God aan die mens om die weg na die ewige lewe aan te dui; en ofskoon dit deur mense geskrywe is, was God self die Outeur daarvan. Sy oorsprong is Bonatuurlik en sy gesag Onbetwisbaar. Dit is Persoonlik van toepassing, besit Herskeppingskrag en is Geïnspireer in totaliteit.

Ongeveer 40 verskillende persone het die Bybel onder die inspirasie van die Heilige Gees geskryf. Hulle het 66 boeke oor 'n tydperk van byna 2000 jaar voortgebring. Hulle was in verskillende lande woonagtig en het in verskillende omstandighede grootgeword. Hulle het verskillende tydvakke belewe en was uit verskillende lae van die samelewing. Een was 'n groot wetgewer; 'n ander een was 'n banneling in Babilonië; nog een was 'n skaapboer van Tekóa; en 'n ander een was 'n skaapwagtertjie wat later 'n koning geword het. Sommige was heersers, ander weer onderdane; party was ryk en ander arm; onder hulle was geleerdes sowel as ongeletterdes; een was 'n dokter, 'n ander een 'n tollenaar en party was ongeletterde vissermanne.

Hulle het in verskillende tale oor elke denkbare onderwerp geskryf. Sommige het nooit die ander gesien of met hulle in aanraking gekom nie. Tog was daar verbasende harmonie in alles wat hulle geskrywe het. Hulle het EEN Boek geskryf. Soiets is ongeëwenaard in die letterkunde en is op sigself bewys van die Bomenslike en Bonatuurlike oorsprong van die Skrif.

Gebore in die Ooste, en geklee in Oosterse vorm en beeldspraak, betree die Bybel die weë van die wêreld met bekende voetstappe.

Die Bybel se boodskap is van toepassing op mense van alle tye en op alle vlakke van die samelewing. Dit spreek in honderde tale tot die harte van manne en vroue. Kinders luister met verwondering en genot na sy verhale, en wyse manne bepeins dit met diepe ontsag.

Dit is 'n woord van advies in tye van nood;
'n Woord van troos wanneer die onheil tref;
Dit verskaf lig in tye van donkerheid;
En dit adem mirre en wierook by die wieg en die graf.
Die kwaaddoeners en hooghartiges word deur sy uitsprake bedreig;
Maar tot die gewondes en boetvaardiges spreek dit met die stem van 'n moeder.

Die hooftema van die Bybel is Christus en Sy versoeningsdood aan die Kruis om 'n verlore mensdom te red. 

Sy boodskap word volmaak opgesom in die woorde van Johannes 3:16: "Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy Sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê." 

[AJ Steyn]

Sunday, 30 November 2025

Mossieboodskap: Hy sorg vir julle ...

Terwyl 'n werker besig was om die sierbome langs die straat van 'n sekere stad te snoei, het hy 'n mossienes gesien in een van die takke wat verwyder moes word. By nadere ondersoek het dit geblyk dat die nessie vol kleintjies was. Dit sou noodlottig vir die kleintjies wees as hy die tak moes verwyder. Hy het dus toestemming gekry om die boom later te snoei.

'n Paar weke later was die nessie leeg; en toe hy dit bekyk, sien hy tot sy groot verbasing 'n Sondagskool-tekskaartjie tussen die grassies en stokkies ingevleg, met die woorde daarop: "Hy sorg vir julle." (1 Pet.5:7)

Sal die God wat getrou is aan Sy Woord selfs teenoor die mossies, dan nie ook vir sy kinders sorg nie?

[Die Spoorwegbode: Februarie 1986]

Wednesday, 29 October 2025

Terugblik: So sê die Woord: Handelinge 11:1-10

Hoe beoordeel ek ander mense?

Vers 2 en 3: Toe Petrus dan in Jerusalem kom, het die Joodse gelowiges hom verwyt: “Jy het mense besoek wat nie besny is nie en het selfs saam met hulle geëet.”

