Showing posts with label Terugflits. Show all posts
Showing posts with label Terugflits. Show all posts

Friday, 2 October 2026

Terugblik: Ons stel voor ...

Baie welkom aan die persone wat met bewys van lidmaatskap oorgekom het na hierdie gemeente. Die kerkraad nooi u hartlik uit om dadelik in te skakel by die werksaamhede van hierdie gemeente - word 'n aktiewe lidmaat wat groei in u Geestelike Lewe. Ons het so baie name ingeskryf in die lidmaatregister, en tog is die bywoning van die eredienste en bidure nie altyd 'n getroue weerspieëling van ons lidmaattal nie. Skakel asseblief in en word so deel van die kern van hierdie gemeente. 'n Groeiende gemeente het aktiewe lidmate.

Na die verwelkoming volg die name van 12 lidmate wat van ander gemeentes en dorpe gekom het.
 

[Uit: Dorstfontein NG Gemeente Dutoitspan Maandblad Oktober 1986]

Friday, 29 May 2026

Terugflits: Die belofte van 'n krygsgevangene aan die Here

KOTZÉ, JACOBUS CORNELIUS GI­DE­ON (KOLIE) (1891–1979). 

’n Krygs­ge­vangene belowe aan God dat, as Hy sy siek vrou en seun sou spaar, hy die seuntjie aan die Here sou teruggee. Die seuntjie was Kolie Kotzé.

Met sy geboorte – dit was in die Anglo-Boereoorlog tyd was sy moeder uiters siek en vir die lewe van die seuntjie was daar weinig hoop. Toe sy vader in die tronk op Calvinia, waar hy weens die oorlogsomstandighede verkeer het, hierdie tyding kry, kniel hy daar neer om die gelofte te maak dat hy, as die Here hierdie eersgeborene van hom en sy eggenote tot die evangeliebediening sou roep, alles in sy vermoë sou doen om dit vir hom moontlik te maak om hom daarvoor te laat bekwaam.

Weens die beperkte onderwysgeriewe in die Noordweste van die dae word die seun byna 14 jaar oud voordat hy kan begin skoolgaan, maar toe reeds leef daar in sy hart die oortuiging dat die Here hom na die kansel roep. Hy vorder fluks en in weerwil van die erg moeilike omstandighede doen sy vader sy gelofte gestand deur sy enigste kind na die Jongenshoërskool op Stellenbosch te stuur.

Koli het sy teologiese studie op Stellenbosch voltooi, en hy word in 1928 gelegitimeer en word daarna hulpprediker op Bredasdorp.
 
Hy word volwaardige leraar op 25 Mei 1929 te Stanford. Vandaar is hy na Charl Cilliers en na Roodepoort in 1936. Later dien hy in die Transvaalse NG Kerk* as spesiale evangelisasie-prediker. Die Groote Kerk in Pretoria ondersteun hom terwyl hy in 1946 te Princeton in die VSA verder studeer. Die titel van sy doktorale tesis, The Divine Charge to the Christian in the Church, bevestig sy voorliefde vir evangelisasie*. 

Hy word later sekretaris van evangelisa­sie in die Kaapse Kerk, aanvaar in 1955 ’n beroep na Woodstock en word later in dié jaar na die Teologiese Kweekskool* beroep. Kotzé se beroep na die Kweekskool was vir baie ’n verrassing, maar hy het hom bewys as ’n praktiese teoloog en leermeester soos min. 

In die laaste paar jaar van sy vol en ryke lewe word hy die vader van Transwêreldradio (TWR), later Radiokansel in Suider-Afrika en byna tot sy dood behartig hy die onderneming se program, “Stuur U Lig.” Hy was tot sy dood hulle erepresident. 

Einde 1969 tree hy af, maar toe doen hy nog ‘n paar jaar lank met onversaagde ywer evangelisasie spreekkamerwerk in Kimberley (hospitaalleraar) waar hy ook vir die skoling van kerkraadslede en ander gelowiges verantwoordelik is en jaarliks ‘n predikantekursus reël, aan die Wes-Rand. 

Treffend is daar later van hom gesê dat hy uit sy passie vir siele en deur die Heilige Gees gedryf, “net Jesus Christus gelewe en verkondig het en dat hy ‘n sonderlinge liefdebode van die reddende genade van God” was.

[Klik HIER en HIERvir die oorspronklike berigte.]

