Showing posts with label Efesiërs. Show all posts
Showing posts with label Efesiërs. Show all posts

Tuesday, 30 June 2026

Mandjie Hoop: Efesiers 2:10

Die LEWE is jou VERFDOEK
GELOOF jou KWAS
GOD se WOORD
Jou INSPIRASIE
en JY is GOD se 
MEESTERSTUK

Tuesday, 2 June 2026

'n Gesin is 'n gemeente in die kleine

Wat is die Here se doel met die huisgesin? 

Hoekom het Hy oorspronklik die huwelik ingestel? En hoekom sê Hy so pertinent in Deuternomium 6 dat die huislike lewe godsdienstig moet wees; dat die ouers sy woorde in hulle hart én op hulle hand moet dra, sodat almal dit kan sien; en dat hulle soggens en saans dit by hulle kinders moet inskerp.

God ag die gesonde gesinslewe só belangrik dat Hy dit in die Tien Gebooie opneem, en dit nogal as die eerste gebod van die tweede tafel. En daarby met 'n uitdruklike belofte: "Eer jou vader en jou moeder sodat jou dae verleng mag word in die land wat die Here jou God aan jou gee."

In Efesiërs 6 bevestig Paulus: Kinders, wat hulle ouers eer, met hulle gaan dit goed.

Daarby word die ouers gevra: "Ouers, moenie julle kinders so behandel dat hulle opstandig word nie, maar maak hulle groot met tug en vermaning soos die Here wil."

Dikwels hoor 'n mens ouers sê dat hulle swaar groot geword het en dat hulle dit vir hulle kinders makliker wil maak. 
* Daarom werk hulle hard - 
* hulle werk oortyd,
* hulle werk tot Sondae toe. 

Hulle gee vir hulle kinders feitlik alles in oorvloed - maar dan kry hulle dikwels die ellende dat daardie kinders nie kan waardeer wat hulle kry nie.

Dit is natuurlik niks nuuts dat kinders opstandig is nie. Die eerste ouerpaar in die wêreld se kinders was opstandig: Kaïn teen Abel. Hierdie opstandigheid was maar net 'n voortvloeisel van die ouers se eie opstandigheid teen God.

As daar van gesinsprobleme gepraat word, word daar gepraat van dinge wat so oud is as die mensdom self.

Daarom staan die gebod so pertinent eerste op die tweede tafel: omdat ellende deur gesinskrisisse die wêreld binnegekom het en verder vergroot het. Dit is ook daarom dat hierdie gebod uitgelig word met beloftes, dat as ons dit reg uitleef, as kinders en as ouers, dat die Here sy seën sal gebied.

Stabiele gemeenskap

Saam met die gebod van eerbied vir jou ouers, gaan gepaard 'n erkenning van die waarde van die gesag wat oor jou gestel is. As kinders geleer het om owerhede te eerbiedig, en daarin hulle sekuriteit te kry, bevorder hulle 'n stabiele gemeenskap in die samelewing en hulle verkry 'n bestendige owerheid wat met 'n vaste hand regeer.

Die ouer-kind-verhouding is baie belangrik, maar dit vloei voort uit die heel belangrikste aardse verhouding - dié tussen man en vrou. Die huwelik is die kleinste sel in die samelewing en van hieruit groei die ander verhoudinge,

Agter die huwelik en agter die gesin, staan God self as ons hemelse Vader.

Hy weet wat vir sy kinders die beste is, daarom gee Hy hierdie gebod. Daarom moet ouers so leef dat kinders hulle kan eer; en kinders moet so leef dat 'n volgende geslag gelowiges gebou kan word.

Ouer en kind is deur God sy eiendom gemaak. Hulle is saam betrokke in 'n nuwe gemeenskap. Waar ouers en kinders ook al bymekaar kom - soggens, saans, op pad of tydens vakansie - waar hulle saam Bybel lees en bid - daar is die gesin 'n gemeente in die kleine: 'n huisgemeente.

En meer as dit: die gesin is 'n klein heelal. Gesinslede gee 'n geluk aan mekaar wat andersins net nooit moontlik sou wees nie.

Daarom, al ken ons mekaar, al ken ons mekaar se swakhede en probleme, moet dit ons nie daarvan weerhou om saam die Here se aangesig te soek nie. Inteendeel: juis omdat ons bewus is van ons tekortkominge en afvalligheid, moet ons saam die Here se hulp vra vir dié huiskring waarin Hy ons geplaas het.

As kinders agterkom dat ouers met God praat, dan is die saak halfpad gewonne.

Dan sal ouers weet dat kinders hulle gesag makliker aanvaar, want kinders sal weet: God regeer ons deur ons ouers.

Wanneer 'n mens jou plek in die huisgesin vind: pa, ma, broer, suster, ouer kinders, jonger kinders, dan leer ken huisgenote ook hulle plek daar buite in ander samelewingsverbande.

