Showing posts with label Maandblad. Show all posts
Showing posts with label Maandblad. Show all posts

Thursday, 7 May 2026

Ek glo - Efesiërs 1:19

"en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag." 

"Ons wat glo"  ... Watter groot genade lê opgesluit in hierdie woorde. Weet ons elke dag hoe gelukkig ons is om deel te wees van die skare wat mag sê: "Ons glo."

Ek glo aan 'n Almagtige God aan wie hemel en aarde behoort.
Ek glo aan 'n regverdige Heerser wat reg en geregtigheid laat geskied.
Ek glo aan 'n alomteenwoordige Drie-eenheid wat tyd en plek oorbrug.
Ek glo aan 'n dierbare Vader wat die wêreld so liefgehad het, dat hy sy enigste Seun gestuur het.
Ek glo dat Jesus Christus vir my sondes aan die kruis gesterf het.

Dankie, Grote God, dat ek my naam bokant die kruis mag skryf.

[Ds. Nico van Wyk - Dorstfontein: NG Gemeente Dutoitspan Maandblad Julie 1986 ]

Saturday, 1 November 2025

Terugblik: 1986-gemeenteprogram vir Novembermaand

1-3: Finalejaar-kategesekamp 
2-6: Kommissievergaderings
13: Groepleiersvergadering
15: Kerkraad ontmoet die voornemende lidmate
16: Aflegging van belydenis
17: Kerkraadsvergadering
23: Nagmaal
24: Skoolverlaterskamp begin
29: Gesamentlike gemeente-afsluiting
30: Prysuitdeling: Kategeseskool

[Uit: Dorstfontein NG Gemeente Dutoitspan Maandblad Oktober 1986)

Friday, 24 October 2025

Terugblik: Inhoudsopgawe van "Die Dorstfontein" Oktober 1986

Die maandblad het uit 13 bladsye bestaan:

Inhoudsopgawe:

1. So sê die Woord (bl. 1)
2. Vrouediens (bl. 2)
3. Jeug (bl. 2)
4. So sê die gemeente ... (bl. 5)
5. Troosdae (bl. 8)
6. Van alles en nog wat (bl. 8)
7. Senior Burgers (bl. 9)
8. Ons stel voor ... (bl. 10)
9. Om die draai - Novembermaandaktiwiteite (bl. 11)
10. Mooi gedagte: Tyd (bl. 12)
11. Inkleurprent vir die kleuters (bl. 13)

Elke vereniging of aktiwiteit het maandeliks verslag gedoen oor hul doen en late die betrokke maand en het net so geraak aan wat die volgende maand op die lede wag. Op hierdie manier is daar deeglik rekord gehou van wat in die gemeente gebeur. Hierdie tipe inligting is van onskatbare waarde as daar in die geskiedenis van die gemeente gedelf word. 

Daar gaan die volgende paar Vrydae uittreksels uit "Die Dorstfontein" van Oktober 1986 gegee word.

[Letsie Joubert het o.a. "Die Dorstfontein" getik.]

Friday, 10 October 2025

Terugflits: Gedig - Tyd

Ek kniel en bid, maar nie te lank
Want daar is soveel te doen
Ek moet my jaas want pligte wag
te veel om op te noem.

Ek prewel 'n paar woorde gou,
Spring van my knieë op
My plig as Christen het ek gedoen,
My hart kan rustig klop.

Dwarsdeur die dag was daar geen tyd
'n Trooswoord uit te spreek;
En om van Christus te getuig
Het my gans ontbreek.

"GEEN TYD, GEEN TYD, te veel te doen
Dit laat ek steeds versteen.
Geen tyd oor armes te ontferm
Toe breek my sterfdag aan.

En toe ek voor Gods troon verskyn
En skuldig staan en bewe
Sien ek die Groot Boek in sy hand
Die Boek van Eewge Lewe.

God blaai daar in sy Boek en sê:
"Jou naam staan hier nie in nie.
Ek wou dit eenmaal hierin skryf,
Maar kon die TYD nie vind nie.

[Uit: Dorstfontein NG Gemeente Dutoitspan Maandblad Oktober 1986]

Friday, 19 July 2024

Terugblik: Die Dorstfontein - Maandblad van die NG Gemeente Dutoitspan


Die Dorstfontein was Dutoitspan se maandblad wat elke maand deur die diakens by hul onderskeie wyke uitgedeel is, as hulle die gemeentelede besoek het om hul maandelikse bydrae in te samel. Die A5-boekie se buiteblad was gewoonlik gekleurd (baie keer pienk) met wit blaaie in die middel wat deur van die kerkraadslede en oom Ross-hulle gevou is en dan vasgekram is, voordat dit afgetel en in die onderskeie poshokkies gesit is. Deel van die inhoud van die boekie was o.a. 'n boodskap, verslae van die voorsitters van die verenigings en al die aktiwiteite wat daardie maand plaasgevind het, asook wat voorlê. Hierdie maandblaadjie het gedurende die laat 1960's en vroeë 1970's verskyn.  