Van die ouer gemeentelede sal onthou dat prof. Kolie, soos hy algemeen bekend was, dikwels in Dutoitspan-gemeente gepreek het, ook betrokke was by die skoling van die kerkraadslede in Dutoitspan en as hospitaalleraar sy voetspore ook in Kimberley gelos het.  

Friday, 20 March 2026

Terugflits: Leer ander om te dien

Sy naam is Surprise. Hy is 'n polisieman. Getrou in sy werk en ywerig in alles wat hy doen.

Ek het hom nooit spontaan ontmoet nie, maar sy naam het hom vooruit geloop. Juis daarom het ek moeite gedoen om hom te gaan leer ken.

Aan die Suidkus van ons land waar baie mense gereeld by die see gaan uitrus en in die branders en sand kop skoonmaak, het Surprise nie gerus nie.

Waar ander rus, daar is sy werksplek. By die klein, tog besige ou seeplekkie is Surprise gestasioneer.

Hy sou seker ook net die nodige kon doen soos baie van ons, maar nee, hy glo jy doen die ekstra moeite, jy dra daardie ekstra vrag, jy help onvoorwaardelik. As jy hom leer ken, dan kom jy dit onmiddellik agter. Dit was nie moeilik om hom op te spoor nie - ja, almal ken vir Surprise.

By die laaste huis waar hy 'n inbraaksaak hanteer het, het hy uit omgee vir hulle kos laat aflewer.

By die voertuig wat langs die pad gaan staan het, het hy nie net iemand gebel nie, maar haar later gebel en gevra of sy veilig tuis gekom het. 'n Ander se klein seuntjie se trane het hy afgedroog.

Nou ja, so kan ons seker baie dinge oor baie mense vertel - wat Surprise anders maak, is dat die dinge nie 'n nou en dan verskynsel in sy lewe is nie, dit is hoe hy elke dag leef.

Dit is wie hy is. Onvoorwaardelik altyd dienend. Sy lewe gevul met diensbaarheid.

In my gesprek met hom vra ek hom: "Hoe kry jy dit reg dat almal so mooi van jou praat, wat maak jou so anders?"

"Anders, Meneer? Ek is nie anders nie, ons is mos maar almal dieselfde. As ons oë kyk, sien hulle 'n plek waar hulle kan help, as ons ore luister, hoor hulle 'n plek waar hulle kan help, as ons mond praat, dan bring dit sagtheid.

In 'n nuwe jaar, met nuwe dinge, kan ons by Surprise iets leer: DIEN.

[Bron: Noordkaap - Twyfelhoekie - Hannes Noëth - gaan lees gerus die Twyfelhoekierubrieke op die internet -daar is soveel pitkos om aan te herkou.]

Saturday, 1 November 2025

Terugblik: 1986-gemeenteprogram vir Novembermaand

1-3: Finalejaar-kategesekamp 
2-6: Kommissievergaderings
13: Groepleiersvergadering
15: Kerkraad ontmoet die voornemende lidmate
16: Aflegging van belydenis
17: Kerkraadsvergadering
23: Nagmaal
24: Skoolverlaterskamp begin
29: Gesamentlike gemeente-afsluiting
30: Prysuitdeling: Kategeseskool

[Uit: Dorstfontein NG Gemeente Dutoitspan Maandblad Oktober 1986)

Friday, 24 October 2025

Terugblik: Inhoudsopgawe van "Die Dorstfontein" Oktober 1986

Die maandblad het uit 13 bladsye bestaan:

Inhoudsopgawe:

1. So sê die Woord (bl. 1)
2. Vrouediens (bl. 2)
3. Jeug (bl. 2)
4. So sê die gemeente ... (bl. 5)
5. Troosdae (bl. 8)
6. Van alles en nog wat (bl. 8)
7. Senior Burgers (bl. 9)
8. Ons stel voor ... (bl. 10)
9. Om die draai - Novembermaandaktiwiteite (bl. 11)
10. Mooi gedagte: Tyd (bl. 12)
11. Inkleurprent vir die kleuters (bl. 13)

Elke vereniging of aktiwiteit het maandeliks verslag gedoen oor hul doen en late die betrokke maand en het net so geraak aan wat die volgende maand op die lede wag. Op hierdie manier is daar deeglik rekord gehou van wat in die gemeente gebeur. Hierdie tipe inligting is van onskatbare waarde as daar in die geskiedenis van die gemeente gedelf word. 

Daar gaan die volgende paar Vrydae uittreksels uit "Die Dorstfontein" van Oktober 1986 gegee word.