'n Kind wat tuis is in sy ouerhuis, leer om tuis te wees ook in die samelewing waarin God hom geplaas het. Hy leer om eendag sy eie huis ook in te rig volgens hierdie reël en volgens die eise wat dán op hom wag. Want: hy het geleer om iemand lief te hê wat vir hom lief is; om agting te hê vir 'n ander mens; om tegemoetkomend te wees teenoor die swakkere; om hom te handhaaf teen 'n veeleisende.

Miskien is daar mense wat bedenkinge het, wat sê: my vader en moeder is nou nie juis so dat ek hulle kán eer nie. Dan geld hierdie Bybelwoord nóg. Daar is geen uitsondering nie. Eer jou vader en jou moeder.

Dié dubbele feit staan soos 'n paal bo water: jy sou sélf nie daar gewees het as jou ouers nie daar was nie; én: as God dit nie gewil het dat jy sal leef - en sou leef as kind van daardie spesifieke twee mense nie. Wie ook al jou ouers mag wees: God verwag dat jy hulle sal eer - dat jy hulle sal ag as mense deur Hóm oor jou gestel.

Dit is so dat kinders nie hulle eie ouers gekies het nie. Maar dit is ook so dat ouers nie hulle kinders kon kies nie. God in sy vrymag en almag het ons bymekaar gebring. Daarom moet 'n goeie verhouding tussen ouers en kinders ontwikkel en ontgin word. 

Wanneer ons die beste vir mekaar soek, sal ons ervaar dat ons iets prakties doen om mekaar se lewens te verryk. Want wat help dit om buite hoë ideale na te jaag, maar jy was nie in staat om in jou eie huis 'n sukses te maak van dit wat jy moes gedoen het nie.
 
Wanneer 'n mens aan die Here gehoorsaam is, raak die lewe vir jou vol, én ook betekenisvol.

Wanneer 'n mens die lewe leer ken het as betekenisvol, dan wil jy die goeie vevorder in elke lewensverband. Dan sal daar nie besware wees dat ons in onchristelike strukture lewe nie.

Dan sal ek ook die moed van my oortuiging hê om vir andere te vra: Soek jý eers die koninkryk van God en sy geregtigheid - of soek jy eie-belang, al is dit langs die weg van ongeregtigheid?

Met mense wat die goeie wil, sal ons hande vat. Vir die ander sal ons bid.

[Dr. Attie van der Colf - Spore]

Sunday, 24 May 2026

Mossiestilte: Efesiërs 4:6-7

Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.
En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.

Die Heilige Gees wil vandag vir jou rustigheid en vrede gee.
Die Here ken jou omstandighede en weet wat vir jou wag deur die dag.
Hy is klaar gerat vir al jou probleme en sal jou die wysheid gee om jou situasie op te som en op te los.
Bid en smeek jou begeertes af by God en die vrede, wat alle verstand te bowe gaan, sal jou gedagtes en verstand gevange neem in sy almagtige en liefdevolle hand en jou hart sal van dankbaarheid getuig.
Hy sal jou hart bewaar en alle vrees met sy vrede vervang en bewaar.
Al jou woorde en sinne, is verbloem vir die regte tyd om gespreek te word en vir jou oorwinning te bring.

Dankie Here, vir die rus deur die donker nag wat U vir my gegee het. Dankie dat ek verfris en versterk kan opstaan en weet, U het reeds my pad vir die dag vooruit geloop en u engele beveel om die klippe uit my pad te rol. Ek bely dat U die begin en voleinder van my geloof is en my hart bewaar van die bose. Ek het die vrede van God in my. Ek het sy krag, sy mag en sy geregtigheid; ek is voorbereid vir vandag, met 'n hart wat van dankbaarheid oorloop. Amen.

Thursday, 7 May 2026

Ek glo - Efesiërs 1:19

"en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag." 

"Ons wat glo"  ... Watter groot genade lê opgesluit in hierdie woorde. Weet ons elke dag hoe gelukkig ons is om deel te wees van die skare wat mag sê: "Ons glo."

Ek glo aan 'n Almagtige God aan wie hemel en aarde behoort.
Ek glo aan 'n regverdige Heerser wat reg en geregtigheid laat geskied.
Ek glo aan 'n alomteenwoordige Drie-eenheid wat tyd en plek oorbrug.
Ek glo aan 'n dierbare Vader wat die wêreld so liefgehad het, dat hy sy enigste Seun gestuur het.
Ek glo dat Jesus Christus vir my sondes aan die kruis gesterf het.

Dankie, Grote God, dat ek my naam bokant die kruis mag skryf.

[Ds. Nico van Wyk - Dorstfontein: NG Gemeente Dutoitspan Maandblad Julie 1986 ]

Thursday, 26 February 2026

Dink hieroor: God se oneindige liefde

Redding is 'n gawe van God se oneindige liefde. Die hemel is net ons s'n weens sy genadegawes. 

