Geskiedenis: eeufeesnavorser

Mnr. HG Gouws

Mnr. HG Gouws was die redakteur van die NG Gemeente Dutoitspan se feesblad.

Hy was 'n seun van Vosburg. Hy lê die Senior Sertifikaat-eksamen aan die Hoër Jongenskool in die Paarl af, behaal die Laer Sekondêre Onderwysdiploma aan die Universiteit van Stellenbosch en verwerf die BA-graad aan die Universiteit van Suid-Afrika.

In 1929 word hy aangestel by die Laerskool Dutoitspan in Kimberley en van 1939 tot sy aftrede in 1964 is hy die skoolhoof - 'n betrekking wat hy met ywer, takt en pligsgetrouheid vervul het.

In Desember 1933 het hy in die huwelik met mej. MM Aucamp van Kimberley getree. Uit die huwelik is twee kinders gebore: Johanna Alida (nou mev. Richter) en Andries Johannes.

Mnr. Gouws is sedert 1929 lidmaat van die gemeente Dutoitspan en van 1940 tot 1957 tree hy as kassier op, dien terselfdertyd in talle kommissies van die kerkraad, verteenwoordig die gemeente tydens ringsittings en is afgevaardigde na die Kaapse sinodes van 1965 en 1969 en die twee algemene sinodes van 1966 en 1970. Hy is tans lid van die skoolraad van Kimberley. In sy jonger jare het hy met onderskeiding aan rugby en veral tennis deelgeneem. Hy is ’n man uit een stuk, betroubaar en eerbaar - ’n man wat
nugter oor ’n saak dink en redeneer. Hy beskik oor ’n fyn humorsin en ’n egalige, opgewekte geaardheid.
As navorser, soos blyk uit die geweldige hoeveelheid stof wat hy vir die blad opgespoor, verwerk en gesistematiseer het, het hy min gelykes.

[Bron: NG Kerk Dutoitspan Eeufeesgedenkalbum 1872 - 1972]