Showing posts with label Ds. Hennie de Wet. Show all posts
Showing posts with label Ds. Hennie de Wet. Show all posts

Friday, 9 August 2024

Terugblik: 1975 - Dutoitspan se maandkaarte


GOD IS WERKSAAM
In die begin was God - so het u in verlede maand se maandkaart gelees. God was in die begin werksaam. Daaroor sou ons meer sê, so het ons belowe.

God het 'n plan met hierdie wêreld. 'n Heilsplan. Hy gaan volgens 'n plan te werk en bring elke klein besonderheid van sy plan ten uitvoer.

As ons 'n huis wil bou, teken ons 'n plan daarvan en laat die besonderhede skriftelik opstel sodat die bou-aannemer haarfyn kan weet hoe om die werk uit te voer.

So is dit nie met God nie. Niks hoef  Hom aan sy voorneme te herinner nie. God het van alle ewigheid af 'n bepaalde doelwit met alles wat Hy onderneem. Alles het 'n bestemming. Omdat God ewig is, was daar nie 'n bepaalde oomblik dat Hy met sy werk begin het nie. Sy groot gedagtes het nooit 'n begin gehad nie. Hulle was eenvoudig daar, volmaak soos Hy (Ps. 33:11).

God was werksaam gedurende ses skeppingsdae. Op die sewende dag het Hy gerus. Op hierdie dag was God egter nie ledig nie. Hy waak deur sy voorsieningheid ten alle tye oor sy handewerk, besonder oor die mooiste wat Hy gemaak het, die mens. Ons werk op die Sondag is om met toegespitste toewyding vir ons onsterflike siele te sorg.

God is deur sy Gees steeds werksaam in ons lewens om ons te vorm na sy beeld. Om ons gereed te maak vir die wederkoms van sy Seun. Wat 'n voorreg om soos Hy in toewyding aan God werksaam te wees.
MAART 1975 

[Skrywer: Ds. HC de Wet, predikant in Dutoitspan vanaf 1974-1985]

Saturday, 12 March 2022

150 genadejare: Dutoitspan vanaf 1974 tot 2016 in 'n neutedop (Deel 1)


'n Gemeente is 'n dinamiese, lewende "organisme" wat voortdurende veranderings en vooruitgang en in sommige gevalle selfs agteruitgang die hoof moet bied. Dit is alles nodig sodat daar groei kan plaasvind. Baie tyd word spandeer om stelsels in plek te kry en te verbeter, sodat die fokus op die geestelike bearbeiding kan val.

Predikante kom en gaan en elkeen los geestelike voetspore wat onuitwisbare indrukke laat op diégene wat agterbly. Albei partye begin met 'n nuwe reis. Die gemeente moet weer 'n nuwe predikant beroep wat bereid is om die belange, probleme, maar ook unieke uitdagings in die gemeente die hoof te bied. Aan die ander kant neem die dominee wat na 'n ander gemeente gaan, ook ervarings en herinnerings met hom saam. En in beide gevalle is dit 'n wonderlike nuwe begin ... vir baie van die proponente was Dutoitspan 'n leerskool, 'n plek waar hulle hul eerste tree op hul beroepspad kon gee.

Die gemeente was na die vertrek van ds. JH Siebert na Murraysburg, vir etlike maande vakant. In hierdie tyd het ds. ML van Rensburg, emeritus-leraar, waargeneem, Hy was 'n neef van tannie Kas Joubert, 'n jarelange gemeentelid en ouma van Carina Badenhorst.

Ds. Siebert het demissie ontvang, maar hy het besluit om eers aan die einde van Desember 1973 te vertrek. Die kerk was daardie jaar tydens die Kersdiens en die middernagdiens stampvol, bykomende stoele moes ingedra word. Dit was die taak van die konsulent, ds. VO Nel van Diamantveld-gemeente, om die kerkraadsvergadering te lei wanneer hulle 'n nuwe predikant beroep.

