Showing posts with label Gemeentegeskiedenis. Show all posts
Showing posts with label Gemeentegeskiedenis. Show all posts

Friday, 27 September 2024

Terugblik: Kosterspaar 1940-1966


Mnr. en mev. Wagner was 'n aktiewe en geliefde kosterspaar, wat bekend was vir hulle hulpvaardigheid, nie net in die gemeente nie, maar ook in Kimberley. Geen versoek was vir hulle moeite nie. Mev. Wagner was veral bekend vir haar groot rangskikkings vir verhoë, troues, kongresse en konferensies,
Mev. Wagner tydens gemeente
se eeufeesvieringe in 1972
asook die vlyt waarmee sy skynbaar moeiteloos onthaalfunksies kon aanbied. Met Dutoitspan se 100-jarige feesvieringe het sy met liefde die blommerangskikkings gemaak, al was sy nie meer in die gemeente nie en so gehelp om die feesuitgawes in hierdie aspek baie laag te hou. 'n Ander talent wat ver buite die grense van Kimberley bekend was, was dat sy trourokke ontwerp en gemaak het en daarmee saam sommer ook die strooimeisie en die bruid van die ma se uitrustings. Voorwaar 'n bekende, geliefde en hardwerkende paar.   

Met die afsterwe van hul enigste dogter, Poppie, en die verswakking van mnr. Johnny Wagner se gesondheid, het hulle besluit om hulle liewer op 'n rustiger Boshof te vestig. Dit het meegebring dat hulle na 'n dienstydperk van 26 jaar se getroue en uitstekende diens as diaken, ouderling, Sondagskoolonderwyser en koster die amp moes neerlê.  

Die susters van die gemeente het vir hulle 'n spoggerige afskeidsfunksie aangebied (hierdie keer het mev. Wagner aan die ontvangkant van die onthaal gestaan.) 'n Adres en 'n geskenk van 'n R100 is deur die kerkraad as blyke van waardering vir die waardevolle en getroue dienste oor só 'n lang tydperk aan hulle oorhandig.

Rokke wat deur
mev. Wagner gemaak is.
Die groot vraag op almal se lippe was wie hierdie twee besondere mense gaan opvolg.

Bron: Eeufeesalbum 1972, mondelinge oorleweringe.

Friday, 13 September 2024

Friday, 16 August 2024

Terugblik: Orreliste

Voor 1881 is daar geen bewyse van 'n musiekinstrument wat tydens die eredienste in die bokseilkerk en die kerktent gebruik is nie. Daar is wel melding gemaak van kore wat opgetree het. Die afleiding wat gemaak kan word, is dat daar van voorsangers gebruik gemaak is.   
Mev. Kriel: 1881-1887 (sonder betaling die harmonium bespeel)
Mnr. Vos: 1887-1889 (bespeel die musiekinstrument vir 2 jaar gratis)
Mev. HO Stiglingh: 1889-1899 (bespeel die orrel gratis)
Mnr. Burnett
Mnr. Anderson 
Mnr. A Ellis (Hy skenk die eerste bedrag van R20 op die waarborglys vir 'n nuwe orrel en hierdie gebaar spoor heelwat van die kerkraadslede aan om ook dieselfde te doen.    
Mej. Annie Maritz (Slabbert): 1916-1922
Mev. Ricca Vercueil (Van Reenen): 1922- Junie 1929
Mejj. A Holloway en Lombaard, mevv. K Reddie en Joubert: Julie 1929-1931 (tydelik) 
Mnr. Ras: 1931-1934 
Mej. L Collard: Junie 1934-Mei 1945 
Mev. Remerta van der Westhuizen kon die orrelispos eers aan die einde van April 1947 aanvaar weens siekte. Gedurende 1946 het die volgende 4 dames tydelik ingestaan:
Mejj. Lorna Bothma en Lena Anema en mevv. Van der Merwe en Van Rensburg 
Mev. AR van der Westhuizen: April 1947-Februarie 1979
Mev. R Brand: 1979
Mnr. GA de Ronde: 1979-1982
Mnr. D du Toit: 1983-1984 en 1986-1989
Mnr. TL Holmgreen: 1984-1985
Mev. B Cohen: 1985-1986
Mev. MP Coreejes: 1990-1996
Mnr. T Blignault: 1996-2020
Mev. B le Roux: 2020-huidig 

[Klik HIER vir nog inligting, en HIER vir die geskiedenis van Dutoitspan se orrel]

Friday, 9 August 2024

Terugblik: 1975 - Dutoitspan se maandkaarte


GOD IS WERKSAAM
In die begin was God - so het u in verlede maand se maandkaart gelees. God was in die begin werksaam. Daaroor sou ons meer sê, so het ons belowe.