[Letsie Joubert het o.a. "Die Dorstfontein" getik.]

Friday, 10 October 2025

Terugflits: Gedig - Tyd

Ek kniel en bid, maar nie te lank
Want daar is soveel te doen
Ek moet my jaas want pligte wag
te veel om op te noem.

Ek prewel 'n paar woorde gou,
Spring van my knieë op
My plig as Christen het ek gedoen,
My hart kan rustig klop.

Dwarsdeur die dag was daar geen tyd
'n Trooswoord uit te spreek;
En om van Christus te getuig
Het my gans ontbreek.

"GEEN TYD, GEEN TYD, te veel te doen
Dit laat ek steeds versteen.
Geen tyd oor armes te ontferm
Toe breek my sterfdag aan.

En toe ek voor Gods troon verskyn
En skuldig staan en bewe
Sien ek die Groot Boek in sy hand
Die Boek van Eewge Lewe.

God blaai daar in sy Boek en sê:
"Jou naam staan hier nie in nie.
Ek wou dit eenmaal hierin skryf,
Maar kon die TYD nie vind nie.

[Uit: Dorstfontein NG Gemeente Dutoitspan Maandblad Oktober 1986]

Friday, 6 June 2025

Terugblik: Agter die opruimingsgordyn

Vandag se terugflits gaan nie jare terug in die geskiedenis nie, maar slegs 'n week terug. Alles wat met soveel sorg en beplanning vir die basaar uitgepak is, moet natuurlik opgeruim en weggepak word en dit gebeur gewoonlik so stil-stil met slegs 'n handjievol mense wat help.

Aan hierdie stille werkers agter die opruimingsgordyn,
'n opregte hartsdankie!! 

Friday, 22 November 2024

Terugblik: 2002 - Lentedagkaartjies


Lentedagboodskappies wat vir die senior burgers uitgedeel is, tydens die lentetee wat die gemeente vir hulle in die saal aangebied het.

Friday, 27 September 2024

Terugblik: Kosterspaar 1940-1966


Mnr. en mev. Wagner was 'n aktiewe en geliefde kosterspaar, wat bekend was vir hulle hulpvaardigheid, nie net in die gemeente nie, maar ook in Kimberley. Geen versoek was vir hulle moeite nie. Mev. Wagner was veral bekend vir haar groot rangskikkings vir verhoë, troues, kongresse en konferensies,
Mev. Wagner tydens gemeente
se eeufeesvieringe in 1972
asook die vlyt waarmee sy skynbaar moeiteloos onthaalfunksies kon aanbied. Met Dutoitspan se 100-jarige feesvieringe het sy met liefde die blommerangskikkings gemaak, al was sy nie meer in die gemeente nie en so gehelp om die feesuitgawes in hierdie aspek baie laag te hou. 'n Ander talent wat ver buite die grense van Kimberley bekend was, was dat sy trourokke ontwerp en gemaak het en daarmee saam sommer ook die strooimeisie en die bruid van die ma se uitrustings. Voorwaar 'n bekende, geliefde en hardwerkende paar.   

Met die afsterwe van hul enigste dogter, Poppie, en die verswakking van mnr. Johnny Wagner se gesondheid, het hulle besluit om hulle liewer op 'n rustiger Boshof te vestig. Dit het meegebring dat hulle na 'n dienstydperk van 26 jaar se getroue en uitstekende diens as diaken, ouderling, Sondagskoolonderwyser en koster die amp moes neerlê.  

Die susters van die gemeente het vir hulle 'n spoggerige afskeidsfunksie aangebied (hierdie keer het mev. Wagner aan die ontvangkant van die onthaal gestaan.) 'n Adres en 'n geskenk van 'n R100 is deur die kerkraad as blyke van waardering vir die waardevolle en getroue dienste oor só 'n lang tydperk aan hulle oorhandig.

Rokke wat deur
mev. Wagner gemaak is.
Die groot vraag op almal se lippe was wie hierdie twee besondere mense gaan opvolg.

Bron: Eeufeesalbum 1972, mondelinge oorleweringe.