Na herhaalde beroepe het ds HC de Wet van Epping-Wes die beroep aanvaar. Dit was ongeveer 5 Oktober 1974. Hulle het aan die begin maar moeilik aangepas - vanaf die Kaap na die droë warm Noord-Kaap vra op sigself moed. Maar die omgee-mense in die gemeente het dit makliker gemaak. Ds. De Wet het besluit om die kerkraadsafsluitings sommer by die pastorie te hou. Daar was genoeg ruimte, bome en gras vir 'n aangename en gesellige buiteluggeleentheid. In een woord kan daarna verwys word as 'n afsluitingsvrugtefees. Heerlike seisoensvrugte en waatlemoen was altyd aan die orde van die dag, saam met geselsies, staaltjies en stories. En so tussen die geselsery deur, is moontlikhede en planne geopper vir die volgende jaar - 'n "vrugtevolle" of "vrugbare" afsluiting.

Ds. Van Rensburg het nog vir 'n tyd lank saam met ds. De Wet gewerk, omdat die lidmaattal eintlik vir 'n tweede leraar regverdig het. Finansies het egter hierdie aksie vir 'n lank tyd gekniehalter. Na vele kerkraadsvergaderings en verskeie moontlikhede, het die kerkraad wel later besluit om 'n medeleraar te beroep, en die keuse het op prop. CMV Wait geval, wat dan ook die beroep aanvaar het.

'n Tweede predikant dwing die gemeente om in 'n tweede pastorie te belê. 'n Belangrike vereiste daardie jare was dat die pastorie binne die gemeentegrense moes val. Twee huise was op daardie stadium beskikbaar - die huis van mev. Van der Westhuizen, die orrelis, en 'n huis in Blackingstraat. Op aanbeveling van prop. Wait se ouers het die keuse op Blackingstraat 55 geval. Daar is toe terstond met die aankooponderhandelings begin. So begin 'n nuwe era in die geskiedenis van die gemeente - die luuksheid van twee predikante, maar ook die finansiële bekommernis wat dit teweeggebring het.

Prop. CMV Wait is deur sy skoonpa, ds. Möller, redakteur van die Kerkbode op daardie stadium, op 29 Januarie 1979 bevestig. Ds. Wait was hart en siel deel van die gemeente totdat hy die beroep na die Sonnekus-gemeente in die Kaap op 25 April 1982 aanvaar het.

Na die vertrek van ds. Wait het die kerkraad gebruik gemaak van prop. NC van Wyk, die weermagkapelaan, se dienste.

'n Baie groot tragedie het die pastoriepaar gedurende hulle verblyf in Dutoitspan getref. Ds. De Wet se derde oudste seun, Pierre, was die trotse eienaar van 'n tweedehandse Volksie. Van tyd tot tyd het die Volkswagen Kewer meer aandag gevra en moes die enjinkap gelig word. Een so 'n betrokke middag, met die Kewer opgedomkrag, was Pierre onder die kar, en om een of ander onverklaarbare rede het die Volksie van die domkrag gegly en Pierre onder die kar vasgepen. Ds. vertel dat hy met ongelooflike krag van Bo, die motor kon oplig, sodat die ander vir Pierre kon uitkry. Nooit vantevore of daarna het hy daardie gevoel van onmenslike krag ervaar nie. Pierre was ernstig beseer en is dadelik hospitaal toe geneem. Hy het baie goed op die behandeling gereageer, wat die hoop op volkome herstel in die gemeente laat opvlam het. Terwyl hy in die hospitaal was, kry hy egter geelsig, waarvan hy nie herstel het nie en hy is in Maart 1983 oorlede. Die gemeente het 'n geestelike laer om die pastorie getrek en op verskeie manier uitgereik na ds. Hennie en mev. Yvonne de Wet. Die pastoriepaar het dit baie moeilik verwerk. Hulle het nog twee jaar na hierdie voorval in die gemeente gearbei.

Ds. De Wet was ook 'n passievolle skrywer. 'n Talent waaroor hy baie beskeie was. Sy boek, Laat ons boekevat, se eerste druk was in 1967, en teen 1979 het dit reeds 'n sesde druk beleef. Een van sy ander boeke, My Tye In U Hand, was baie gewild.

