Showing posts with label Stilte. Show all posts
Showing posts with label Stilte. Show all posts

Sunday, 4 October 2026

Mossiestilte: 2 Sam. 16:9

Maar die koning sê: Wat het ek met julle te doen seuns van Serúja? As hy vloek, en as die Here aan hom gesê het: Vloek Dawid! Wie mag dan vra: Waarom maak jy so?

Die satan versoek jou om te reageer op sy aanvalle; om sodoende jou aandag van die Here af te trek.
Maar wat as die Here die bose toelaat om jou te vloek, of aan te val soos vir Job? 
In beide gevalle is dit goed om eers stil te bly en te sien watter uitkomste die vloek het.
Dit mag meerendeels goeie gevolge vir jou hê. As dit Satan is, weerstaan hom en hy sal van jou wegvlug. Toon geen vrees en vertrou God, om die vloek om te draai of niks te kan uitrig.
As dit die Here is wat dit toelaat sal Hy sy soewereine krag tot stand laat kom. 
Hoe dit ook al sy: Daar sal van alles goeie dinge vir jou na vore gebring word, om jou tot voordeel te wees en God te verheerlik.

Dankie Here en God, vir u goedheid wat U oor my wil uitstort elke dag. Daagliks staan ek op deur u genade. Ek staan op u woord wat my beskerm van elke bose mag. Ek het klaar u geregtigheid. Ek het klaar u genade. U het vir my guns en krag en wysheid gegee om in oorwinning op te tree. My verwagting is van U. U sal my nooit alleen los nie en my nooit begewe nie. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Wednesday, 30 September 2026

Mossiestilte: Joh. 5:11

Hy antwoord hulle: Hy wat my gesond gemaak het, Hy het vir my gesê: Neem jou bed op en loop.

Die Here wil jou verlos van die aardse ding waarop jy vertrou het.
Hy wil jou vrymaak van dit wat jou in gevangeneskap gehou het.
Van vandag af moet jy die nuwe lewe wat Christus oor jou uitgespreek het, oor jou uitspreek in sy groot en Heilige Naam.
Jesus maak jou gesond, sodat jy heilig met Hom kan lewe en jou Godgegewe doel suksevol kan bereik

Almagtige Vader, ek bely dat Jesus my gesond gemaak het en vry van die sondelas wat 'n binding in my lewe was. Ek is nou vry in die Heilige Gees. Laat u Naam, Jesus, vir ewig verheerlik word. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Sunday, 27 September 2026

Mossiestilte: Ps. 93:14

Omdat hy my liefhet, sê God, daarom sal Ek hom red; Ek sal hom beskerm omdat hy my Naam ken.


God het jou eerste liefgehad. Met sy oorweldigende liefde het Hy jou gedra tot 'n liefdes verhouding met Jesus.
Die Here is jou Redder en sal niks ontsien om jou te help en te red van die bose nie.
Omdat jy sy Naam dra en Hom ken, wil Hy jou beskerm.

Dankie, Here, vir u genade en barmhartigheid, wat my liefde vir U laat groei. Dankie vir u redding daagliks. Ek ken u Naam, daarom is my verwagting van U; U guns en u goedheid sal my lei al die dae van my lewe, en ek sal in die huis van die Here bly in lengte van dae. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Wednesday, 23 September 2026

Mossiestilte: ‘n Bybel wat in jou hart gebêre is, is meer werd as ‘n dosyn in jou tas.

Die Bybel is: 
* die reisiger se padkaart, 
* die pelgrim se staf, 
* die loods se kompas, 
* die soldaat se swaard, 
* die Christen se landkaart, 

'n Myn van rykdom, 
'n Paradys van heerlikheid en
'n Rivier van genot. 
Met die Here se Woord as die Lig, kan ‘n mens selfs in die donker tye en plekke van die lewe met vreugde reis.
1Tim 4:13 
"Totdat Ek kom, moet jy aanhou met voorlesing, vermaning en lering."