Petrus se medegelowiges in Judea het verneem dat die heidene in Cesaréa ook vir Jesus as Saligmaker aangeneem het. In plaas van daaroor bly te wees, verwyt hulle Petrus omdat hy sekere Joodse wette oortree het deur in hierdie onbesnedenes (nie-Jode) se huise in te gaan en saam met hulle te eet. Petrus verduidelik aan hulle hoe die Here deur 'n visioen aan hom verduidelik het dat hy niemand onrein mag ag vir wie God as kind aangeneem het nie. Dit is belangrik om mense nooit net op grond van hulle uiterlike dinge te beoordeel nie.

Kan jy eerlik aan jouself rekenskap gee op grond van watter dinge jy mense of hulle doen en late beoordeel of dalk soms veroordeel?

Gebed: My Here, help my om nie mense te veroordeel nie.

[Uit: Dorstfontein NG Gemeente Dutoitspan Maandblad Oktober 1986]

Friday, 26 September 2025

Die skoene

Ek was vars gestort en netjies geskeer. Ek het my mooi das nog eenkeer reggetrek en toe vertrek. Ek het net betyds by die kerk bank ingeskuif en wou net my oë toemaak in gebed toe ek uit die hoek van my oog n paar skoene sien wat langs my ingeskuif het.
 
Ek het gesug ... was dit nou nodig om so naby aan my te sit dat ons skoene aan mekaar geraak het? Ek het my oë gesluit ... ONSE Vader ... toe onthou ek dat die Here ook sy vader is ... Maar nog steeds ontsteld wonder ek of hy nie net sy skoene kon skoonmaak nie. Die skoene se punte was afgekrap ... 'n dik laag stof het op die skoene gelê en sowaar daar was nog 'n gat aan die kant van die skoen.

Sekerlik het die man geen skaamte of trots nie ... DANKIE VIR U SEËNINGE het die gebed aangegaan. "Amen" het die paar skoene langs my hardop gesê.

Ek het so hard probeer om op die gebed te konsentreer maar elke keer het my oë gedwaal na die paar skoene langs myne.

Sekerlik moet ons altyd probeer om op ons beste te lyk wanneer ons by die kerk deure instap. Wel sekerlik het hierdie paar skoene langs my nie baie moeite gedoen nie.

Die gebed het geëindig en die lofsange het begin. Die paar skoene langs my het met volle oorgawe saamgesing. Met oë gesluit en hande omhoog het die skoene uit volle bors met diep oortuiging die lofliedere aan ons Skepper geoffer.

Ek was seker dat nie net die Here nie maar die hele dorp hierdie man se lofliedere gehoor het.
En toe kom die tyd vir die offergawe. Ek het n stewige bydrae ingegooi, en toe die bordjie aangegee na die skoene langs my. Daar was diep in die sakke gekrap ... eers die een en toe die ander een en diep onder in die sak is sy bydrae uitgehaal en met 'n helder geklink het die muntstukkie in die pragtige silwer bord geval.
 
Ek het gesteurd na die skoene langs my gekyk maar hy het so 'n salige uitdrukking op sy gesig gehad. So dankbaar dat hy wel iets gehad het om te gee.

Toe was dit tyd vir die Woord. En laat ek nou maar eerlik wees dit het my tot in my siel verveel, tot ek na die skoene langs my se gesig gekyk het.

Groot trane het by sy wange ofgerol ... Hy het met diep aandag geluister ... en ek het gewonder wat ek dan gemis het.

Ek was so besig met die skoene en die oordeel in my hart dat ek die seëning van die Woord totaal en al gemis het. Sy hart was vol ... sy honger was gestil ... en ek, ek het gewonder waarom ek dan nog so leeg gevoel het.

Toe besef ek; ek het nie soos die skoene langs my gekom met 'n verwagting nie ... daarom het ek niks ontvang nie en sy beker loop oor. Golwe skuldgevoel het oor my gespoel en ek het geweet die stukkende skoene het my vandag 'n baie duur les geleer.

Dit was ons gewoonte om altyd na die diens vreemdelinge te laat welkom voel, en na die slot gebed het ek my hand na die skoene uitgesteek.
 
Die gesig was oud en verrimpeld van baie son en weer en die hand wat myne vasvat was vol eelte.
Die skoene het na my gekyk en gesê: My naam is Charlie en ek is so bly om jou te ontmoet. Sy oë was vol hartseer en pyn.