Hierdie boek is o.a. as volg geadverteer nadat dit uit druk was: "'n Heruitgawe van die bekende dagboek My Tye In U Hand sal stellig oral verwelkom word. In eenvoudige, bevatlike taal word die groot waarhede rondom die sorg van God in alle omstandighede meegedeel. Dit is leesstof vir oud en jonk - alhoewel die klem 'n ietsie meer op bejaardes gelê word."


Die kerkraad het besluit om 'n medeleraar te beroep en die keuse het op prop. NC van Wyk geval wat reeds met inspirerende bydraes 'n verskil in die gemeente gemaak het. Hy aanvaar die beroep en is in Augustus 1983 met handoplegging bevestig deur sy predikant van Pretoria. Hy het met hart en siel gewerk en was 'n betrokke predikant op vele terreine tot en met sy vertrek in 1987. Ds. Van Wyk se ander groot liefde was sport, en meer spesifiek rugby, hy was nie net 'n baie goeie rugbyspeler nie, hy het selfs vir die Griekwa-rugbyspan uitgedraf.

Na die vertrek van ds. De Wet in 1985 het ds. Van Wyk van Blackingstraat 55 na die pastorie in Connollyplek 13 getrek. In ds. Nico se eie woorde: "Dutoitspan was werklik 'n wonderlike gemeente om ons bediening te kon begin."

[Word vervolg]

Sunday, 24 September 2017

Gemeentegeskiedenis: Dutoitspan se uitreik oor gemeentegrense heen...

Dutoitspan was nog altyd 'n uitreik-gemeente. Gaan kyk 'n mens na sy ontstaanwortels, is dit duidelik dat die gemeente begin het a.g.v. die groot groep delwers wat hier gewerk het. (In De Kerkbode van 24 Februarie 1872 is daar geskryf dat 'n komitee gekies is om die belange van die kerk daar te behartig.)

'n Kerktent is opgerig en die geld wat tydens dankoffer ingesamel is, is onder andere gebruik om die brandstofonkostes van die besoekende leraars te dek en die res het vir die behoeftiges en die noodlydendes in die gemeente gegaan.

Hierdie delwers was soos hulle produk - ru en ongeslyp en daarom moes dié kerk nog altyd uitreik, voete was en dienaar wees.

"As ek aan die gemeentesusters dink wat aan die Vrouesendingbond (VSB) behoort het, dink ek aan 'n ywerige en hardwerkende groep vrouens. Hulle het een Saterdag per maand 'n koekverkoping (Die bekende Môremark) voor die ou OK en voor John Orr (beide in Jonesstraat) gehad. Een keer 'n maand het hulle die kos voorsien by 'n vandisie by Basie Heckroodt, asook by Noord-Kaap Vandisiekrale. Al die fondse wat hulle op hierdie manier ingesamel het, het hulle vir sendingwerk aangewend.
DIE BESTUUR VAN DIE MSB
Voor: Mnre. PS Venter (sekretaris), AJ van
der Merwe (voorsitter), JP Havenga (o/voorsitter)
Agter: Ds. JH Siebert, FR Maré (tesourier)

Die Mannesendingbond (MSB) het nie agterweë gebly nie. Hierdie groep manne was verantwoordelik vir die salarisse van Evangelis Sello en Evangelis Selepi van Galeshewe, asook ds. Sukdaven van die Dutch Reformed Church. Aanvanklik het hulle ds. Sukdaven finansieel bygestaan om hom as leraar te bekwaam. Hierdie predikers het dan ook op 'n gereelde basis aan die sendingaksies verslag gedoen oor hulle werksaamhede.

Ds. Sukdaven het elke Donderdag/Vrydag samoesas afgelewer by almal wat bestel het. Dit was deel van hulle fondsinsamelingsprojek. Die VSB van Dutoitspan was betrokke by o.a. die basare en van die Dutoitspanners het gereeld van die eredienste bygewoon, wat op daardie stadium in ds. Sukdaven se garage gehou is. (Dis waar hierdie gemeente sy beskeie begin gehad het.)