God het 'n plan met hierdie wêreld. 'n Heilsplan. Hy gaan volgens 'n plan te werk en bring elke klein besonderheid van sy plan ten uitvoer.

As ons 'n huis wil bou, teken ons 'n plan daarvan en laat die besonderhede skriftelik opstel sodat die bou-aannemer haarfyn kan weet hoe om die werk uit te voer.

So is dit nie met God nie. Niks hoef  Hom aan sy voorneme te herinner nie. God het van alle ewigheid af 'n bepaalde doelwit met alles wat Hy onderneem. Alles het 'n bestemming. Omdat God ewig is, was daar nie 'n bepaalde oomblik dat Hy met sy werk begin het nie. Sy groot gedagtes het nooit 'n begin gehad nie. Hulle was eenvoudig daar, volmaak soos Hy (Ps. 33:11).

God was werksaam gedurende ses skeppingsdae. Op die sewende dag het Hy gerus. Op hierdie dag was God egter nie ledig nie. Hy waak deur sy voorsieningheid ten alle tye oor sy handewerk, besonder oor die mooiste wat Hy gemaak het, die mens. Ons werk op die Sondag is om met toegespitste toewyding vir ons onsterflike siele te sorg.

God is deur sy Gees steeds werksaam in ons lewens om ons te vorm na sy beeld. Om ons gereed te maak vir die wederkoms van sy Seun. Wat 'n voorreg om soos Hy in toewyding aan God werksaam te wees.
MAART 1975 

[Skrywer: Ds. HC de Wet, predikant in Dutoitspan vanaf 1974-1985]

Friday, 19 July 2024

Terugblik: Die Dorstfontein - Maandblad van die NG Gemeente Dutoitspan


Die Dorstfontein was Dutoitspan se maandblad wat elke maand deur die diakens by hul onderskeie wyke uitgedeel is, as hulle die gemeentelede besoek het om hul maandelikse bydrae in te samel. Die A5-boekie se buiteblad was gewoonlik gekleurd (baie keer pienk) met wit blaaie in die middel wat deur van die kerkraadslede en oom Ross-hulle gevou is en dan vasgekram is, voordat dit afgetel en in die onderskeie poshokkies gesit is. Deel van die inhoud van die boekie was o.a. 'n boodskap, verslae van die voorsitters van die verenigings en al die aktiwiteite wat daardie maand plaasgevind het, asook wat voorlê. Hierdie maandblaadjie het gedurende die laat 1960's en vroeë 1970's verskyn.  

(Letsie Joubert het die inhoud op wasvelle getik, wat Schalk Pienaar op 'n Vrydagmiddag afgerol het en wat die kerkraad op 'n Sondagaand gevou het. Oom Ross het dit Maandagoggend afgetel en in die diakens se poshokkies gesit.)  

Waar kom die naam Die Dorstfontein vandaan? 

In die ou geskiedenisboeke verwys hulle o.a. na Dutoitspan en Dorstfontein. (History of South Africa since 1795 deur GM Theal).

In kort: Nadat daar besondere ryk vondste op die plaas Dorstfontein van 'n ene Van Wyk ontdek is en wel op die gedeelte bekend as Dutoitspan, het 'n groep delwers hulle na Dutoitspan gehaas. Daar aangekom, het hulle etlike boere, vriende van die plaaseienaar, Van Wyk, reeds aan die delf gevind. Eers wou Van Wyk hulle nie toelaat nie, maar toe hul nie die plek wil ontruim nie, was hy later genoodsaak om tot 'n vergelyk met hulle te kom, en so is die dry diggings by Dorstfontein geopen.   