Sunday, 20 September 2026

Mossiestilte: Ps. 128:1-2,4

1. Welgeluksalig is elkeen wat die Here vrees, wat in sy weë wandel!
2. Die opbrings van jou hande sal jy sekerlik eet; gelukkig is jy, en dit gaan met jou goed!
4. Kyk so sal sekerlik geseën word die man wat die Here vrees.

Jy wat die Here vrees, Hy wil jou seën vandag, selfs as jy gaan slaap, en sal jy wakker word met seën van die Here oor jou.
Jou huis sal geseënd wees, jou kinders sal geseënd wees.
Vrede sal oor jou huis die wag hou.
Dit sal goed gaan met jou en jy sal die vrug van jou hande eet.

Here, my Almagtige God, dankie vir die vrede oor my huis en my kinders. Dankie, Here, vir my vrou en die vrug van haar liggaam, wat 'n seën is vir ons en om ons tafel. Ek sal die voorspoed van Jerusalem aanskou, terwyl U my seën vanuit Sion. Dit gaan goed met my, want U het my uitverkies om in u guns te mag deel. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Wednesday, 16 September 2026

Mossiestilte: Ps. 92:15 - God Is Nog Nie Klaar Met Jou Nie

Oupa  Piet het elke oggend dieselfde bankie in die park besoek.
Dieselfde hoed. Dieselfde kierie. Dieselfde klaaglied.
“My rug,” sug hy.
“My knieë.”
“Die wêreld gaan agteruit.”
“En hierdie selfone maak almal dom.”

Een oggend gaan sit ’n jong seuntjie langs hom en vra: “Oom, hoe oud is Oom?”
“Tagtig,” antwoord Piet trots.
Die seuntjie kyk hom stip aan: “Dis snaaks.”
“Hoekom snaaks?”
“My ouma is drie-en-negentig ... maar sy lyk jonger as Oom.”
Piet frons. “Hoe nou?”
“Sy leer nog nuwe goed. Verlede week het sy begin bakklasse kyk op YouTube. Sy stuur nou voice notes met emoji’s. En sy sê sy wil nog Italiaans leer voor sy hemel toe gaan.”

Piet lag half ongemaklik: “Op haar ouderdom?”
Die seuntjie glimlag.
“Sy sê God het haar asem gegee vir vandag ... nie net vir gister nie.”

Daardie aand kon Piet nie slaap nie.
Hy dink aan hoeveel keer hy gesê het:
“Ek is te oud.”
“Dis nou te laat.”
“Laat die jongmense dit doen.”

Maar diep binne hom fluister iets anders:
Moses was tagtig toe God hom stuur.
Kaleb was vyf-en-tagtig toe hy nog berge wou klim.
Abraham en Sara het eers laat in hul lewe die wonderwerk gesien.

Die volgende oggend kom Piet weer park toe - maar hierdie keer met ’n klein notaboekie.

Die seuntjie vra verbaas: “Wat maak Oom?”
Piet glimlag breed.
“Ek leer Engels op Duolingo.”
“Regtig?”
“Ja… en môre leer jy my hoe werk hierdie emoji-goed.”
Die seuntjie bars uit van die lag.
Piet ook.
Vir die eerste keer in baie jare het die ou man nie jonger gevoel omdat sy liggaam verander het nie ... maar omdat sy gees weer begin leef het.

Bejaardheid is nie ’n syfer nie. Dis wanneer jy ophou glo dat God nog iets deur jou kan doen.

Boodskap
Bejaardheid begin nie wanneer hare grys word of jou liggaam stadiger raak nie.
Dit begin wanneer ...
* ’n mens ophou droom, 
* ophou leer en 
* ophou glo dat God jou nog kan gebruik.

Solank daar asem in jou longe is, het God nog ’n doel vir jou lewe.
* Jy is nooit te oud om te groei nie.
* Nooit te oud om te verander nie.
* Nooit te oud om iemand hoop te gee nie.

’n Jong gees bly oop vir nuwe dinge, nuwe genade en nuwe moontlikhede.