Friday, 13 September 2024

Friday, 16 August 2024

Terugblik: Orreliste

Voor 1881 is daar geen bewyse van 'n musiekinstrument wat tydens die eredienste in die bokseilkerk en die kerktent gebruik is nie. Daar is wel melding gemaak van kore wat opgetree het. Die afleiding wat gemaak kan word, is dat daar van voorsangers gebruik gemaak is.   
Mev. Kriel: 1881-1887 (sonder betaling die harmonium bespeel)
Mnr. Vos: 1887-1889 (bespeel die musiekinstrument vir 2 jaar gratis)
Mev. HO Stiglingh: 1889-1899 (bespeel die orrel gratis)
Mnr. Burnett
Mnr. Anderson 
Mnr. A Ellis (Hy skenk die eerste bedrag van R20 op die waarborglys vir 'n nuwe orrel en hierdie gebaar spoor heelwat van die kerkraadslede aan om ook dieselfde te doen.    
Mej. Annie Maritz (Slabbert): 1916-1922
Mev. Ricca Vercueil (Van Reenen): 1922- Junie 1929
Mejj. A Holloway en Lombaard, mevv. K Reddie en Joubert: Julie 1929-1931 (tydelik) 
Mnr. Ras: 1931-1934 
Mej. L Collard: Junie 1934-Mei 1945 
Mev. Remerta van der Westhuizen kon die orrelispos eers aan die einde van April 1947 aanvaar weens siekte. Gedurende 1946 het die volgende 4 dames tydelik ingestaan:
Mejj. Lorna Bothma en Lena Anema en mevv. Van der Merwe en Van Rensburg 
Mev. AR van der Westhuizen: April 1947-Februarie 1979
Mev. R Brand: 1979
Mnr. GA de Ronde: 1979-1982
Mnr. D du Toit: 1983-1984 en 1986-1989
Mnr. TL Holmgreen: 1984-1985
Mev. B Cohen: 1985-1986
Mev. MP Coreejes: 1990-1996
Mnr. T Blignault: 1996-2020
Mev. B le Roux: 2020-huidig 

[Klik HIER vir nog inligting, en HIER vir die geskiedenis van Dutoitspan se orrel]

Friday, 9 August 2024

Terugblik: 1975 - Dutoitspan se maandkaarte


GOD IS WERKSAAM
In die begin was God - so het u in verlede maand se maandkaart gelees. God was in die begin werksaam. Daaroor sou ons meer sê, so het ons belowe.

God het 'n plan met hierdie wêreld. 'n Heilsplan. Hy gaan volgens 'n plan te werk en bring elke klein besonderheid van sy plan ten uitvoer.

As ons 'n huis wil bou, teken ons 'n plan daarvan en laat die besonderhede skriftelik opstel sodat die bou-aannemer haarfyn kan weet hoe om die werk uit te voer.

So is dit nie met God nie. Niks hoef  Hom aan sy voorneme te herinner nie. God het van alle ewigheid af 'n bepaalde doelwit met alles wat Hy onderneem. Alles het 'n bestemming. Omdat God ewig is, was daar nie 'n bepaalde oomblik dat Hy met sy werk begin het nie. Sy groot gedagtes het nooit 'n begin gehad nie. Hulle was eenvoudig daar, volmaak soos Hy (Ps. 33:11).

God was werksaam gedurende ses skeppingsdae. Op die sewende dag het Hy gerus. Op hierdie dag was God egter nie ledig nie. Hy waak deur sy voorsieningheid ten alle tye oor sy handewerk, besonder oor die mooiste wat Hy gemaak het, die mens. Ons werk op die Sondag is om met toegespitste toewyding vir ons onsterflike siele te sorg.

God is deur sy Gees steeds werksaam in ons lewens om ons te vorm na sy beeld. Om ons gereed te maak vir die wederkoms van sy Seun. Wat 'n voorreg om soos Hy in toewyding aan God werksaam te wees.
MAART 1975 

[Skrywer: Ds. HC de Wet, predikant in Dutoitspan vanaf 1974-1985]

Friday, 19 July 2024

Terugblik: Die Dorstfontein - Maandblad van die NG Gemeente Dutoitspan


Die Dorstfontein was Dutoitspan se maandblad wat elke maand deur die diakens by hul onderskeie wyke uitgedeel is, as hulle die gemeentelede besoek het om hul maandelikse bydrae in te samel. Die A5-boekie se buiteblad was gewoonlik gekleurd (baie keer pienk) met wit blaaie in die middel wat deur van die kerkraadslede en oom Ross-hulle gevou is en dan vasgekram is, voordat dit afgetel en in die onderskeie poshokkies gesit is. Deel van die inhoud van die boekie was o.a. 'n boodskap, verslae van die voorsitters van die verenigings en al die aktiwiteite wat daardie maand plaasgevind het, asook wat voorlê. Hierdie maandblaadjie het gedurende die laat 1960's en vroeë 1970's verskyn.  

