Showing posts with label Maans van Wyk. Show all posts
Showing posts with label Maans van Wyk. Show all posts

Tuesday, 7 October 2025

Elke nuwe begin kom van 'n ander begin se einde

Dit is nooit maklik om afskeid te neem nie, maar aftrede klop een of ander tyd aan elke mens se deur. Joe Frederics was só lank deel van Dutoitspan, dat hy al op die kerk se inventarislys was. 32 jaar is 'n leeftyd om by dieselfde plek te werk, veral deesdae. Hierdie werk was letterlik en figuurlik Joe se droomwerk.  
(Lees gerus HIER om meer uit te vind oor die droom.)

Joe moet ongelukkig weens gesondheidsredes vroeër aftree. Ons wil eerstens vir hom 'n spoedige herstel toebid. Mag hy elke dag bewus wees van die groot Geneesheer se teenwoordigheid in sy lewe.

Dankie vir 32 jaar se getroue werk, wat jy altyd met 'n glimlag aangepak het. Dankie dat ons altyd op jou nommer kon druk om hand by te sit waar dit nodig was. Jou toewyding en getrouheid was en is 'n voorbeeld vir ons.Gebruik jou tyd om te rus en te herstel.

Joe, mag die Here jou seën in die nuwe fase van jou lewe.

Semisonies het gesê: "Elke nuwe begin kom van 'n ander begin se einde." 

Ons groet vir Joe, maar ons sê in dieselfde asem vir Maans welkom. Maans is 'n ou bekende in die gemeente. Maartmaand het ons 'n paar vrae aan Maans gestel om die man wat Sondae die karre oppas van nader te leer ken. (Klik HIER om die onderhoud te lees.)

Baie welkom in hierdie nuwe pos, Maans. Jou handvaardigheid en bereidwilligheid om die ekstra myl te loop, gaan van onskatbare waarde wees. Mag jy geseën word met goeie gesondheid, energie en baie genade. 

Friday, 6 June 2025

Terugblik: Agter die opruimingsgordyn

Vandag se terugflits gaan nie jare terug in die geskiedenis nie, maar slegs 'n week terug. Alles wat met soveel sorg en beplanning vir die basaar uitgepak is, moet natuurlik opgeruim en weggepak word en dit gebeur gewoonlik so stil-stil met slegs 'n handjievol mense wat help.

Aan hierdie stille werkers agter die opruimingsgordyn,
'n opregte hartsdankie!! 

Friday, 21 March 2025

Ontmoet ons personeel: Maans van Wyk

Maans is 'n mens wat nie wegskram van werk af nie. Vriendelik, met 'n glimlag op sy gesig, doen hy sy werk, ongeag seisoenuiterstes - die Noord-Kaap se koue winters wat jou hare laat regop staan word gebalanseer deur die ongelooflike stil hitte wat jou hare nat teen jou kop vasplak.

Goeie weer, slegte weer of siekte, Maans is altyd op sy pos.

'n Raakvatter wat kan vasvat. Vandag gaan ons die man 'n bietjie van nader leer ken. Wat laat sy hart klop?

Hier is n paar algemene vrae om die mens agter die motorwag beter te leer ken:

Vraag: Waar is jy gebore?
Maans: Ek is 'n Kimberliet in murg en been. Hier gebore en getoë.

Vraag: Wat was jou lekkerste vak op skool en hoekom het jy daarvan gehou?
Maans: Wiskunde was my gunstelingvak en my punte het die stelling beaam.

Vraag: Het jy enige sport gedoen? Watter sportsoorte pryk bo-aan jou lysie?
Maans: Ek het baie van sport gehou. Rugby, toutrek, langafstande (het 7 keer my Griekwa-kleure vir hierdie sport verwerf). Na skool het ek my energie in boks gekanaliseer.

Vraag: Die hoeveelste kind is jy?
Maans: Ons is ses kinders en ek is die tweede jongste. My suster is die enigste roos tussen ons vyf seuns. 

Vraag: Hou jy van tuinmaak? Hoekom?
Maans: Ek is mal oor tuinmaak en as ek die tuin skoonmaak, maak ek in dieselfde asem sommer my kop ook skoon. Ek hou van 'n netjiese tuin. Mense wat sê dat tuinmaak terapeuties is, slaan die spyker op sy kop.

Vraag: Waar het jy jou vrou ontmoet?
Maans: Ek het vir Anna in Port Elizabeth ontmoet - die stad wat bekend is vir sy vriendelike mense.

Vraag: Wat dink jy is die slegste eienskap van die mens?
Maans: Ek hou nie van mense wat skinder nie. 'n Mens wat skinder sal selde daardie selfde storie voor die persoon onder bespreking herhaal. Om mense af te kraak, val vir my in dieselfde katagorie as skinder. Ons wil goeie gesindhede bou en uitreik na ander mense, dan mag skinder en afkraak nie deel van ons woordeskat wees nie.

Vraag: Jy het al dwarsdeur die nag basaargoed opgepas, veral as die basaar oorkant die Game-winkelsentrum gehou word. Hoe het jy dit ervaar? Was dit gevaarlik? Sal jy dit weer doen en hoekom?
Maans: Ek geniet dit om só betrokke te wees by die basaar en deurnag oppaswerk te doen. Ek doen dit al vir 24 jaar. Ek geniet dit om met die mense geselsies aan te knoop en ook te help waar my hulp benodig word. Nie een keer het ek bedreigd gevoel terwyl ek deurnag waggehou het nie. 

'n Mens besef die waarde van 'n motorwag as jy met 'n geruste hart in die kerk wil sit of inkopies wil doen. 'n Motorwag is in vandag se lewe 'n belangrike aspek vir jou veiligheid. Dit is seker een van die ondankbaarste werke en met al die afjakke wat hulle moet aanhoor, moet hulle 'n dik genoeg vel hê om dit te kan absorbeer.  

Met misdaad wat hoogty vier, is dit so belangrik dat 'n mens iemand het wat na jou kar kan kyk, wat vir jou kan help as jy 'n pap motorband het of te veel pakkies. Hierdie mense werk in moeilike omstandighede, dikwels met moeilike klante wat hulle saam met die slegte weer moet trotseer. Karwagte is en was nog altyd bedagsaam maak nie saak of hul skroei in die son of natreën nie. Ons moet gerus karwagte se werk meer respekteer. 

In kort is hierdie 'n kykie in die man se lewe wat jy elke Sondag met 'n glimlag voor die kerk aantref.