God werk nie net deur die jonges nie - Hy werk deur gewillige harte.

“Hulle dra nog vrugte in die ouderdom,
hulle is vet en groen.”
Psalm 92:15 AFR83

- geskryf deur God se planne is groter as joune ✍️

[Geïnspireer deur ware gebeure - dankie vir die aanstuur] 

Sunday, 13 September 2026

Mossiestilte: Joh. 19:39

En Nikodemus, wat die eerste maal in die nag na Jesus gegaan het, het ook gekom met 'n mengsel van mirre en allewee van omtrent honderd pond gewig.

Nikodemus is weer gebore nadat hy na Jesus geluister het (Joh. 3)
Die Here kom na jou vanoggend, selfs al het jy lank terug na Jesus geluister, en gee jou weer die versekering van sy belofte om jou sondes weg te neem, al het Hy gesterwe .
Nikodemus het verseker met baie groot vreugde en opgewondenheid daarna die opstanding van Jesus beleef.
Die Heilige Gees bevestig jou geloof en plaas daardie opgewondenheid ook in jou vandag ... die graf is leeg en Jesus sit aan die regterhand van God nadat Hy die Satan uitgeklee het.

Dankie, Here, ek is so bly, my beker loop oor. U het vir my gesterf en die dood oorwin. Ek sit nou in hemelse plekke saam met U; ek is nou mede-erfgenaam saam met U, Jesus, deur u genade wat my vrygemaak het. Ek fokus nou op U, Jesus en weet U is my Verlosser van my sondes. Ek is nou beklee met Christus. Die Heilige Gees bevestig my geloof. Amen.

[Aangestuur]

Wednesday, 9 September 2026

Mossiestilte: Psalm 23:4

Hoor hoe kosbaar gee die Woord ons die bevestiging dat Hy met ons is wie anders beter as Dawid kan dit beskryf ... Al gaan ek ook in 'n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.

Die ergste bekommernis wat 'n mens kan vrees is die dood, maar omstandighede in ons lewe bring ook vrese nader.

Maar hoe werk dit? Hoe skuil ’n mens by die Here? Dit is ’n geloofsdaad. Dit beteken om jou moeilike omstandighede in die Here se hande te laat en volkome op Hom te vertrou. En dan bewys jy jou vertroue deur te jubel en te juig. Ja, jy is bly omdat jy weet die Here sal voorsien. Sy goedheid sal jou soos ’n skild beskerm. Want die Here beskerm dié wat sy Naam liefhet en oor Hom juig.

O Here, my sterkte en my beskutting en my toevlug in die dag van benoudheid ...Want U het 'n toevlug vir my geword, 'n sterk toring teen die vyand "wat my bekommernisse is." Ek wil in u tent vertoef vir ewig, in die skuilplek van u vleuels my verberg. 

Here, laat húlle almal bly wees wat by U skuil; laat hulle vir ewig jubel, en beskut U hulle; en laat in U juig die wat u Naam liefhet. Want U seën die regverdige, o Here, U omring hom met welbehae soos met 'n skild. Amen.

[Aangestuur]

Sunday, 6 September 2026

Mossiestilte: Jesaja 26:1-6

Daar kom 'n dag wanneer hierdie lied in Juda gesing sal word: Ons het 'n sterk stad, God beskerm ons met mure, met 'n vesting. Maak oop die poorte dat die nasie wat gered is, kan ingaan, die nasie wat aan God gehoorsaam is en wat op Hom vertrou. Gee aan hulle vrede en voorspoed, Here, want hulle het hulle vertroue op U gestel. Vertrou altyd op die Here, want die Here God is 'n veilige toevlug. Hy bring dié wat in hoë vestings woon, af grond toe, Hy gooi hulle hoë stadsmure om, Hy maak dit gelyk met die grond en laat lê dit in die stof. Hulle sal onder die voete vertrap word, onder die voete van onderdruktes; die armes sal op hulle trap.