Ek kom al 'n paar maande hier maar jy is die eerste om my te groet. Ek weet my kleredrag is nie op standaard nie maar ek probeer baie hard om altyd op my beste te lyk, en ek politoer gereeld my skoene maar die lang stap hierheen op die stof pad laat dit altyd weer vuil en vol stof.

My hart het begin pyn en ek het swaar gesluk aan die groot knop in my keel. Ek was stil, want ek het geweet as ek iets sou sê sou my woorde leeg en blikkerig klink teenoor die opregtheid van die stukkende skoene.

Ek het weer sy vereelte hand gedruk en toe met trane bely: Jy het my siel aangeraak en vandag het jy my 'n groot les geleer ... dat die mooi van die mens in sy hart lê en nie in sy blink nuwe skoene nie.
Dankie dat jou skoene vandag vir my 'n groot les geleer het. Dat daardie vuil stukkende skoene my geleer het om anders te sing, om meer intens te luister en om altyd met 'n verwagting te kom sodat ek vol en tevrede kan uitstap.

(Internet: Skrywer onbekend)

Sunday, 1 September 2024

Lentegebed

Liewe Heer, ek aanbid U op hierdie lentemôre as die Skepper God
Nuwe lewe bot orals rondom my uit
Kom en vernuwe my ook deur U Heilige Gees
U ken my hart so goed, Here
Hier aan die begin van die lente vra ek U om al die dooie hout
van my lewe weg te snoei, en in die plek daarvan helderkleurige liefdesbloeisels te plant
Lekkerruik-mensweesblomme van sagte marsmallowspienk
en wit omdat my hart met U Gees gevul is
en ek elke dag met U water van liefde verfris kan word
Voed my met U Woord, liefde, vrede,vreugde en genade
sodat elke nuwe bot die heerlike Geesvrugte sal voortbring
Meester van my hart, laat groei in my U liefde
sodat ander U in my sal sien, hoor en voel
Dankie vir die pragtige lenteseisoen
waarmee U ons seën.
Amen

[Dankie, Rosetta vir die deel van hierdie lentegebed]

Tuesday, 20 August 2024

Dit is nie maklik nie ...

Geen hartseer, pyn en wroeging
is maklik as ons dit alleen probeer dra nie.
Soveel makliker om hulp in gebed by Jesus te vra.
Hy beloof in Sy Woord om altyd daar te wees.
Ons van nuwe krag te voorsien deur die Heilige Gees.
Het jy al ooit na 'n storm na die reënboog gekyk?
Dis God wat belowe dat seerkry ook sal wyk.
Na die donkerste nag.
Skyn die son helderder die volgende dag.
Net soos 'n blom reën nodig het om te groei,
Word die mooiste 'blomme' gevorm in 'n hart wat bloei.

[Aangestuur deur Anoniem]

Thursday, 25 July 2024

Jesaja 40 se trooswoorde:

Die gras verdor, die blom verwelk,
maar die WOORD van onse GOD hou stand in ewigeid!
Weet jy dit nie?
Of het jy dit nie gehoor nie?
'n EWIGE GOD is die HERE!
SKEPPER van die eindes van die aarde;
HY word nie moeg of mat nie;
daar is geen deurgronding van SY verstand nie.
HY gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte
vir die wat geen kragte het nie.
Die jonges word moeg en mat 
en die jongemanne struikel selfs;
maar die wat op die HERE WAG,
kry nuwe krag; 
hulle vaar op met vleuels soos die arende;
hulle hardloop en word nie moeg nie,
hulle wandel en word nie mat -
dis van Jesaja 40 se trooswoorde,
en die heerlikheid van die HERE sal geopenbaar word.

[Dankie, Rosetta]

Sunday, 18 February 2024

... maar nie jy nie

Jim Rhon het gesê: “Laat ander klein lewens leef, maar nie jy nie.
Laat ander oor klein goedjies stry, maar nie jy nie.
Laat ander hulle toekoms in iemand anders se hande plaas, maar nie jy nie.”

Dit gaan meer as ooit nodig wees, om die Lig wat die Woord ons gee, te gebruik op die pad wat effe duister voor ons uitstrek. “The presence of the problem doesn’t mean the absence of God.”