Friday, 4 July 2025

Ontmoet ons personeel: Joe Frederics


Joe Frederics, die man met die groen vingers, is soveel jare deel van Dutoitspan se personeel, dat hy al op die kerk se inventaris is.

'n Staatmaker wat altyd bereid is om die ekstra myl te loop. 

Joe is 'n Kimberliet in murg en been - gebore en getoë in 'n deel van die land wat bekend is vir sy hitte, sy droogte, maar ook vir sy vriendelike mense wat oor uithouvermoë beskik. Joe-hulle was twee seuns en twee dogters. Werk was selfs in daardie jare nie volop nie en dit het meet en pas gekos om die vier Fredericse groot te kry.

Joe is 'n entoesiastiese sokkerman, nie net is dit sy gunstelingsport om na te kyk nie, maar vir baie jare het hy dit beoefen. Sokker is Joe se passie. Gevolglik is hy in goeie geselskap, want sokker word as die gewildste sportsoort ter wêreld beskou.

Hier is n paar algemene vrae om die mens wat die kerk se tuine so mooi in stand hou, beter te leer ken:

Vraag: Watter eienskap of woorde van jou ma onthou jy tot vandag toe?
Joe: "Joe, jy moet na my kyk tot die dag van my dood."

Vraag: Hoe lank werk jy al by die kerk? 
Joe: 32 dankbare jare.

Vraag: Hoe het jy van die werk gehoor? 
Joe: Dit klink te goed om waar te wees, maar ek het gedroom van hierdie werk. Ds Coreejes het my langs die pad opgetel en ek het by hom begin skrop tot die tuinman van die kerk geloop het.

Vraag: Jy het dus saam met baie predikante gewerk en hulle leer ken?
Joe: Ja, dominees Coreejes, Lötter, Van der Walt, Holloway, O'Callaghan, Kloppers, Enslin en Broodryk. 

Vraag: Wat is die lekkerste deel van jou werk?
Joe: Ek geniet al my werk by die kerk, van tuinwerk tot by die funksies en basare as die saal reggeskuif moet word.

Vraag: Wat is jou gunstelingkos? En hoekom staan dit boaan jou koslys?
Joe: Hoenderstew en pap. Die lewe is duur en dit is die goedkoopste vleis om te eet. Hoenderbredie is mos trooskos en met 'n lekker sous daarby grens dit aan koningskos. 

Vraag: Joe, as 'n mens al so lank op 'n plek bly en werk, dan is daar 'n groot verskil tussen toe en nou ... toe jy 'n kind was en nou. Wat is die belangrikste les wat jy in die lewe geleer het?
Joe: Bly weg van moeilikheidmakers en drank. Dit is so maklik om toe te gee aan druk, maar dit maak 'n mens se lewe net moeilik en meer gekompliseerd.

Vraag:
 Wat is die mooiste vers in die Bybel vir jou?
Joe: Die Here is my Herder.

Vraag: Na watter musiek luister jy graag? 
Joe: Rasta en Gospel

Vraag: Wat pla jou die heel meeste as jy vandag na die wêreld om jou kyk?
Joe: Geweld, drugs en jongmense wat hulle lewe op hierdie manier weggooi. Hulle gebruik nie die kanse wat vir hulle gegee word nie.

Vraag: Jy het nie geskroom om baie van jou familie se kinders te help nie? Jy moes opofferinge doen om hulle te help. Hoekom het jy dit gedoen en kyk hulle vandag na jou?
Joe: Ek was die enigste een wat gewerk het en geld verdien het. So ek en Dina het maar altyd die kinders ingevat en na hulle gekyk. Nee, hulle kyk nie vandag na my nie. Hulle is besig met verkeerde dinge. Dis só hartseer.

Vraag: Jy is 'n handyman. Wat kan jy alles met jou hande doen?
Joe: Van bou tot die herstel van enige iets wat by die kerk breek en reggemaak moet word. 

Vraag: Joe, wat sal jou boodskap vir die kinders en jongmense van vandag wees?
Joe: Bly weg van drugs, drank en die rowwe lewe van die wêreld. Dis nie die moeite werd om jou lewe op hierdie manier weg te gooi nie.

Wyse woorde van 'n man wat die lewe fyn waarneem.