(Letsie Joubert het die inhoud op wasvelle getik, wat Schalk Pienaar op 'n Vrydagmiddag afgerol het en wat die kerkraad op 'n Sondagaand gevou het. Oom Ross het dit Maandagoggend afgetel en in die diakens se poshokkies gesit.)  

Waar kom die naam Die Dorstfontein vandaan? 

In die ou geskiedenisboeke verwys hulle o.a. na Dutoitspan en Dorstfontein. (History of South Africa since 1795 deur GM Theal).

In kort: Nadat daar besondere ryk vondste op die plaas Dorstfontein van 'n ene Van Wyk ontdek is en wel op die gedeelte bekend as Dutoitspan, het 'n groep delwers hulle na Dutoitspan gehaas. Daar aangekom, het hulle etlike boere, vriende van die plaaseienaar, Van Wyk, reeds aan die delf gevind. Eers wou Van Wyk hulle nie toelaat nie, maar toe hul nie die plek wil ontruim nie, was hy later genoodsaak om tot 'n vergelyk met hulle te kom, en so is die dry diggings by Dorstfontein geopen.   

Die geskiedenis van die plaas Dorstfontein kan teruggevoer word tot 1860. Op 22 November van daardie jaar is dit deur die owerheid van die Oranje-Vrystaat toegeken aan  AP du Toit - die man aan wie Dutoitspan waarskynlik sy naam te danke het. 'n Jaar of wat daarna het Du Toit dit verkoop aan CDC Geyer, wat op 12 Mei 1862 die geregistreerde eienaar geword het. Oplaas het Geyer dit weer aan AJ van Wyk verkoop, in wie se naam Dorstfontein op 6 Januarie 1869  geregistreer is. Van Wyk self het hierdie historiese diamantplaas op 24 April 1871 aan London Exploration Company verkoop. (Griqualand West Land Court p.134)

Dorstfontein het natuurlik binne die Oranje-Vrystaat geval en wel in die distrik Jacobsdal. Streng genome het Dutoitspan onder die gemeente Boshof en die aangrensende Bultfontein onder die van Jacobsdal geval. (Acta Synodi OVS. p.120) 

Ten einde die snel-groeiende delwersbevolking van Pniel, Dorstfontein en omstreke onder behoorlike burgerlike bestuur te plaas, het die owerheid van die OVS op 22 Februarie 1871 die sendingstasie Pniel afgesny van die distrik Jacobsdal en tot 'n afsonderlike distrik geproklameer, waartoe ook die delwerye van Dutoitspan, Bultfontein en die latere Vooruitsigt (Kimberley) behoort het. Gevolglik het die landdros Truter van Pniel verskuif na Dutoitspan, waar nou ook 'n poskantoor en polisiestasie geopen is.

So is Dutoitspan, tot sover haas onbekend, ineens op die kaart van Suid-Afrika, ja van die beskaafde wêreld, geplaas.

Mej. Liz van Wyk (of tannie Lizzie, soos sy algemeen bekend gestaan het) was die broerskind van AJ van Wyk - die eienaar van Dorstfontein. 'n Baie aktiewe en geliefde gemeentelid wat orals betrokke was. Sy was 'n Sondagskoolonderwyseres van 1919-1969. 

Tydens die eeufeesviering 1972 van die gemeente was sy nog gesond en aan die gang. Die vroegste foto's van haar in die eeufeesboek is in ds. WFP Marais (1896-1912) se tyd geneem waar die Sondagskool 'n piekniek op Alexanderfontein gaan hou het. 

[Bron: Die NG Kerk Dutoitspan-gemeente Beaconsfield - Kimberley 1872-1972: HG Gouws, redakteur]
                   
Heerlike en interessante inligting beskikbaar by Kimberley City Info HIER en ook Today in Kimberley's History HIER.

Friday, 5 April 2024

Terugblik: Die gebed van 'n boom


Wanneer u by my verbystap
Sonder om my raak te sien
of dalk my takkies ongemerk te kneus
Wag 'n bietjie en staan eers stil.

Dis ek wat in koue winternagte
jou haard verwarm
Dis my vriendelike koeltes
wat jou teen die snikhete sonstrale laaf.
Dis my sappige vrugte wat jou op jou reis
verkwik en jou dors les.

Ek is die balke wat jou dak oor jou hoof vashou
Ek is die blad van jou tafel en die bed waarop jy rus
Ek is die hout van jou boot
en die handvatsel van jou gereedskap
Uit my kom die brood wat voed
en die blom vol kleur en geur.

Ek is die deur van jou woning
die hout van jou wiegie
en die kis van jou graf.

Uit my is eenmaal balke gekap
Waarmee 'n kruis gemaak is
Ek was die hout van Gods altaar vir sy seun
die hout wat 'n brug geword het.

Uit my stamme gebreek en fyngemaal deur die meule
Kom papier, ook die van Die Boek van God
oor my staan die Boodskap
van hoop en lewe geskrywe
My blare is tot genesing van die Nasies
Open. 22:2

Ek vra u daarom
Moet my nie beskadig of vergeet nie.
Kniel liewer by my en dank God vir my.

[Uit: Dorstfontein: Dutoitspan-gemeentemaandblad - April 1984]