Monday, 14 July 2025

Gebed: Hou my styf vas

Hou my styf vas, Here, wanneer my voete gly.
Hou my vas, Here, as ek op verkeerde paaie bly.
Troos my, Here, wanneer die trane vrylik vloei.
Genees my hart, Here, wanneer my hart bloei.

Hou my geselskap wanneer ek eensaam voel.
Gee sekerheid as ek dink die lewe is sonder doel.
Wees U my Vriend as my vriende my verlaat.
Wees U my wysheid as ek soek na goeie raad.

Wees U my Geneesheer as ek siek is en vol pyn.
Wees U my Kragbron as my kragte begin kwyn.
Wees U my Anker as die vloed my mee wil sleur.
Die Gare wat vaswerk as my lewe uitmekaar skeur.

Wees U my Stut wanneer ek op moeilike paaie loop.
Wees U my vertroue as ek voel daar is geen hoop.
Duisend maal dankie, Here, dat ek dit van U mag vra.
Duisend maal dankie, Here, dat U my deur alles dra ...

[Skrywer onbekend]