Die geskiedenis van die plaas Dorstfontein kan teruggevoer word tot 1860. Op 22 November van daardie jaar is dit deur die owerheid van die Oranje-Vrystaat toegeken aan  AP du Toit - die man aan wie Dutoitspan waarskynlik sy naam te danke het. 'n Jaar of wat daarna het Du Toit dit verkoop aan CDC Geyer, wat op 12 Mei 1862 die geregistreerde eienaar geword het. Oplaas het Geyer dit weer aan AJ van Wyk verkoop, in wie se naam Dorstfontein op 6 Januarie 1869  geregistreer is. Van Wyk self het hierdie historiese diamantplaas op 24 April 1871 aan London Exploration Company verkoop. (Griqualand West Land Court p.134)

Dorstfontein het natuurlik binne die Oranje-Vrystaat geval en wel in die distrik Jacobsdal. Streng genome het Dutoitspan onder die gemeente Boshof en die aangrensende Bultfontein onder die van Jacobsdal geval. (Acta Synodi OVS. p.120) 

Ten einde die snel-groeiende delwersbevolking van Pniel, Dorstfontein en omstreke onder behoorlike burgerlike bestuur te plaas, het die owerheid van die OVS op 22 Februarie 1871 die sendingstasie Pniel afgesny van die distrik Jacobsdal en tot 'n afsonderlike distrik geproklameer, waartoe ook die delwerye van Dutoitspan, Bultfontein en die latere Vooruitsigt (Kimberley) behoort het. Gevolglik het die landdros Truter van Pniel verskuif na Dutoitspan, waar nou ook 'n poskantoor en polisiestasie geopen is.

So is Dutoitspan, tot sover haas onbekend, ineens op die kaart van Suid-Afrika, ja van die beskaafde wêreld, geplaas.

Mej. Liz van Wyk (of tannie Lizzie, soos sy algemeen bekend gestaan het) was die broerskind van AJ van Wyk - die eienaar van Dorstfontein. 'n Baie aktiewe en geliefde gemeentelid wat orals betrokke was. Sy was 'n Sondagskoolonderwyseres van 1919-1969. 

Tydens die eeufeesviering 1972 van die gemeente was sy nog gesond en aan die gang. Die vroegste foto's van haar in die eeufeesboek is in ds. WFP Marais (1896-1912) se tyd geneem waar die Sondagskool 'n piekniek op Alexanderfontein gaan hou het. 

[Bron: Die NG Kerk Dutoitspan-gemeente Beaconsfield - Kimberley 1872-1972: HG Gouws, redakteur]
                   
Heerlike en interessante inligting beskikbaar by Kimberley City Info HIER en ook Today in Kimberley's History HIER.

Friday, 5 July 2024

Terugblik: Die beginjare van Ons Huis - die tehuis vir bejaardes

Die eerste gebou wat as ouetehuis
(Ons Huis) gebruik is. Hierdie gebou was
regoor die kerk waar die meenthuise tans is.
Voor dit as ouetehuis gebruik is, was dit
'n losieshuis. 
Volgens 'n NG Kerk-ringverslag van Hopetown (1904 - 1905) is daar goedkeuring verleen deur die NG Kerk aan die gedagte wat toe reeds ontstaan het, naamlik dat daar 'n Afrikaanse Christelike Vrouevereniging gestig mag word.

Die doelstelling van so 'n vereniging sou spesifiek wees om nood te lenig en lyding te versag - toestande wat ná die Eerste Wêreldoorlog hoogty gevier het.

Met hierdie edele doel voor oë is die ACVV-tak in Beaconsfield gestig met mev. N Powell as presidente. Die tak alhier het in der waarheid deur die jare veel gedoen om in die nood van behoeftiges te voorsien. Besoeke aan siekes tuis waarheen ook voedsel geneem en barmhartigheidsdienste verrig is, sowel as besoeke aan siekes in die hospitaal, het 'n gereelde instelling geword.