Die mens bly nie lank genoeg met een ding besig om iets wat die moeite werd is daaruit te put nie. Dit veroorsaak rusteloosheid, geestelike en verstandelike moegheid en verwarring. Hulle het geen innerlike vrede nie.

Innerlike vrede is die produk van ʼn toegewyde verhouding met God. Om jou doelwitte in die lewe te identifiseer en dit met oorgawe na te jaag, gee rigting en stabiliteit aan jou bestaan. Om ʼn lewensdoel te kies, is egter nie altyd maklik nie, maar daarsonder smaak jy nooit die vreugde van innerlike vrede en kalmte nie.

As jy jou oopstel vir die invloed van die Heilige Gees en Hom vra om jou lewensdoel te omlyn, sal Hy jou nie teleurstel nie. As jy opreg vir God vra vir ʼn lewensdoel waaraan jy jou tyd, krag en talente kan wy en jy gehoorsaam die pad wat Hy aandui, sal die vreugde van vervulling nie uitbly nie. Jou lewe sal vrugbaar wees. In al jou handelinge sal daar nuwe daadkrag kom. Jy sal vrede ken en rustig wees omdat jou lewe beheers word deur Sy Gees.

[Aangestuur]

Wednesday, 2 September 2026

Mossiestilte: Hooglied 2:11-12 - Lente 'n nuwe seisoen

"Want kyk, die winter is verby, die reëntyd is oor, dit het verbygegaan. Die bloeisels word gesien in die land, die sangtyd het aangebreek, en die tortelduif laat sy stem hoor in ons land."

• Septembermaand is lente en ons verklaar dat die winter verby is. Winter is een van daardie seisoene waarvan niemand hou nie.
• Net so het ons ook seisoene in ons lewe. Wintertye is gewoonlik die tyd wanneer dit nie goed gaan nie en jy voel alles is teen jou, maar dit is eintlik die belangrikste tyd.
• In hierdie tye moet jy vasstaan in jou vertroue in die Here. Die Here bou jou karakter en versterk jou geloof, want elke seisoen het 'n einde.
• Na die winter het ons lente - dan begin alles groei - die gras is weer groen na die eerste reën en plante en bome begin blom. Net so verander jou seisoen as jy vasstaan in jou geloof en die Here vertrou.

Here, dankie vir al die seisoene in my lewe waar my karakter gebou word en dit my geloof versterk. Lei my in die lenteseisoen van my lewe waar ek die vrugte pluk van die saad wat gesaai is. In Jesus naam. Amen.

Sunday, 30 August 2026

Mossiestilte

God en die mens ... die mens is skepsel van God. Die mens is ‘n nietige wese, maar o tog, soms só uitgesproke! Kom jy ook agter hoe ongelooflik uitdagend sommige mense met God raak? Ons as mens is aanhoudend besig om ons posisie teenoor God te probeer vind, en ons raak soms só aanmatigend. Aan die een kant is daar die ongelowiges wat blatant die Here belaster, Sy Godheid van die tafel probeer afvee, mense wat hulleself openlik as ateïste verklaar, en uiters roekeloos met die Here omgaan.

Toe besef Job waar sy plek is, en hy blaas die aftog. En waar los dit ons vandag?
  • Ek dink ons moet verstaan dat God die hele prentjie sien en weet waarmee Hy besig is.
  • God is ‘n soewereine God, en maak wat Hy die beste weet. Ons kan seker sê: Hy kan maak wat Hy wil, want Hy is God.
  • God se weë maak nie altyd vir ons sin nie. Hoe sal ons Sy bedoelinge verstaan, as ons nie eers die bedoelinge van ander MENSE verstaan nie.
  • God is ten volle in beheer, al dink ons nie so nie.
  • God is altyd betyds, al dink ons nie so nie. Sy tyd is nie ons tyd nie!
  • Hy is vir ons géén verduideliking verskuldig nie, al sukkel ons om Sy motiewe in ons lewe te posisioneer.
  • Die Here het altyd net die beste vir ons in gedagte, en Hy vorm ons deur vreemde situasies.
  • Hy is ons vriend, en meer werd as enige vriend op aarde. Ons kan met enige situasie na Hom toe gaan, Hom enige iets vra en alles vertel. Maar ... met eerbied en respek.
  • Sy eer kan nooit deur ‘n mens in gedrang gebring word nie. Al dink ons so. En ons kan nie Sy eer verdedig en beskerm nie, al wil ons. Hy is God.
  • Sy troonkamer is ‘n heilige plek, maar ons het vrye en volle toegang. Ons kan op Sy skoot gaan klouter, en teen Hom vas nestel. Maar steeds buig ons die knie as ons daar ingaan. Ons doen dit met vreugde. Die ongelowige sal ook ‘n draai daar gaan maak met die oordeel, maar vir hulle sal dit met trane en tande kners gepaard gaan.
Vrees, eerbied, ontsag, respek, liefde, koestering, warmte, eenheid, sagtheid  ... dis lekker by HOM.  