Menslike trots het geen plek in hierdie verlossingswerk nie. Ons nuwe lewe in Christus is God se kreatiewe meesterstuk. Hy het 'n pad van goeie werke voorberei vir ons en Hy sal daardie goeie werke in ons lewens laat gebeur soos ons deur die geloof wandel. 

Dit is die Christelike lewe: Want deur genade is julle gered, deur die geloof - en dit is nie uit julleself nie, dit is die gawe van God - nie deur werke nie, sodat niemand kan roem nie. Want ons is God se handewerk, wat in Christus Jesus geskep is om goeie werke te doen, wat God vooraf voorberei het vir ons om te doen. (Efesiërs 2: 8-10, NIV)

Elke goeie en volmaakte gawe is van bo af, afkomstig van die Vader van die hemelse ligte, wat nie verander soos verskuiwende skaduwees nie. Hy het gekies om ons geboorte te gee deur die woord van waarheid, sodat ons 'n soort eersteling kan wees van alles wat hy geskep het. (Jakobus 1: 17-18, NIV)

Sunday, 14 December 2025

Mossiestilte: Ef. 2:21-22

in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot 'n heilige tempel in die Here, 
in wie julle ook saamgebou word tot 'n woning van God in die Gees. 

Jy en almal wat kinders van God is, is deel van die liggaam of gebou waarin God woon.
Jou liggaam is 'n tempel van God, maar ook deel van die heilige tempel van die Here.
Die hoeksteen van hierdie gebou is Christus, die hoeksteen wat deur die bouers verwerp is.
So is jy dan nie meer 'n vreemdeling of bywoner nie, maar medeburger van die heiliges en huisgenote van God (vers 19).

Dankie Here, want nou in Christus het ek wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus (vers 13). U is my vrede, U wat die skeidsmuur afgebreek het het en my nou een gemaak met hulle wat na aan U was (vers 13). U het die vyandskap tot niet gemaak, naamlik die die wet van gebooie wat in insettinge bestaan; U het die vrede gebring en my 'n nuwe mens gemaak (vers 15). U het die evangelie gebring aan hulle wat ver was en die wat naby was; want deur Hom het ons albei die toegang deur een Gees tot die Vader (verse 17 en 18). Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Wednesday, 1 October 2025

Mossiestilte: Ef. 6:13 & 18a

Daarom neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het staande kan bly.
... terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees,

[Gaan lees self weer die gedeelte tussen die 2 verse oor die uitleg van die wapenrusting.] 

Die feit is dat ons die wapenrusting moet aantrek en daarby moet bid en by God moet smeek in die Gees by elke geleentheid.
Die gebed is een van sterkste wapens wat ons kan hê. Die Gees versterk en verbeter ook elke deel van die wapenrusting.
Ons moet ook vir mekaar bid en veral vir ons predikers (herders). 
Die Satan se aanvalle word al hoe meer, veller en sterker.

Here my God, aan U bring ek vanoggend die lof en die aanbidding. Ek sal my mond oopmaak, om met vrymoedigheid die verborgenheid van die evangelie bekend te maak. Ek bid dat U elke mens sal toerus met die volle wapenrusting, sodat al U kinders staande kan bly op die dag van onheil, in Jesus se Naam. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Sunday, 10 November 2024

Mossiestilte: Ef. 4:32 en 29

Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het ... maar net 'n woord tot stigting, sodat dit genade kan gee aan die wat dit hoor.

Bemoedig mekaar. Vergewe iemand wat teenoor jou fouteer en sondig, en gaan aan met jou lewe. Jy het al baie erger dinge as dit teenoor God gedoen, of dink jy dalk dat jou goeie werke jou sondes kan uitkanselleer?

God was jou genadig en het jou geregtigheid gegee wat jy nie verdien nie; en wat jou verdiende loon was, het Hy jou nie gegee nie (die dood); ons is vergewe en vrygespreek. Vergewe veral jou naaste en familie, is dit nie juis tog, wat jou vader en moeder van al hulle kinders wil sien nie, en jy, van jou kinders, dat almal in vrede met mekaar sal lewe. Wees aan mekaar onderdanig in die vrees van God. (hfst. 5:21)

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Sunday, 4 August 2024

Mossiestilte: Efesiërs 6:10

Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte.

Hoe swakker jy is, hoe sterker is God. God is altyd kragtig, of jy 'n verhouding met Hom het of nie, Hy bly Almagtig. Plaas jou geloof in sy krag; begin elke dag in sy Naam. God maak jou sterk vir die stryd elke dag.

My Vader wat in die hemele is, ek bid U, om my geloof sterk te maak in U. Ek glo in U, en in die krag van u sterkte. Ek staan daagliks voor soveel uitdagings en moet op u krag en genade staat maak. Ek weet ek is gered en gereinig deur u bloed en U alleen is my heil en sterkte. Ek wil vandag u lof besing en aan U al die eer en heerlikheid bring in Jesus Naam. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]