Showing posts with label Dutoitspan Laerskool. Show all posts
Showing posts with label Dutoitspan Laerskool. Show all posts

Saturday, 26 February 2022

150 genadejare: Mnr. HG Gouws - 1972 se eeufeesbladredakteur


Mnr. Gouws was sedert 1929 lidmaat van die gemeente Dutoitspan. Hy het John Lubbe opgevolg as kassier en het hierdie posisie beklee van 1940 tot 1957. Hy dien terselfdertyd in talle kommissies van die kerkraad, verteenwoordig die gemeente tydens ringsittings en is 'n afgevaardigde na die Kaapse sinodes van 1965 en 1969 en die twee algemene sinodes van 1966 en 1970. Hy was ook lid van die skoolraad van Kimberley.

In 1929 begin hy sy onderwysloopbaan by die Laerskool Dutoitspan in Kimberley en vanaf 1939 tot en met sy aftrede in 1964 was hy die skoolhoof. 'n Onderwysman wat bekend was vir die ywer, takt, ewewigtigheid, deeglikheid en pligsgetrouheid waarmee hy sy taak volvoer het. 'n Eerbare en betroubare man, met 'n gematigde persoonlikheid.

Mnr. HG Gouws was die redakteur van die NG Gemeente Dutoitspan se eeufeesblad in

1972. Hy moes geweldig navorsing vir die blad doen en het notules, koerantberigte, Kerkbodes, verslae, ens. deurgewerk. Hy het die vorige predikante gekontak en met baie van die ouer gardes onderhoude gevoer, soos bv. Tannie Lizzie van Wyk, broerskind van die eienaar van die plaas waarop Dutoitspan-gemeente is, was in 1972 reeds 53 jaar in die gemeente. Sy het die voorreg gehad om op 'n betreklike hoë ouderdom deel te wees van die kerk se 100-jarige feesvieringe. Mnr. Gouws het ook die McGregor-museum besoek waar mev. H Geldenhuys, die gidslektrise van groot hulp was. Hy het dae in die argiewe van Kaapstad deurgebring - feite opgediep en gekruiskontroleer, deur al die stof gewerk en nagte geskryf aan 'n kosbare eindproduk, wat sommer die geskiedenis van Kimberley insluit.

In die wandel het almal hom oom Gouwsie genoem, 'n geliefde, beminde en gewaardeerde persoon.

Tuesday, 11 August 2020

Feesalbum 1872-1972

Kyk net op hoeveel webwerwe is hierdie album beskikbaar en interessant hoe verskil die prys. Daar is selfs 'n getekende een deur die skrywer, oom Gousie, soos hy in die wandel bekend was. Die getekende weergawe kos $85.50, terwyl die duurste een $110.00 kos.

Die geskiedenis van Kimberley en die geskiedenis van Dutoitspan loop hand aan hand en hierin lê die waarde van die boek. Mense wat lief is vir geskiedenis en belangstel in die boek, kan nog eksemplare by die kerkkantoor kry. (in Rande en nie in dollars nie!)

Mnr. Gouws was vanaf 1929 lidmaat van die gemeente Dutoitspan en van 1940 tot 1957 was hy die kassier. Hy het terselfdertyd op verskillende kommissies van die kerkraad gedien. Lees verder van die veelsydige man HIER.

[Klik op elke prent om die detail beter te sien.]


"Aan ons broer en suster, Gert en Lucy,
met ons allerbeste wense. Hendrik en Marie"
25 April 1972




Saturday, 22 December 2018

Ma Snyman en ds. Raats ...

'n Baie bekende figuur, nie net binne ons gemeentegrense nie, maar ook in Kimberley, was Ma Snyman. Sy het in Dixonplek gebly. Ek glo nie iemand het ooit haar regte naam geken nie. Vir oud en jonk, was sy net Ma Snyman. Sy was 'n onderwyseres by Dutoitspan Laerskool, in die tyd toe oom Gouwsie (mnr. HG Gouws) die skoolhoof was.

In daardie jare, 1950's, 1960's en 1970's het kinders nog gevoel as hulle nie in hulle spoor getrap het nie. Sy was 'n besondere streng vrou, maar met 'n goeie skoot humorsin. Indien een van die leerders in haar klas straf moes kry, het sy hom met 'n briefie na die skoolhoof gestuur met die volgende woorde: "Salig is hy wat arm van gees is ..." En dan moes die skoolhoof maar na goeddunke die straf uitdeel.

En terwyl ons in Dixonstraat is, gaan maak ons 'n vinnige draai by die huis van mnr. en mev. Raats. Hulle het nie ver van Ma Snyman af gebly nie. Hulle seun het vir predikant gaan leer. 'n Groot en indrukwekkende man wat bekend was daarvoor dat hy nie van wanorde in die kerk gehou het nie.

Ds. AD Raats
Voordat die diens begin, het hy vir die kinders gesê dat almal wat wil draaie loop, dit dadelik moet doen, want hy wil nie kinders hê wat tydens die diens rondloop nie. Indien daar wel een of ander dapper of ongehoorsame kind was, het hy stilgebly, en die kind met sy oë tot by die deur gevolg en as die kind terugkom, dieselfde hantering. Ouers het dus gesorg dat hulle kinders stilsit, want die feit dat die hele gemeente se volle aandag op jou kind gevestig is, was vir baie 'n verleentheid.

Hy het direk met ouers wat hulle kinders ten doop gebring het, gepraat. Hy was nie 'n man wat doekies omgedraai het nie. Hy het die verantwoordelikheid wat ouers teenoor kinders het, direk vir hulle gesê, ook dat dit jou Christelike plig en roeping is om jou kind in die vrese van die Here groot te maak. Hy was lief daarvoor om vir die ouers te sê: "Hier is julle 'marching orders.'"

Hy het tydens die eeufeesvieringe van die kerk in 1972, hier gepreek. Dutoitspan het 'n besondere plek in sy hart gehad, aangesien hy 'n gemeenteseun was, wat self as predikant die Woord verkondig het.