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)

Wednesday, 26 August 2026

Mossiestilte: Jesaja 41:10

Ek is by jou. Jy hoef nie bekommerd te wees nie. Ek is jou God. Jy hoef nie bang te wees nie. Ek sal jou help. Ek sal jou sterk maak. Ek sal jou met my krag beskerm.


Hierdie belofte is ook 'n opdrag. God het verklaar dat Hy ons met sy sorg sal omring wanneer angs toeslaan, maar Hy daag ons ook uit om ons volle vertroue in sy Woord te plaas. Vandag moet ons kies om te fokus op sy getrouheid en ophou om ons vrese te voed.

Vader, dankie dat U by my staan en my ondersteun wanneer ek bewe en bang is. Help my om in geloof vas te staan en te onthou dat U my ondersteun. Ek wil nee sê vir vrees en ja sê vir geloof. Amen.

[Aangestuur]

Sunday, 23 August 2026

Mossiestilte: Romeine 15:13

En mag die hoop vervul met alle blydskap en vrede deur julle geloof dat julle oorvloedig kan wees in hoop deur die krag van die Heilige Gees.

God herinner jou deur Paulus dat God volle krag en mag het om jou te vul, met sy vrede en blydskap deur die geloof. Wanneer iemand jou blydskap steel deur woede, venynigheid, diefstal, slegte vehoudinge ens. kan God altyd steeds jou blydskap hervul of aanvul, met die oorvloed na sy heerlikheid in Christus Jesus.
Jy hoef nooit sonder die vrug van die Heilige Gees te wees nie, want die Heilige Gees vul jou gedurig op.
Jou hoop sal nie beskaam nie.

Dankie, Here, vir u onuitputbare, oorvloedige bron van blydskap, van vreugde, liefde, lydsaamheid en selfbeheersing in die Here. Ek bid dit vanoggend vir jou in die Heilige Gees. Laat ons mekaar met liefde vermaan, om by Christus se voete te bly en te eet van die twee vissies en vyf broodjies, totdat daar nog twaalf mandjies krummels opgetel kan word na die tyd. Vestig jou fokus en hoop in geloof op Jesus, want daar is altyd nog, in oorvloed, aan God se bonatuurlike voorsiening. Amen. 

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Wednesday, 19 August 2026

Mossiestilte: Jesaja 41:13

"Ek is die Here jou God, Ek vat jou hand, Ek sê vir jou: Moenie bang wees nie, Ék help jou."

'n Wonderlike nuwe dag, Jesus is teenwoordig in hierdie dag. Hoor wat hy sê: "Ek self help jou dan."  Amen! Halleluja!! God is in beheer. Hierdie is 'n belofte vir jou in jou situasie. Glo dat God met jou is. Wandel met vertroue, moet nie bang wees nie, Hy sal jou help.

Alle dinge in die lewe is TYDELIK. Wanneer dit goed gaan, geniet dit. Dit gaan nie vir ewig aanhou nie. Wanneer dit SLEG gaan, moenie bekommerd wees nie, want dit sal ook nie vir ewig aanhou nie.