Dienste wat op 'n stadium deur die Departemente Volkswelsyn en Pensioene, Kindersorg en so meer verrig word, was in die vroeë jare die selfopgelegde taak van die ACVV. Finansiële steun soos liefdadigheidsinstansies dit deesdae ondervind, was daar glad nie. Slegs die ywer en liefde vir die saak was vir die klein getal lede waarmee die vereniging gestig was, genoeg aansporing om groot struikelblokke uit die weg te ruim.

Namate die werkkring wyer geword het, het ook die nood van eensame en siek bejaardes na vore gekom - soveel so dat die lede die behoefte aan 'n tehuis vir bejaardes sterk aangevoel het.

Nieteenstaande groot probleme waarvan finansies die vernaamste was, kon daar in 1943 oorgegaan word tot die ingebruikneming van 'n gebou wat sou dien as 'n tehuis vir bejaardes. Hierdie gebou was geleë op die hoek van Rosestraat en Dyerplek en het die mooi naam van "Ons Huis" gekry.

'n Bestuur van Beheer waarin die NG Gemeente Dutoitspan al die jare verteenwoordiging het, is in die lewe geroep met die doel om "Ons Huis" se sake te behartig en alle verantwoordelikheid in verband met die tehuis te dra.

Ons bring hulde aan die vroue wie se name hieronder verskyn. Hulle was die presidentes van die tak, van stigting tot en met 1972. Hulle is: mevv. M Powell, H van Reenen, LA Hough, F Rousseau, D de Waal, E Hugo en J Badenhorst.

In 1957 kon die bejaardes vanuit die ou gebou geneem word na 'n nuwe een, nl. die bestaande "Ons Huis" in Ariadnelaan. Volgens inligting was hierdie tehuis die heel eerste van sy soort wat deur bemiddeling van die ACVV tot stand gekom het met die finansiële steun van Departement Volkswelsyn en Pensioene. Daar was tóé 30 inwoners, maar die waglys het steeds gegroei, sodat daar vroeg in die sestigerjare alweer vertoë gerig moes word om verdere uitbreidings. Só dringend was die behoefte dat dit selfs deur die betrokke staatsdepartemente onderskryf is en in 1966 is die uitbreidings voltooi, sodat daar 48 inwoners gehuisves kon word.

Uitbreidings vir 'n aparte vleuel vir verswakte bejaardes, is goedgekeur. Hier word inwoners op 'n doeltreffende wyse versorg.

Langs hierdie weg bring die bestuur van "Ons Huis" innige dank en waardering aan die verskillende NG Gemeentes in Kimberley en ander donateurs in die stad deur wie se finansiële steun die tehuis se laste ligter gemaak word.

(Inligting uit Eeufees-album van die NG Gemeente Dutoitspan 1972: geskryf deur mev. MJE Abel)

Klik HIER om die storie oor matrone Joey Serfontein se resepteboek te lees. Resepte wat in die kombuis van die ouetehuis gemaak is in haar eie handskrif. Klik HIER om die koeksisterresep in haar eie handskrif te lees. Die kunsbotter waarna daar in die resep verwys word, is margarine

Die ouetehuis het ook op daardie stadium 'n hond gehad met die naam van Robbie. Robbie is tot in die afgrond bederf deur die inwoners en het homself nie as 'n hond beskou nie. ('n Foto van Robbie op Ons Huis se blog.)
 
Klik HIER vir foto's van matrone Johanna (Joey) Serfontein, een van die eerste matrones van Ons Huis! Daar is 'n foto waar sy met ruikers blomme in die eerste tehuis vir bejaardes staan, dié een op die hoek van Rosestraat en Dyerplek. Die datum agterop die foto is 18 Desember 1947. 

Friday, 28 June 2024

Terugblik: Die gebed van gelowiges (uittreksel)

My kleinkind, Marco Booysen, is op vyfjarige ouderdom gediagnoseer met leukemie.

Die pyn het in sy linkerheup begin. Die pediater het gesê dis groeipyne, maar dit het al hoe erger geword en hy het al hoe bleker geword. Ek het een Sondag vir my seun gesê hierdie kind is besig om voor ons oë dood te gaan. Dit was op 'n Maandagmiddag in 2004 dat ons die uitslag gekry het. Sy telling was 95 - dit is baie hoog.