(Letsie Joubert het die inhoud op wasvelle getik, wat Schalk Pienaar op 'n Vrydagmiddag afgerol het en wat die kerkraad op 'n Sondagaand gevou het. Oom Ross het dit Maandagoggend afgetel en in die diakens se poshokkies gesit.)  

Waar kom die naam Die Dorstfontein vandaan? 

In die ou geskiedenisboeke verwys hulle o.a. na Dutoitspan en Dorstfontein. (History of South Africa since 1795 deur GM Theal).

In kort: Nadat daar besondere ryk vondste op die plaas Dorstfontein van 'n ene Van Wyk ontdek is en wel op die gedeelte bekend as Dutoitspan, het 'n groep delwers hulle na Dutoitspan gehaas. Daar aangekom, het hulle etlike boere, vriende van die plaaseienaar, Van Wyk, reeds aan die delf gevind. Eers wou Van Wyk hulle nie toelaat nie, maar toe hul nie die plek wil ontruim nie, was hy later genoodsaak om tot 'n vergelyk met hulle te kom, en so is die dry diggings by Dorstfontein geopen.   

Die geskiedenis van die plaas Dorstfontein kan teruggevoer word tot 1860. Op 22 November van daardie jaar is dit deur die owerheid van die Oranje-Vrystaat toegeken aan  AP du Toit - die man aan wie Dutoitspan waarskynlik sy naam te danke het. 'n Jaar of wat daarna het Du Toit dit verkoop aan CDC Geyer, wat op 12 Mei 1862 die geregistreerde eienaar geword het. Oplaas het Geyer dit weer aan AJ van Wyk verkoop, in wie se naam Dorstfontein op 6 Januarie 1869  geregistreer is. Van Wyk self het hierdie historiese diamantplaas op 24 April 1871 aan London Exploration Company verkoop. (Griqualand West Land Court p.134)

Dorstfontein het natuurlik binne die Oranje-Vrystaat geval en wel in die distrik Jacobsdal. Streng genome het Dutoitspan onder die gemeente Boshof en die aangrensende Bultfontein onder die van Jacobsdal geval. (Acta Synodi OVS. p.120) 

Ten einde die snel-groeiende delwersbevolking van Pniel, Dorstfontein en omstreke onder behoorlike burgerlike bestuur te plaas, het die owerheid van die OVS op 22 Februarie 1871 die sendingstasie Pniel afgesny van die distrik Jacobsdal en tot 'n afsonderlike distrik geproklameer, waartoe ook die delwerye van Dutoitspan, Bultfontein en die latere Vooruitsigt (Kimberley) behoort het. Gevolglik het die landdros Truter van Pniel verskuif na Dutoitspan, waar nou ook 'n poskantoor en polisiestasie geopen is.

So is Dutoitspan, tot sover haas onbekend, ineens op die kaart van Suid-Afrika, ja van die beskaafde wêreld, geplaas.

Mej. Liz van Wyk (of tannie Lizzie, soos sy algemeen bekend gestaan het) was die broerskind van AJ van Wyk - die eienaar van Dorstfontein. 'n Baie aktiewe en geliefde gemeentelid wat orals betrokke was. Sy was 'n Sondagskoolonderwyseres van 1919-1969. 

Tydens die eeufeesviering 1972 van die gemeente was sy nog gesond en aan die gang. Die vroegste foto's van haar in die eeufeesboek is in ds. WFP Marais (1896-1912) se tyd geneem waar die Sondagskool 'n piekniek op Alexanderfontein gaan hou het. 

[Bron: Die NG Kerk Dutoitspan-gemeente Beaconsfield - Kimberley 1872-1972: HG Gouws, redakteur]
                   
Heerlike en interessante inligting beskikbaar by Kimberley City Info HIER en ook Today in Kimberley's History HIER.

Friday, 5 July 2024

Terugblik: Die beginjare van Ons Huis - die tehuis vir bejaardes

Die eerste gebou wat as ouetehuis
(Ons Huis) gebruik is. Hierdie gebou was
regoor die kerk waar die meenthuise tans is.
Voor dit as ouetehuis gebruik is, was dit
'n losieshuis. 
Volgens 'n NG Kerk-ringverslag van Hopetown (1904 - 1905) is daar goedkeuring verleen deur die NG Kerk aan die gedagte wat toe reeds ontstaan het, naamlik dat daar 'n Afrikaanse Christelike Vrouevereniging gestig mag word.