Keep on the sunny side
Always on the sunny side
Keep on the sunny side of life
It will help us every day
It will brighten all our way
If we keep on the Jesus side of life.


Dankie, Here, ek weet U neem ons hande en help met die uitdagings wat ons moet trotseer in hierdie tyd waarin ons lewe. Ons glo dat U met ons is elke dag, elke tree, wat ons gaan. U bewaar ons van die bose - ons sal nie bang wees nie.

Sunday, 16 August 2026

Mossiestilte: Job 29:2

Angstigheid neem nie môre se leed weg nie, maar wel die krag vir vandag.
[Charles Haddon Spurgeon (1834-1892)]

“Ag, was ek maar soos in die vorige maande, soos in die dae toe God my bewaar het”

As jy voel dat dit nie met jou is “soos in die vorige maande nie,” is dit nou tyd om tot die daad oor te gaan; moenie tevrede wees met 'n vrome wens om die vroeëre geluksaligheid weer terug te kry nie. Gaan nou onmiddellik en soek jou Meester op en bekla jou nood by Hom. Vra Hom vir sy genade en krag om jou te help om in nouer gemeenskap met Hom te kan leef; verootmoedig jouself voor Hom. Hy sál na jou luister, jou wéér oprig en jou die lig gee wat uit jou lewe verdwyn het. Moenie gaan sit en sug en kla nie. By die lewende Geneesheer is daar hoop, ja nog veel meer, die besliste sekerheid van genesing hoe erg jou geval ook al mag wees!

Wednesday, 12 August 2026

Mossiestilte: Romeine 8:1

DAAR is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.
ROMEINE 8:1 AFR53

Goeie nuus! God se oordeel is vir altyd verby vir elkeen wat aan Christus Jesus behoort. Omdat ons sy kinders is, is ons ook sy erfgename. Ons erf saam met Christus alles wat God beloof het. Terwyl ons op ons erfporsie wag, kry ons baie swaar hier op aarde. Ons ervaar dieselfde tipe swaarkry as wat Christus beleef het toe Hy nog op aarde was. Maar ons weet dat as ons nou saam met Hom ly, ons ook saam met Hom in sy heerlikheid in God se nuwe wêreld sal bly ...

Dankie Jesus U kom toe die eer en aanbidding tot in ewigheid amen!!

Sunday, 9 August 2026

Mossiestilte: Psalm 2:11+12b

Dien die Here met vrees, en juig met bewing
Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil.

Die Here het jou geskape vir sy genot en verheerliking. 
Dien die Here met vrees en juig met bewing.
Jy wat by Hom skuil is klaar geseënd.
God sal aan jou voorsien na die rykdom van sy heerlikheid in Jesus Christus.

Dankie, Vader, ek kom met bewing na U toe en ek weet ek sal rykdomme vanuit die hemel kry, wat ons nie eers aan kan dink nie. U bekerm my, U voorsien vir my, U gee my u guns vanuit u skathuis, U het my klaar genees, U het my vrygemaak van sonde. U is my kampioenvegter vir U saak. U Heilige Gees stuur my in u wysheid en insig, om u liefde uit te dra aan almal wat gebrek het, net soos wat U, u lewe vir my afgelê het. Baie dankie, my Heilige Vader, in Jesus Naam. Amen. 

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Wednesday, 5 August 2026

Mossiestilte: Johannes ‭6:35 - Jesus sê: Ek is ...

“En Jesus sê vir hulle: Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie.” 

Daar is so baie om van Jesus te leer in die woord. Die Here wil aan jou openbaar wie Hy is.

• In Joh 6:35,48 lees ons "Ek is die brood van die lewe"
• Joh 8:12 “Ek is die lig vir die wêreld”
• Joh 10:7,9 “Ek is die ingang vir die skape”
• Joh 10:11,14 “Ek is die goeie herder”
• Joh 11:25 “Ek is die opstanding en die lewe”
• Joh 14:6 “Ek is die weg en die waarheid en die lewe”

Geliefde weet dat Jesus homself aan jou wil openbaar, hy wil jou bystaan jou raad gee jou beskerm ens.