Dutoitspan-gemeente, vriende en familie het begin bid. Na 'n week van chemo-behandeling en gebede was die telling af na 15. Dit was so wonderlik!! Alle dank vir God se genade. Hy het kaalkop sy skoolloopbaan begin as gevolg van die chemo.

Vandag is hy 'n pragtige seun van 14 jaar en in Diamantveld Hoërskool in graad 9 en gesond. Alle eer aan ons getroue Vader.

[Geskryf: Rina Groenewald] 

Koop gerus hierdie boekie God maak stukkende mense heel, 2018/2019, met stories van hoop by Dutoitspan Kerkkantoor - 053 842 1100 @ 'n bekostigbare R50,00.

Friday, 21 June 2024

Friday, 14 June 2024

Terugblik: Basaarkoopbewys


Baie jare terug het die gemeente basaarkoopbewyse vir lidmate wat ekonomies minder gegoed is, uitgedeel. Hierdie koopbewyse is by SwiftPrint laat druk (sodat fotostate en vervalste koopbewyse uitkenbaar was) en is in rooi genommer. Die nommer en die persoon se naam is op 'n lys geskryf sodat dit maklik kontroleerbaar kon wees. 

Die dankie gaan aan hulle wat agter die skerms die koopbewyse geborg het.

Friday, 7 June 2024

Terugblik: Afkondigings 20 Junie 2010



Ds. Kobus is met verlof van 13-26 Junie.
As u in hierdie tyd 'n predikant benodig, skakel gerus - Johan Bean (Leierouderling)
Schalk Kruger (Onderleierouderling)
Kerkkantoor (Oom Schalk Pienaar)
Bid asseblief vir ... 
* Lidmate wat bedlêend is: 
Tannie Jane Pienaar, Tannie Frieda du Plessis en Tannie Aliers (Holtzhausen)
* Lidmate wat kankerbehandeling ontvang:
Karien Koen, Beatrix van der Merwe, Emma de Kock, Tryn du Preez, Linda Hattingh en ander lidmate waarvan ons nie weet nie.
* Ander lidmate:
Marco (5 jr.) sy ouers, Jaco en Mercia Booysen, en grootouers - hy ontvang tans behandeling vir leukemie.
* André Weideman jnr. bid asb vir 'n pankreasskenker, aangesien André ook 'n pankreas saam met die nuwe nier nodig het.
Ander:
* Familie en versorgers van siek en bedlêende lidmate. 
* Uitreik na gevangenes en vir Annatjie Grobbelaar wat die aksie lei.
* Amptenare van ons gemeente: Ds. Kobus, Oom Schalk (skriba/kassier), Elsa (koster), Tim (orrelis) en Joe (algemene assistent).
* Inwoners van Ons Huis en Sally Aucamp Huis.
* Sendelinge Chevas en Evans in Chad.
* Lidmate wat as kerkraadslede verkies is en hierop moet reageer.
[Hierdie is slegs die gebedsversoeke en die res van die afkondigingsblaadjie sal vlg. week verskyn.

Friday, 31 May 2024

Terugblik: Inwyding van die tentkerk (en die stoelprobleem)

 

GESTIG
1872

RING
Kimberley (voorheen Dutoitspan)

ADRES
H.v. Rose- en Dyerplek, Beaconsfield, Kimberley

SLUIT IN
Beaconsfield en omgewing

EERSTE PREDIKANT
S.H. Kuhn (1877–1880)

Interessante terugblikbrokkie:

Die inwyding van Dutoitspan se kerktent op Saterdag 21 Januarie 1872 was 'n heuglike feesdag. Baie lidmate van New Rush het oorgekom om in die vreugde van hul bure te deel. Ds. EAJ du Toit van Jacobsdal en ds. Colin Fraser van Philippolis het by hierdie plegtigheid voorgegaan.