Ons het ook die voorreg gehad om die doopplegtigheid van een van ds. Sukdaven se kinders by te woon. Na die doopplegtigheid het ons aangesit aan 'n pragtig gedekte tafel aan huis. (Ek het al dikwels gewonder of dit die bekende Maniraj Sukdaven, die dosent by die universiteit, is.) Mevv. Frieda Siebert, Anna Maritz en Jane Pienaar was nou betrokke by vele geldinsamelingsprojekte en werksaamhede hier.

Ds. Dawie Pypers was 'n ou bekende en gereelde prediker in Dutoitspan-gemeente. Hy het ook die gemeente ingelig gehou van die werk onder die Indiërs. Nie almal was gediend met dié aksies nie en daar was gemeentelede wat sou uitstap. Ds. Dawie Pypers is deur die NGK aangewys om onder die Moslems te werk. Hy het werklik oor uitsonderlike pastorale vermoëns beskik. In die vroeë 1968 is die RCA-gemeente in Kimberley begin.

Mnr. en mev Ross (kosterspaar)  
Mev. Ethel Ross (o.a.koster van die gemeente) was 'n sendeling in murg en been. Sy was een van die Kinderkransleidster wat die langste betrokke was by die Kinderkrans. Sy was die leidster by die tak wat by die gemeentesaal gehou is. Daar was nog twee ander Kinderkranstakke in die gemeente (buitewyke) - een in Electrapark o.l.v. mev. Soes Uys en een in Cassandra o.l.v. mev. Di Westley. Afstand was 'n faktor en hierdie takke het af en toe met spesiale geleenthede saam vergader. Sentleggings was op daardie tydstip 'n gewilde manier om geld in te samel wat dan vir Sendingwerk aangewend is.

Mev. Ethel Ross het ook begin om garagedienste, een maal per week, vir al die inslaapwerkers aan te bied. (So in die laat 1960's) Hierdie bidure en Bybelstudies is afwisselend by die pastorie in Connollyplek en mev. Judith Swart se huis in Blackingstraat gehou. Hierdie projek het sy vir baie baie jare alleen bedryf en met haar dood, het hierdie projek ook 'n stille dood gesterf.

Vanaf 1969 tot 1973 het mevv. Frieda Siebert, Anna Maritz, Jane Pienaar, Ethel Ross, Smittie van der Westhuizen en M Rhoodie na die koorkompetisies in Galeshewe gaan luister - selfs op 'n Vrydagaand... Dit was soveel vrouens as wat mev. Siebert in haar grys Peugot Stasiewa kon laai... Dit het plaasgevind in die gemeentes waar die evangeliste gearbei het, wat deur die MSB betaal is.

Ek kan my herinner dat daar geleenthede was dat susters van die nou NGKSA saam met die vrouens van die VSB op 'n Woensdagoggend saam tee gedrink het. Hierdie interkerklike uitreik het op 'n nie-gereelde basis plaasgevind in ds. Johnny Siebert (September 1968 - Desember 1973) se tyd.

In hierdie tyd het ouderling AJ van der Merwe se dogter, Daleen, geroepe gevoel om sendingwerk te gaan doen en daar is tydens 'n baie spesiale erediens ook 'n Bybel aan haar oorhandig, voordat sy vertrek het. Sy is met 'n predikant getroud.

In dominee Hennie de Wet ( Oktober 1974 tot April 1984) se tyd, is die sendingpaar in die destydse Transkei, ds. en mev. Van Schalkwyk, finansieel ondersteun in soverre dit in die VSB se vermoë was.
DIE BESTUUR VAN DIE VROUESENDINGBOND
Voor: Mevv. C Gericke, M Rhoodie, J Pienaar (sekretaresse), F Siebert 
(president), M Joubert (visepresident), J Fraser (tesourier), A Harmse.
Agter: Mevv. E Ross, A van der Westhuizen, D Westley, A Ebing, 

M le Roux, M van Vuuren, A Laten en D Coetzer.

Uitreik na kinderhuise, die ouetehuis en die huis vir volwasse gestremdes, binne die grense van die gemeente, was normaal.

'n Gemeente wat nie uitreik nie, is soos die Dooie See...

[http://kerkbode.christians.co.za/2017/12/01/die-mooiste-taal-van-afrika/]