Showing posts with label Skeppingsdoel. Show all posts
Showing posts with label Skeppingsdoel. Show all posts

Sunday, 26 May 2024

Ek wens ...

Ek wens ek kon die plooi tussen jou oë wegvee
en vir jou 'n bietjie lewensvreugde gee ...
Reg of verkeerd meet jy met grade of 'n liniaal
en sukses word met materiële dinge bepaal.

Jy eet en slaap en werk
met sawens televisie 
en Sondae kerk -
dieselfde roetine van dag tot dag
en selde sien ek jou huil of lag.

Ek wens jy kon na 'n simfonie luister
en soet liefdeswoordjies in my ore fluister.
Ek wens jy kon praat met ywer en vuur
oor die vorm van kuns of die sin van kultuur.

Ek wens jy kon in ekstase raak oor 'n tuin
of die wolkpatrone in die hemelruim.
Kon jy ook maar op verbeeldingsvlugte gaan
en meer van die onsienlike dinge verstaan.

Jou genot put jy
uit 'n glasie wat klink ...
en sigarette
wat vir my stink!
Ek wens jy wil ophou om
Bacchus en Dagon en Mammon
te dien ...
en God's voorsorg en liefde
in Sy skeppingswerk sien! 

[Magdaleen - Die Taalgenoot * November 1982]

Dankie, vir die persoon wat die gedig aangestuur het  - enige inligting vir erkenningdoeleindes sal waardeer word.  

Wednesday, 9 March 2022

SKEPPINGSDOEL BLY OM TE BOU EN TE HERSTEL

Die eerste en basiese belydenis van Christene oor God, is dat Hy die Skepper is. God word deurgaans beskryf as die Een wat bou, nie afbreek nie.

Daarteenoor word die duiwel, die bose, van meet af uitgebeeld as die groot breker; die een wat dít wat God goed en mooi geskape het, afbreek en probeer vernietig.

Regdeur die Bybel kan die werk van God en dié van die bose hieraan onderskei word - God is die Skepper, die Heelmaker en Satan die groot verwoester. Dit is dan ook die hoofrede waarom Jesus na die aarde toe gekom het en aan die kruis gesterf het - om dít wat die duiwel gebreek het, weer te kom heelmaak - veral die mens sélf.

Teen hierdie Bybelse agtergrond het ek die afgelope tyd toenemend oor die situasie in Suid-Afrika besin. Suid-Afrika is teen ’n onstellende tempo op ’n pad van vernietiging. Kyk maar na opeenvolgende nuusberigte in enige koerant of televisie-nuus. 

Infrastruktuur wat oor jare opgebou is en noodsaaklik is vir ’n goed-funksionerende land en gemeenskap, word letterlik afgebreek, afgebrand, besteel of gesaboteer. Misdaad breek, skend en vernietig lewens.

Waaraan moet dit toegeskryf word? Onverantwoordelikheid, ongebreidelde haat, reaksionêre woede en ’n vreemde vernietigingsdrang speel sekerlik ’n rol.

Die ANC staan as ’n volslae korrupte en mislukte regerende party egter eerste in die beskuldigingsbank. Waar alles waaraan die mitiese koning Midas geraak het in goud verander het, verander alle “goud” waaraan die ANC raak in skroot.
  
Daarmee saam het Julius Malema en sy EFF nog niks anders gedoen as om af te breek en die vlamme van haat, geweld en rasse-konflik aan te blaas nie.

Terwyl opbou en herstel nie uniek aan Christen-wees is nie, behoort dit ’n kenmerk van Christene te wees. 

Om af te breek, af te brand en te vernietig, druis in teen die Skepper se opdrag aan sy skepsele om verantwoordelike rentmeesters van sy skepping te wees. Ons is immers na Sy beeld en gelykenis geskape. Iets van ons skeppingsdoel word sigbaar as ons skep, regmaak, heelmaak.

Tesame met alle moontlike aanleidende faktore wat spesifiek tot die vernietiging van ons eie land meewerk, kan ek nie anders as om die invloed en rol van die Bose raak te sien nie. Moord, verkragting, misdaad en vernietiging kan met geen woord beter beskryf word as “boos” nie.

As Christene veral, is ons steeds geroep om bouers en nie brekers te wees nie en om alles moontlik te doen om hierdie vernietigings-kultuur stop te sit.

Daar mag nie van ons gesê word wat in Eseg. 22:30 staan nie: “En Ek het onder hulle 'n man gesoek wat 'n muur kan bou en voor my aangesig in die bres kan staan vir die land ..., maar Ek het niemand gevind nie.”

(Isak Burger is ’n voormalige kerkleier en skrywer - Beeld 23 Februarie 2022)