Berig in De Kerkbode

Aan die hand van 'n berig in De Kerkbode van 10/2/1872 kon ons die verrigtinge mooi volg. Die aanwesiges het hul eers na de oude kerkplaats - die noodkerk van bokseile wat van tyd tot tyd oor die waens en karre gespan was - begewe, waar ds. Du Toit hul kortliks toegespreek het. Vandaar het hul in plegtige optog na die kerktent gegaan, wat op die gebruiklike wyse deur ds. Fraser geopen is, terwyl dit een stryk deur gestortreën het. Ondanks die gure weer was die opkoms so groot dat die gebou in 'n ommesien propvol was. Nadat ds. Du Toit die gebed van Salomo by die inwyding van die tempel (1 Konings 8) voorgelees het, het ds. Fraser sy wydingsrede uitgespreek na aanleiding van Exodus 20:24: Op elke plek waar Ek my Naam laat gedenk, sal Ek na jou toe kom en jou seën. 

By al twee dienste die volgende dag was die bedehuis weer eens goed gevul. Die volgende Sondag is die nagmaal gevier. Hierdie bedehuis het blykbaar tussen die mynhope op die N.-Circularweg gestaan en is later deur die Dutoitspanmyn verswelg.

Met die inwyding het daar nog 90 pond (R180) skuld op die kerktent gerus.

Berig in Het Volksblad:

So het ons lidmate op sowel Dutoitspan as New Rush nou hul eie bedehuis gehad. Maar dié het natuurlik sleg afgesteek by die kerkgeboue van die ander kerke op die diamantvelde. Op New Rush alleen - aldus 'n berig van 'n korrespondent in Het Volksblad van 18/6/1872 - was daar toe al nie minder nie as ses gerieflike kerkgeboue van ander genootskappe.

Terwyl hierdie bedehuise hul eie stoele en banke gehad het, moes die lidmate van die NG Kerk vir elke diens hul eie stoele saamdra! Daar was dus nog 'n groot agterstand vir die Kerk om in te haal.

[Bron: Eeufeesalbum: Gous, HG. 1971. Die NG Kerk Dutoitspan-gemeente: Beaconsfield Kimberley 1872-1972 - bl. 11]

Friday, 24 May 2024

Terugblik: Diamantveld-gemeente se groeteboodskap


Diamantveld-gemeente is die jongste dogtergemeente wat in 1955 van Dutoitspan afgestig het en tydens ons gemeente se eeufeesvieringe was ds. VO Nel die leraar van Diamantveld. Hier volg sy groeteboodskap aan Dutoitspan:

Dit is vir my 'n besondere voorreg om namens die jongste dogtergemeente, Diamantveld, u hartlik geluk te wens, waar u tans die honderdjarige bestaan van u gemeente herdenk. Ons is saam met u dankbaar en bly.

As ons oor die honderd jaar terugkyk, wil ons die Here dank vir daardie manne en vroue - geharde Godsvresende mense wat die behoefte gevoel het en daadwerklik oorgegaan het tot die stigting van die gemeente Dutoitspan. Hierdie gemeente het gegroei en met trots sy plek ingeneem in die ry van gemeentes van ons kerk. Ander gemeentes is van hom afgestig met 'n eie karakter wat God aan hulle gegee het.  

Die gemeente van Dutoitspan het saam met ons kerk in wording, gely en gestry en krisistye deurgemaak, insinkings belewe, maar deur die genade van God staande gebly en sy deel bygedra om die geestelike erfenis sowel as die kultuurgoedere van ons volk en kerk in stand te hou.

Na honderd jaar bely ons saam met u dat die Here u gelei het na Sy raad, en dank ons Hom vir wat die Calvinisme, ons Gereformeerde leer en die Verbondsgedagte vir u beteken het. Ja, dat die kerk van ons vaders nog ons kerk is!

Ons glo dat u 'n verbondsgemeente is, en dat God 'n besondere doel met u as gemeente het.

Waar ons grootste dank in oorgawe geopenbaar word, wil ons met die oog op die toekoms saam met u bid, die gebed van Dawid in 11 Samuel 7:29: "Laat dit U dan nou behaag, en seën die huis van U kneg, sodat dit vir ewig voor U aangesig kan wees."

Klik HIER vir meer inligting.

Bron: Eeufeesalbum: Gous, HG. 1971. Die NG Kerk Dutoitspan-gemeente: Beaconsfield Kimberley 1872-1972