Die doelstelling van so 'n vereniging sou spesifiek wees om nood te lenig en lyding te versag - toestande wat ná die Eerste Wêreldoorlog hoogty gevier het.

Met hierdie edele doel voor oë is die ACVV-tak in Beaconsfield gestig met mev. N Powell as presidente. Die tak alhier het in der waarheid deur die jare veel gedoen om in die nood van behoeftiges te voorsien. Besoeke aan siekes tuis waarheen ook voedsel geneem en barmhartigheidsdienste verrig is, sowel as besoeke aan siekes in die hospitaal, het 'n gereelde instelling geword.

Dienste wat op 'n stadium deur die Departemente Volkswelsyn en Pensioene, Kindersorg en so meer verrig word, was in die vroeë jare die selfopgelegde taak van die ACVV. Finansiële steun soos liefdadigheidsinstansies dit deesdae ondervind, was daar glad nie. Slegs die ywer en liefde vir die saak was vir die klein getal lede waarmee die vereniging gestig was, genoeg aansporing om groot struikelblokke uit die weg te ruim.

Namate die werkkring wyer geword het, het ook die nood van eensame en siek bejaardes na vore gekom - soveel so dat die lede die behoefte aan 'n tehuis vir bejaardes sterk aangevoel het.

Nieteenstaande groot probleme waarvan finansies die vernaamste was, kon daar in 1943 oorgegaan word tot die ingebruikneming van 'n gebou wat sou dien as 'n tehuis vir bejaardes. Hierdie gebou was geleë op die hoek van Rosestraat en Dyerplek en het die mooi naam van "Ons Huis" gekry.

'n Bestuur van Beheer waarin die NG Gemeente Dutoitspan al die jare verteenwoordiging het, is in die lewe geroep met die doel om "Ons Huis" se sake te behartig en alle verantwoordelikheid in verband met die tehuis te dra.

Ons bring hulde aan die vroue wie se name hieronder verskyn. Hulle was die presidentes van die tak, van stigting tot en met 1972. Hulle is: mevv. M Powell, H van Reenen, LA Hough, F Rousseau, D de Waal, E Hugo en J Badenhorst.

In 1957 kon die bejaardes vanuit die ou gebou geneem word na 'n nuwe een, nl. die bestaande "Ons Huis" in Ariadnelaan. Volgens inligting was hierdie tehuis die heel eerste van sy soort wat deur bemiddeling van die ACVV tot stand gekom het met die finansiële steun van Departement Volkswelsyn en Pensioene. Daar was tóé 30 inwoners, maar die waglys het steeds gegroei, sodat daar vroeg in die sestigerjare alweer vertoë gerig moes word om verdere uitbreidings. Só dringend was die behoefte dat dit selfs deur die betrokke staatsdepartemente onderskryf is en in 1966 is die uitbreidings voltooi, sodat daar 48 inwoners gehuisves kon word.

Uitbreidings vir 'n aparte vleuel vir verswakte bejaardes, is goedgekeur. Hier word inwoners op 'n doeltreffende wyse versorg.

Langs hierdie weg bring die bestuur van "Ons Huis" innige dank en waardering aan die verskillende NG Gemeentes in Kimberley en ander donateurs in die stad deur wie se finansiële steun die tehuis se laste ligter gemaak word.

(Inligting uit Eeufees-album van die NG Gemeente Dutoitspan 1972: geskryf deur mev. MJE Abel)

Klik HIER om die storie oor matrone Joey Serfontein se resepteboek te lees. Resepte wat in die kombuis van die ouetehuis gemaak is in haar eie handskrif. Klik HIER om die koeksisterresep in haar eie handskrif te lees. Die kunsbotter waarna daar in die resep verwys word, is margarine. 

Die ouetehuis het ook op daardie stadium 'n hond gehad met die naam van Robbie. Robbie is tot in die afgrond bederf deur die inwoners en het homself nie as 'n hond beskou nie. ('n Foto van Robbie op Ons Huis se blog.)
 
Klik HIER vir foto's van matrone Johanna (Joey) Serfontein, een van die eerste matrones van Ons Huis! Daar is 'n foto waar sy met ruikers blomme in die eerste tehuis vir bejaardes staan, dié een op die hoek van Rosestraat en Dyerplek. Die datum agterop die foto is 18 Desember 1947.