Showing posts with label Carina Badenhorst. Show all posts
Showing posts with label Carina Badenhorst. Show all posts

Friday, 6 June 2025

Post-basaaraankope = werk

Terugskouend was Saterdag 'n heerlike kuierdag. Dit was ’n fees van vreugde, samesyn en dankbaarheid! Ons harte is propvol van waardering teenoor elkeen wat die dag 'n sukses gemaak het en vir dit wat tot op hede geïn is. 

So 'n terloopse gedagte ... Die basaargoed wat NA Saterdag verkoop is, spel en voorspel eintlik WERK vir die koper - dis natuurlik die siening van mense wat nie van die kombuis hou nie - hierdie mense koop alles klaar gaar, klaar verpak en klaar gereed vir eet by 'n basaar!

Foto's is ter stawing van die opskrif.

Die foto van die bottel met pannekoekdeeg (saam met Ben en Carina Badenhorst) beteken dat die deeg na pannekoek getransformeer moet word = werk. Carina sien dit egter nie so nie. Sy het lankal die terapeutiese waarde in 'n kombuis besef en dat die skeppingproses energie afgee. (Onthou om volgende keer vir ons foto's van die eindresultaat te neem en te stuur.)

Nog 'n foto van 'n post-basaaraankope is die foto van 'n yslike makataan en 4-liter pannekoekdeeg wat die koper dwing om 'n hele paar uur in die kombuis deur te bring.

Kitty Nathanson het egter opgewonde vir Coen en Annatjie vertel dat sy heel makataanstukke gaan kook, terwyl die ander hulle makataan in konfyt gaan omskep. (Klik HIER vir 'n resep of twee.)

Die omstanders wat geluister het, kon in die gesprekke hoor dat om bestanddele in produkte te omskep, 'n passie is wat ontspannend inwerk op die persoon agter die pan en pot. Die proses om met jou hande te skep, word skielik in ons moderne era van tegnologie herontdek. En die passie van skep, kon in hulle almal wat op die stoep by die koffiekan gestaan en gesels het, se oë gesien word.

En dit is hier waar die sukses van 'n basaar lê ... in die skeppers en die bakkers, maar ook in die kopers.

Dankie vir elkeen se bydrae!

Monday, 2 June 2025

Die taal van blomme


Blomme speel ‘n baie groot rol in die erediens. Groter as wat ons moontlik dink of besef! Blomme skep nie net ‘n sekere atmosfeer wat ons gemoedstoestand voorberei vir die boodskap nie, maar blomme dra ook ‘n spesifieke boodskap uit.

Dankie aan die blomkunstenaar, Carina Badenhorst, vir die spesiale bydrae!

Wednesday, 27 April 2022

150 genadejare: Feesgangers ... hulle was dáár!

Bo: Kathleen Brown (Scott), Mary Burger (Orton) en
Frances Reineke (Orton)
Onder: Alda Welman (Pienaar), Carina Badenhorst
(Van Lingen) en Elsa Minne (Weber)
Hierdie feesgangers was kinders in 1972. Die jongste een was 8 jaar oud en die oudste een was 16 jaar oud. Hulle was almal op van die vlotte en deel van die optog wat deur Kimberley se strate gery het. Hulle ouers (Louis en Hester Scott, Frank en Mary Orton, Schalk en Jane Pienaar, Thys en Baby van Lingen, George en Rina Weber) was betrokke by die eeufeesvieringe - 'n mylpaal in die geskiedenis van Dutoitspan wat as 'n gemeente dikwels moes klippe kou. As hierdie klippe maar diamante was, sou die gemeente se pad met rose besaai gewees het. Hulle het heerlike onthoustories met mekaar gedeel en as daar 'n bietjie in die kiekieblikke en fotoalbums gekrap word, sal daar definitief kerkfoto's van jare terug wees.   

1972

Kinderkrans - Cassandra

1: Lizette Boshoff; 2: Didi Coetzer; 3: Marina Weber;
4: Di Westley; 5: Joey Weber; 6: Elsa Weber;
7: Nelia van Straaten; 8: Len Weber

Die Sondagskoolvlot

1: Antoinette van Lingen; 2: Carina van Lingen; 3: Trudie van
Lingen; 4: Thys van Lingen; 5: Amanda Smal; 6: Alda Pienaar;
7: Ronell Pienaar; 8: Johan de Ridder; 9: Ds. JH Siebert
 

Kinderkrans

Foto van die kinderkranskinders wat in outydse klere
aangetrek was, saam met mev. Frieda Siebert.
Op die agtergrond is een van die baniere wat op
verskeie plekke in Kimberley opgesit is
om die feesvieringe te adverteer. Dit was van lamppaal
tot lamppaal in Kimberley gespan.

Die kinderkransvlot

'n Klomp van die kinders het reeds
op die Sondagskoolvlot gery.

Die siervlot van die KJA - Frances Orton was een
van die strooimeisies in die tweede ry.

Schalk en Jane Pienaar met Alda en Ronell

Thys en Baby van Lingen met Carina,
Trudie, Antoinette & Wimpie

150 genadejare: Die feesruikers


Die uniekheid van die protea, maak dat die blom spreekwoordelik kop en skouers uitstaan bo die ander blomme. Dit trek onmiddellik aandag, ongeag hoeveel ander blomme in 'n vertrek is. 

Sondag se feesruikers in die kerk het hulle eie unieke kragtige woordelose boodskap met die gemeentelede en besoekers gedeel en so die boodskap van ds. Richard Holloway (Jy is gesien ... jy word gesien) versterk. Almal het die rooi protearuikers gesien, waardeer en daarmee saam ook die ruikerboodskap van uithouvermoë, moed, gehardheid, diversiteit, durf en transformasie verstaan - die gemeente se pad die afgelope 150 jaar.  

150 jaar het opofferinge op vele terreine van die lidmate gevra, maar ook moed en deursettingsvermoë en uithouvermoë waar voorspoed nie 'n gegewe is nie en uitkoms nie altyd voor die hand liggend was nie. Die uniekheid van die gemeente lê in die diversiteit daarvan en dat gemeentlede oor dekades heen altyd op een of ander manier uitgereik het, vandaar al die uitreikaksies wat in die annale van die gemeente opgeteken is. Dit alles en soveel meer is in een ruikerboodskap opgesluit.

Baie dankie aan die twee blomdames, Carina Badenhorst en Liesl Brown, wat vir die ruikers verantwoordelik was. Die hoendervleismooi storie is dat hulle mekaar nie gekontak het oor wat hulle gaan doen nie, maar dat hulle dieselfde blomme gebruik het vir die kerkruikers.  

Kerkruikers


Bankruikers




Voorportaalruikers


Lees ook HIER.
Foto's: Elsa Minne en Alda Welman