Here, dankie vir vandag se openbaring van wie U is. Here lei my deur U woord sodat ek meer van U kan leer. In Jesus naam. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Sunday, 2 August 2026

Mossiestilte: Woorde - Matteus 12:36-37

“Dit sê Ek vir julle: Van elke ligsinnige woord wat die mense sê, sal hulle rekenskap moet gee op die oordeelsdag. Op grond van jou eie woorde sal jy vrygespreek of veroordeel word.”

Woorde is klanke met bepaalde betekenis, en as ons die betekenis van die klanke verstaan, kan ons met mekaar praat.

Woorde gee uitdrukking aan 'n mens se gedagtes en gesindhede, en uit iemand se woorde kan naastenby afgelei word wie of wat hy in werklikheid is.

Woorde kan tot groot SEËN aangewend word, maar hulle kan ook uiters NADELIG wees. Dit hang daarvan af hoe hulle gebruik word. Woorde wat stig en bemoedig kan wonders verrig; maar woorde wat onverskillig of ligsinnig uitgespreek word, kan tot onaangenaamheid en ergernis lei.

Ons verhouding met die Here bepaal tot 'n groot mate die gehalte van ons woorde en die inhoud van ons gesprekke; deur ons woorde kom ons geestelike toestand maklik tot openbaring. Nie uit wat iemand voorgee om te wees nie, maar uit sy woorde, wanneer hy in geselskap van sy vriende is, sal 'n mens weet of hy 'n Christen is of 'n namaaksel is.

Woorde wat eenmaal uitgespreek is, verdwyn nie sommer in die niet om vir altyd verby en vergete te wees nie. Hulle aanslag en invloed duur voort, ten goede of ten kwade, selfs lank nadat die persoon wat hulle gebesig het, reeds van die toneel verdwyn het. 

Woorde kan NOOIT herroep of uitgewis word nie. Bowendien word daar in die Hemel rekord gehou van elke woord wat op aarde uitgespreek word.

Woorde is belangrik, daarom moet ons VERSIGTIG wees hoe ons hulle gebruik. Die Here sien ons woorde nog voordat hulle ons lippe verlaat. Daardie vuil grap mag miskien die lagspiere prikkel van diegene wat na ons luister; die ydellike gebruik van die Here se Naam mag dalk ons vriende beïndruk of ons ego stut; maar wanneer die Boeke in die Oordeelsdag oopgemaak word, sal ons woorde daar wees om vir of teen ons te getuig - en niemand sal kan ontken dat dit sy eie woorde is nie.   

Dit is slegs met die hulp van die Here en in Sy krag dat die versoeking om ons tonge in boosheid los te laat, oorwin kan word. As ons aan Hom behoort, sal Hy ons nie net die oorwinning gee nie, maar ons ook in staat stel om woorde te spreek wat Hom behaag en vir ons medemens tot nut en seën kan wees.

Dan hoef ons nie beskaamd te staan in die dag wanneer daar van ons rekenskap geëis word nie.

Wednesday, 29 July 2026

Mossiestilte: Gal. 3:26-27

Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus;
want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee.

Jesus Christus se bloed aan die kruis het jou skoon gewas van jou sonde. Jou geloof in Christus het jou gered. Die doop bevestig jou verhouding met God; 'n daad vanuit jou geloof in gehoorsaamheid aan God.
Christus het jou verander die ou dinge het verbygegaan, kyk dit het alles nuut geword; jy is nou met Christus beklee; jy is nou sy kind!

Dankie, Jesus, vir u redding aan die kruis vir my. Ek is nou beklee met Christus; ek is 'n nuwe mens; skoongewas deur die bloed van die Lam. Die doop bevestig dat ek met Christus een geword het; dat Christus vir my aan die kruis gesterf het en my in 'n nuwe lewe laat opstaan het. Ek het nou die Vader se kindskap deelagtig geword, deur die genade van Christus Jesus. Amen.